Koninkryksverkondigers berig
Die goeie nuus gedy in Ciprus ondanks teenstand
DIE apostel Paulus het die goeie nuus van die Koninkryk op Ciprus verkondig (Handelinge 13:4-12). Dit was in 47-48 G.J. Vandag word die goeie nuus op hierdie pragtige eiland deur 1 154 getuies van Jehovah verkondig, en in April vanjaar het 2 570 die Gedenkmaal bygewoon, wat toon dat daar talle regskape en godvresende mense op die eiland is. Maar terwyl baie van die mense die vreedsame Bybelboodskap verwelkom wat Jehovah se Getuies verkondig, staan die Grieks-Ortodokse geestelikes, net soos die Joodse geestelikes in Jesus se dag, die werk teë (Johannes 15:20). Die Ciprus-takkantoor skryf: “Die Grieks-Ortodokse Kerk toon, soos nooit tevore nie, sy vasbeslotenheid om ons predikingswerk te ontwrig.” Die verslag beskryf dan hoe die geestelikes die broers in hulle bediening van huis tot huis lastig val en hulle probeer uittart sodat hulle in ’n argument gewikkel kan raak. Hulle beskuldig hulle dan daarvan dat hulle stoornis veroorsaak, maar die broers weier om kwaad te word en loop weg.
Trouens, die geestelikes se teestand het dikwels die teenoorgestelde uitwerking, soos die volgende ondervinding toon: “’n Paar maande gelede het ’n vrou begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer, en haar man het onlangs ook begin. Toe het ’n teoloog hierdie egpaar besoek in die hoop dat hy hulle daarvan sal oortuig om hulle Bybelstudie te laat vaar. Die teoloog het probeer om die Drie-eenheid vir hulle te verduidelik. Na ’n rukkie het die man hom in die rede geval en gesê: ‘Ek verstaan nie hoe Jesus wat nou, soos jy beweer, in die hemel in ’n vleeslike liggaam is terselfdertyd een met God kan wees wat ’n geesliggaam het nie.’ Die teoloog se antwoord was: Wel, jy hoef nie alles te verstaan nie.’ Die belangstellende persoon het gesê: ‘Maar ek verstaan dat Jesus die Seun van God en nie God self is nie. Ek wil niks meer oor die Drie-eenheid hoor nie.’ Hierop het die teoloog opgestaan en driftig gesê: ‘Julle het te ver gevorder met julle Bybelstudie. Julle kan nie verander nie.’”
Nou woon die vrou al die vergaderinge by, en sy is by die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms gedoop. Die man sit sy studies voort en woon sommige vergaderinge by.
“Ondanks hulle pogings bereik die geestelikes dus nie hulle doelwit nie”, sê die verslag van die takkantoor op Ciprus. “Ons merk eerder op dat meer belangstellendes nou vergaderinge bywoon as voorheen. Die broers is terselfdertyd meer vasbeslote om die goeie nuus aan regskapenes te verkondig.” Jehovah steun sy lojale knegte soos hy in Jeremia 1:19 belowe het hy sou: “En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.”