Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 12/15 bl. 8-13
  • Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorspronklike voorneme met die aarde
  • Oorlewing tot in die “nuwe aarde”
  • Die dode word op aarde terugverwelkom
  • Sal die aarde vernietig word?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die goddelike waarskuwing word uitgebasuin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Is die lewe op aarde ’n stapsteen na die hemel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Deur die groot verdrukking heen gered
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 12/15 bl. 8-13

Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie

“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”—JOHANNES 11:25, 26.

1. Wat sal dit vir ’n begunstigde persoon beteken as hy nooit sterf nie?

INDIEN ’n persoon nooit sou sterf nie, sou dit beteken dat so ’n begunstigde individu tot in ewigheid as ’n sterflike man of vrou hier op aarde lewe! Dit is ’n redelike gevolgtrekking, nie waar nie? En strook dit nie met die voormelde woorde van Jesus Christus wat meer as 19 eeue gelede gebesig is nie? Ja!

2, 3. (a) Watter hoop bied die Hebreeuse Skrifte? (b) Wat is oor die algemeen die beskouing van die godsdiensstelsel van die Christendom?

2 Die heilige Hebreeuse Skrifte, van Genesis tot Maleagi, bied geen hemelse hoop nie, en daarom het die Jode wat streng by hierdie Skrifte gebly het geen hemelse hoop of begeerte gekoester nie. Maar die Hebreeuse Skrifte bied wel die hoop op die ewige lewe (Psalm 37:29; Job 14:13-15). Vir ’n natuurlike, besnede Jood was ewige lewe op aarde onder die Koninkryk van die beloofde Messias ’n normale hoop en verwagting.

3 Maar dit is oor die algemeen nie die beskouing van die godsdiensstelsel van die Christendom nie. Hulle glo en leer dat ons mense ’n onsterflike siel in ons sterflike liggaam het en dat hierdie siel by ons onvermydelike dood vrygestel word en na die onsigbare geesteryk ontsnap. Daar word dit geoordeel en dan stuur God dit òf na ’n hemel van saligheid òf na ’n plek waar dit vir ewig as straf gefolter word as die persoon nie ’n getroue Christen was nie. En die algemene beskouing van die valse Christendom is dat die aarde, die son, die maan en die sterre tydens ’n universele verbranding vernietig gaan word.

4. Waarom sal die moontlikheid om nooit te sterf nie vir baie mense wat die huidige toestand van die aarde in gedagte het nie na goeie nuus klink nie?

4 Volgens so ’n godsdiensbeskouing sal dit nooit moontlik wees dat ‘miljoene wat nou lewe nooit sal sterf nie’. Maar baie mense sal dalk vir ons vra: Wie wil dan lewe op ’n planeet wat geteister word deur hongersnode, pessiektes, aardbewings, oorloë, internasionale en rassehaat, tesame met die ophoping van kernwapens wat die hele mensdom se voortbestaan op aarde bedreig, soos wat nou die geval is? As sulke verskriklike dinge ons aarde vir ewig gaan teister, sal die meeste redelike mense daarvan wil wegkom—al moet hulle dan ook sterf!

Oorspronklike voorneme met die aarde

5. Wat was die toestand van die aarde toe God die mens daarop geplaas het, en hoe voel God teenoor die mensdom?

5 Reg aan die begin van die mens se bestaan het die Skepper egter die aarde as hul ewige tuiste aan die mensdom gegee. Toe was dit inderdaad ’n ‘goeie aarde’. Die Bybel se skeppingsverhaal deel ons mee wat gebeur het nadat die Skepper aardse toestande vir die eerste man en vrou voorberei en hulle op die aarde gesit het: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed” (Genesis 1:31). As dit nie vir die Skepper baie goed gelyk het nie, sou hy nooit sy mensekinders hier gesit het nie. Die skrywer van die skeppingsverhaal sê van God die Skepper: “Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg” (Deuteronomium 32:4). Die almagtige God het geen werk of aktiwiteit waarvoor hy iemand om verskoning moet vra nie. As ’n goeie Vader het hy die mensdom aan die begin liefgehad. Hy het die mensdom nog steeds lief.—Johannes 3:16.

6, 7. Waarom kan ons daarvan seker wees dat God se skepping van die aarde en die mens daarop nie ’n te vergeefse projek sal wees nie?

6 Gelukkig gaan God se skepping van die aarde en die mens daarop nie ’n tevergeefse projek wees nie. Toe God Adam en Eva gemagtig het om vrugbaar te wees met volmaakte kinders en om die aarde met hulle te vul, het hy die eerste man en vrou ’n doel gegee wat Hom tot eer gestrek het. Hulle is ook beveel om die aarde te onderwerp sodat dit ’n globale paradys sou word en om oor al die laere skepsele op aarde te heers (Genesis 1:28). Maar ongelukkig het die mensdom, na meer as 6 000 jaar van menslike bestaan en ondervinding, versuim om te doen wat hulle gemagtig is om te doen. Nog erger, die mens dreig nou om homself op die allergewelddadigste wyse met sy eie haatlike uitvindsels uit te wis. Maar die feit dat die mensdom grotendeels misluk het, beteken nie dat God die Skepper misluk het nie.

7 God se oorspronklike voorneme met ons aarde gaan vervul word. Ons het God se versekering daarvoor! (Jesaja 55:11). In Prediker 1:4 sê die Bybel: “Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.” En in Jesaja 45:18 praat God die Skepper van homself as die Een “wat die aarde geformeer en dit gemaak het” en voeg by: “Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.” En op God se bestemde tyd gaan dit nog “bewoon” word deur ’n volmaakte menseras wat met die gawe van die ewige lewe begunstig is!

8, 9. (a) Waarom word God se voorneme dat die aarde bewoon moet word nie weerspreek deur die feit dat die teenswoordige hemele en aarde sal verbygaan nie? (b) Wat is die “nuwe hemele” en die “nuwe aarde”, en wat is die Bybelbelofte daaromtrent?

8 Die voormelde gerusstellende verklaring van God se voorneme word nie weerspreek deur die apostel Petrus wanneer hy ons waarsku dat die teenswoordige hemele en aarde sal verbygaan nie. Nee, want onmiddellik nadat hy ons herinner het aan hierdie toekomstige gebeurtenis, wat nou ophande is. Sê hy voorts: “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:10-13). God se belofte van sulke nuwe hemele en ’n nuwe aarde is in Jesaja 65:17 bewaar. Jesaja 66:22 deel ons mee hoe lank dit sal bestaan: “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees.”

9 Ja, die nuwe hemele en die nuwe aarde sal voor Jehovah bly staan; hulle sal vasstaan, hulle sal voortduur, hulle sal bly! Die “nuwe aarde” bestaan uit ’n regverdige menseras wat die gereinigde aardbol bewoon wat die Skepper geformeer het “om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Die “nuwe hemele”, wat nuwe, regverdige, hemelse magte is, sal in beheer wees van die gereinigde aarde en sy regverdige bewoners. Jehovah sou dus beslis nie ons wonderlike aardbol geskape het “om woes te wees” nie! Dit sal hom nog as Maker regverdig!

Oorlewing tot in die “nuwe aarde”

10, 11. (a) Wat neem diegene wat wêreldaangeleenthede bestudeer nie in aanmerking wanneer hulle voorspellings maak nie, en wat kan ons gevolglik oorlewe, en tot in wat? (b) Wat kan ons leer uit die feit dat Noag en sy gesin die Vloed oorlewe het?

10 Die beeld wat geskilder word deur persone wat wêreldaangeleenthede bestudeer, bied in die reël geen hoop op menslike oorlewing op aarde tot in ’n nuwe en beter stelsel nie. Gelukkig is hulle gedagtes nie die gedagtes van die aarde se Skepper nie, en hulle weë is ook nie sy weë nie (Jesaja 55:8-11). Hulle gedagtes is nie gebaseer op wat lank gelede in die dae van die man Noag op aarde gebeur het nie. Al die kernbomme en ander springstowwe van die nasies kan nie die krag ewenaar van die globale Sondvloed wat destyds uit die hemel neergereën het om ’n einde aan daardie gewelddadige ou wêreld te maak nie. Jehovah God die Skepper het barmhartig voorsienings getref sodat mense die rampspoedige einde van die toenmalige wêreld kon oorlewe om op die aarde voort te bestaan.

11 Agt mense het die einde van daardie antieke wêreld oorleef, naamlik Noag en sy vrou, en hulle drie seuns en dié se vrouens. Deur hierdie agt mensesiele is ons ras ’n nuwe begin in geregtigheid gegee (2 Petrus 2:5; 3:6). Dit dien as ’n patroon vir die nabye toekoms (Genesis 9:1-7). Dit toon dat ons die einde van hierdie wêreld kan oorlewe tot in die nuwe stelsel wat ophande is net soos Noag en sy gesin in hulle dag die einde van die wêreld oorlewe het!

12, 13. (a) Waarom vrees miljoene vandag nie die einde van hierdie ou stelsel nie? (b) Waarvan verseker die gebed wat die Seun van die mens ons geleer het ons omtrent ons letterlike aarde?

12 Miljoen mense op aarde besef vandag dat die “nuwe hemele” en die “nuwe aarde” ophande is. Hulle vrees nie die einde van die teenswoordige ou wêreld nie, al gaan dit plaasvind asof in ’n vuur wat die hemel sowel as die aarde gaan omhul. Hulle weet uit die betroubare Woord van die Skepper van alle dinge dat ons letterlike aarde behoue sal bly net soos dit die geval was toe die eerste wêreld in die dae van hulle voorvader Noag geëindig het. Die geïnspireerde psalmis het hierdie kommentaar oor ons aarde gelewer: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee,”—Psalm 115:16.

13 “Die mensekinders” is nie vir die hemel gemaak nie, maar vir die aarde, waar die Skepper hulle gemagtig het om te woon. Hier op aarde het die Groot Onderwyser wat homself “die Seun van die mens” genoem het, sy dissipels geleer om tot die Skepper te bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 24:37; 6:9, 10). Vir die “Hoorder van die gebed” om daardie gebed te verhoor deur die koms van sy hemelse Koninkryk, moet ons letterlike aarde tydens die naderende einde van die teenswoordige, gedoemde stelsel behoue bly (Psalm 65:3). Dan sal die oorlewende mensdom die hemelse Vader se wil daarop doen net soos die engele dit lojaal in die hemel doen.

14. Met wie sal die “nuwe aarde” begin, en hoe sal daardie nuwe aarde vergroot word?

14 Watter wonderlike vooruitsig het daders van God se wil op die gereinigde aarde! Die menslike oorlewendes van die teenswoordige wêreld, wat daarna uitsien om die hemelse Vader vir ewig op ’n paradysaarde te dien, sal die begin wees van die “nuwe aarde” onder die Messiaanse “nuwe hemele”. Mettertyd sal hierdie beloofde “nuwe aarde” vergroot word deur die opstanding van die vrygekoopte mensedode wat geregtigheid geleer sal word en wat verplig sal wees om te doen wat reg is (Johannes 5:28, 29). Wat sal ons, die voornemende oorlewendes van die einde van hierdie wêreld, met die oog hierop doen?

15, 16. (a) Wat het die apostel Petrus getoon is die regte weg vir voornemende oorlewendes van die einde van hierdie wêreld? (b) Watter soort persoon was Noag in die dae voor die Vloed, en hoe is hy en sy gesin daarvoor beloon?

15 Dit is ’n goeie vraag. Meer as 1 900 jaar gelede het die apostel Petrus getoon wat die antwoord op daardie vraag moet wees toe hy geskryf het: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Petrus 3:11, 12). As dit vir die geïnspireerde apostel gepas was om daardie woorde 1 900 jaar gelede tydens die bloeityd van die Romeinse Ryk te skryf, hoeveel gepaster is dit dan dat daardie vermaning gerig word aan Jehovah se Getuies in die laaste dae van hierdie stelsel! Die “koms van die dag van God” sal ’n hoogtepunt bereik in die ontbinding van die figuurlike “aarde en die werke wat daarop is”, asof in ’n smeltkroes.—2 Petrus 3:10.

16 In die laaste dae voor, die einde van die antediluviaanse wêreld was Noag “’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel” (Genesis 6:9). Die feit dat Noag as die hoof van sy gesin so gewandel het, het daartoe gelei dat hulle lewens bewaar is deur die God met wie hy gewandel het. Nadat Noag, en sy gesin lewend uit die ark van redding gekom het, is hulle gebruik om, met die seën van Jehovah God, ’n nuwe stelsel in geregtigheid te begin. Toe het God ’n verbond met hierdie oorlewendes van die vloed gesluit om die mensdom op aarde nooit weer met ’n globale Sondvloed te tref nie.—Genesis 9:8-17.

17. In watter mate is Noag gewaarsku, en watter situasie kom deesdae daarmee ooreen?

17 Noag het oorgenoeg waarskuwing ontvang omtrent die komende stortvloed wat die hele aarde sou oorstroom. Jehovah se Getuies van hierdie 20ste eeu is eweneens gewaarsku dat hierdie wêreld gaan eindig. Hierdie waarskuwing is gebaseer op die geinspireerde Bybel en op die vervulling van die profesieë daarin wat duidelik toon dat ons die einde van hierdie gewelddadige stelsel nader.

Die dode word op aarde terugverwelkom

18. Oor watter gesig van die opstanding van die aardse dode wat in Openbaring beskryf is, verheug miljoene Getuies hulle, vandag?

18 Miljoene getuies van Jehovah wat vandag ‘met God wandel’, verheug hulle oor die gesig wat in Openbaring 20:11-14 beskryf is. Ons lees daar: “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.”

19. Na watter soort aarde sal die verrese mensedode terugkeer, en watter behandeling sal hulle ontvang om van nuuts af te begin lewe?

19 Diegene wat volgens daardie Bybelprofesie uit die dood opgewek word, sal nie na ’n ontvolkte aarde terugkom nie. Miljoene toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah verwag om die vlug van die figuurlike ou hemele en aarde te oorleef om die verrese dode te verwelkom op ’n aarde wat bewerk word om dit in ’n wêreldwye paradys om te skep (Lukas 23:43, NW). Die nuwe stelsel sal dan mooi op dreef wees. Die oorlewendes van die einde van hierdie ou wêreld sou liefdevol oorgenoeg voorbereidings getref het vir die terugkeer van die vrygekoopte mensedode.

20. Watter instruksies wat deur Jesus gegee is nadat hy Lasarus en Jaïrus se dogter uit die dood opgewek het, toon wat die oorlewendes ten behoewe van die duisendmiljoene verresenes sal moet doen?

20 Daardie miljoene oorlewendes sal onthou hoedat Jesus, onmiddellik nadat hy sy dierbare vriend Lasarus uit daardie graf in Betanië, naby Jerusalem, opgewek het, die ooggetuies van hierdie wonderwerk beveel het om Lasarus se grafdoeke los te maak. Toe Jesus die dogter van die Joodse owerste Jaïrus opgewek het, het hy eweneens “beveel dat hulle haar iets te ete moes gee” (Lukas 8:55; Johannes 11:44). Die oorlewendes sal ongetwyfeld instruksies uit die hemel ontvang om die nodige voorsienings te tref vir die terugkeer van die duisendmiljoene mensedode.

21, 22. (a) Deur middel van watter program sal die oorlewendes die verrese dode help om die voordele van Christus se dood ten volle te benut? (b) Waarom sal die “nuwe aarde” uit die staanspoor regverdig wees?

21 Daar sal ook ’n groot onderrigtingswerk wees wat gedoen moet word. Dit is in ooreenstemming met die goddelike voorneme dat die terugkerende mensedode die voordele van Jesus Christus se losprysoffer ten volle moet benut. Slegs as hulle dit doen, sal hulle gemagtig word om in menslike volmaaktheid op ’n Edenagtige aarde te lewe. Die “groot menigte” voornemende oorlewendes van die “groot verdrukking” berei hulself reeds voor om aan daardie wonderlike opleidingsprogram deel te neem. Hulle het persoonlik die voordele van die offerdood van “die Lam van God”, Jesus Christus, benut (Johannes 1:29). Dit is wat getoon word in Openbaring 7:9-14, waar dit onder meer omtrent hulle sê: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” Omdat hulle die voordele van Christus se losprys ontvang, word hulle afgebeeld as “bekleed met wit klere”.

22 In ’n figuurlike sin word daar ook gesê dat hierdie “groot menigte” “Hom dag en nag in sy tempel” dien (Openbaring 7:15). Gedurende die “groot verdrukking” wat voor die deur is, sal hulle wit klere nie van hulle weggeneem word nie, maar sal hulle onwrikbaar aanhou om vir Jehovah God heilige diens te verrig onder Sy beskerming (Openbaring 7:17). In hulle simboliese “wit klere” sal hulle die eerste, deel van die “nuwe aarde” wees, sodat “geregtigheid” uit die staanspoor daarin sal “woon”.—2 Petrus 3:13.

Hersieningsvrae

◻ Watter beskouing van toekomstige lewe het mense in die verlede en die hede gehad?

◻ Wat is God se voorneme met die aarde, en hoe bewys die Bybel dit?

◻ Hoe verseker die dinge wat met Noag en sy gesin gebeur het ons dat miljoene wat nou lewe nooit sal sterf nie?

◻ Wie sal die dode terugverwelkom, en watter voorsienings sal vir hulle getref word?

[Prent op bladsy 11]

Noag en sy gesin het die vloed oorlewe. Miljoene sal hierdie wêreld se einde oorlewe

[Prent op bladsy 12]

Net soos Lasarus lewend terugverwelkom is, sal Armageddon-oorlewendes die dode terugverwelkom

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel