Hoe die Bybel ons bereik het deel twee
Die vlamme het hoog die lug in opgeskiet terwyl al hoe meer brandstof op die knetterende vuur gegooi is. Maar dit was nie ’n gewone vuur nie. Die verskriklike groot vuur is met Bybels aan die brand gehou terwyl priesters en kerkvorste toegekyk het. Maar deur die Bybels op te koop om dit te vernietig, het die biskop van Londen onwetend die vertaler, William Tyndale, gehelp het om verdere uitgawes te finansier!
Wat het aanleiding gegee tot sulke vasbeslotenheid aan beide kante van die stryd? In ’n vorige nommer het ons die geskiedenis van Bybelpublikasie tot in die laat Middeleeue bespreek. Nou kom ons by die begin van ’n nuwe era toe die boodskap en gesag van God se Woord ’n diepgaande invloed op die gemeenskap begin uitoefen het.
’n Baanbreker verskyn
John Wycliffe, ’n geëerde geleerde aan Oxford, het kragtig teen die onbybelse gebruike van die Katolieke Kerk getuig en geskryf en het ‘God se wet’, naamlik die Bybel, as sy gesag gebruik. Hy het sy studente, die Lollarde, oor die platteland van Engeland uitgestuur om die Bybel se boodskap in Engels te verkondig aan almal wat na hulle wou luister. Voordat hy in 1384 gesterf het, het hy die aanvoorwerk gedoen vir die vertaling van die Bybel uit Latyn in die Engels van sy dag.
Die kerk het baie redes gevind om Wycliffe te verag. In die eerste plek het hy die geestelikes veroordeel weens hulle uitspattige lewenswyse en onsedelike gedrag. Daarbenewens het baie van Wycliffe se bewonderaars sy leringe misbruik om hulle gewapende opstande te regverdig. Die geestelikes het Wycliffe selfs ná sy dood hiervoor blameer, hoewel hy nooit gewelddadige opstande voorgestaan het nie.
In ’n brief aan pous Johannes XXIII in 1412 het aartsbiskop Arundel verwys na “daardie vervloekte en verpestelike vent John Wycliffe, verdoemlike gedagtenis, daardie seun van die ou slang, die boodskapper en kind van die antichris”. Arundel het as die klimaks van sy veroordeling geskryf: “Om die maat van sy kwaadwilligheid vol te maak, het hy ’n plan bedink om ’n nuwe vertaling van die skrif in die moedertaal te maak.” Ja, wat die kerkleiers die kwaadste gemaak het, was dat Wycliffe mense die Bybel in hulle eie taal wou gee.
’n Paar vooraanstaande mense het nietemin toegang tot die Skrif in volkstale gehad. Een was Anna van Boheme, wat in 1382 met koning Richard II van Engeland getrou het. Sy het Wycliffe se Engelse vertalings van die Evangelies gehad, wat sy gedurigdeur bestudeer het. Toe sy koningin geword het, het haar goedgesindheid gehelp om die saak van die Bybel te bevorder—en nie alleen in Engeland nie. Anna het studente aan die Universiteit van Praag in Boheme aangemoedig om na Oxford te kom. Daar het hulle die werke van Wycliffe geesdriftig bestudeer en party daarvan saam met hulle na Praag teruggeneem. Die gewildheid van Wycliffe se leringe by die Universiteit van Praag het later as ondersteuning gedien vir Johannes Hus, wat daar gestudeer en uiteindelik daar onderrig het. Hus het ’n leesbare Tsjeggiese weergawe van die ou Slawoniese vertaling gemaak. Sy pogings het die algemene gebruik van die Bybel in Boheme en in naburige lande bevorder.
Die kerk veg terug
Die geestelikes was ook woedend vir Wycliffe en Hus omdat hulle geleer het dat die “naakte teks”, die oorspronklike geïnspireerde Skrif sonder enige toevoegings, groter gesag gehad het as die “glosse”, die omslagtige tradisionele verduidelikings in die kantlyne van die kerkgoedgekeurde Bybels. Dit was die onvervalste boodskap van God se Woord wat daardie predikers aan die gewone mense beskikbaar wou stel.
Hus is valslik vrygeleide belowe en is in 1414 op listige wyse oorreed om voor die Katolieke Konsilie van Konstanz, Duitsland, te verskyn om sy beskouings te verdedig. Die konsilie het uit 2933 priesters, biskoppe en kardinale bestaan. Hus het ingestem om sy stellings terug te trek indien dit deur die Skrif verkeerd bewys kon word. Vir die konsilie was dít nie die kwessie nie. Die feit dat hy hulle gesag in twyfel getrek het, was vir hulle genoeg rede om hom in 1415 op die brandstapel tereg te stel terwyl hy hardop gebid het.
Dieselfde konsilie het ook as ’n finale blyk van hulle veroordeling van John Wycliffe en as belediging vir hom beveel dat sy beendere in Engeland opgegrawe en verbrand moet word. Hierdie opdrag was so weersinwekkend dat dit eers in 1428 op aandrang van die pous uitgevoer is. Maar soos altyd het sulke felle teenstand nie ’n demper geplaas op die ywer van ander liefhebbers van waarheid nie. Dit het hulle eerder meer vasbeslote gemaak om God se Woord te versprei.
Die uitwerking van die drukkuns
Teen 1450, net 35 jaar ná die dood van Hus, het Johannes Gutenberg in Duitsland drukwerk met los letters begin doen. Sy eerste groot werk was ’n uitgawe van die Latynse Vulgaat, wat omstreeks 1455 voltooi is. Teen 1495 was die volledige Bybel of dele daarvan al gedruk in Duits, Italiaans, Frans, Tsjeggies, Nederlands, Hebreeus, Katalonies, Grieks, Spaans, Slawonies, Portugees en Serwies—in daardie volgorde.
Die Nederlandse geleerde Desiderius Erasmus het in 1516 die eerste volledige, gedrukte uitgawe van die Griekse teks voltooi. Dit was Erasmus se wens dat die Skrif “vertaal word in al die tale van alle mense”. Hy het egter gehuiwer om sy groot gewildheid in gevaar te stel deur dit self te vertaal. Daar was nietemin ander ná hom wat moediger was, onder wie William Tyndale uitsonderlik was.
William Tyndale en die Engelse Bybel
Tyndale het aan Oxford gestudeer, en in ongeveer 1521 het hy na die huis van sir John Walsh gegaan as ’n private onderwyser vir sy kinders. Etenstye om Walsh se rojale tafel was dikwels vir die jong Tyndale ’n geleentheid om met die plaaslike geestelikes kragte te meet. Tyndale het hulle menings sonder omhaal van woorde betwis deur die Bybel oop te slaan en vir hulle tekste te wys. Mettertyd is die Walsh-gesin oortuig van wat Tyndale gesê het, en die geestelikes is minder dikwels uitgenooi en met minder entoesiasme verwelkom. Dit het die geestelikes natuurlik verder teen Tyndale en sy opvattings verbitter.
Eenkeer het een van Tyndale se godsdiensteenstanders gedurende ’n woordestryd verklaar: “Ons is beter af sonder God se wette as sonder die Pous s’n.” Stel jou Tyndale se oortuiging voor toe hy geantwoord het: “Ek steur my nie aan die Pous en al sy wette nie. As God my lewe spaar, sal ek, voordat baie jare verstryk het, sorg dat ’n seun wat die ploegspan lei meer as u van die Skrif weet.” Tyndale se voorneme het gekristalliseer. Hy het later geskryf: “Ek het deur ondervinding gesien dat dit onmoontlik was om leke van enige waarheid te oortuig, behalwe wanneer die Skrif eenvoudig voor hulle oë in hulle moedertaal aan hulle voorgelê word en hulle die ontwikkeling, verloop en betekenis van die teks kan insien.”
Destyds was daar nog nie ’n Bybel in Engels gedruk nie. Tyndale het dus in 1523 na Londen gegaan om biskop Tunstall se steun te vra vir ’n vertalingsprojek. Nadat hy hulp geweier is, het hy Engeland verlaat om sy doel na te streef, en hy het nooit weer teruggekeer nie. In Keulen, Duitsland, is ’n klopjag uitgevoer op sy eerste drukkery, en Tyndale het ternouernood ontsnap met ’n paar van die kosbare los bladsye. Maar in Worms, Duitsland, is ten minste 3000 eksemplare van sy Engelse “Nuwe Testament” voltooi. Dit is na Engeland gestuur en is van vroeg in 1526 af daar versprei. Dit was party van hierdie Bybels wat biskop Tunstall gekoop en verbrand het en waardeur hy onwetend vir Tyndale gehelp het om sy werk voort te sit!
Navorsing lei tot ’n duideliker begrip
Dit is duidelik dat Tyndale sy werk geniet het. The Cambridge History of the Bible stel dit só: “Die Skrif het hom gelukkig gemaak, en daar is iets vloeiends en vroliks in sy ritme wat sy geluk weergee.” Tyndale se doel was om die Skrif tot die gewone mens te laat spreek met woorde wat so juis en eenvoudig moontlik was. Sy navorsing het vir hom die betekenis van Bybelwoorde gewys wat eeue lank deur kerkleerstellings vertroebel is. Tyndale het hom nie laat intimideer deur die feit dat sy lewe in gevaar was of deur die venynige pen van sy invloedryke vyand sir Thomas More nie en het sy bevindinge in sy vertaling ingesluit.
Omdat Tyndale sy werk gebaseer het op die oorspronklike Grieks van Erasmus se teks en nie op die Latyn nie, het hy besluit om “liefde” in die plek van “welwillendheid” te gebruik om die betekenis van die Griekse woord a·gaʹpe beter uit te druk. Hy het ook eerder “gemeente” as “kerk” gebruik en “bekeer” as “boete doen” en “ouderlinge” as “priesters” (1 Korintiërs 13:1-3; Kolossense 4:15, 16; Lukas 13:3, 5; 1 Timoteus 5:17, Tyndale). Hierdie wysigings het die gesag van die kerk en tradisionele godsdiensgebruike, soos die belydenis van sonde aan priesters, ’n vernietigende slag toegedien.
Tyndale het eweneens by die woord “opstanding” gebly en sodoende die vaevuur en bewustheid ná die dood as onbybels verwerp. Aangaande die dooies het hy vir More geskryf: “Deur hulle in die hemel, hel en vaevuur te sit, vernietig [u] die argumente waarmee Christus en Paulus die opstanding bewys.” In verband hiermee het Tyndale na Matteus 22:30-32 en 1 Korintiërs 15:12-19 verwys. Hy het heel tereg tot die oortuiging gekom dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid bly tot ’n toekomstige opstanding (Psalm 146:4; Prediker 9:5; Johannes 11:11, 24, 25). Dit het beteken dat die hele reëling van gebede tot Maria en die “heiliges” sinneloos was omdat hulle in hulle onbewuste toestand nie kon hoor of as bemiddelaars kon optree nie.
Tyndale vertaal die Hebreeuse Geskrifte
In 1530 het Tyndale ’n uitgawe van die Pentateug, die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Geskrifte, voltooi. Hy het sodoende die eerste persoon geword wat die Bybel uit Hebreeus regstreeks in Engels vertaal het. Tyndale was ook die eerste Engelse vertaler wat die naam Jehovah gebruik het. Die Londense geleerde David Daniell skryf: “Dit sou Tyndale se lesers ongetwyfeld diep getref het dat die naam van God nou geopenbaar is.”
Tyndale het ter wille van duidelikheid verskeie Engelse woorde gebruik om ’n enkele Hebreeuse woord te vertaal. Hy het egter na aan die Hebreeuse struktuur gebly. Gevolglik word die bondige krag van die Hebreeus behou. Hy het self gesê: “Die eienskappe van Hebreeus stem duisend keer meer met Engels ooreen as met Latyn. Die manier van praat is dieselfde; gevolglik hoef ’n mens op duisend plekke niks anders te doen as om dit woord vir woord in Engels te vertaal nie.”
Hierdie letterlike benadering het gemaak dat Tyndale se vertaling baie Hebreeuse uitdrukkings bevat het. Party hiervan moes seker met die eerste lees baie vreemd geklink het. Maar die Bybel het uiteindelik so bekend geword dat baie van hierdie uitdrukkings nou deel van die Engelse taal is. Voorbeelde hiervan is onder meer “’n man na sy hart” (soos in 1 Samuel 13:14), “pasga” en “sondebok”. Wat meer is, die lesers van die Engelse Bybel het gevolglik vertroud geraak met die Hebreeuse manier van dink, wat hulle ’n beter insig in die geïnspireerde Skrif gegee het.
Die Bybel en Tyndale word in die ban gedoen
Die moontlikheid dat ’n mens die Woord van God in jou eie taal kon lees, was opwindend. Die Engelse bevolking het daarop gereageer deur al die Bybels te koop wat in die land ingesmokkel kon word, deurdat dit tussen bale linne of ander goedere weggesteek is. Intussen het die geestelikes nagedink oor die gewisse verlies van hulle status as die Bybel as die hoogste gesag beskou sou word. Gevolglik het die situasie selfs in groter mate ’n saak van lewe of dood vir die vertaler en sy ondersteuners geword.
Aangesien Tyndale die hele tyd deur die Kerk en Staat gesoek is, moes hy sy werk in die geheim in Antwerpen, België, voortsit. Hy het nietemin twee dae per week gewy aan wat hy sy tydverdryf genoem het—hulpverlening aan ander Engelse vlugtelinge, die armes en die siekes. Hy het die meeste van sy geld hieraan bestee. Voordat Tyndale die laaste helfte van die Hebreeuse Geskrifte kon vertaal, is hy vir geld verraai deur ’n Engelsman wat hom as ’n vriend voorgedoen het. Hy is in 1536 tereggestel in Vilvoorde, België, en sy laaste innige versoek was: “Here! open tog die Koning van Engeland se oë.”
Teen 1538 het koning Hendrik VIII om sy eie redes beveel dat Bybels in elke kerk in Engeland geplaas moet word. Hoewel Tyndale nie erkenning gekry het nie, was die vertaling wat gekies is hoofsaaklik sy werk. Op hierdie manier het Tyndale se werk so welbekend en geliefd geword dat dit “die fundamentele karakter bepaal het van die meeste latere vertalings” in Engels (The Cambridge History of the Bible). Tot 90 persent van Tyndale se vertaling is direk in die King James Version van 1611 oorgeneem.
Vry toegang tot die Bybel het ’n groot verandering vir Engeland beteken. Besprekings op grond van die Bybels wat in die kerke geplaas is, het so lewendig geraak dat dit soms inbreuk gemaak het op die kerkdienste! “Bejaardes het leer lees sodat hulle regstreekse toegang tot God se Woord kon verkry, en die kinders het na die grootmense kom luister” (A Concise History of the English Bible). Gedurende hierdie tydperk was daar ook ’n dramatiese toename in die verspreiding van die Bybel in ander Europese lande en tale. Maar die Bybelbeweging in Engeland sou wêreldwyd ’n invloed hê. Hoe het dit gebeur? En watter uitwerking het verdere ontdekkings en navorsing gehad op die Bybels wat ons vandag gebruik? Ons sal ons bespreking met die volgende artikel in hierdie reeks afsluit.
[Prent op bladsy 26]
Tyndale se “Nuwe Testament” van 1526—die enigste volledige eksemplaar waarvan ons weet wat aan die vlamme ontkom het
[Erkenning]
© The British Library Board
[Tabel/Prente op bladsy 26, 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Belangrike jaartalle in die verspreiding van die Bybel
Gewone jaartelling
Wycliffe begin sy Bybel (voor 1384)
1400
Hus tereggestel 1415
Gutenberg—eerste gedrukte Bybel ca. 1455
1500
Vroeë Bybels in die volkstaal gedruk
Erasmus se Griekse teks 1516
Tyndale se “Nuwe Testament” van 1526
Tyndale tereggestel 1536
Hendrik VIII beveel dat Bybels in kerke geplaas word 1538
1600
King James Version 1611
[Prente]
Wycliffe
Hus
Tyndale
Hendrik VIII