Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 7/15 bl. 15-20
  • Gebede verg werke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebede verg werke
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom gebede werke verg
  • Enkele voorbeelde uit die ou tyd
  • Jesus se voorbeeld
  • Pas die beginsel toe
  • Gebed en ons getuieniswerk
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die voorreg van gebed
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Gebede wat verhoor word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Luister God na jou gebede?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 7/15 bl. 15-20

Gebede verg werke

“Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.”—SPREUKE 15:29.

1. Wat is een vereiste waaraan ons moet voldoen as ons wil hê dat God ons gebede moet verhoor?

AL Jehovah se vereistes is wys, regverdig en liefdevol. Hulle is glad nie swaar nie (1 Johannes 5:3). Dit sluit sy vereistes in verband met gebed in, en een hiervan is dat ons lewe met ons gebede moet strook. Ons handelwyse moet Jehovah God behaag. Hoe kan ons andersins verwag dat hy gunstige oorweging aan ons versoeke en smeekbedes moet skenk?

2, 3. Waarom het Jehovah nie die gebede van die Israeliete verhoor nie, soos blyk uit die woorde van Jesaja, Jeremia en Miga?

2 Dit is ’n aspek van gebed wat deur die meeste lede van die valse Christendom uit die oog verloor word, net soos die afvallige Israeliete in Jesaja se dag dit uit die oog verloor het. Dit is waarom Jehovah sy profeet hom soos volg laat aanhaal het: “As julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie . . . Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen” (Jesaja 1:15-17). Ja, as daardie Israeliete God se guns wou hê, moes hulle optree op ’n wyse wat hom behaag. Daar is al tereg gesê: “As jy wil hê dat God na jou moet luister wanneer jy bid, moet jy na Hom luister wanneer Hy spreek.”

3 Trouens, Jehovah God het dit herhaaldelik nodig gevind om sy volk Israel aan hierdie waarhede te herinner. Ons lees gevolglik: “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel” vir God. “Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy” (Spreuke 28:9; 15:29). As gevolg van hierdie situasie het Jeremia geweeklaag: “U [Jehovah] het Uself in ’n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie” (Klaagliedere 3:44). Die waarskuwing wat Miga geïnspireer is om te rig, is inderdaad vervul: “Dan sal hulle die HERE aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen het.”—Miga 3:4; Spreuke 1:28-32.

4. Wat toon dat daar selfs onder Jehovah se volk sommige is wat nie besef dat hulle werke met hulle gebede moet strook nie?

4 Ons lewe moet dus met ons gebede strook. Is dit noodsaaklik om hierdie feit vandag te beklemtoon? Inderdaad, nie alleen vanweë die situasie in die valse Christendom nie, maar ook vanweë die situasie van sommige lede van Jehovah se toegewyde volk. Ruim 37 000 van die meer as 3 000 000 verkondigers van die goeie nuus is verlede jaar uitgesit weens gedrag wat vir ’n Christen onbetaamlik is. Dit kom neer op ’n verhouding van ongeveer een uit 80. Die meeste van hierdie individue het heel waarskynlik ten minste nou en dan gebid. Maar het hulle dade met hulle gebede gestrook? Glad nie! Selfs sommige ouere manne wat dekades lank in die voltydse diens was, was onder diegene wat op die een of ander manier getugtig moes word. Hoe jammer tog! Ja waarlik, “wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie”, dat hy nie optree op ’n wyse wat sy gebede vir sy Maker onaanneemlik maak nie.—1 Korinthiërs 10:12.

Waarom gebede werke verg

5. Hoe moet ons bewys van ons opregtheid lewer as ons wil hê dat Jehovah ons gebede moet verhoor?

5 As ons wil hê dat Jehovah God ons gebede moet hoor, moet ons nie alleen sedelik en geestelik rein wees nie, maar moet ons ook bewys van die opregtheid van ons gebede lewer deur ons te beywer vir die dinge waarvoor ons bid. Gebed alleen is nie ’n plaasvervanger vir eerlike, intelligente inspanning nie. Jehovah sal nie dinge vir ons doen wat ons vir onsself kan doen deur die raad van sy Woord opreg toe te pas en die leiding van sy heilige gees te volg nie. Ons moet bereid wees om in hierdie opsig alles in ons vermoë te doen sodat hy ’n grondslag sal hê om ons gebede te verhoor. Ons sal gevolglik ‘nie meer vra as waarvoor ons bereid is om te werk nie’, soos iemand dit raak gestel het.

6. Om watter twee redes moet ons bid?

6 Die vraag kom egter op: ‘Waarom bid as ons ons moet beywer vir die dinge waarvoor ons bid?’ Daar is ten minste twee goeie redes waarom ons moet bid. Ten eerste, deur ons gebede erken ons dat alle goeie dinge van God af kom. Hy is die Gewer van elke goeie en volmaakte gawe—die sonskyn, die reën, die vrugbare seisoene en soveel meer! (Mattheüs 5:45; Handelinge 14:16, 17; Jakobus 1:17). Ten tweede, dit hang van Jehovah se seën af of ons pogings met sukses bekroon gaan word of nie. Ons lees in Psalm 127:1: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” Die volgende woorde van die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 3:6, 7 stel dieselfde punt: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.”

Enkele voorbeelde uit die ou tyd

7, 8. (a) Watter voorval in Jakob se lewe toon dat hy besef het dat gebede met werke gepaard moet gaan? (b) Watter voorbeeld het koning Dawid in hierdie opsig gestel?

7 Die Skrif vertel van baie gevalle wat toon dat Jehovah se getroue knegte hulle beywer het vir die dinge waarvoor hulle gebid het. Kom ons beskou ’n paar tipiese voorbeelde. Omdat Abraham se kleinseun Jakob die seën ontvang het wat met die eersgeboortereg gepaard gaan, het sy ouer broer Esau moorddadige haat jeens hom gekoester (Genesis 27:41). Sowat 20 jaar later, toe Jakob met ’n groot huisgesin en baie vee van Paddan-aram na sy geboorteland teruggekeer het, het hy verneem dat Esau hom tegemoettrek. Jakob, wat Esau se vyandigheid onthou het, het vurig tot Jehovah gebid om beskerming teen sy broer se toorn. Maar het hy dit daar gelaat? Glad nie. Hy het milde gawes voor hom uitgestuur en geredeneer: “Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan.” En dit is dan ook hoe sake verloop het, want toe die twee broers bymekaar uitgekom het, het Esau Jakob omhels en hom gesoen.—Genesis, hoofstukke 32, 33.

8 Dawid is nog ’n voorbeeld van iemand wat hom beywer het vir die dinge waarvoor hy gebid het. Toe sy seun Absalom sy troon wederregtelik in besit geneem het, het Dawid se raadgewer Agitofel party gekies vir Absalom. Dawid het dus ernstig gesmeek dat Agitofel se raad verydel mag word. Het Dawid net daarvoor gebid? Nee, hy het sy lojale raadgewer Husai beveel om hom by Absalom aan te sluit, sodat hy Agitofel se raad kon verydel. En dit is hoe sake verloop het. Absalom het die slegte raad wat Husai hom gegee het, gevolg en Agitofel se raad verwerp.—2 Samuel 15:31-37; 17:1-14; 18:6-8.

9. Hoe het Nehemia getoon dat hy bewus was van die beginsel dat gebede werke verg?

9 Nog ’n voorbeeld wat tot ons vermaning gemeld kan word, is dié van Nehemia. Hy het ’n groot taak gehad om uit te voer—hy moes die mure van Jerusalem herbou. Maar baie vyande het teen hom saamgesweer. Nehemia het gebid sowel as gewerk, soos ons lees: “Ons het tot onse God gebid en om hulle ontwil ’n wag teen hulle uitgesit, dag en nag.” Van toe af het die helfte van Nehemia se jong manne gereed gestaan om die ander helfte wat die muur herbou het, te beskerm.—Nehemia 4:9, 16.

Jesus se voorbeeld

10, 11. Watter voorbeelde wat deur Jesus gestel is, toon dat hy in ooreenstemming met sy gebede opgetree het?

10 Jesus Christus het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel van hoe ’n mens jou moet beywer vir die dinge waarvoor jy bid. Hy het ons geleer om te bid: “Laat u Naam geheilig word” (Mattheüs 6:9). Maar Jesus het ook alles in sy vermoë gedoen sodat sy hoorders sy Vader se naam kon heilig. Jesus het eweneens nie net gebid: “Vader, verheerlik u Naam!” nie (Johannes 12:28). Nee, hy het alles in sy vermoë gedoen om sy Vader se naam te verheerlik en om ander te oorreed om dit te doen.—Lukas 5:23-26; 17:12-15; Johannes 17:4.

11 Omdat Jesus gesien het watter groot geestelike behoefte die mense het, het hy vir sy dissipels gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes [Jehovah God], dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Mattheüs 9:37, 38). Het Jesus sake daar gelaat? Glad nie! Hy het sy 12 apostels onmiddellik daarna in pare uitgestuur op ’n predikings- of ‘oesinsamelings’-reis. Later het Jesus die 70 evangeliste uitgestuur om dieselfde werk te doen.—Mattheüs 10:1-10; Lukas 10:1-9.

Pas die beginsel toe

12. Hoe hou werk verband met ons gebede dat God ons ons daaglikse brood moet gee?

12 Dit is duidelik dat Jehovah God van ons verwag om konsekwent te wees, om in ooreenstemming met ons gebede op te tree en sodoende bewys van ons opregtheid te lewer. Jesus het vir ons gesê om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mattheüs 6:11). Daarom rig al sy volgelinge tereg so ’n versoek tot God. Maar verwag ons dat ons hemelse Vader daardie gebed moet verhoor sonder dat ons enigiets daaromtrent doen? Natuurlik nie. Dit is waarom ons lees: “Die siel van die luiaard begeer”—hy spreek moontlik selfs die begeerte in gebed uit—“en daar is niks nie” (Spreuke 13:4). Die apostel Paulus het dieselfde punt in 2 Thessalonicense 3:10 gestel toe hy gesê het: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Gebede om ons daaglikse brood moet gepaard gaan met ’n bereidwilligheid om te werk. Dit is interessant dat Paulus wyslik gesê het dat diegene wat “nie wil werk nie” nie moet eet nie. Sommige wat wil werk, is dalk werkloos, siek of te oud om te werk. Hulle wil werk, maar hulle omstandighede laat hulle nie toe nie. Hulle kan gevolglik tereg om hulle daaglikse brood bid en hoop om dit te ontvang.

13. Wat moet ons doen as ons wil hê dat Jehovah ons gebede om sy heilige gees moet verhoor?

13 Jesus het ons ook vermaan om sy hemelse Vader om Sy heilige gees te vra. Soos Jesus ons verseker het, is God meer bereid om ons die heilige gees te gee as wat aardse ouers is om goeie dinge aan hulle kinders te gee (Lukas 11:13). Maar kan ons verwag dat Jehovah God sy heilige gees op wonderdadige wyse aan ons sal gee sonder enige inspanning van ons kant? Beslis nie! Ons moet alles in ons vermoë doen om die heilige gees te ontvang. Ons moet nie alleen daarvoor bid nie, maar ons naarstig met God se Woord voed. Waarom? Omdat Jehovah God sy heilige gees nie afsonderlik van sy Woord gee nie, en ons kan nie verwag om die heilige gees te ontvang as ons die aardse kanaal ignoreer wat Jehovah vandag gebruik nie, naamlik “die getroue en verstandige dienskneg”, wat deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies verteenwoordig word. Sonder die hulp van hierdie “dienskneg” sal ons nie die volle betekenis van wat ons lees, kan verstaan nie en ook nie weet hoe om die dinge wat ons leer toe te pas nie.—Mattheüs 24:45-47.

14, 15. (a) Hoe moet ons saamwerk as ons wil hê dat Jehovah ons gebede om wysheid moet verhoor? (b) Hoe word dit deur koning Salomo se voorbeeld gestaaf?

14 Die beginsel dat gebede werke verg, is ook van toepassing op hierdie woorde van die dissipel Jakobus, die halfbroer van Jesus: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5; Mattheüs 13:55). Maar gee God ons hierdie wysheid deur middel van ’n wonderwerk? Nee. Ons moet eerstens die regte gesindheid hê, soos ons lees: “Hy sal . . . die ootmoediges sy weg leer” (Psalm 25:9). En hoe leer God “die ootmoediges”? Deur middel van sy Woord. Ons moet ons weer eens inspan om dit te verstaan en toe te pas, soos aangetoon in Spreuke 2:1-6: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer . . . dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind . . . want die HERE gee wysheid.”

15 Het die beginsel dat gebede werke verg ook gegeld toe koning Salomo om wysheid gebid en God sy gebed op wonderdadige wyse verhoor het? Ja, dit het, want as koning van Israel is daar van Salomo verwag om sy eie afskrif van die Wet te skryf, daagliks daarin te lees en dit op sy lewe toe te pas. Maar toe Salomo in stryd met die instruksies daarvan opgetree het, soos deur baie vroue en perde aan te skaf, het sy werke nie meer met sy gebede gestrook nie. Salomo het gevolglik ’n afvallige geword en as ’n “dwaas” gesterf.—Psalm 14:1; Deuteronomium 17:16-20; 1 Konings 10:26; 11:3, 4, 11.

16. Watter voorbeeld toon dat ons gebede om vleeslike swakhede te bowe te kom met werke gepaard moet gaan?

16 Die beginsel dat gebede met werke gepaard moet gaan, geld ook wanneer ons God se hulp vra om ’n ingewortelde, selfsugtige gewoonte te bowe te kom. ’n Pioniersuster het byvoorbeeld erken dat sy aan strooisages verslaaf was en elke dag van 11:00 vm. tot 3:30 nm. daarna gekyk het. Nadat sy in ’n streekbyeenkomstoespraak gehoor het hoe skadelik hierdie onsedelike programme is, het sy die saak in gebed na God geneem. Maar dit het ’n hele ruk geduur voordat sy die gewoonte te bowe gekom het. Waarom? Want, soos sy gesê het: ‘Ek het gebid om die gewoonte te bowe te kom en het dan in elk geval na die programme gekyk. Ek het dus besluit om die hele dag in die velddiens deur te bring sodat ek nie in die versoeking sou kom nie. Ek het eindelik die stadium bereik waar ek die TV in die oggend kon afskakel en dit die hele dag af kon los.’ Ja, benewens gebede om haar swakheid te bowe te kom, moes sy haar ook beywer om dit te bowe te kom.

Gebed en ons getuieniswerk

17-19. (a) Watter feite toon dat Jehovah se Getuies se dade met hulle gebede strook? (b) Watter voorbeeld van ’n individu stel dieselfde punt?

17 Die beginsel dat gebede werke vereis, is nêrens so waar as in die Koninkrykspredikingswerk nie. Daarom bid al Jehovah se Getuies nie alleen om meer oeswerkers nie, maar span hulle hulle ook in daardie werk in. Hulle het gevolglik merkwaardige vermeerderinge in een land na die ander gesien. Om maar net een voorbeeld te meld: In 1930 het daar slegs een getuie van Jehovah in Chili gepreek. Vandag het daardie een Getuie nie net ’n duisend geword nie, maar meer as 30 000 (Jesaja 60:22, NW). Was dit bloot te danke aan gebede? Nee, daar moes ook gewerk word. In 1986 alleen het Jehovah se Getuies in Chili immers meer as 6 492 000 uur aan die predikingswerk gewy!

18 Dieselfde geld wanneer die predikingswerk verbied is. Die Getuies bid nie alleen om vermeerdering nie, maar hulle sit hulle bedrywighede ondergronds voort en hou aan preek. Ondanks amptelike teenstand is daar dus vermeerderinge in hierdie lande. In 33 lande waar Jehovah se Getuies sulke amptelike teenstand ondervind, het hulle byvoorbeeld gedurende die 1986-diensjaar meer as 32 600 000 uur aan hulle predikingswerk gewy en hulle oor ’n vermeerdering van 4,6 persent verheug!

19 Die beginsel dat gebede werke verg, is natuurlik ook op individue van toepassing. Ons bid moontlik tot Jehovah om ’n tuisbybelstudie te kry, maar doen dalk nie alles in ons vermoë om een te kry nie. Dit was die ondervinding van een pionier. Omdat sy net een Bybelstudie gehad het, het sy om meer gebid. Het sy sake daar gelaat? Nee, maar sy het noukeurig op haar bediening ag gegee en gevind dat sy tydens haar herbesoeke nie die onderwerp van ’n tuisbybelstudie ter sprake gebring het nie. Toe sy haar daarop toegelê het, het sy gou nog twee Bybelstudies gehad.

20. Hoe kan die beginsel dat gebede werke verg, opgesom word?

20 Nog baie voorbeelde kan verstrek word om te bewys dat gebede werke verg. Daar is byvoorbeeld dié wat betrekking het op verhoudinge in die gesin of die gemeente. Maar die voorgaande voorbeelde behoort genoeg te wees om dit heeltemal duidelik te maak dat gebede wel werke verg. Dit is heeltemal logies, want ons kan nie verwag dat Jehovah God ons versoeke gunstig moet oorweeg as ons hom deur ons gedrag aanstoot gee nie. Dit volg ook dat ons alles in ons vermoë moet doen in ooreenstemming met ons gebede as ons verwag dat Jehovah dinge vir ons moet doen wat ons nie vir onsself kan doen nie. Jehovah se beginsels is voorwaar wys en regverdig. Dit het sin, en dit strek tot ons voordeel as ons daarvolgens optree.

Onthou jy?

◻ Watter vereiste in verband met gebed is deur baie in eertydse Israel uit die oog verloor?

◻ Waarom is God nie onredelik wanneer hy verwag dat ons nie alleen bid vir wat ons wil hê nie, maar dat ons ons ook daarvoor beywer?

◻ Watter voorbeelde uit die ou tyd toon dat Jehovah se knegte hulle beywer het vir die dinge waarvoor hulle gebid het?

◻ Wat moet ons doen as ons wil hê dat God ons gebede om sy heilige gees en om wysheid moet verhoor?

◻ Hoe is die beginsel dat gebede werke verg op ons veldbediening van toepassing?

[Prente op bladsy 17]

Jesus het sy dissipels aangespoor om om meer oeswerkers te bid. Maar hy het hulle ook in die predikings- of ‘oesinsamelings’-werk uitgestuur

[Prent op bladsy 18]

Bid jy om hulp om jou televisiekykery te beheers? Pas dan die beginsel dat gebede werke verg toe deur jou TV-stel af te skakel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel