William Tyndale se Bybel vir die volk
DIT was ’n dag in Mei 1530.a St. Paulus se kerkhof in Londen was vol mense. In plaas van soos gewoonlik om die boekstalletjies rond te maal en die jongste nuus en skinderpraatjies uit te ruil, was die skare duidelik opgewonde. ’n Vuur het in die middel van die plein gebrand. Maar dit was nie ’n gewone vreugdevuur nie. ’n Paar mans het mandjiesvol boeke in die vuur gegooi. Dit was ’n boekverbranding!
Dit was ook nie gewone boeke nie. Dit was Bybels—William Tyndale se “Nuwe Testament” en Pentateug—die eerstes wat ooit in Engels gedruk is. Eienaardig genoeg is daardie Bybels op bevel van die biskop van Londen, Cuthbert Tunstall, verbrand. Trouens, hy het ’n groot som bestee om al die eksemplare wat hy kon vind te koop. Wat was dan verkeerd met die Bybels? Waarom het Tyndale hulle uitgegee? En waarom het die owerheid soveel moeite gedoen om daarvan ontslae te raak?
Die Bybel—’n geslote boek
In die meeste wêrelddele is dit vandag betreklik maklik om ’n Bybel te koop. Maar dit was nie altyd die geval nie. Selfs in die 15de en vroeë 16de eeu in Engeland is die Bybel nog beskou as die eiendom van die kerk, as ’n boek wat slegs by openbare dienste gelees en alleenlik deur die priesters verduidelik mag word. Maar wat gelees is, was gewoonlik uit die Latynse Bybel, wat die gewone mense nie kon verstaan of bekostig nie. Al wat hulle dus van die Bybel geweet het, was die verhale en sedelesse wat die geestelikes verkondig het.
Maar die gewone mense was nie die enigste onkundiges waar dit by die Bybel gekom het nie. Gedurende die bewind van koning Eduard VI (1547-1553) het ’n biskop van Gloucester glo bevind dat 168 uit 311 geestelikes nie die Tien Gebooie kon opsê nie, en dat 31 nie geweet het waar om dit in die Bybel te vind nie. Veertig kon nie die Onse Vader opsê nie en sowat 40 het nie geweet by wie dit ontstaan het nie. John Wycliffe het weliswaar in 1384 ’n Bybel in Engels uitgegee, en parafrases van verskeie dele van die Skrif, soos die Evangelies en die Psalms, het in daardie taal bestaan. En tog was die Bybel in werklikheid ’n geslote boek.
Sulke toestande het Tyndale laat besluit om die Bybel vir die Engelssprekendes beskikbaar te stel. “Ek het gesien dat dit onmoontlik was om die lekepubliek in die waarheid te vestig”, het hy geskryf, “behalwe as die Skrif duidelik in hulle moedertaal aan hulle voorgelê word.”
Maar deur die Bybel in Engels te vertaal, het Tyndale hom die toorn van die owerheid op die hals gehaal. Waarom? Want reeds in 1408 het ’n vergadering van geestelikes in Oxford, Engeland, bymekaargekom om te besluit of die gewone mense toegelaat moes word om eksemplare van die Bybel in hulle eie taal vir persoonlike gebruik te hê. Die beslissing lui ten dele: “Ons beveel en verorden derhalwe dat geen ongemagtigde persoon voortaan enige deel van die heilige Skrif in Engels of enige ander taal sal vertaal nie . . . op straf van die groter ekskommunikasie, totdat die genoemde vertaling deur die biskop van die bisdom, of ’n provinsiale raad na gelang van die geleentheid, goedgekeur word.”
Meer as ’n eeu later het biskop Tunstall hierdie bevel toegepas deur Tyndale se Bybel te verbrand, hoewel Tyndale vroeër Tunstall se goedkeuring probeer verkry het.b Na Tunstall se mening het Tyndale se vertaling sowat 2 000 foute bevat en was dit derhalwe “verderflik, aanstootlik en verleidelik vir eenvoudige verstande”. Maar was dit die biskop se verskoning om sy verbranding daarvan te regverdig? Was Tyndale werklik ’n swak vertaler wat nie die nodige geleerdheid in Hebreeus, Grieks en Engels gehad het nie? Hoe ’n goeie vertaler was Tyndale?
Tyndale—’n Swak vertaler?
Hoewel mense Hebreeus en Grieks destyds nie so goed verstaan het soos vandag nie, het Tyndale se begrip van hierdie tale goed vergelyk met dié van die meeste geleerdes van sy tyd. Wat Tyndale se werk buitengewoon maak, is die feit dat hy nie net die Latynse Vulgaat en Luther se Duitse vertaling geraadpleeg het nie. Hy het gebruik gemaak van die oorspronklike Griekse teks wat in 1516 deur Erasmus gepubliseer is. Tyndale het ook nie sy doel vergeet nie: om die Skrif eenvoudig genoeg te maak sodat die gewone leek, selfs die “seun wat die land ploeg”, dit kon lees. Sy styl en uitdrukkings is derhalwe eenvoudig en duidelik dog kragtig. En sy lewendige ritme getuig ongetwyfeld van die vreugde wat die taak hom verskaf het.
Dit is dus waar om te sê dat “Tyndale ’n vertaler met besonder goeie oordeel was. In buitengewoon ongunstige omstandighede, en ondanks die beperkte kennis van Bybelse tale in sy dag, het hy vertalings gelewer wat die voorbeeld vir al die Engelse vertalers daarna gestel het.”—The Making of the English Bible, deur Gerald Hammond, bladsye 42, 43.
’n Juiste vertaling
Wat juistheid betref, het Tyndale ook ’n hoë standaard gestel. Wanneer hy uit Hebreeus vertaal het, het hy byvoorbeeld probeer om dit so letterlik moontlik te stel terwyl hy ’n maklike, vloeiende Engelse styl behou het. Hy het selfs die uitvoerige Hebreeuse beskrywings met die veelvuldige herhaling van die woord “en” wat sinsdeel na sinsdeel in ’n sin verbind sorgvuldig weergegee. (Kyk Genesis hoofstuk 33 in die King James Version, wat Tyndale se bewoording feitlik net so bevat.) Hy het noukeurig gelet op die konteks en het byvoegings tot of weglatings uit die oorspronklike teks vermy, hoewel die meeste vertalers destyds parafrasering gebruik het.
Tyndale se woordkeuse was ook noukeurig en akkuraat. Hy het byvoorbeeld “love” in plaas van “charity” gebruik, “congregation” vir “church” en “elder” in plaas van “priest” waar gepas. Dit het kritici soos sir Thomas More woedend gemaak, want dit het woorde verander wat vanweë tradisie as gewyd beskou is. Waar die oorspronklike die herhaling van ’n woord vereis het, het Tyndale dit noukeurig so weergegee. Ter toeligting: In Genesis 3:15 praat sy vertaling twee keer van ‘vertrapping’ deur die saad van die vrou en deur die slang.c
Tyndale het ook God se persoonlike naam Jehovah in die Engelse Bybel ingebring. Volgens skrywer J. F. Mozley het Tyndale dit “meer as twintig keer in sy [vertalings van die] Ou Testament” gebruik.
As ons terugkyk op die uitwerking van Tyndale se pogings en die duursame eienskappe daarvan, som hierdie hedendaagse waardebepaling sy werk goed op: “Tindale se eerlikheid, opregtheid en stipte onkreukbaarheid, sy eenvoudige openhartigheid, sy betowerend eenvoudige taal, sy beskeie musiek het sy bewoording ’n gesag gegee wat alle later weergawes beïnvloed het .... Nege tiendes van die Authorized New Testament [King James Version] is steeds Tindale, en die beste is steeds syne.”—The Bible in lts Ancient and English Versions, bladsy 160.
Tyndale se werk was nie tevergeefs nie
Om die vervolging van die owerheid vry te spring, het Tyndale na Europa gevlug om sy werk voort te sit. Maar hy is eindelik gevang. Hy is skuldig bevind aan kettery, en in Oktober 1536 is hy verwurg en op die brandstapel verbrand. Sy laaste gebed was: “Here, open die koning van Engeland se oë.” Min het hy geweet hoe gou die situasie sou verander. In Augustus 1537, minder as ’n jaar na Tyndale se dood, het koning Hendrik VIII die Bybel wat algemeen as Matthew se Bybel bekend staan, goedgekeur. Hy het beveel dat dit in sy ryk vryelik verkoop en gelees word.
Wat was Matthew se Bybel? Professor F. F. Bruce verduidelik: “By ondersoek blyk dit dat dit hoofsaaklik Tyndale se Pentateug, Tyndale se weergawe van die geskiedkundige boeke van die Ou Testament tot by 2 Kronieke . . . Coverdale se weergawe van die ander Ou-Testamentiese en Apokriewe boeke en Tyndale se Nuwe Testament van 1535 is.” Die skrywer sê dus voorts: “Dit was ’n treffende daad van geregtigheid . . . dat die eerste Engelse Bybel wat met koninklike toestemming uitgegee is Tyndale se Bybel is (sover as wat Tyndale se vertaling gestrek het), al was dit nog nie raadsaam om Tyndale se naam openlik daarmee te assosieer nie.”
In nog ’n paar jaar was dinge weer waar dit begin het. Toe ’n uitgawe van die vertaling bekend as die Great Bible—’n hersiene weergawe van Matthew se Bybel—in 1541 uitgegee is en volgens bevel in elke kerk in Engeland geplaas moes word, het hierdie stelling op die titelblad verskyn: “Nagegaan en ondersoek op bevel van die koninklike hoogheid, deur die hoogeerwaarde vaders in God Cuthbert, biskop van Duresme, en Nicholas, biskop van Rochester.” Ja, hierdie ‘biskop van Durham’ was niemand anders as Cuthbert Tunstall, voormalige biskop van Londen, nie. Hy wat so bitterlik gekant was teen Tyndale se werk het dit nou goedgekeur dat die Great Bible, ’n werk wat hoofsaaklik nog Tyndale s’n was, uitgegee word.
Finale erkenning
Dit is miskien vandag verbasend om te lees van so ’n stryd oor die Bybel en haat vir sy vertalers. Maar iets wat miskien nog merkwaardiger is, is die feit dat teenstanders, ondanks hulle pogings, nie kon keer dat God se Woord die gewone mense bereik nie. “Die gras verdor, die blom verwelk”, het die profeet Jesaja gesê, “maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.”—Jesaja 40:8.
Tyndale en ander het onder die doodskaduwee gewerk. Maar deur die Bybel vir talle mense in hulle moedertaal beskikbaar te stel, het hulle vir hulle die vooruitsig, nie op die dood nie, maar op die ewige lewe, daargestel. Soos Jesus Christus gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Mag ons derhalwe God se Woord waardeer en dit ywerig bestudeer.
[Voetnote]
a Gebeure soos dié wat hier beskryf is, het ook in 1526 en op ander tye plaasgevind.
b Kyk Die Wagtoring van 15 Maart 1982, bladsye 10-14, vir meer besonderhede oor Tyndale se lewe en werk.
c Talle moderne vertalers let nie op die herhaling van die Hebreeuse werkwoord met sy wederkerige betekenis hier nie. In plaas van “bruise . . . bruise” (New World Translation; Revised Standard Version) gebruik hulle dus “crush . . . strike” (The Jerusalem Bible; New International Version), “crush . . . bite” (Today’s English Version), “tread . . . strike” (Lamsa), of “crush . . . lie in ambush” (Knox).
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Van ’n ou gravering in die Bibliothèque Nationale