God se Woord is lewend
Hoe keer Christus terug?
JESUS CHRISTUS moes sterf om sy volmaakte menselewe as ’n losprys vir ons te gee. Hy het eenkeer verduidelik: “Die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Johannes 6:51). Sou Jesus, na dat hy sy vlees vir ons gegee het, dit weer terugneem? Sal Jesus as ’n mens terugkeer?
Die Bybel sê dat Christus in sy heerlikheid terugkeer saam met al die engele, en dat hy ‘op sy heerlike troon sal sit’ (Mattheüs 25:31). As Jesus as ’n man op ’n aardse troon sou kom sit, sou hy laer wees as die engele. Maar hy kom as die magtigste en heerlikste van al hierdie geesseuns van God, en gevolglik is hy onsigbaar, net soos hulle is.—Filippense 2:8-11.
Baie glo egter dat Christus sy vleeslike liggaam hemel toe geneem het en dat hy met ’n liggaam van vlees en bloed sal terugkeer. Hulle wys op die feit dat die verrese Jesus verskeie kere met ’n vleeslike liggaam aan sy dissipels verskyn het om vir hulle te wys dat hy lewend was. Eenkeer het Jesus vir die apostel Thomas gevra om sy hand in die gat in sy sy te steek sodat Thomas kon glo dat hy werklik opgewek is (Johannes 20:24-27). Toon dit nie dat Jesus opgewek is met dieselfde liggaam wat aan die folterpaal genael was nie?
Nee, want Jesus het bloot verstoflik of ’n vleeslike liggaam aangeneem soos die engele in die verlede gedoen het. Om Thomas te oortuig wie hy is, het hy ’n liggaam met wonde gebruik. Dit het gelyk of hy ten volle mens was, in staat om te eet en te drink, net soos die engele wat Abraham eenkeer onthaal het.—Genesis 18:8.
Alhoewel Jesus aan Thomas verskyn het met ’n liggaam wat ooreengekom het met die een waarmee hy doodgemaak is, het hy ook ander liggame aangeneem wanneer hy aan sy volgelinge verskyn het. Maria Magdalena het hom gevolglik eers vir ’n tuinier aangesien. Ander kere het Jesus se dissipels hom aanvanklik nie herken nie. In hierdie gevalle was dit nie sy uiterlike wat hom geïdentifiseer het nie, maar ’n woord of ’n handeling wat hulle herken het.—Johannes 20:14-16; 21:6, 7; Lukas 24:30, 31.
Beskou die wyse waarop Jesus sy apostels verlaat het toe hy opgevaar het hemel toe. Die Bybel sê: “Hy [is] opgeneem terwyl hulle dit sien; en ’n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem” (Handelinge 1:9). Toe Jesus in die lug begin opvaar, het ’n wolk hom vir die letterlike oë van sy apostels bedek. Die vertrekkende Jesus het gevolglik vir hulle onsigbaar geword. Hulle kon hom nie sien nie. Hy is met ’n geestelike liggaam hemel toe (1 Petrus 3:18, NW). Die engele wat by daardie geleentheid teenwoordig was, het vir die apostels gesê: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Handelinge 1:11). Christus sou dus met ’n geestelike liggaam terugkeer en onsigbaar wees.