William Tyndale—’n man met visie
William Tyndale is in Engeland “aan die grens van Wallis” gebore, waarskynlik in die graafskap Gloucester, hoewel die presiese plek en datum nie bepaal kan word nie. In Oktober 1994 het Engeland die 500ste verjaardag gevier van die man wat “ons ons Engelse Bybel gegee het”. Tyndale het as gevolg van hierdie werk ’n marteldood gesterf. Waarom?
WILLIAM TYNDALE het as student in Grieks en Latyn uitgeblink. In Julie 1515, toe hy skaars 21 jaar oud was, het hy ’n Meestersgraad in die Lettere aan die Universiteit van Oxford verwerf. Teen 1521 was hy ’n geordende Rooms-Katolieke priester. Destyds was Katolisisme in Duitsland in beroering vanweë Martin Luther se bedrywighede. Engeland het egter ’n Katolieke land gebly totdat koning Hendrik VIII uiteindelik in 1534 bande met Rome verbreek het.
Hoewel Engels die omgangstaal in Tyndale se dag was, is alle onderrig in Latyn gegee. Dit was ook die taal van die kerk en die Bybel. In 1546 het die Konsilie van Trente herbevestig dat net Hieronimus se vyfde-eeuse Latynse Vulgaat gebruik moes word. Maar slegs die geleerde mense kon dit lees. Waarom is die mense van Engeland die Bybel in Engels ontsê, sowel as die vryheid om dit te lees? “Hieronimus het ook die bybel in sy moedertaal vertaal: waarom kan ons nie ook nie?” was Tyndale se argument.
’n Geloofsdaad
Ná sy studies aan Oxford en moontlik verdere studies aan Cambridge het Tyndale die jong seuns van John Walsh twee jaar lank in die graafskap Gloucester privaat onderrig. Gedurende hierdie tyd het hy sy begeerte om die Bybel in Engels te vertaal verder gekoester en waarskynlik die geleentheid gehad om sy vertaalvermoë te verbeter met behulp van Erasmus se nuwe Bybelteks met Grieks en Latyn in parallelle kolomme. In 1523 het Tyndale die Walsh-gesin verlaat en na Londen gereis. Sy oogmerk was om toestemming vir sy vertaling van Cuthbert Tunstall, biskop van Londen, te probeer verkry.
Tunstall se goedkeuring was nodig omdat die bepalings van ’n sinode in 1408 in Oxford, wat as die Konstitusies van Oxford bekend staan, ’n verbod op die vertaling of lees van die Bybel in die volkstaal ingesluit het, tensy ’n biskop sy toestemming gegee het. Baie reisende predikers wat as die Lollarde bekend gestaan het, is as ketters verbrand omdat hulle hierdie verbod durf oortree het. Hierdie Lollarde het John Wycliffe se Bybel, ’n Engelse vertaling van die Vulgaat, gelees en versprei. Tyndale het gemeen dat die tyd aangebreek het om die Christelike geskrifte uit die Grieks te vertaal in ’n nuwe, egte weergawe vir sy kerk en vir die mense van Engeland.
Biskop Tunstall was ’n geleerde man wat baie gehelp het om Erasmus aan te spoor. As bewys van sy vaardighede het Tyndale een van die redevoerings van Isokrates, ’n moeilike Griekse teks, vertaal om Tunstall se goedkeuring te probeer verkry. Tyndale het gehoop dat Tunstall vriendskap en ondersteuning aan hom sou gee en sy aanbod sou aanvaar om die Bybel te vertaal. Wat sou die biskop doen?
Weiering—Waarom?
Hoewel Tyndale ’n bekendstellingsbrief gehad het, wou Tunstall hom nie te woord staan nie. Tyndale moes gevolglik aan hom skryf en om ’n onderhoud vra. Of Tunstall hom uiteindelik verwerdig het om Tyndale te ontmoet, is nie seker nie, maar sy boodskap was: ‘My huis is vol.’ Waarom het Tunstall Tyndale opsetlik met soveel minagting behandel?
Luther se hervormingswerk op die Europese vasteland het die Katolieke Kerk groot kommer besorg en het ’n nasleep in Engeland gehad. In 1521 het koning Hendrik VIII ’n kragtige verhandeling uitgegee wat die pous teen Luther verdedig het. Uit dankbaarheid het die pous aan Hendrik die titel “Verdediger van die Geloof” toegeken.a Hendrik se kardinaal Wolsey was ook besig om Luther se boeke te vernietig wat onwettig ingevoer is. As ’n Katolieke biskop wat lojaal teenoor die pous, die koning en sy kardinaal was, was Tunstall verplig om enige denke te onderdruk wat dalk ten gunste van die rebel Luther was. Tyndale was ’n hoogs verdagte. Waarom?
Tydens sy verblyf by die Walsh-gesin het Tyndale hom onverskrokke teen die onkunde en skynheiligheid van die plaaslike geestelikes uitgespreek. Een van hulle was John Stokesley wat Tyndale op Oxford geken het. Hy het Cuthbert Tunstall uiteindelik as biskop van Londen opgevolg.
Teenkanting teen Tyndale blyk ook duidelik uit ’n konfrontasie met ’n hooggeplaaste geestelike wat gesê het: “Ons is beter af sonder God se wet as sonder die pous s’n.” Tyndale het met die onvergeetlike woorde geantwoord: ‘Ek verag die Pous en al sy wette. As God my lewe spaar, sal ek, voordat baie jare verstryk het, sorg dat ’n seun wat die ploegspan lei meer as u van die Skrif weet.’
Tyndale moes voor die administrator van die bisdom van Worcester op vals aanklagtes van kettery verskyn. “Hy het my kwaai gedreig en uitgeskel”, het Tyndale later gesê en het bygevoeg dat hy soos “’n hond” behandel is. Maar daar was geen getuienis om Tyndale aan kettery skuldig te bevind nie. Geskiedkundiges meen dat al hierdie sake in die geheim aan Tunstall oorgedra is om sy besluit te beïnvloed.
Nadat Tyndale ’n jaar in Londen deurgebring het, het hy tot die slotsom gekom: “Daar is in my heer se paleis in Londen geen plek om die nuwe Testament te vertaal nie, maar ook . . . in die hele Engeland is daar geen plek om dit te doen nie.” Hy was reg. Watter drukker in Engeland sou in die atmosfeer van onderdrukking wat deur Luther se werk veroorsaak is ’n Bybel in Engels durf uitgee? Tyndale het die Engelse Kanaal dus in 1524 oorgesteek en het nooit weer teruggegaan nie.
Na Europa en nuwe probleme
Tesame met sy kosbare boeke het William Tyndale skuiling in Duitsland gevind. Hy het met hom die £10 gebring wat sy vriend Humphrey Monmouth, ’n invloedryke Londense handelaar, goedgunstiglik aan hom gegee het. Hierdie geskenk was destyds amper genoeg om Tyndale in staat te stel om die Griekse Geskrifte te druk wat hy van plan was om te vertaal. Monmouth is later in hegtenis geneem omdat hy Tyndale bygestaan het en na bewering simpatiek teenoor Luther gestaan het. Monmouth is ondervra en in die Toring van Londen gegooi en hy is eers vrygelaat nadat hy kardinaal Wolsey om kwytskelding versoek het.
Presies waarheen Tyndale in Duitsland gegaan het, is nie duidelik nie. Van die getuienis dui op Hamburg, waar hy moontlik ’n jaar deurgebring het. Het hy Luther ontmoet? Dit is onseker, selfs al sê die aanklag teen Monmouth dat dit wel die geval was. Een ding is seker: Tyndale was druk besig met die vertaling van die Griekse Geskrifte. Waar kon hy sy manuskrip laat druk? Hy het die taak aan Peter Quentell van Keulen toevertrou.
Alles het goed gegaan totdat die teenstander John Dobneck, ook bekend as Cochleus, uitgevind het wat aan die gang was. Cochleus het hierdie inligting onmiddellik aan ’n goeie vriend van Hendrik VIII oorgedra wat dadelik ’n verbod op die druk van Tyndale se vertaling deur Quentell verkry het.
Tyndale en sy helper, William Roye, het vir hulle lewe gevlug en saam met hulle die bladsye van Matteus se Evangelie geneem wat reeds gedruk was. Hulle het op die Rynrivier na Worms gevaar, waar hulle hulle werk voltooi het. Mettertyd is 6 000 eksemplare van die eerste uitgawe van Tyndale se Nuwe Testament gedruk.b
Sukses—ondanks teenkanting
Die vertaling en drukwerk was een ding. Om die Bybels in Brittanje te kry, was iets anders. Kerkagente en regeringsowerhede was vasbeslote om te keer dat dit oor die Engelse Kanaal verskeep word, maar goedgesinde handelaars het die oplossing gehad. Die boeke is weggesteek in bale materiaal en ander handelsware en na die kus van Engeland en tot in Skotland ingesmokkel. Tyndale het moed geskep, maar sy stryd het net begin.
Op 11 Februarie 1526 het kardinaal Wolsey, vergesel van 36 biskoppe en ander kerklike hoogwaardigheidsbekleërs, naby die St. Pauluskatedraal in Londen vergader “om te sien hoe groot mandjiesvol boeke in ’n vuur gegooi word”. Onder hierdie boeke was eksemplare van Tyndale se kosbare vertaling. Van hierdie eerste uitgawe bestaan daar vandag nog net twee eksemplare. Die enigste volledige eksemplaar (wat net die titelblad kortkom) is in die Britse Biblioteek. Dis ironies dat die ander een, waarvan 71 bladsye weg is, in die St. Pauluskatedraal se biblioteek ontdek is. Hoe dit daar gekom het, weet niemand nie.
Tyndale het onverskrokke voortgegaan om nuwe uitgawes van sy vertaling te maak, wat stelselmatig deur Engelse geestelikes gekonfiskeer en verbrand is. Toe het Tunstall van taktiek verander. Hy het ’n ooreenkoms met ’n handelaar genaamd Augustinus Packington aangegaan om enige boeke wat deur Tyndale geskryf is te koop, onder andere die Nuwe Testament, sodat hy dit kon verbrand. Dit is met Tyndale gereël, met wie Packington ’n ooreenkoms gesluit het. Halle se Chronicle sê: “Die biskop het die boeke gehad, Packington het die dank ontvang en Tyndale het die geld gehad. Later, toe meer Nuwe Testamente gedruk is, het hulle in Engeland ingestroom.”
Waarom was die geestelikes so erg gekant teen Tyndale se vertaling? Terwyl die Latynse Vulgaat geneig was om die heilige teks te verbloem, het Tyndale se weergawe uit die oorspronklike Grieks die Bybel se boodskap vir die eerste keer in verstaanbare taal aan die Engelssprekendes oorgedra. In 1 Korintiërs hoofstuk 13 het Tyndale byvoorbeeld besluit om die Griekse woord a·gaʹpe as “liefde” pleks van “welwillendheid” te vertaal. Hy het aangedring op “gemeente” eerder as “kerk” om die aandag te vestig op aanbidders, en nie op kerkgeboue nie. Maar dit was vir die geestelikes eens te veel toe Tyndale “priester” met “ouer man” vervang het en “berou” eerder as “boete doen” gebruik het, want sodoende het hy die geestelikes hulle toegeëiende priesterlike magte ontneem. David Daniell sê in verband hiermee: “Die vaevuur is weg; daar is geen mondelinge bieg en boetedoening nie. Twee pilare van die Kerk se rykdom en mag het ineengestort” (William Tyndale—A Biography). Tyndale se vertaling het hierdie uitdaging gebied, en moderne geleerdes stem ten volle met die juistheid van sy woordkeuse saam.
Antwerpen, verraad en die dood
Tussen 1526 en 1528 het Tyndale na Antwerpen verhuis, waar hy moontlik tussen die Engelse handelaars veilig gevoel het. Daar het hy The Parable of the Wicked Mammon, The Obedience of a Christian Man en The Practice of Prelates geskryf. Tyndale het sy vertaalwerk voortgesit en was die eerste persoon wat God se naam, Jehovah, in ’n Engelse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte gebruik het. Die naam verskyn meer as 20 keer daarin.
Terwyl Tyndale by sy vriend en weldoener Thomas Poyntz in Antwerpen gebly het, was hy beskerm teen die sameswerings van Wolsey en sy spioene. Hy het welbekend geword vir sy versorging van die siekes en die armes. Die Engelsman Henry Phillips het Tyndale se vertroue uiteindelik op slinkse wyse gewen. Tyndale is gevolglik in 1535 verraai en na Vilvoorde-kasteel, tien kilometer noord van Brussel, geneem. Daar is hy 16 maande lank gevange gehou.
Daar kan nie met sekerheid bepaal word wie Phillips gehuur het nie, maar biskop Stokesley, wat destyds “ketters” in Londen verbrand het, is die vernaamste verdagte. Op sy sterfbed in 1539 het Stokesley “hom daarin verheug dat hy in sy leeftyd vyftig ketters verbrand het”, sê W. J. Heaton in The Bible of the Reformation. Hierby ingesluit is William Tyndale, wat verwurg is voordat sy liggaam in Oktober 1536 in die openbaar verbrand is.
Drie vooraanstaande doktore in die godgeleerdheid aan die Katolieke Leuven-universiteit, waar Phillips ingeskryf was, het op die kommissie gedien wat Tyndale verhoor het. Drie kanunnike van Leuven en drie biskoppe, asook ander hoogwaardigheidsbekleërs, was ook teenwoordig om te sien hoe Tyndale aan kettery skuldig bevind word en van sy priesteramp onthef word. Almal het hulle verheug in sy dood; waarskynlik op die ouderdom van 42.
“Tyndale”, het die biograaf Robert Demaus meer as honderd jaar gelede gesê, “was te alle tye bekend vir sy onverskrokke eerlikheid.” Aan John Frith, sy medewerker wat deur Stokesley in Londen verbrand is, het Tyndale geskryf: “Ek het nooit een lettergreep van God se woord teen my gewete verander nie, en sal vandag ook nie, selfs al word alles op die aarde, hetsy dit nou plesier, eer of rykdom is, aan my gegee.”
So het William Tyndale dan sy lewe gegee vir die voorreg om die mense van Engeland ’n Bybel te gee wat hulle maklik kon verstaan. Hoe duur het hy tog hiervoor betaal—maar wat ’n onskatbare gawe!
[Voetnote]
a Fidei Defensor is kort daarna op munte van die ryk geslaan, en Hendrik het gevra dat hierdie titel aan sy opvolgers toegeken word. Vandag verskyn dit om die kop van die heerser op Britse munte as Fid. Def., of bloot as F.D. Dit is interessant dat “Verdediger van die Geloof” later gedruk is in die voorwoord waarin die King James Version van 1611 aan koning Jakobus opgedra is.
b Daar bestaan onsekerheid oor hierdie syfer; party kenners sê 3 000.
[Venster op bladsy 29]
VROEË VERTALINGS
TYNDALE se versoek om die Bybel in die omgangstaal te vertaal, was nie onredelik of sonder presedent nie. ’n Vertaling in Angel-Saksies is in die tiende eeu gedoen. Gedrukte Bybels wat uit Latyn vertaal is, was in die laat 15de eeu vryelik beskikbaar in Europa: Duits (1466), Italiaans (1471), Frans (1474), Tsjeggies (1475), Nederlands (1477) en Katalonies (1478). In 1522 het Martin Luther sy Nuwe Testament in Duits vertaal. Al wat Tyndale gevra het, is waarom Engeland nie toegelaat word om dieselfde te doen nie.
[Foto-erkennings op bladsy 26]
Bybel in die agtergrond: © The British Library Board; William Tyndale: By kind permission of the Principal, Fellows and Scholars of Hertford College, Oxford