Waarom wil jy ’n Bybeltoespraak hou?
JESUS CHRISTUS het dikwels groot skares toegespreek, en hy was beslis ’n bekwame spreker. Trouens, nadat Jesus sy beroemde Bergpredikasie afgesluit het, “was die skare verslae oor sy leer” (Mattheüs 7:28). Dit ly geen twyfel nie dat die Seun van God die mees verhewe beweegredes gehad het en dat sy openbare toesprake sy hemelse Vader vereer het.—Vergelyk Johannes 12:46-50.
Redevoering was ook een manier waarop Jesus se volgelinge in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling die goeie nuus verkondig het. Die apostel Paulus het byvoorbeeld in Korinthe “elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig” (Handelinge 18:1, 4). En Paulus het sy medewerker Timotheüs met hierdie woorde aangespoor: “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering” (1 Timotheüs 4:13). Openbare voorlesing en toesprake, wat op edel beweegredes gegrond is, het dus beslis hulle plek gehad onder Jehovah se getroue eerste-eeuse knegte.
Maar ’n mens moet versigtig wees. Toe Herodes, in sy koninklike kleed, ’n openbare toespraak begin hou het, het die volk begin uitroep: “’n Stem van ’n god en nie van ’n mens nie!” Onmiddellik het ’n engel van Jehovah Herodes getref. Waarom? “Omdat hy die eer nie aan God gegee het nie.”—Handelinge 12:21-23.
Die regte gesindheid is nodig
Om ’n openbare Bybeltoespraak te hou, is vandag beslis ’n gesogte voorreg wat aan ryp Christenmanne gegee word. Maar elke bedienaar moet sy hart ondersoek om sy beweegrede te bepaal (Genesis 8:21; Jeremia 17:9). Word hy aangedryf deur ’n begeerte om God te eer en medegelowiges en ander te help? Of wil hy sulke Bybeltoesprake hou omdat openbare redevoering met belangrikheid gepaard gaan en omdat hy wil uitblink?
Die regte beweegrede sal op verskeie maniere blyk. Om een ding te noem: dit sal ons laat besef dat ons slegs met behulp van Jehovah se gees reg kan laat geskied aan die voorreg om God se waarheid in die openbaar te spreek. Daarom sal ons ’n gesindheid hê soos die van die apostel Petrus, wat gesê het: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus.”—1 Petrus 4:11.
Die begeerte om ’n Bybeltoespraak te hou, moet op liefde berus. Eerstens moet ons Jehovah God liefhê en ’n begeerte hê om hom te vereer en sy heilige naam te verheerlik. Tweedens moet ons beweeg word deur liefde vir ons hoorders en ’n opregte begeerte om hulle te onderrig en tot “heilige wandel en godsvrug” aan te spoor.—2 Petrus 3:11.
’n Opregte begeerte om ons medegelowiges en ander op te bou, moet ook ons beweegrede wees wanneer ons ’n openbare toespraak hou. Dit sal voorkom dat ons probeer om ons hoorders ‘in hul gehoor te streel’ deur slegs te sê wat hulle wil hoor (2 Timotheüs 4:3). Die begeerte om ander geestelik op te bou, sal ons ook daarvan weerhou om grappe te vertel of dinge te sê bloot om ons gehoor te vermaak of te laat lag. Ons sal ook nie bloemryke spraak gebruik of wêreldse wysheid openbaar in ’n poging om ons hoorders te beïndruk nie. As ons die regte beweegrede het wanneer ons in die openbaar spreek, sal ons eerder die voorbeeld volg van die apostel Paulus, wat ‘’n betoning van gees en krag gegee het sodat die geloof van sy hoorders nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God’.—1 Korinthiërs 2:3-5.
Drie basiese elemente
Die verstand en die hart speel ’n rol wanneer ’n openbare Bybeltoespraak gehou word. Daarom moet Christensprekers nie net die regte gesindheid hê nie, maar ook iets opbouends kan sê. Daar moet aan drie basiese elemente aandag geskenk word—die Skrif, feite en logika.
Onthou in die eerste plek dat die tekste wat die spreker gebruik die vernaamste deel van ’n openbare Bybeltoespraak moet vorm. As jy die voorreg het om so ’n toespraak te hou, moet jy jou onderwerp goed ken en in staat wees om tekste aan te haal, goed te lees en behoorlik toe te pas. Op Pinkster, 33 G.J., het die apostel Petrus herhaaldelik na die Skrif verwys om sy verklarings te staaf (Handelinge 2: 14-41). Die Bereane was daarvan oortuig dat Paulus sy woorde ten volle op die Skrif gebaseer het (Handelinge 17:10, 11). En Apollos het “deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus”, die langverwagte Messias, is.—Handelinge 18:28.
Die Skriftuurlike grondslag vir ’n openbare toespraak word natuurlik in die skets van die Wagtoringgenootskap voorsien. Maar die spreker kan bykomende of ooreenstemmende tekste gebruik mits hulle net so goed van toepassing is en dit nie te veel gedoen word nie. In hierdie opsig moet die Christenbedienaar seker maak dat hy met die toenemende geestelike lig tred hou. ’n Spreker kan byvoorbeeld 1 Korinthiërs 2:9 verkeerdelik op die komende aardse paradys toepas, terwyl die verband (vers 7 en 10) toon dat dit op die dieper dinge van God se wysheid van toepassing is.
Tweedens is daar die feite wat die openbare spreker gebruik om sy verklarings te staaf. ’n Spreker moet verseker dat die punte wat aangevoer word nie tereg in twyfel getrek kan word nie. Versigtigheid is veral belangrik as iets sensasioneel klink. Dit is verstandig—en noodsaaklik—om te verseker dat wat gesê word werklik feitlik is. Daarom is dit altyd die beste om na betroubare inligtingsbronne te kan verwys indien sekere verklarings bevraagteken word. Op Pinkster het Petrus bekende feite genoem. Die apostel Paulus het dit ook op die Areopagus, of Marsheuwel, in Athene gedoen.—Handelinge 2:22; 17:22, 23, 28.
Derdens is logika beslis nodig. Die Christen wat ’n openbare spreker is, moet met sy hoorders redeneer. Daarom lees ons dat Paulus “in die sinagoge geredeneer het met die Jode en die ander mense wat God aanbid het, en elke dag op die mark met die wat toevallig daar was” (Handelinge 17:17, NW). Die redenasie in ’n openbare toespraak moet logies, eenvoudig, duidelik en maklik verstaanbaar wees. Verbindingswoorde wat die verband toon tussen wat gesê is en wat daarop volg, is in hierdie opsig baie nuttig.
As jy die voorreg het om ’n openbare spreker te wees, moet jy dus seker maak dat jy die regte gesindheid het wanneer jy ’n Bybeltoespraak hou. Jy moet jou Skepper en jou medemens liefhê. Versamel tekste en feite en bied dit logies aan. Dan sal hierdie spreuk op jou van toepassing wees: “Die tong van die wyse is genesing” (Spreuke 12:18). Om goeie Bybeltoesprake te hou wat God eer, is bowendien een manier waarop jy “jouself red sowel as die wat jou hoor”.—1 Timotheüs 4:16.