Is vrees altyd nadelig?
DIT kan geluk ruïneer en hoop vernietig. Dit is al gif vir die verstand, die vernietiger van die rede, genoem en daar word gesê dat dit vernietigender is as die ergste liggaamskwaal. Ja, vrees is ’n kragtige emosie. Maar is dit altyd nadelig?
Stel jou voor jy ry op ’n onbekende pad. Die pad loop in die berge op en begin kronkel en draai. Dit word skemer en begin terselfdertyd saggies sneeu. Jou motor gly effens, en jy besef dat jy ’n hoogte bereik het waar daar ys op die pad is.
Nou moet jy baie waaksaam wees. Terwyl jy versigtig om elke ysbedekte draai ry, dink jy aan hoe maklik dit is om op die gladde oppervlak beheer oor die motor te verloor en tot onder in die vallei te stort. Jy weet boonop nie watter ander gevare in die donkerte skuil nie. Onderwyl sulke gedagtes by jou opkom, word jou mond droog en klop jou hart ’n bietjie vinniger. Jy is wawyd wakker. Waaraan jy ook al vroeër gedink het, al jou aandag is nou gevestig op die taak voor jou: om die motor op die pad te hou en ’n ongeluk te vermy.
Uiteindelik begin die pad daal. Daar is straatligte, en daar is nie meer ys nie. Die spanning sypel uit jou liggaam. Jy ontspan en slaak ’n sug van verligting. Al daardie vrees was onnodig!
Maar was dit onnodig? Nie werklik nie. ’n Redelike mate van senuagtigheid is onder sulke omstandighede ’n normale reaksie. Dit maak ons waaksaam, versigtig. Gesonde vrees kan ons help om nie onbesonne op te tree en onsself te beseer nie. Ja, vrees is nie altyd ’n vernietiger van die rede of gif vir die verstand nie. Dit kan onder sommige omstandighede selfs voordelig wees.
Die Bybel praat van vrees en vestig ons aandag op twee bepaalde soorte. Die een soort vrees is inderdaad gif vir die verstand. Maar die ander is nie net normaal en heilsaam nie, maar noodsaaklik vir ons redding. Wat is die twee soorte vrees? En hoe kan ons leer om die een te ontwikkel terwyl ons die ander vermy? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.