Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 6/1 bl. 4-7
  • Waarom moet ons God vrees en nie mense nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet ons God vrees en nie mense nie?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die strik van mensevrees
  • Wie moet ons vrees?
  • Waarom ’n God van liefde vrees?
  • Wie vrees jy?
  • Waarom moet ons God vrees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Neig jou hart om Jehovah te vrees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Vrees vir God—Kan dit jou tot voordeel strek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Leer om genot te vind in die vrees van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 6/1 bl. 4-7

Waarom moet ons God vrees en nie mense nie?

“DIE vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word” (Spreuke 29:25). Met hierdie woorde waarsku die ou spreuk ons teen die soort vrees wat voorwaar gif vir die verstand is—mensevrees. Dit word met ’n strik vergelyk. Waarom? Omdat ’n diertjie, soos ’n konyn, hulpeloos is wanneer hy in ’n strik gevang is. Hy wil wegkom, maar die strik hou hom genadeloos vas. Die slagoffer is in werklikheid verlam.

Indien ons deur mensevrees aangegryp word, is ons baie soos daardie konyn. Ons weet miskien wat ons moet doen. Ons wil dit dalk selfs doen. Maar vrees oormeester ons. Ons is verlam en nie in staat om op te tree nie.

Die strik van mensevrees

Dink aan sommige voorbeelde van diegene wat in Bybeltye deur die strik van vrees gevang is. In die dae van Josua is 12 manne gestuur om, net voor die Israeliete se beplande inval, die land Kanaän te verken. Die verkenners het teruggekom en vertel dat die land vrugbaar en ryk is, net soos God gesê het. Maar die krag van die inwoners het vrees by tien van die verkenners ingeboesem. Hulle het dus, oorweldig deur mensevrees, ’n oordrewe verslag oor hierdie krag aan die Israeliete gegee en veroorsaak dat die hele nasie vreesbevange word. Die Israeliete het geweier om God se bevel om teen Kanaän op te trek en die land in besit te neem te gehoorsaam. Gevolglik het al die volwasse mans van daardie tyd, met ’n paar uitsonderings, gedurende die volgende 40 jaar in die woestyn gesterf.—Numeri 13:21–14:38.

Jona was nog ’n slagoffer van mensevrees. Toe hy gestuur is om vir die groot stad Nineve te preek, het hy “hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af weg” (Jona 1:3). Waarom? Die Nineviete was daarvoor bekend dat hulle ’n genadelose en gewelddadige nasie was, en Jona het dit beslis geweet. Mensevrees het veroorsaak dat hy in ’n rigting weg van Nineve af gevlug het. Hy het weliswaar sy opdrag uiteindelik aanvaar, maar eers nadat hy buitengewone dissipline van Jehovah ontvang het.—Jona 1:4, 17.

Selfs konings kan mense vrees. Koning Saul het by een geleentheid regstreeks ’n uitdruklike bevel van God veronagsaam. Sy verskoning? ‘Ek het die bevel van Jehovah en u woorde oortree, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister’ (1 Samuel 15:24). Toe Jerusalem ’n paar eeue later deur die Babiloniërs aangeval is, het Jeremia, ’n getroue profeet, koning Sedekia aangeraai om oor te gee en Jerusalem sodoende van baie bloedvergieting te red. Maar Sedekia het geweier. Waarom? Hy het aan Jeremia bely: “Ek is bevrees dat hulle my in die hand van die Jode wat na die Chaldeërs oorgeloop het, sal oorgee en dat dié met my die spot sal drywe.”—Jeremia 38:19.

Ten slotte, selfs ’n apostel kon bang wees. Die dag waarop Jesus sou sterf, het hy sy volgelinge gewaarsku dat hulle hom almal sou verlaat. Petrus het egter vrymoedig gesê: “Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan” (Lukas 22:33; Mattheüs 26:31, 33). Hoe ver het hy dit tog nie mis gehad nie! Net ’n paar uur later het Petrus vreesbevange ontken dat hy saam met Jesus was, of hom selfs geken het. Mensevrees het hom oorweldig! Ja, mensevrees is inderdaad gif vir die verstand.

Wie moet ons vrees?

Hoe kan ons mensevrees oorwin? Deur dit te vervang deur ’n baie heilsamer vrees. Dieselfde apostel, Petrus, het hierdie soort vrees aanbeveel toe hy gesê het: ‘Vrees God’ (1 Petrus 2:17). Die engel wat Johannes in Openbaring gesien het, het aan die mensdom uitgeroep: “Vrees God en gee Hom heerlikheid” (Openbaring 14:7). Wyse koning Salomo het ook sulke vrees aanbeveel toe hy gesê het: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit [is die verpligting] vir alle mense” (Prediker 12:13, vgl. NW). Ja, vrees vir God is ’n verpligting.

Vrees vir God bring voordele mee. Die eertydse psalmis het gesing: “Gewis, [Jehovah se] heil is naby die wat Hom vrees” (Psalm 85:10, vgl. NW). ’n Bybelspreuk beklemtoon dit ook: “Die vrees vir die HERE vermeerder die dae” (Spreuke 10:27). Ja, vrees vir Jehovah is heilsaam en voordelig. ‘Maar Jehovah is tog ’n liefdevolle God’, sê jy dalk. ‘Waarom moet ons ’n God van liefde vrees?’

Waarom ’n God van liefde vrees?

Omdat vrees vir God nie die willose, verlammende vrees is wat mense in sommige situasies aangryp nie. Dit is die soort vrees wat ’n kind moontlik vir sy vader voel, al is hy lief vir sy vader en weet hy dat sy vader hom liefhet.

Vrees vir God is in werklikheid ’n diepgaande eerbied vir die Skepper wat voortspruit uit die besef dat hy die volmaakte verpersoonliking van regverdigheid, geregtigheid, wysheid en liefde is. Dit behels ’n gesonde vrees om God te mishaag omdat hy die Opperregter is met die mag om te beloon of te straf. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God”, het die apostel Paulus geskryf (Hebreërs 10:31). God se liefde is nie iets wat as vanselfsprekend aanvaar moet word nie, en sy oordeel is nie iets om te verkleineer nie. Daarom herinner die Bybel ons: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE.”—Spreuke 9:10.

Ons moet egter onthou dat hoewel Jehovah die mag het om diegene te straf wat hom nie gehoorsaam nie—en hy dit dikwels gedoen het—hy geensins bloeddorstig of wreed is nie. Hy is waarlik ’n God van liefde, al word hy, soos ’n liefdevolle ouer, somtyds tereg kwaad (1 Johannes 4:8). Daarom is dit heilsaam om hom te vrees. Dit laat ons sy wette, wat vir ons beswil bedoel is, gehoorsaam. Gehoorsaamheid aan God se wette bring geluk mee, terwyl ongehoorsaamheid daaraan altyd slegte gevolge meebring (Galasiërs 6:7, 8). Die psalmis is geïnspireer om te sê: “Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.”—Psalm 34:10.

Wie vrees jy?

Hoe kan vrees vir God ons help om mensevrees te oorwin? Wel, mense spot ons miskien of vervolg ons dalk selfs omdat ons doen wat reg is, en dit oefen druk op ons uit. Maar ’n eerbiedige vrees vir God sal druk op ons uitoefen om op ’n regte weg te bly, aangesien ons hom nie wil mishaag nie. Verder sal liefde vir God ons aanspoor om te doen wat sy hart verbly. Ons onthou bowendien dat God ons ryklik beloon as ons doen wat reg is, en dit verdiep ons liefde vir hom en wek die begeerte by ons om sy wil te doen. ’n Gebalanseerde beskouing van God help ons gevolglik om enige mensevrees wat ons dalk het, te bowe te kom.

Daar word byvoorbeeld druk op baie uitgeoefen om te doen wat verkeerd is uit vrees vir wat hulle portuurs dink. Jongmense op skool rook miskien, gebruik slegte taal, spog oor hulle seksuele ondervinding (werklik of denkbeeldig) en eksperimenteer selfs met drank en dwelms. Waarom? Nie altyd omdat hulle wil nie, maar uit vrees vir wat hulle portuurs sal sê as hulle anders optree. Vir ’n tiener kan uitkoggelary en bespotting net so moeilik wees om te verduur soos fisiese vervolging.

’n Volwassene kan ook druk ervaar om verkeerd te doen. Die baas by die werk sal ’n werknemer miskien beveel om ’n klant se rekening groter te maak of ’n belastingvorm van die maatskappy oneerlik in te vul ten einde die belastingaanspreeklikheid te verminder. Die Christen kan meen dat hy sy betrekking sal verloor as hy nie luister nie. Mensevrees kan dus druk op hom uitoefen om te doen wat verkeerd is.

In albei gevalle sou ’n gesonde vrees vir God en eerbied vir sy gebooie verhinder dat die Christen deur mensevrees verlam word. En liefde vir God sou hom van dade weerhou wat God verbied het (Spreuke 8:13). Daarbenewens sal sy geloof in God hom verseker dat God hom sal onderskraag ongeag die gevolg, indien hy volgens sy Bybelopgeleide gewete handel. Die apostel Paulus het sy geloof met hierdie woorde uitgedruk: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”—Filippense 4:13.

Die Bybel verstrek talle voorbeelde van manne en vroue wat selfs onder die ergste beproewinge aan Jehovah getrou was. Hulle “het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor” (Hebreërs 11:36, 37). Maar hulle het nie toegelaat dat mensevrees hulle sinne beheers nie. Hulle het eerder dieselfde verstandige weg bewandel wat Jesus later vir sy dissipels uiteengesit het: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees [God] liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in [Gehenna].”—Mattheüs 10:28, vgl. NW.

Gehoorsaamheid aan Jesus se raad om God eerder as die mens te vrees, het vroeë Christene gehelp om allerhande ontberinge, beproewinge en vervolginge “ter wille van die evangelie” te verduur (Filemon 13, NAV). Die apostel Paulus is ’n merkwaardige voorbeeld hiervan. In sy tweede brief aan die Korinthiërs wys hy hoe vrees vir God hom aangemoedig het sodat hy gevangenskap, slae, steniging, skipbreuk, verskillende gevare op die paaie, slapelose nagte, honger, dors, koue en naaktheid kon verduur.—2 Korinthiërs 11:23-27.

Vrees vir God het daardie vroeë Christene ook versterk om te volhard ondanks wrede vervolging onder die Romeinse Ryk, toe party selfs vir wilde diere in die arena gegooi is. In die Middeleeue is moedige gelowiges in die openbaar verbrand omdat hulle nie hulle geloof wou prysgee nie. Gedurende die laaste wêreldoorlog het Christene verkies om eerder in konsentrasiekampe te ly en te sterf as om dinge te doen wat God mishaag. Wat ’n sterk krag is godvrugtige vrees tog! As dit Christene versterk het om mensevrees onder sulke beproewende omstandighede te oorwin, kan dit ons beslis versterk, in watter situasie ons ons ook al bevind.

Satan die Duiwel doen vandag alles in sy vermoë om druk op ons uit te oefen sodat ons God mishaag. Ware Christene moet dus dieselfde vasbeslotenheid aan die dag lê as wat die apostel Paulus geopenbaar het toe hy geskryf het: “Ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe” (Hebreërs 10:39, NAV). Vrees vir Jehovah is ’n ware bron van krag. Met behulp daarvan kan ons “met alle vrymoedigheid sê: “Die Here is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?”-Hebreërs 13:6.

[Prent op bladsy 7]

Vrees vir God het Paulus aangemoedig sodat hy alle dinge kon verduur, waaronder slae, gevangenskap en selfs skipbreuk.—2 Korinthiërs 11:23-27

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel