Hou aan om geestelike doelwitte na te jaag
“Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry.”—Filippense 3:13, 14.
1, 2. Tot watter mate het die deelnemers aan ’n eertydse wedloop hulle ingespan, en waarom? (1 Korinthiërs 9:24)
“VAN die oomblik af dat die sluitbalk val, dink ’n goeie naelloper slegs aan hoe hy vorentoe kan kom, vestig hy sy aandag op die eindstreep en maak hy op sy bene staat om hom te laat wen.” Dit is hoe die eerste-eeuse geskiedskrywer Lucianus die intensiteit van die deelnemers aan ’n wedloop beskryf het. Elke senuwee en spier is ingespan om eerste by die wenpaal te wees. Die prys, dikwels ’n blarekrans, het gewoonlik vir die wenner ’n lewe van “die grootste lof gebring, want almal het geweet dat die wenner “geen koste of pyn” ontsien het totdat die ‘prys verower is’ nie.a
2 Toe die apostel Paulus ’n hardloper gebruik het om toe te lig wat ’n Christen moet doen om welslae te behaal, het hy diegene wat die ewige lewe as doel najaag, vermaan: “Hardloop só dat julle [die prys] sekerlik kan behaal” (1 Korinthiërs 9:24). Paulus het gesê dat hy hom ‘uitstrek’ (soos ’n hardloper wie se liggaam vooroor gebuig is, terwyl hy die laaste endjie al sy kragte inspan) en ‘die doel najaag om die prys te verkry van die hoë roeping van God’ (Filippense 3:13, 14). As ’n Christen-”hardloper” die beloning wil ontvang, moet die ewige lewe, en geen ander strewe nie, die punt of teiken wees waarop sy hele lewe gerig is. Is dit waar van jou lewe?
Openbaar “hierdie gesindheid”
3. Watter gesindheid moet ryp Christene volgens Filippense 3:14 openbaar?
3 Deur “die dinge wat agter is” te vergeet, het die apostel Paulus getoon dat hierdie beloning sy belangrikste doelwit was. Hy het die “dinge wat agter is” “drek” “verwerplik” of “vuilgoed” genoem (NTP; Die Lewende Nuwe Testament). Dit is baie sterk gestel, as ’n mens in ag neem wat Paulus die rug toegekeer het toe hy aan die wedloop om die lewe begin meedoen het. (Kyk bladsy 4.) Nadat Paulus sy eie voorbeeld aangehaal het, het hy Christene aangespoor: “Dié van ons wat geestelik volwasse [ryp, NW] is, moet hierdie gesindheid hê.”—Filippense 3:5-8, 15, 17, vgl. NTP.
4. Watter voorlopige doel moet bereik word deur (a) belangstellende wat nog nie gedoop is nie? (b) pasgedooptes?
4 Die persone tot wie die apostel sy opmerkings gerig het, was reeds in die wedloop en het Christelike rypheid bereik. Maar gestel jy is nog nie gedoop nie en moet gevolglik nog wegspring? Dan moet jy dit jou eerste doel maak, want diegene wat nie hardloop nie sal nie die ewige lewe as prys ontvang nie. As jy egter so pas weggespring het in die wedloop om die lewe, moet jy Christelike rypheid jou eerste doelwit maak. Dit sal beteken dat jy daarna strewe om die hele versameling van Christelike waarhede te aanvaar en om jou ‘geestesvermoëns te oefen om goed van kwaad te onderskei’.—Hebreërs 5:14; 6:1.
5. Watter vrae kan ons gebruik om te bepaal wat ons gesindheid is teenoor die doel om die lewe te verkry?
5 Maar Paulus se woorde: “Dié van ons wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê” toon dat selfs diegene wat ryp is hulle “gesindheid” moet ondersoek, want party kan “anders daaroor dink” (Filippense 3:15). Watter dinge het jy byvoorbeeld die rug toegekeer? Beskou jy dit steeds soos Paulus dit beskou het? Of neem die materialistiese en gesofistikeerde aktiwiteite van die wêreld al hoe meer van jou tyd en aandag in beslag? ’n Christen moet natuurlik die lewensbenodigdhede vir homself en sy gesin voorsien. Paulus het die moeilike ambag van tentmaker beoefen—’n groot aanpassing na die roemryke loopbaan wat hy tevore gehad het. Maar nou was die “prys” die hoofsaak in sy lewe, nie sy sekulêre werk nie. Is dit ook so in jou geval?—Handelinge 18:3; 20:33, 34.
Oefening in godvrugtige toewyding
6. Watter oefening is volgens 1 Timotheüs 4:7, 10 onontbeerlik om die einddoel, die ewige lewe, te bereik?
6 In sy raad aan Timotheüs het die apostel Paulus die aandag gevestig op ’n eienskap wat noodsaaklik is vir almal wat die “prys” wil verkry. Hy het ongetwyfeld die jare van strawwe oefening wat van atlete vereis word in gedagte gehad toe hy geskryf het: “Oefen jou met godvrugtige toewyding as jou doel. . . . daarom werk ons hard en span ons ons in.”—1 Timotheüs 4:7, 10, NW.
7. Wat is godvrugtige toewyding, en hoe kan ons ons beweegredes ondersoek?
7 Godvrugtige toewyding is gehegtheid aan Jehovah as persoon. Dit is wat ons in ons hart is, en word nie noodwendig bepaal deur ons waarneembare godsdiensdade nie.b Ons moet gevolglik gereeld ondersoek instel waarom ons heilige diens verrig. Is dit weens die dinge wat ander sal dink as ons dit nie doen nie? Is dit om ’n indrukwekkende reputasie by mense te kry? Is dit bloot omdat ons ouers daarop aandring? Of is dit omdat ons God wil behaag? Soms het ons almal ’n stootjie van ander nodig. ’n Persoonlike kwota of ’n organisatoriese reëling kan as ’n aansporing dien, maar wat ons doen, moet waarlik “dade van godvrugtige toewyding” wees.—2 Petrus 3:11, NW.
8. Wat benewens Bybelstudie is nodig om godvrugtige toewyding te verkry.
8 As ’n persoon homself “voed met die woorde van die geloof deur persoonlike en gemeentelike Bybelstudie, kan hy godvrugtige toewyding verkry (1 Timotheüs 4:6). Maar meer is nodig as om net materiaal te dek. Vra jouself af: Wat leer dit my omtrent Jehovah? Hoe moet dit my lewe of my beskouing van ander beinvloed? Gaan ek toepas wat ek geleer het? Wanneer? Hoe? Sulke bepeinsing is deel van ons oefening om godvrugtige toewyding te verkry.
9. Watter ondervinding toon dat ons ons voortdurend moet oefen met godvrugtige toewyding as ons doel?
9 Terwyl ’n atleet oefen, kyk hy voortdurend waar hy kan verbeter. As hardlopers in die Christelike wedloop moet ons oppas dat ons nie ons geestelike ontwikkeling as vanselfsprekend aanvaar nie. Een vrou wat van kleins af die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon het en gereeld velddiens gedoen het, het gevind dat meer as daardie Christelike roetine nodig was, want sy het haar later skuldig gemaak aan geslagsonsedelikheid. Nadat sy herstel het, het sy gesê: “Ek het aangeneem dat ek ’n geestelike persoon is, maar ek het besef dat ek net vormdiens verrig het. Na my geestelike val het ek begin om baie meer persoonlike studie te doen en het dit op myself toegepas. Ek het Jehovah om hulp gesmeek. Ek het gevolglik geestelik begin groei en vir die eerste keer ’n persoonlike verhouding met hom verkry.”
10. Hoe kan waardering ons help om nader aan Jehovah te kom?
10 Waardering is ook nodig. Wanneer jy byvoorbeeld ’n heerlike vrug eet, kan jy nadink: ‘Watter wonderlike Vader het ons tog wat sulke aangename dinge voorsien!’ Of wanneer jy na ’n kleurryke sonsondergang kyk, kan jy uitroep: ‘Watter voortreflike kunstenaar is ons Vader tog!’ Maak ’n gewoonte daarvan om in alledaagse sake op te let na blyke van Jehovah se sorg. Sodoende sal jy nader aan hom kom.—1 Thessalonicense 5:18; Jakobus 4:8.
‘Strek uit na wat voor is’—Nog nie volmaak nie
11. Kan ’n Christen agteroorsit omdat hy al jare lank in die waarheid is?
11 Omdat hulle die weg van die waarheid al geruime tyd bewandel het, het party lede van die eerste-eeuse gemeente in Filippi begin agteroorsit omdat hulle gedink het dat hulle geestelik ver genoeg gevorder het. Paulus het die aandag op sy voorbeeld gevestig en gesê: “Nie dat ek [’n apostel, en al meer as 25 jaar lank ’n Christen] dit [die hemelse prys] al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna . . . Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.”—Filippense 3:12, 13.
12. Waarom moet ’n Christen gedurig daarna streef om hom met die nuwe persoonlikheid te beklee?
12 ’n Christen se lewe is immer progressief. Voordurende “vooruitgang” is nodig om ’n mens met die nuwe persoonlikheid te beklee. Ons moet ons verset teen swakhede wat ons kan diskwalifiseer (1 Timotheüs 4:15; 1 Korinthiërs 9:27). Een Getuie het gesê dat sy dikwels hoogmoedig was en maklik deur ander ontstel is. Nadat sy raad gekry het, het sy besef dat dit haar kan verhinder om die ewige lewe te verkry. “Ek het my toe geforseer om positief oor ander te dink. Noudat ek myself ’n ruk lank gedwing het om dit te doen, het dit makliker geword” het sy erken. “Wanneer ek my vererg het, het ek gebid: ‘Ek wil nie so wees nie, Jehovah. U weet hoe moeilik dit vir my is, help my dus asseblief!’ En hy het werklik!” Sy het haar dit ten doel gestel om ’n bepaalde swakheid te bowe te kom en meer van die vrug van God se gees te openbaar. Sy is geseën en het selfs gekwalifiseer om as ’n sendelinge te dien. Is daar doelwitte van hierdie aard wat jy moet najaag?—Galasiërs 5:22-26.
13. Watter doel het een gesin bereik, en wat het hulle aangespoor?
13 Omdat ’n Christen besef dat hy nog nie “volmaak” is of nog nie die ewige lewe as prys verkry het nie, hou hy gedurig sy gesindheid teenoor die bediening dop. ’n Egpaar in die Verenigde State het hulle omstandighede in oënskou geneem. Destyds (in 1958) was die vrou ’n laerskoolonderwyseres en het die man, ’n bedryfsleier, meer as R40 per uur verdien. “Toe het ons begin dink aan party persone wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies dien en wat ’n fortuin prysgegee het om daar te dien sonder om ’n salaris te ontvang, net om die waarheid by persone soos ons te kry” het die vrou gesê. Daardie voorbeeld het die egpaar so aangespoor dat hulle hulle huis verkoop en saam met hulle twee kinders verhuis het na ’n plek waar die behoefte aan Koninkryksverkondigers groter was. Albei was bereid om knegsdienste te verrig om hulle gesin te onderhou. Hulle hele lewe was nou daarop toegespits om ander te help, aangesien elkeen kort daarna elke week gemiddeld 15 Bybelstudies saam met belangstellendes gehou het. “Ons het ’n innige vreugde gemaai wat geld nooit kon koop nie. En ons was veral verheug om te sien dat ons kinders met dieselfde liefde vir Jehovah grootword” het die man gesê.—Filippense 4:12, 13.
14. Meld ’n paar persoonlike doelwitte wat baie nastreef.
14 Nie elke gesin kan natuurlik so iets doen nie. Maar al hoe meer het aanpassings gemaak om ’n groter aandeel in die predikingswerk te hê, en party het selfs hulp- of gewone pioniers geword. Gedurende die 1981-diensjaar het daar elke maand gemiddeld 151 180 persone pionierdiens gedoen—’n nuwe hoogtepunt en nagenoeg 10 persent meer as die vorige jaar! Baie het Betheldiens of sendingwerk ’n doelwit gemaak. Toe die Gilead-uitbreidingskole in Mexiko en in die Bondsrepubliek van Duitsland onlangs geopen is, het dit baie meer in staat gestel om nuwer en verdere doelwitte in hulle lewens te bereik. Ander het weer hard gewerk om ’n innige liefde vir Jehovah by hulle kinders in te skerp. Toegewyde manne het die werk van ’n bedieningskneg, ’n ouere man of selfs ’n reisende opsiener nagestreef deur die vereiste geestelike kwalifikasies te verkry.—1 Timotheüs 3:1-13.
15. Hoe kan Christinne hulle mans help om die doel om die lewe te verkry voor in hulle gedagtes te hou?
15 Christeneggenotes help deur die “prys” voor in hulle gedagtes te hou. “Ek sal nooit vergeet wat my vrou gesê het toe ek gelees het dat drie van die manne wat ek opgelei het om my werk te doen toe ons verhuis het so pas miljoenêrs geword het nie” het die Getuie, wat in paragraaf 13 gemeld is, gesê. “Sy het gesê: ‘Geld is vandag hier en more daar. Wanneer ons mense geestelik help, stig dit blywende nut.’ Sy het my altyd aangespoor om nie weer by groot geldmaakskemas betrokke te raak nie. Met haar hulp het ons kringwerk begin doen toe ons kinders groot was.” Ja, vroue wat hulle mans geestelik onderskraag, kan hulle help om “welgevalle van die HERE” te verkry.—Spreuke 18:22.
Omstandighede verskil
16. (a) Wat het die apostel Paulus klaarblyklik bedoel toe hy vir die gemeente in Filippi gesê het: “Julle het die geleentheid nie gehad nie”? (b) Hoe weet ons dat Jehovah nie iemand is wat nooit met die pogings van sy knegte tevrede is nie?
16 Die eerste-eeuse gemeente in Filippi was besonder vrygewig teenoor Paulus, maar ’n ruk lank het hulle niks materieels gegee nie. Waarom nie? “Julle het die geleentheid nie gehad nie” het Paulus geskryf (Filippense 4:10). Hulle is moontlik deur moeilike tye, veranderde omstandighede of die feit dat hulle nie geweet het waar Paulus hom bevind het nie, verhinder om hulle hartsbegeerte te vervul. Ons omstandighede kan ons ook verhinder om meer te doen: Jehovah besef dit. Onder die Mosaïese wet het Jehovah byvoorbeeld die dinge wat ’n persoon kon bekostig, selfs al was dit net agt koppies meel, as sondoffer aanvaar! (Levitikus 5:5-11). Al wat God gevra het, was dat die offerandes van die beste moes wees.—Exodus 23:19; Hebreërs 13:15, 16.
17. Wat is soos mylpale langs ’n renbaan in ons strewe na die einddoel, naamlik die ewige lewe?
17 Maar gee ons Jehovah waarlik ons beste? Hou ons elke dag daardie wonderlike beloning, die ewige lewe, voor oë? (Vergelyk Hebreërs 12:1, 2.) Iets wat ons baie hiermee sal help, is as ons geestelike doelwitte het wat ons intussen probeer bereik. Dit word mylpale langs die renbaan. Soos ons gesien het, is doop een van hierdie mylpale. Het jy daardie punt bereik? Wat van Christelike rypheid—die ware aanvaarding van die hele versameling van Christelike waarhede, sonder om aan elke nuwe gedagte te twyfel, dit te bevraagteken of dit te betwis? En het jy geleer om daaglikse besluite op grond van Bybelbeginsels te neem? Dan het jy nog ’n mylpaal verbygesteek. Is die vrugte van die gees deeglik deel van jou persoonlikheid? Is die veldbediening net so belangrik vir jou as wat dit vir ons voorbeeld, Jesus Christus, was? En wat van die rede waarom jy dinge doen? Word jy deur ware godvrugtige toewyding beweeg? Al was Timotheüs ’n ouere man in die Christengemeente, is daar vir hom gesê dat hy hom moes oefen met godvrugtige toewyding as sy doel. Bereik ons party van hierdie doelwitte en jaag ons ander na, met die wonderlike prys, die ewige lewe, altyd voor oë? “Strek” ons ons werklik “uit na wat voor is”?
18. Watter beloninge ontvang ons nou as ons godvrugtige toewyding verkry?
18 Sulke inspanning bring baie beloninge mee. Paulus het gesê dat godvrugtige toewyding ‘die belofte van die teenwoordige lewe het’ (1 Timotheüs 4:8). Hy het die tevredenheid wat ons nou ondanks moeilikhede kan smaak goed opgesom: “Daar is baie dinge wat my hartseer maak, maar ek bly altyd opgeruimd. Al is ek arm, maak ek tog baie mense se lewe ryk. Eintlik besit ek niks, maar ek het alles wat die moeite werd is.”—2 Korinthiërs 6:10, Die Lewende Nuwe Testament.
19. Waarom moet elkeen van ons aandag skenk aan hoe ons hardloop om die ewige lewe te verkry?
19 Binnekort sal ons dan ons einddoel bereik—“die toekomende lewe”. In afwagting van sy hemelse beloning kon Paulus sê: “Ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:18). Ja, al die inspanning in die wedloop sal nie opweeg teen die seëninge van die gesogte beloning, die ewige lewe, hetsy in die hemel of op aarde, nie. Hou dus jou oog gevestig op geestelike doelwitte. Hardloop om te wen. Hardloop asof jou lewe daarvan afhang—want dit hang daarvan af!—Psalm 37:3, 4, 11, 29.
◻ Wat is die essensiële doelwit wat ’n Christen moet najaag, en wat moet ons “gesindheid” teenoor die verwesenliking daarvan wees?
◻ Hoe oefen ons ons met godvrugtige toewyding as ons doel?
◻ Meld ’n paar voorlopige doelwitte in ons strewe na die ewige lewe as einddoel.
◻ Is Jehovah nooit tevrede met ons pogings in sy heilige diens nie?
[Voetnote]
a Opmerkings van die eertydse Griekse digter Pindaros in sy Isthmian Odes, I 40-50.
b Die oorspronklike Griekse woord, eusebeia, is destyds deur die filosoof Philo gebruik om ’n waarlik godsdienstige persoon te beskryf in teenstelling met ’n voorgewende aanbidder wat slegs ’n vertoning van waarneembare godsdiensdade gelewer het.
[Prent op bladsy 8]
Dit is voorlopige doelwitte op ons Christelike weg terwyl ons die ewige lewe as einddoel nastreef
Godvrugtige toewyding
Verruimde bediening
Rypheid
Doop
Meer vrugte van die heilige gees