Koninkryksverkondigers berig
Jehovah seën handhawers van onkreukbaarheid in Ciprus
JESUS het vir sy volgelinge gesê: “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). En deur die profeet Jesaja het Jehovah gesê: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie” (Jesaja 54:17). Die waarheid van albei hierdie stellings is in Ciprus bewys, waar die onkreukbare getuies van Jehovah die goeie nuus verkondig.
◻ “Die Grieks-Ortodokse Kerk probeer baie hard om ons werk te ondergrawe”, sê ’n verslag uit daardie land. “Die priesters versprei traktaatjies wat ons van allerhande dinge beskuldig en vir die mense sê om besprekings met Jehovah se Getuies te vermy. Hulle besoek selfs mense wat die Bybel saam met die Getuies bestudeer en probeer om hulle te ontmoedig. ’n Priester-teoloog in Paphos het drie verskillende persone probeer oortuig dat hulle moet ophou om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Op afsonderlike tye het elk van die drie ’n broer genooi om ’n bespreking met hierdie teoloog te hê. Gelukkig is al drie nou aktief aan Jehovah se organisasie verbonde.” Dit het die priester natuurlik ontstig, en hy het gesê: “Ek sal nooit weer ’n bespreking met Jehovah se Getuies hê nie.” Party priesters het selfs so ver gegaan om sommige van die broers te slaan terwyl hulle getuieniswerk gedoen het. Maar die geestelikes se pogings boemerang gewoonlik, en meer mense neem nou hulle standpunt vir Jehovah in.
◻ Die volgende ondervinding uit Ciprus toon dat onkreukbaarheid ondanks teenkanting seëninge bring. ’n Vrou wie se man tydens die oorlog van 1974 gedood is, is met ’n dogtertjie agtergelaat wat sy moes grootmaak. Die vrou het weer getrou. Ontnugter deur die skynheiligheid van die geestelikes en die onsekerheid oor die toekoms, het sy ingestem om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Sy het vinnig gevorder en haar gesin van die goeie dinge wat sy geleer het, begin vertel. Teenkanting het ontstaan. Die grootste toets was toe haar 15-jarige dogter gesê het: “Ek het my pa verloor, en as jy nie jou studies saam met Jehovah se Getuies staak nie, sal ek jou as my ma verwerp. Ek sal ’n weeskind wees.” Die vrou het desondanks aangehou om te studeer.
Eendag het die meisie ’n vriendin in die hospitaal besoek. By die bed langsaan het ’n Getuie by sy familielid gekuier toe ’n priester dieselfde pasiënt kom besoek het. ’n Bespreking tussen die broer en die priester het begin. Die broer was kalm en taktvol en het die Bybel gebruik om sy standpunt te verduidelik. Die priester daarenteen was aggressief. Hy het sy stem dik gemaak, maar nie ’n enkele keer die Bybel oopgemaak nie. Die meisie het die toneel gadegeslaan en is beïndruk deur die broer se vriendelikheid en deur die feit dat hy die Bybel gebruik het. Die meisie het daardie selfde aand, toe die broer en sy vrou haar moeder vir die Bybelstudie besoek het, verduidelik wat by die hospitaal gebeur het en hulle gevra: “Kan julle ook met my studeer?” Die meisie studeer nou twee maal per week, en haar stiefvader studeer ook. Die moeder is ’n gedoopte verkondiger.
Jehovah seën inderdaad sy onkreukbare knegte in Ciprus!
[Prent op bladsy 7]
Die apostel Paulus het ook teenkanting in Paphos ondervind