Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 11/15 bl. 26
  • Behou geloof in God en Christus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Behou geloof in God en Christus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waardeer Christus se posisie
  • Waardeer God en Christus
  • Bybelboek nommer 51—Kolossense
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Koop goud wat deur vuur gelouter is
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Kolossense—Gesonde raad oor leer en gedrag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Stimulerend warm, verfrissend koud
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 11/15 bl. 26

Behou geloof in God en Christus

Glanspunte uit Kolossense

GELOOF in Jehovah God en Jesus Christus is noodsaaklik vir redding. Maar dit is ’n uitdaging om sulke geloof te behou. Dit het gegeld in die geval van Christene in Kolosse, ’n stad oos van Efese in Klein-Asië. Waarom? Omdat valse leraars in daardie stad verkeerdelik van mening was dat redding afgehang het van die besnydenis, van wat ’n mens eet en van die onderhouding van sekere gebruike.

Daarom is dit te verstane dat die apostel Paulus besorg was oor die geestelike welsyn van die Christene in Kolosse, en hy wou beslis hê dat hulle hul geloof in God en Christus moet behou. Daarom het die apostel teen die einde van sy eerste gevangenskap in Rome (ongeveer 60-61 G.J.) ’n brief aan die Kolossense geskryf om verkeerde beskouings teen te werk en hulle geloof op te bou. Kom ons kyk hoe ons ook by sy liefdevolle woorde kan baat vind.

Waardeer Christus se posisie

Paulus het vroeg in sy brief waardering vir Jesus se posisie beklemtoon (1:1–2:12). Hy het die Kolossense vir hulle geloof in Christus en hulle liefde vir medegelowiges geprys. Paulus het melding gemaak van Christus se voortreflikheid as die Een deur wie alle ander dinge geskep is, die Hoof van die gemeente en die eersgeborene uit die dode. Versoening met God word verkry deur Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Met die oog op al hierdie dinge moet Christene steeds in eendrag met Christus wandel en nie toelaat dat enigiemand hulle deur mensefilosofieë as buit wegvoer nie.

God het die Wet deur middel van Christus verwyder (2:13-23). Dit is figuurlik aan die paal genael waaraan Jesus gesterf het. Die Wet se vereistes was bloot “’n skadu van die toekomstige dinge, maar die werklikheid behoort aan die Christus” (NW). Deur aan Christus vas te hou, sal hulle nie toelaat dat enige mens hulle van die prys van onsterflike lewe in die hemele beroof nie.

Waardeer God en Christus

Paulus het die Kolossense vervolgens vermaan om hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee en hulle aan die gesag van Jesus Christus te onderwerp (3:1-17). Deur hulle gedagtes op die bogenoemde dinge te hou, sou hulle geestelike dinge as die belangrikste in hulle lewe beskou. Dit het vereis dat hulle verkeerde beskouings en spraak aflê. Hoe geseënd sou hulle tog nie wees as hulle hul met sulke eienskappe soos goedertierenheid, nederigheid en liefde beklee het nie! Die vrede van Christus sou in hulle harte heers as hulle alles in Jesus se naam doen, en God deur hom dank.

Waardering vir Jehovah God en Jesus Christus behoort ook ’n Christen se verhouding met ander te raak (3:18–4:18). Vrouens, mans, kinders, slawe en here moet hulle pligte met vrees vir God en in erkenning van Christus nakom. En hoe noodsaaklik is dit tog om in die gebed te volhard en om in wysheid te wandel!

Paulus se brief aan die Kolossense kan ons help om valse leringe te vermy wat ons van die prys van die lewe kan beroof. Die apostel se beklemtoning van die feit dat ons die gesag van Jehovah en sy Seun moet erken, kan ’n goeie uitwerking op ons optrede teenoor ander hê. En ryk seëninge sal ons beslis te beurt val as ons ons geloof in God en Christus behou.

[Venster/Prent op bladsy 26]

Brief aan Laodicea: “Wanneer hierdie brief by julle gelees is”, het Paulus aan die Kolossense geskryf, “sorg dat dit ook in die gemeente van die Laodicense gelees word en dat julle ook dié uit Laodicea lees” (Kolossense 4:16). Laodicea was ’n ryk stad in westelike Klein-Asië wat deur middel van paaie met Filadelfia en Efese verbind is. Paulus se werk in Efese het so ver as Laodicea gestrek, al het hy nie daar gedien nie. Hy het ’n brief aan die Christene in Laodicea gestuur, maar party geleerdes dink dat dit ’n afskrif was van die brief wat hy aan die Efesiërs geskryf het. Die brief aan Laodicea is nie in die Bybel opgeteken nie, moontlik omdat dit nie inligting bevat het wat ons vandag nodig het nie, of dalk omdat dit gedagtes herhaal het wat reeds in ander kanonieke briewe gedek is.

[Prent]

Ruïnes by Laodicea

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel