Miljoene maak hulle gereed vir ononderbroke lewe op aarde
1. (a) Watter woorde van Jesus aan Martha van Betanië is dit nou vir miljoene uiters tydig om te herroep? (b) Watter deel van daardie woorde is vir miljoene aangrypend, en waarom?
VIR miljoene wat nou lewe, is dit uiters tydig om Jesus Christus se woorde aan Martha van Betanië te herroep: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:25, 26). Dit is inderdaad aangrypend vir daardie miljoene wat die ewige lewe in ’n regverdige wêreld nastreef om te begryp dat hierdie woorde van Jesus nou van toepassing is: “En elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”
2. (a) Vir watter individue was Jesus Christus “die opstanding” toe hy nog op aarde was? (b) Na watter tyd in die besonder het Jesus in sy woorde aan Martha verwys, en waarom sou hy selfs vir miljoene wat dan sou lewe “die lewe” moes wees?
2 Selfs toe Jesus nog op die aarde was, was hy “die opstanding” vir Lasarus en ander persone wat hy opgewek het. Maar hierdie woorde, wat hy gebesig het net voordat hy Lasarus opgewek het, het in die besonder betrekking gehad op wat destyds in die verre toekoms was. Jesus het verwys na die tyd wanneer hy die opstanding en die lewe sou word, nie net vir sy volgelinge wat mede-erfgename saam met hom in die hemelse Koninkryk sou word, nie, maar ook vir die gestorwe mensdom wat onder sy Koninkryk die ewige lewe op aarde gaan verkry. Jesus sou selfs vir diegene wat ten tye van sy Koninkryk op aarde sou leef en wat nie uit ’n aardse graf opgewek hoef te word nie, “die lewe” moes wees. Hoe so? Omdat hulle steeds tot die dood veroordeel sou wees weens die sonde wat hulle van ongehoorsame Adam geërf het. Hulle sou dus steeds sterwend wees.—Romeine 5:12.
3. As gevolg van die beoefening van watter eienskap word Jesus Christus “die lewe” vir persone wat nou lewe, en hoe word hierdie eienskap vandag geopenbaar?
3 Die heersende Koning Jesus Christus word “die lewe” vir mense wat nou op aarde lewe as gevolg van die feit dat hulle geloof in hom beoefen en hierdie geloof deur werke toon. Gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” sal hierdie werke ’n aktiewe deelname aan die vervulling van Jesus se profesie in Mattheüs 24:14 insluit, naamlik die verkondiging van die evangelie van God se Koninkryk voordat “die einde” van die stelsel kom (Mattheüs 24:3; Markus 13:3, 4). Diegene wat geloof beoefen en die einde van die teenswoordige stelsel oorlewe en uitsien na lewe in die herstelde paradys sal nooit hoef te sterf nie (1 Johannes 2:17). Hulle sal weer ‘jonk word’, ja, terugkeer tot menslike volmaaktheid soos wat die eerste man, Adam, besit het. Ons het rede om te glo dat daar vandag miljoene potensiële kandidate vir ’n ononderbroke, ewige lewe op aarde is.
4. (a) Hoe bied Jesus se profesie ’n grondslag vir die hoop dat mense ’n ononderbroke, ewige lewe op aarde kan geniet? (b) Watter “vlees” sal tot in die nuwe stelsel gered word?
4 Jesus het die grondslag vir so ’n hoop voorsien in sy profesie oor die ongeëwenaarde tyd van moeilikheid waarmee “die voleinding van die wêreld”, sou eindig. Hy het gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:21, 22). Die dae van die “groot verdrukking” gaan dus verkort word en gevolglik sal mense-“vlees” tot in die nuwe stelsel gered word. Sulke vlees sal hoofsaaklik ander vlees wees as die vlees van die “uitverkorenes” wat dan nog steeds op die aarde sal wees en wag op hulle verheerliking in die hemelse Koninkryk saam met Jesus Christus. Nadat sulke ‘geredde’ vlees die groot verdrukking oorleef het, sal hulle die nuwe stelsel ingaan onder die heerskappy van die een wat hulle Ewige Vader gaan word.—Mattheüs 24:31; Markus 13:20, 22, 27; Openbaring 7:14; Jesaja 9:5, 6.
Die gevaar wat ’n “dier” inhou
5. Wat was in die besit van die Lam op die troon, en wie se name is nie in die boek geskryf nie?
5 Wie se naam sal opgeskryf wees in “die boek van die lewe” waarvan Openbaring 17:8 praat? Joune? Myne? Om ’n tydige waarskuwing aan ons te rig, sê daardie vers: “Die dier wat jy [Johannes] gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie . . . in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.”
6. (a) Wanneer het die simboliese “dier” in die afgrond ingegaan, en in watter vorm het dit uitgekom? (b) Watter gevaarlike weg moet vermy word?
6 Daardie simboliese “dier” het aanvanklik bekend gestaan as die Volkebond. Dit het gedurende die Tweede Wêreldoorlog van die jare 1939-1945 in die afgrond van onbedrywigheid ingegaan en toe ná daardie oorlog in die vorm van die Verenigde Volke uit die afgrond opgekom. Sedert 1945 bestaan daar dus ’n gevaarlike situasie wat die soeker na die ewige lewe op ’n paradysaarde kan raak. Hy kan mislei word om ’n weg in te slaan wat hom sal diskwalifiseer as een wie se naam in “die boek van die lewe” geskryf word. Ons moet dus nou “die verstand wat wysheid het” aan die dag lê in ons gesindheid teenoor die simboliese “dier”.—Openbaring 17:9.
7. (a) Wat word die skarlakenrooi dier van Openbaring hoofstuk 17 in Openbaring hoofstuk 13 genoem? (b) In watter sin is ‘die beeld van die dier’ ’n model van die oorspronklike dier, en wat stel sy sewe koppe voor?
7 Hierdie simboliese “dier” van Openbaring hoofstuk 17, wat as skarlakenrooi beskryf word, is in werklikheid ’n kopie van die oorspronklike “dier” waarvan daar in Openbaring hoofstuk 13 gepraat word. Hierdie skarlakenrooi dier is die sogenaamde “dier se beeld” (Openbaring 17:3; 13:14-18). Net soos sy model het hierdie ‘beeld van die dier’ sewe koppe wat betrekking het op sewe “konings”. Die vyf simboliese “konings” wat geval het, het die wêreldmoondhede van Egipte, Assirië, Babilonië, Medo-Persië en die Griekse Ryk wat deur Alexander die Grote gestig is, afgebeeld. Die sesde “koning” was die Romeinse Ryk van die apostel Johannes se dag. Die sewende “koning” wat na Johannes se dag sou kom, is die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid. En ’n agtste “koning”, die skarlakenrooi dier, ’n “beeld” van die eerste dier, het die eerste keer as die Volkebond op die toneel verskyn.—Openbaring 17:9-14.
8. (a) Wat stel “die tien horings” van die dier voor? (b) Hoe lank sal “die tien horings” as konings saam met die simboliese dier regeer, en wat sal gebeur met diegene wat hierdie dier bewonder?
8 “Die tien horings” op die sewe koppe van die skarlakenrooi dier is “tien konings”, dit wil sê, al die politieke heerskappye wat in die Verenigde Volke-organisasie verteenwoordig word. Hierdie “konings” sal slegs ’n kort rukkie, as ’t ware “een uur lank”, wêreldlike aansien of gesag geniet. Dit beteken ook slegs ’n kort lewe vir almal wat die verrese ‘beeld van die dier’ bewonder en ondersteun. Sulke persone se name is nie in “die boek van die lewe” geskryf nie. Diegene wat nie wil sterf nie, sal dus nie saam met hulle ‘die beeld van die dier’ aanbid nie.
9. Watter slagordes word nou opgestel, en wat sal die uitslag van die stryd wees?
9 Slagordes word nou opgestel. “Die tien horings” is gereed om aan te val. Openbaring 17:14 sê: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings—en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.” Dit toon dat die oorblyfsel van sulke geroepe, uitverkore en getroue persone wat nog op aarde lewe deur “die tien horings”, aangeval gaan word. Maar die Lam sal hierdie “tien horings” oorwin, wat beteken dat “die beeld van die dier’ na ‘die verderf sal vaar’ (Openbaring 17:8). Die voorstanders, bewonderaars en ondersteuners van daardie dier sal ook vernietig word. Hulle name staan nie in “die boek van die lewe” geskryf nie.
10. Wat moet die oorblyfsel van die geroepe en uitverkore persone steeds bly?
10 Hoewel hulle nou min is, is die oorblyfsel van die geroepe, uitverkore en getroue persone nie bang nie. Selfs hierdie paar moet nog getrou bly totdat Christus ‘die beeld van die dier’ en die dier self saam met al sy aanbidders op aarde oorwin. Dit sal die einde van hierdie wêreld wees! Maar hoewel die wêreld eindig, bestaan die mensdom voort!
Waarom sê “miljoene wat nou lewe”?
11. Waarop is die verklaring “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie” nie gebaseer nie, maar watter redes is daar om dit te verwag?
11 Die verbasingwekkende verklaring “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie” is nie gebaseer op ’n bloot menslike matematiese berekening, soos byvoorbeeld een oorlewende vir elke 1 000 van die huidige bevolking van die aarde nie. Jehovah God, die Bron van alle lewe, beslis nie lewensbelangrike sake op so ’n grondslag nie! Dit was nie die geval gedurende die Vloed wat ’n einde aan die wêreld van Noag se dag gemaak het nie. Dit is dienooreenkomstig ook nie vandag die geval nie! Daar is afdoende Skriftuurlike rede om te glo dat “miljoene wat nou lewe” behoue gaan bly.
12. Wie was 1935 gereed om hulle aan die kant van die geroepe, uitverkore en getroue persone te skaar, en hoe het hulle getoon wat hulle posisie is?
12 Vier jaar voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek en ‘die beeld van die dier’ in die afgrond, ’n doodse toestand, gegaan het, het die Lam van God nog ander op aarde gehad wat gereed was om hulle saam met die oorblyfsel van die geroepe, uitverkore en getroue persone ondubbelsinnig aan sy kant te skaar. In 1935 het hierdie persone tydens die heuglike byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, D.C., duidelik getoon dat hulle hulle aan die kant van die Koning van die konings geskaar het en teen ‘die beeld van die dier’ gekant was. Hoe so? Deurdat 840 van hulle hulle openlik laat doop het as ’n simbool van hulle onvoorwaardelike toewyding aan Jehovah God. Hulle het dit gedoen die dag nadat die byeenkomsgangers geluister het na die toespraak “Die groot menigte”, wat ’n verduideliking van Openbaring 7:9-17 was. Hulle het dus die heel eerste geleentheid aangegryp om deel te word van daardie “groot menigte” wat hul klere in die bloed van die Lam was en wat uit die “groot verdrukking” kom wat God deur Christus bring oor ‘die beeld van die dier’ en almal wat hulle aan sy kant en die kant van sy “tien horings” geskaar het.
13. (a) Wat beteken die feit dat die dae van die “groot verdrukking” verkort gaan word vir die oorblyfsel van die uitverkorenes? (b) Wat volg uit die feit dat die oorblyfsel van die uitverkorenes die einde van hierdie wêreld gaan oorleef?
13 Daardie “groot verdrukking” sal “verkort” word ter wille van Jehovah se uitverkorenes, diegene wat hy geroep en uitverkies het (Mattheüs 24:21, 22). Dit beteken dat ’n oorblyfsel van hulle die verdrukking sal oorlewe en ooggetuies sal wees van Jehovah se vreemde daad waarmee hy sy soewereiniteit oor hemel en aarde gaan regverdig (Jesaja 28:21). Aangesien die dae van die verdrukking om hulle ontwil “verkort” gaan word, volg dit dat “vlees” deur die einde van hierdie ou wêreld heen gered gaan word. As die uitverkore oorblyfsel Jehovah se beskerming gaan geniet sodat hulle oorlewing verseker is, sal die “groot menigte” toegewyde, gedoopte en getroue persone ook met goddelike beskerming behoue bly. Die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies is vandag lede van daardie “groot menigte” wat “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by die wêreldsituasie genaamd Armageddon gaan oorlewe.—Openbaring 16:14-16.
14. Wat is die ledetal van die “groot menigte”, en hoe vergelyk dit met die wêreldbevolking?
14 Volgens berig is die wêreldbevolking op die oomblik 4,6 miljard mense. Sedert 1935 G.J. moes die “groot menigte” tot in die miljoene toegeneem het. Het hulle? Wel, die uitverkore oorblyfsel wat ’n paar duisend tel, werd feitlik uit die gesigsveld verdring deur die wemelende, honderdduisende gedoopte getuies van Jehovah wat “hierdie evangelie van die koninkryk” aardwyd verkondig “tot ’n getuienis vir al die nasies” (Mattheüs 24:14; Markus 13:10). Volgens die noukeurige berekening wat jaarliks deur die hoofkwartier van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap en sy 95 takkantore gemaak word, is daar aansienlik meer as 2,4 miljoen persone wat gereeld deelneem aan Jehovah se voorgeskrewe werk vir hierdie “voleinding van die wêreld”. En die insameling van almal wat uiteindelik aan die “groot menigte” gaan behoort, het nog nie ten einde geloop nie. Dit moet toeneem! Maar op die oomblik is die verhouding ongeveer een van die “groot menigte” vir elke 2 000 mense op aarde.
15. (a) Waarom is dit redelik dat mense wat nou lewe die wêreld se einde sal oorlewe? (b) Waarom sal die Koning van die nuwe stelsel nie net ’n kort rukkie hulle vader wees nie?
15 Teen hierdie tyd behoort daar nie meer veel oor te wees van die “een uur” waartydens die simboliese “tien horings” as konings saam met die skarlakenrooi dier, dit wil sê ‘die beeld van die dier’, die Verenigde Volke-organisasie, regeer nie. Dit is dus redelik dat lede van die “groot menigte” die naderende vernietiging van die simboliese “dier” en sy “beeld” kan oorleef. Met Jehovah se beskerming sal hulle die vurige einde van hierdie genadelose stelsel oorleef en die regverdige nuwe stelsel binnegaan (Openbaring 7:16, 17). Daar sal hulle nie van die goddelik aangeduide lewensweg afwyk nie. Jesus Christus, die Koning, sal gevolglik hulle Ewige Vader word.—Jesaja 9:5, 6.
Mense maak hulle gereed vir ononderbroke lewe
16. Watter verklaring kan nou met vertroue gedoen word, en watter woorde van Jesus kan gepas hier herroep word?
16 Die volgende verklaring kan dus nou met vertroue en die nodige versiendheid gedoen word: “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie.” Dit is hier weer uiters gepas om Jesus se opsienbarende woorde te herroep: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”—Johannes 11:25, 26.
17. Hoe het die lede van die “groot menigte” reeds erken dat hulle hulle heil aan Jehovah God en aan die Lam te danke het, en waar dien hulle God nou op aanneemlike wyse?
17 Die lewende lede van die “groot menigte” beoefen reeds geloof in die Een wat “die opstanding en die lewe” is. Deur hulself aan Jehovah God toe te wy en dit deur waterdoop te simboliseer, erken hulle dat hulle hulle heil uitsluitlik te danke het aan “God wat op die troon sit, en aan die Lam”. Hulle is in die voorhowe van Jehovah se tempel en staan voor Sy troon. Hulle is vir hom aanneemlik omdat hulle hulle klere gewas en wit gemaak het in die bloed van die Lam, Jesus Christus.—Openbaring 7:9, 10, 14.
18. Wat kon nou op die “groot menigte” se rekening ingeskryf word, en watter verhouding met God het hulle?
18 Daar geregtigheid aldus aan die “groot menigte” toegeskryf is, kan die lewe nou ook op hulle rekening ingeskryf word (Romeine 6:13). Net soos die voorchristelike aartsvader Abraham, aan wie geregtigheid toegeskryf is as gevolg van sy lewende geloof, kan hulle as ‘vriende van God’ beskou word (Romeine 4:6-22; Jakobus 2:23; Psalm 32:2). Omdat hulle hulle regverdige posisie voor Jehovah God bewaar, sal hy hulle lewend bewaar op aarde reg deur “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon, waarmee hierdie ou stelsel gaan eindig.
19. (a) Wat sal hulle nie nodig hê om te “lewe” nie? (b) Waarom sal hulle “nooit sterwe tot in ewigheid nie”?
19 Armageddon-oorlewendes sal dus geen opstanding uit die dood nodig hê om op aarde te “lewe” nie. In hulle geval sal Jesus se volgende woorde in ’n baie letterlike sin waar wees: “Elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:26). Deur hulle toewyding aan Jehovah God onwrikbaar na te leef en sy wil te doen soos dit deur die Koning Jesus Christus aan hulle geopenbaar word, sal hulle aan die einde, van die duisend jaar van Christus se heerskappy werklike, volmaakte regverdigheid verkry. Tydens die finale toets wat die hele herstelde mensdom dan moet ondergaan, sal hulle bewys van hulle heelhartige onkreukbaarheid teenoor die allerhoogste God lewer en hulle name in “die boek van die lewe” behou.—Openbaring 20:7-15.
20. Hoe sal hulle voorreg en ondervinding uniek wees onder almal wat op die paradysaarde gaan lewe, en wie verdien al die dank hiervoor?
20 Watter unieke voorreg word tog nou aan die “groot menigte” van die Goeie Herder se “ander skape” voorgehou! (Johannes 10:16). Die hoop wat voor hulle gestel word—om in volkome geluk te lewe in ’n tuin van Eden wat op aarde herstel en wêreldwyd uitgebrei is—is uiters aanloklik. Hulle het inderdaad iets om voor te lewe. Onder die hele mensdom wat op die paradysaarde gaan woon, sal hulle ondervinding voorwaar uniek en anders wees. Hulle sal naamlik die einde van hierdie goddelose stelsel oorleef het met die vooruitsig om nooit te sterf nie. Die een wat hiervoor gedank moet word, is die Bron van volmaakte lewe, Jehovah God, deur sy Seun, Jesus Christus.
Hersieningsvrae
◻ Vir wie geld Jesus se belofte dat hulle ‘nooit sal sterwe nie’?
◻ Wat is die dier van Openbaring hoofstuk 17, en hoe raak dit mense se kanse om die ewige lewe te verkry?
◻ Waarom is dit redelik dat mense wat nou lewe die wêreld se einde sal oorlewe?
◻ Hoe beskou God lede van die “groot menigte”, en wat word aan hulle toegeskryf?
[Prent op bladsy 15]
Hoe raak jou gesindheid teenoor hierdie “dier” jou kanse om behoue te bly en vir ewig te lewe?
[Prent op bladsy 17]
Miljoene sal nooit sterf nie. Hoe kan jy onder hulle wees?