Verderf hulle jou hart?
DIEGENE wat ons as “vriende” kies, kan ons hart beïnvloed. Spreuke hoofstuk sewe beskryf ’n jong man wat omgegaan het met ’n onsedelike getroude vrou. Sy emosies het opgewel omdat hy na “die gladheid van haar lippe” geluister het. Hy het owerspel met haar gepleeg. Maar wat het aanleiding gegee tot so ’n daad? Vers 25 waarsku ander: “Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie.” Sy hart is deur sy omgang mislei.
Watter soort karakters word in die vervolgverhale uitgebeeld? ’n Predikant wat die kat in die donker knyp; ’n verkragter; ’n prostituut; ’n ongehude moeder wat haar minnaar geskiet het omdat hy saam met haar moeder bed toe is; ensovoorts, ensovoorts. Owerspel is iets algemeens, so ook aborsie en buite-egtelike swangerskappe.
Is dit die “vriendekring” waardeur jy jou hart wil laat beïnvloed? Gestel hierdie mense was jou bure. Sou jy hulle na jou huis nooi en in vervoering luister terwyl hulle hulle eskapades beskryf?
“Wat vertel jy nog my insettinge . . . ?” het Jehovah vir diegene gevra wat voorgegee het dat hulle sy volk is. “As jy ’n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers” (Psalm 50:16, 18), Moet jouself nie bedrieg nie. “Slegte geselskap bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33. NTP; Spreuke 13:20.
“Maar nie al die karakters is openlik sleg nie”, het een Christenhuisvrou gesê. “Ek kon my geredelik met een vereenselwig wat ’n goeie persoon was. Sy was wat ek graag wou wees. Ek het haar persoonlikheid nagevolg.” Dit is algemeen dat die karakters van TV-vervolgverhale as “ideale” gebruik word. Maar moet ’n Christen dit doen?
Die apostel Paulus het Christene nie aangespoor om die gedrag na te volg van mense wat ‘in die verstand verduisterd’ en sedelik verdorwe is nie, maar het eerder vir medegelowiges gesê: “Julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus” (Efesiërs 4:17-21). ’n Toegewyde Christen moet hom toespits op en laat lei deur die voorbeeld van Jesus, of van diegene wat dieselfde patroon as goedgekeurde knegte van God volg. Ander voorbeelde is strikke.—1 Korinthiërs 11:1; Hebreërs 11:1-12:2; 1 Petrus 2:21.
Harte heimlik verlei
Die getroue man Job het erken hoe maklik sy hart verlei kon word deur die dinge wat hy gesien het. “As ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan, en my hart heimlik verlei is . . . ook dit sou ’n strafbare misdaad wees”, het Job erken.a Die sterbesaaide hemele met ’n helder maan’s ’n aandoenlike gesig. Maar Job se bure het die maan as ’n simbool van vrugbaarheid aanbid. Aanloklike seksorgieë was dikwels deel van maanaanbidding. As Job voortdurend hieraan gedink het, sou ‘sy hand hulle ’n kus teëgewerp het” as ’n daad van aanbidding. Sy hart kon groter oopgegaan en permissiewer geword het, met die gevolg dat afgodediens nie so sleg sou gelyk het nie. Maar hy het homself gekeer.—Job 31:26-28.
Televisievervolgverhale is net so subtiel. Die soeke na liefde word gebruik om enige gedrag te regverdig. Een ongetroude, swanger meisie sê byvoorbeeld vir ’n vriendin: “Maar ek het Victor lief. Ek gee nie om nie. Ek sal lieg, bedrieg en steel om by hom te wees. Hy is dit werd. Victor is enigiets werd. Dit is vir my wonderlik om sy kind in die wêreld te bring!” Die sagte musiek op die agtergrond maak dit moeilik om haar handelwyse as so sleg te beskou. Jy hou ook van Victor. Jy simpatiseer met die meisie. Jy “verstaan”. “Dit is verbasend hoe ’n mens kan rasionaliseer”, het een kyker gesê wat later tot besinning gekom het. “Ons weet dat onsedelikheid sleg is. . . . Maar ek het besef dat ek verstandelik daaraan meedoen.”
Party meen egter dat ‘die dinge wat vertoon word, nie erger is as wat ’n mens in die alledaagse lewe sien nie’. Maar is dit wat ’n Christen as vermaak moet kies? Die apostel Paulus het geskryf: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam” (Efesiërs 5:3). Was Paulus onrealisties? Nee. Die punt wat hy aangevoer het, was dat Christene nie vermaak moes word deur sulke walglike dade te bespreek nie. Dit geld ook vir mense wat vandag waarlik ‘heilig’ is.
Verstande en harte verderf
Party lidmate van die eerste-eeuse gemeente in Korinthe is verontreining, nee, nie deur televisie nie, maar deur valse apostels. Volgens die tweede-eeuse erkende Christen Ireneüs het hierdie afvalliges gesê: “Net soos goud, wanneer dit in vullis ondergedompel word, nie daardeur sy prag verloor nie . . . beweer hulle dat hulle hoegenaamd nié benadeel kan word of hulle geestelikheid kan verloor nie, ongeag wat hulle ook al doen.” Hierdie persone het gevolglik met ongelowiges omgegaan, die wrede swaardgevegte bygewoon en hulle selfs aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak.
Die apostel Paulus het die Christene in Korinthe betig omdat hulle hulle die valse leraars ‘goed laat geval’ het, en Paulus het gevrees dat die verstande van die Korinthiërs op subtiele wyse “bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” “net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het”. Hierdie subtiele leerstellige verdorwenheid het tot sedelike verdorwenheid gelei.—2 Korinthiërs 11:4, 3.
Die gemeente in Korinthe was selfs bereid om ’n bloedskendige verhouding deur een van sy lidmate te duld! Hierdie onsedelike man was moontlik een van diegene wat deur die persone in die gemeente bewonder is. Hulle harte het “verstaan”. Hy het “ware liefde” gevind! Ander in die gemeente is moontlik deur sy oortreding beïnvloed en het hulle ook aan onreinheid, hoerery en selfs skaamtelose ongebondenheid skuldig gemaak.—1 Korinthiërs 5:1, 2, 6; 2 Korinthiërs 12:21.
Sou jy wou hê dat jou hart op dieselfde wyse verderf moes word? Laat jy jou owerspelers, hoereerders, moordenaars en dies meer goed geval deur jou daagliks in hulle lewens te verdiep? Ongeag hoe ferm ons op die weg van die waarheid wandel, ons harte kan subtiel beïnvloed word as ons gedurig na stof kyk wat onsedelikheid vergoelik.
“Jy dink dat dit jou nie beïnvloed nie”, het een Christin gesê wat jare kink gereeld na TV-vervolgverhale gekyk het. “Maar diep in jou hart aanvaar jy die oortreding. Jy sien dinge wat jy wil hê. En as jou man nie so liefdevol is soos die wat jy in die vervolgverhale sien nie, meen jy dat daar iets ontbreek.”
Hierdie Christin wat ’n aptyt vir TV-vervolgverhale ontwikkel het, het haar waaksaamheid dermate verslap dat sy haar aan onsedelikheid skuldig gemaak het. Sy was dadelik bitter spyt en het mettertyd die vergifnis van haar man en die gemeente verkry. Maar watter emosionele litteken tog! “Dit het goed gegaan totdat die omstandighede dit vir my moontlik gemaak het om die begeertes van my hart in dade te omskep”, het sy erken. “Satan het ’n strik gespan en ek het reg daarin getrap. Moenie mislei word nie, TV-vervolgverhale kan jou beïnvloed. Ek hoor party sê dat hulle sterk genoeg is om nie daardeur beïnvloed te word nie. Wel, die tyd sal leer.” Selfs na hierdie tragedie het sy dit moeilik gevind om nie meer daarna te kyk nie. “Dit was erger as om op te hou rook”, het sy gesê.
Die meeste kykers maak hulle natuurlik nie aan onsedelikheid skuldig net omdat hulle na hierdie programme kyk nie. Maar kan jy dalk begin om jou huweliksmaat te vergelyk met die karakters in die program? Sal dit liefde versterk of twyfelgedagtes wek? En sal dit, indien jy ongetroud is, die begeerte na ’n huweliksmaat vergroot en moontlik aanleiding gee tot ’n onverstandige huwelik of onsedelikheid? Kan jy onnodige luimveranderinge ondervind?
Die apostel Paulus het geskryf: “Alles is my geoorloof, . . . maar ek sal my nie deur iets laat oorheers [verslaaf] nie”. (1 Korinthiërs 6:12). Die gewoontevormende aard van die vervolgverhale is deeglik gestaaf. Party Christene het gemeentelike vergaderinge versuim, hulle bediening verwaarloos, huistakies vinnig afgehandel, stokkies gedraai, persoonlike en gesins-Bybelstudie verwaarloos—alles net om die vervolgverhaal te sien. Behoort hierdie persone nie die hoeveelheid tyd wat hulle aan sulke programme wy ernstig in oënskou te neem nie?
Dit geld natuurlik vir enige program waarna ’n mens kyk, maar die besondere gevaar van die vervolgverhale is dat hulle jou hart betrek sodat jy eenvoudig die volgende daaglikse episode moet sien. Dr. Hendrie Weisinger, ’n sielkundige wat aangehaal is in ’n tydskrif vir vervolgverhaalliefhebbers, het erken: “Navorsing toon dat die televisie wel ons gedrag en denke beinvloed. . . . ’n Persoon wat tuis bly en gereeld na programme kyk, kan hom te sterk met die karakters vereenselwig. Hulle laat toe dat TV-vervolgverhale ’n uitbreiding van hulle lewens word, en dit kan ’n obsessie by hulle word om nie ’n enkele episode te mis nie.”
Alternatiewe
Een Christin wat die slegte gewoonte aangeleer het om gereeld na die vervolgverhale te kyk, het baie neerslagtig geword. Sy het ’n ander Getuie in haar vertroue geneem, en dié het haar aangespoor om meer tyd aan die Christelike bediening te wy en ander te help. “Dit het vir my aangenaam geword om saam met ander in die veldbediening te werk”, het die vrou berig. “Ek was nie neerslagtig nie omdat ek my nie oor ander mense se probleme hoef te bekommer het nie. Ek het begin om my lewe met iets bevredigends te vul. Die vervolgverhale was nie langer belangrik nie. Ek het ’n voltydse evangeliedienares geword.” Baie het gevind dat sulke verskerpte heilige diens die oplossing is.—Vergelyk Openbaring 7:15, NW.
Party het die probleem opgelos deur meer tyd te wy aan huislike pligte en meer aandag te skenk aan die geestelike en fisiese welsyn van hulle kinders. Aangesien die meeste van ons graag met ander mense vriende wil wees, het party geestelike en materiële gawes gegee. Jy hoef nie ryk te wees nie. Dit kan dikwels baie lonend wees om al net vir ’n vriend of vriendin die een of ander spesiale lekkerny te bak.—Spreuke 31:10-31.
“Nou weet ek wat ek gemis het”, het ’n persoon wat vantevore aan TV-vervolgverhale verslaaf was, erken. “Persoonlike studie en gebed. Filippense 4:6-9 oor gebed en rein gedagtes het my waarlik gehelp. Nou begin ek die dag met die dagteks en ander Bybellektuur. Jehovah het oorgenoeg ware dramas in die Bybel voorsien, soos die verhale oor Jesus, Job, Dawid en ander. Of ek lees die ondervindinge van hedendaagse Getuies. Hoewel ’n deeltjie van my nog kan sterf van nuuskierigheid om te weet wat in die TV-vervolgverhale gebeur, weerhou my begeerte om Jehovah te dien my daarvan.”
Ja, die beslissende faktor is ons begeerte om Jehovah uit die hart te behaag. Dit beteken nie dat alle TV-programme verderflik is nie. Maar ’n Christen moet selektief wees, want die ondervinding het getoon dat programme wat die skending van Bybelstandaarde vergoelik, ’n Christen se hart kan verderf.
“o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!” (Psalm 97:10). Dit is nie altyd maklik om hierdie bevel te gehoorsaam nie. Ons hart moet noukeurig bewaak word. Mag ons almal voel soos koning Dawid, wat gesê het: “Ek wandel in die opregtheid van my hart, binne-in my huis. Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie [soos ’n daaglikse gewoonte] aankleef nie. My oë sal wees op die getroues in die land.”—Psalm 101:2, 3, 6.
[Voetnoot]
a Die Hebreeuse woord wat vertaal word met “verlei”, beteken basies “om oop te maak, om uit te brei”.
[Lokteks op bladsy 7]
‘Ek weet wat ek gemis het—persoonlike studie en gebed.’—’n Voormalig TV-verslaafde