Respekteer jy die naam van Christus?
“Daarom het God [Jesus] ook uitermate verhoog en hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”—FILIPPENSE 2:9-11.
IN DIE verse hierbo het die apostel Paulus die respek en eer beskryf wat die naam Jesus verdien. ‘Buig jy die knie’ in sy naam? Ken jy die “naam . . . wat bo elke naam is” wat Jehovah aan hom gegee het? Honderdmiljoene bely vandag dat hulle Christene is. Kan daar gesê word dat hulle ‘die knie’ in die naam van Jesus “buig”? Kom ons ondersoek daardie naam en kyk wat die ‘buig van die knie’ ter ere daarvan behels.
Watter soort naam?
Eerstens, wat is die “naam” wat aan Jesus gegee is? Dit is nie bloot sy persoonlike naam nie. Ander mense is al Jesus genoem. Sodat dit nouliks “’n naam [is] . . . wat bo elke naam is”. Dit is ook nie Jesus se naam in die sin van sy reputasie nie. Jesus het weliswaar bekend geword as Jehovah se vernaamste getuie in die hele skepping (Openbaring 3:14). Maar hy het self daardie naam verdien. Die “naam . . . wat bo elke naam is”, is deur Jehovah aan Jesus “gegee”.
Wat is die naam dan? Sekere woorde van die profeet Jesaja help ons om daardie vraag te beantwoord. Honderde jare voor Jesus se geboorte het Jesaja aangaande hom geskryf: “’n Kind is vir ons gebore, ’n seun is aan ons gegee; en die vorstelike heerskappy sal op sy skouer kom. En sy naam sal genoem word: Wonderbare Raadgewer, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.”—Jesaja 9:6, NW.
Wat beteken “naam” hier? Dit verwys na die hoë posisie en gesag wat Jesus sou ontvang sodat hy sy Vader se wil kon volbring. Dit is ter erkenning van en in onderworpenheid aan hierdie hoë gesag dat elke knie moet buig. Aangesien dit die geval is, kan ons hierdie vier titels wat deur Jesaja gemeld is, gerus van naderby ondersoek.
ln watter opsigte is Jesus ’n “Wonderbare Raadgewer”?
Jesaja het eerstens gesê dat Jesus se naam “Wonderbare Raadgewer” sou wees. Hy sou gemagtig word om wonderlike raad aan die mensdom te gee. Voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy reeds as die Woord, of Jehovah se vernaamste woordvoerder, gedien (Johannes 1:1). Terwyl hy op aarde was, het hy woorde gespreek wat mense na die ewige lewe gelei het—voorwaar wonderlike raad! Petrus het gevolglik vir hom gesê: “U het die woorde van die ewige lewe” (Johannes 6:68). Jesus is die sleutelfiguur in Jehovah se kommunikasiekanaal na die mensdom (Openbaring 1:1). Dit is noodsaaklik dat almal vandag na sy woorde moet luister. Hy is “die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Geen redding is moontlik vir diegene wat weier om na hierdie “Wonderbare Raadgewer” te luister nie.
ln watter sin is Jesus ’n “Sterke God”?
Jesaja het ook voorspel dat Jesus ’n “Sterke God” sou wees. Voordat hy na die aarde gekom het, was hy “’n god” in die sin dat hy “die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping” was (Johannes 1:1, NW; Kolossense 1:15). Nadat hy as ’n mens gesterf en as ’n onsterflike gees opgewek is, is hy ’n god in die sin dat hy liggaamlik deel het aan “die goddelike hoedanighede”.—Kolossense 2:9, NW; 1 Timotheüs 6:15, 16.
Maar ’n sekere mate van gesag word met die titel “Sterke God” geassosieer. In die Bybel is sekere manne gode genoem. Waarom? Omdat hulle as regters in die nasie Israel gedien het (Psalm 82:1-6). Jesus, die “Sterke God”, is Jehovah se groot aangestelde Regter. Hyself het verduidelik wat dit beteken: “Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer.”—Johannes 5:22, 23.
Een van die oordele wat aan Jesus toevertrou word, is die beoordeling van sy eie gemeente—diegene wat gesterf het voor sy wederkoms in Koninkryksmag sowel as diegene wat nog lewe—in die tydperk van sy teenwoordigheid gedurende “die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 24:3). Hy oordeel vandag ook die nasies en skei “die skape” van “die bokke”. Daarbenewens sal hy presideer oor die duisendjarige oordeelsdag van die hele mensdom na Armageddon. Voorwaar ’n “Sterke God”!—Mattheüs 25:31-46; Openbaring 11:18; 1 Petrus 4:17; Openbaring 20:4, 5, 13.
Waarom word Jesus tereg “Ewige Vader” genoem?
Jesus sou ook ’n “Ewige Vader” wees. Hoe? Wel, Adam was die eerste Vader van die mensdom. Maar hy het die geleentheid om ’n “Ewige Vader” te wees verloor toe hy gesondig het. Hy kon nie langer die ewige lewe aan sy kinders nalaat nie. Jesus het andersyds nie gesondig nie. En deur sy sondelose lewe vir die mensdom op te offer, het hy die weg tot die ewige lewe geopen vir diegene wat glo (Johannes 3:16; 1 Johannes 2:2). Hy sal dus aan hulle die ewige lewe gee wat Adam versuim het om aan hulle te gee. Die Bybel noem hom gevolglik “die laaste Adam”,“’n lewendmakende Gees” (1 Korinthiërs 15:45). Hy word tereg die “Ewige Vader” van die toekomstige volmaakte mensdom genoem.
Hoe vervul Jesus die rol van “Vredevors”?
Jesaja het laastelik gesê dat Jesus se naam “Vredevors” sou wees. Hy sou ’n Koning wees wat vrede vir sy onderdane bring (Psalm 72:6, 7). Na sy opstanding het Jesus die omvang van sy mag getoon toe hy gesê het: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mattheüs 28:18). Hierdie groot mag het heerskappy as Koning oor sy eie gemeente sedert 33 G.J. en oor God se Koninkryk sedert 1914 ingesluit (Kolossense 1:13; Openbaring 11:15). Jesus sal vrede op hierdie aarde bewerkstellig deur God se vyande te vernietig en deur in geregtigheid oor regverdige mense te regeer.—Psalm 37:10, 11; 72:7, 8; Daniël 2:44.
Erken Jesus se naam
Ons sien dus dat die “naam . . . wat bo elke naam is” die posisie, mag en gesag behels wat God aan Jesus gegee het. Dit is waarlik bo elke ander naam, aangesien sulke groot gesag aan geen ander skepsel gegee is nie. Daar is slegs van Jesus gesê: “Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). En slegs Jesus kon sê: “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”—Johannes 14:14.
Die apostel Paulus het gevolglik gesê dat “in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is” (Filippense 2:10). Ja, selfs “die wat in die hemel” is, die getroue engele, erken sy hoë posisie en gesag (Hebreërs 1:4-6). “Die wat onder die aarde is”, sal van Jesus se “naam” leer wanneer hulle die aardse opstanding kry. Slegs vir diegene wat dan ‘die knie’ uit respek vir sy Godgegewe gesag “buig”, sal daardie opstanding ’n “opstanding van die lewe” wees.—Johannes 5:29; Openbaring 20:12.
“Die wat op die aarde is—dit wil sê, ons wat nou lewe—is ook verplig om ‘die knie’ in die naam van Jesus te “buig” as ons die ewige lewe wil verkry. Dit beteken dat ons na Jesus, die Wonderbare Raadgewer, moet luister en sy raad moet toepas (Mattheüs 7:24, 25). Dit beteken dat ons geloof in hom moet beoefen sodat ons sondes vergewe sal word. Sodoende sal hy eindelik ons Ewige Vader word.
Dit beteken veral dat ons nou God se aangestelde Regter en Koning, Jesus, moet eer en aan hom onderdanig moet wees. Ons moet deur ons dade teenoor die Koning se broers bewys dat ons “skape” is en nie “bokke” nie. Ons moet die evangelie van die Koninkryk van hierdie “Vredevors” aan ander verkondig (Mattheüs 24:14; 25:34-40). En ons moet gehoorsaam wees aan die wette van sy Koninkryk terwyl ons neutraal bly in die aangeleenthede van die nasies van hierdie wêreld.—Jakobus 2:8; 1 Korinthiërs 6:9, 10; Johannes 15:19.
Jehovah het die wêreldheersers genooi om hulle aan Jesus te onderwerp (Psalm 2:10-12). Hulle weier egter en staan in baie gevalle Christene wat hulle wel aan hom onderwerp, teë. Dit is dus nie altyd maklik om ‘die knie’ in die naam van Jesus te “buig” nie: Jesus self het gewaarsku: “Julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.”—Mattheüs 24:9.
Getroue Christene ondervind daardie haat wanneer hulle daarop aandring om Jesus te vereer en die nodige eerbied vir Christus se hoë mag en gesag te toon. Dit is nietemin ’n vreugdevolle voorreg en hou groot beloninge in om deel te wees van diegene van wie Filippense 2:11 praat: “Elke tong [moet] bely dat Jesus Christus die Here, is tot heerlikheid van God die Vader.”