Sien jy net die uiterlike?
HEINZ, ’n tiener wat deur haat gedryf is, was van plan om sy stiefpa dood te maak. Hy het gelukkig nie die moed gehad om dit te doen nie. Etlike jare later het hy besluit om selfmoord te pleeg, maar kon dit ook nie doen nie. Hy het in diefstal en dwelmsmousery betrokke geraak en is daarvoor in die tronk gestop. Toe het sy huwelik misluk.
Vandag is Heinz nie meer aan dwelms verslaaf nie. Hy verdien sy geld eerlik. Hy het ’n gelukkige huwelik en ’n goeie verhouding met sy stiefpa. Wat het die verskil gemaak? Hy het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Sy beskouing van die lewe het geleidelik begin verander.
Baie mense wat die ou Heinz geken het, het hom ongetwyfeld as ’n nikswerd kêrel beskou. Maar gelukkig vir hom, en baie mense soos hy, het God hom nie as onherstelbaar verlore beskou nie. Waarom nie? Die rede is eenvoudig: “Nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”—1 Samuel 16:7.
Dit is een groot verskil tussen die mens en God. Ons is geneig om volgens die uiterlike te oordeel. Ons sê selfs “eerste indrukke is blywend”. Met ander woorde, ons is geneig om mense te kategoriseer op grond van eerste reaksies. Maar omdat God die hart kan lees, is hy regverdig en onpartydig. En dit is waarom hy sy Seun, Jesus Christus, na die aarde gestuur het sodat “alle mense gered [kan] word en tot kennis van die waarheid [kan] kom” (1 Timotheüs 2:4). In hierdie verband het toegewyde Christene die voorreg om “medewerkers van God” te wees deur die goeie nuus van God se Koninkryk ywerig aan die hele mensdom te verkondig (1 Korinthiërs 3:9). Maar Christene het hulle beperkinge—hulle kan nie mense se harte lees nie. Hulle moet dus onpartydig wees en nie deur die uiterlike bevooroordeel word nie.
Jesus se halfbroer Jakobus was bewus van hierdie gevaar in die vroeë Christengemeente. Hy het gesê: “My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere . . . het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?” Beoordeel ons soms, op grond hiervan, mense wat die eerste keer na die Koninkryksaal kom verkeerd?—Jakobus 2:1-4, NAV.
Jesus het die voorbeeld gestel
Jesus het mense nie as onherstelbaar verlore sondaars beskou nie, maar as moontlik opregte persone wat bereid is om te verander as hulle die nodige hulp en behoorlike aansporing gegee word. Dit is waarom hy “Homself gegee het as ’n losprys vir almal” (1 Timotheüs 2:6). In sy predikingswerk het hy niemand met ’n goeie hart as onaanraakbaar beskou nie, asof hulle nie sy aandag werd was nie. Sy beskouing van mense het geen trotse gevoelens van eiegeregtigheid getoon nie.—Lukas 5:12, 13.
Hoe anders as die Fariseërs, van wie ons lees: “En toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom saam met die tollenaars en sondaars sien eet, sê hulle vir sy dissipels: Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink? En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”—Markus 2:16, 17.
Dit beteken natuurlik nie dat Jesus die oneerlike en verkeerde gebruike wat hierdie sondaars en tollenaars beoefen het deur die vingers gesien het nie. Maar hy het geweet dat mense in ’n verkeerde lewenswyse vasgevang kan word, miskien selfs onbewustelik of weens omstandighede wat moeilik is om te beheer. Hy het dus begrip getoon en “het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was” (Markus 6:34). Hy het liefdevol ’n onderskeid getref tussen hulle slegte dade en hulle moontlik goeie harte.
Wanneer Jesus met sy volgelinge te doen gehad het, het hy ook na meer as die uiterlike gekyk. Hulle was sondaars wat dikwels foute gemaak het, maar Jesus was nie ’n onredelike perfeksionis wat hulle vir elke oortredinkie geroskam het nie. Hy het geweet dat hulle goed bedoel het of, soos ons vandag sê, dat hulle hart op die regte plek gesit het. Hulle het hulp en aanmoediging nodig gehad; en daarmee was Jesus nooit suinig nie. Hy het mense ongetwyfeld beskou soos God hulle beskou. Probeer ons sy wonderlike voorbeeld navolg?
Is jou oordeel “’n regverdige oordeel”?
Jesus het eenmaal voor ’n groep eiegeregtige klaers gestaan wat hulle vererg het omdat hy iemand op die Sabbat genees het. Hy het vir hulle gesê: “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ’n regverdige oordeel.” Waarom was hulle nie verheug toe hulle sien dat Jesus ’n wonderdoener is wat iemand “heeltemal gesond” gemaak het, pleks van “kwaad” te word en hom as ’n skender van die Sabbatswet te beskou nie? Deur volgens die uiterlike te oordeel, het hulle hul slegte beweegredes verraai. Hulle het getoon dat hulle oordeel eiegeregtig sowel as onregverdig was.—Johannes 7:23, 24.
Hoe kan ons moontlik dieselfde fout maak? Deur nie verheug te wees wanneer ’n berouvolle persoon terugkom na die gemeente of wanneer ’n baie wêreldse persoon die waarheid leer en by geestelike genesing begin baat vind nie. Soms oordeel ons mense dalk volgens hulle onortodokse kleredrag of persoonsversorging en dink ons dat hulle waarskynlik nooit Getuies sal word nie. Maar baie voormalige hippies en ander met onortodokse lewenstyle het uiteindelik Christengetuies van Jehovah geword. Terwyl sulke persone aanpassings maak, moet ons nie toelaat dat ons blind is vir hulle goeie hartstoestand omdat ons “oordeel volgens wat [ons] sien” nie.
Dit sal soveel beter, en in ooreenstemming met Jesus se goeie voorbeeld, wees om vir hulle te bid en praktiese hulp aan te bied sodat hulle Christelike rypheid kan bereik! Dit is dalk moeilik om ’n rede tot vreugde in hulle te vind. Maar wie is ons om hulle op grond van ons eng vereistes te verwerp as Jehovah hulle deur Christus na hom toe trek? (Johannes 6:44). As ons eiegeregtig iemand oordeel, terwyl ons nie sy hart of omstandighede ken nie, kan dit veroorsaak dat ons self ’n ongunstige oordeel ontvang.—Vergelyk Mattheüs 7:1-5.
Pleks van sulke nuwelinge kras te oordeel, moet ons hulle help, aanmoedig en vermaan deur ons voorbeeld. Maar hoewel ons goedgunstigheid betoon, behoort ons nuwelinge wat miskien beroemd is in die wêreld beslis nie te verafgod nie. Dit sou ’n soort partydigheid wees. Dit sou ook ’n teken van onvolwassenheid aan ons kant wees. Wat die persoon self betref, sal ons bewondering hom help om nederig te wees? Of sal dit hom eerder in die verleentheid stel?—Levitikus 19:15.
Moenie meer verwag as wat God verwag nie
Ons beskouing van ander is baie beperk vergeleke met dié van Jehovah, wat die hart lees (1 Kronieke 28:9). As ons dit besef, sal dit verhoed dat ons hedendaagse, eiegeregtige Fariseërs word wat mense na ons eie, menslike begrip van geregtigheid wil vorm sodat hulle kan voldoen aan ons idee van wat reg is. As ons mense probeer sien soos God hulle sien, sal ons nie meer van hulle verwag as wat hy van hulle verwag nie. Ons sal nie “bo wat geskrywe is” gaan nie (1 Korinthiërs 4:6). Dit is veral belangrik dat Christen- ouere manne dit ter harte neem.—1 Petrus 5:2, 3.
Ons kan dit toelig deur kleredrag as voorbeeld te gebruik. Die Bybel se vereiste—God se vereiste—is dat ’n Christen se kleredrag netjies en skoon, welversorg, moet wees en nie ’n gebrek aan “beskeidenheid en ingetoënheid” moet openbaar nie (1 Timotheüs 2:9; 3:2). Dit is dus duidelik dat die ouere manne in een gemeente ’n paar jaar terug “bo wat geskrywe is”, gegaan het deur te vereis dat elke openbare spreker in hulle gemeente ’n wit hemp dra, al was pastelkleure algemeen aanvaarbaar in daardie land. Gassprekers wat met ’n gekleurde hemp opgedaag het, is gevra om een van die wit hemde aan te trek wat juis vir sulke noodgevalle by die Koninkryksaal gehou is. Hoe versigtig moet ons tog wees om nie ons persoonlike smaak aan ander op te dwing nie! En hoe gepas is Paulus se raad tog: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word”!—Filippense 4:5, NW.
Goeie resultate wanneer ’n mens na meer as die uiterlike kyk
As ons besef dat ons nie mense se harte kan lees nie, sal dit ons help om ’n beter verhouding met diegene rondom ons, binne en buite die Christengemeente, te handhaaf. Dit sal ons help om positief oor andere te dink, en nie hulle beweegredes in twyfel te trek nie, “want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ’n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en sinsgenot” (Titus 3:3). As ons dit besef, sal ons gewillig wees om vir almal te preek, selfs vir die wat uiterlik onwaardig lyk. Dit is immers húlle besluit of hulle die waarheid sal aanneem of verwerp. Dit is óns verantwoordelikheid om dit aan almal te verkondig.
Baie van Jehovah se Getuies, soos Heinz, is bly dat hulle in die Christengemeente verwelkom is deur broers en susters wat na meer as die uiterlike gekyk het en nie volgens eerste indrukke geoordeel het nie.
Neem Frank wat een Sondag sy opwagting gemaak het by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Suid-Duitsland. Wat het die aanwesiges gesien? ’n Slordige, bebaarde, jong man met hare wat op sy skouers hang, in vuil klere, wat bekend is as iemand wat in plaaslike kroeë boer en ’n strawwe roker is—iemand wat sy vriendin en hulle tweelingbabas verwaarloos het. Hy is nietemin hartlik by die vergadering verwelkom. Hy was so beïndruk dat hy ’n week later teruggekeer het. Wat het hulle toe gesien? ’n Netjies versorgde jong man in skoon klere. Die derde week het hulle ’n jong man gesien wat nie meer rook nie, hierdie keer saam met sy vriendin en hulle twee kinders. Op die vierde Sondag het hulle ’n jong man en ’n jong vrou gesien wat pas ’n huwelikslisensie gekry het om hulle verhouding te wettig. Op die vyfde Sondag het hulle ’n jong man gesien wat alle bande met valse godsdiens verbreek het. Vandag, sowat vier jaar later, sien hulle, volgens een van Jehovah se Getuies, “’n gesin wat so ’n goeie indruk maak dat jy sou dink hulle is al jare lank ons broers”.
Die gehalte van ’n boek kan nie noodwendig aan sy omslag gesien word, of dié van ’n huis aan sy vooraansig nie. Die ware gehalte van ’n persoon kan eweneens nie noodwendig aan die uiterlike gesien word nie. Christene wat mense probeer sien soos God hulle sien, sal nie op grond van eerste indrukke oordeel nie. God let op “die verborge mens van die hart” en daarvoor kan ons dankbaar wees.—1 Petrus 3:3, 4.