Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 1/15 bl. 7-13
  • Jongmense, is Bybelse sedelikheid die beste weg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jongmense, is Bybelse sedelikheid die beste weg?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE DRUK WORD NOU UITGEOEFEN!
  • DIE BESTE WEG
  • ‘HULLE VERONREG HULSELF’
  • GEE HART AAN OUERS
  • MAAK JOU LIGGAAM DIENSBAAR
  • BOU JOU VERHOUDING MET GOD OP
  • Voorhuwelikse seks
    Ontwaak!—2013
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Wat is so verkeerd met voorhuwelikse seks?
    Ontwaak!—2004
  • Hoe ver is te ver?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 1/15 bl. 7-13

Jongmense, is Bybelse sedelikheid die beste weg?

“Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.”—Jes. 48:17

1. Waarom is die jeug ’n goeie tyd in die lewe, maar watter gesindheid het party?

“DIE dae van ons jeug is die dae van ons glorie”, het die digter geskryf. Baie jongmense stem saam, want dit is ’n tyd van opwinding en vryheid van die swaar verantwoordelikhede van volwassenheid. Maar baie jongmense wil graag al die genot smaak wat jongmense sowel as volwassenes kan ervaar. Hulle gesindheid kan soos volg opgesom word: ‘Ons wil nie wag nie; ja, ons wil elke genot dadelik smaak.’

2. (a) Wat toon onlangse statistiek oor jongmense en sedes? (b) Dink jy dat hierdie neigings jongmense in die Christengemeente beïnvloed?

2 Gedurende hierdie “jonkheid” het die drang om elke genot te smaak, daartoe gelei dat meer jongmense voorhuwelikse omgang, of hoerery, beoefen as te enige ander tydperk in die hedendaagse geskiedenis.a Hierdie vlaag seksuele promiskuïteit het selfs party jongmense in die Christengemeente beïnvloed. As ’n Christen wonder jy dalk: ‘Wat maak dit vir ’n jong persoon so moeilik om kuis te bly, veral gedurende hierdie “laaste dae”?’—Pred. 11:10; 2 Tim. 3:1-5.

DIE DRUK WORD NOU UITGEOEFEN!

3, 4. (a) Waarom is dit nie vir ’n jong persoon maklik om kuis te bly nie? (b) Hoe skep druk deur hulle metgeselle en ’n behoefte aan begrip probleme?

3 Gedurende die tienderjare ontluik die geslagsdrang. Hierdie tydperk, wat in die Bybel “die bloei van die jeug” genoem word, bring gewoonlik ’n sterk aantrekking tot die ander geslag. Dit is dus nie buitengewoon as jy, as ’n jong persoon, deur geslagsdrange gepla word nie. Maar hierdie normale begeerte word opgesweep deur vandag se vermaak en reklamemedia, wat seks verheerlik.—1 Kor. 7:36, NW.

4 Die druk deur ander jongmense kan ook baie groot wees, soos een jong Christenskooldogter verduidelik het: “Dit is werklik moeilik om deesdae anders te wees. ’n Paar meisies by die skool het gevra of ek al seks gehad het. Toe ek nee gesê het, het hulle almal begin lag. Ek het lus gevoel om te huil en te sê dat ek al gemeenskap gehad het.” Daarbenewens het jongmense ’n behoefte aan liefde en begrip, en hulle kry dit dalk nie by die huis nie. Hulle waardeer ’n kêrel of ’n nooi wat hulle as iemand “spesiaals” behandel en wat ’n simpatieke oor het. Sulke emosionele gehegtheid kan tot seksuele intiemhede lei. Party jongmense word verwar deur al hierdie nuwe emosies. Hulle wonder dalk: ‘Kan iets wat so aangenaam is verkeerd wees? Is die Bybel se sedelikheid werklik die beste weg?’

DIE BESTE WEG

5. (a) Wat deel Jesaja 48:17 ons aangaande God mee? (b) Wat is God se wil volgens 1 Thessalonicense 4:3-8 vir ons op sedelike gebied?

5 Ons hemelse Vader het sy uitverkore volk daaraan herinner: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan” (Jes. 48:17). Wat is die sedelike ‘weg waarop ons moet gaan’? “Dít wil [of, verlang] God . . . dat julle jul moet onthou van hoerery; dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiligheid en eer van sy eie vat [liggaam] besit te verkry, nie in hebsugtige seksuele begeerte nie . . . Want God het ons nie geroep met verlof tot onreinheid nie.”—1 Thess. 4:3-8, NW.

6. (a) Wat het die apostel Paulus gesalfde Christene aangaande hoerery beveel, en waarom? (b) Waarom moet dit jongmense oor hulle handelwyse laat nadink?

6 God se wil in verband met sedes is duidelik—‘verkry beheer van julle liggame’; onthou julle van hoerery en onreinheid. Julle jongmense wat julle lewens aan God toegewy het, het ’n hegte eenheid met hom gevorm en het deel van ’n rein organisasie geword. Hoe verheug is God tog oor so ’n handelwyse! Maar as julle voorhuwelikse geslagsomgang sou hê, sou dit dieselfde wees as wanneer een van die gesalfde “lede van Christus” wat “met die Heer verenig is” seksueel “met ’n hoer verenig” geraak het. “Mag dit nooit gebeur nie!” het die apostel Paulus uitgeroep. Dit sal die grootste belediging vir so ’n kosbare verhouding wees. Geen ander sonde is heeltemal dieselfde nie, want “hy wat hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam”. Sulke sonde kan beslis ons geestelike verhouding met God vernietig. Dit is geen wonder dat Paulus ons aangespoor het om ‘vir die hoerery te vlug’ nie. Ja, “vlug”! Moenie nog wag om daaroor te redeneer of die saak te debatteer nie. Kom so ver moontlik daarvan weg—en vinnig! Maar gestel nou ’n persoon “vlug” nie van sulke gedrag af weg nie. Wat dan?—1 Kor. 6:15-18, NW.

‘HULLE VERONREG HULSELF’

7-9. (a) Wat sê 2 Petrus 2:9-13 oor diegene wat onsedelik is? (b) Hoe het party wat onreinheid bedryf het ‘hulself veronreg’?

7 Die apostel Petrus sê dat diegene in die gemeente wat “heerlike wesens” belaster het en onsedelik was, hulself op die ou end “veronreg het as loon van die ongeregtigheid” (2 Pet. 2:9-13, vgl. NW). Hierdie “loon” van geslagsoortreding strek baie verder as net veneriese siekte of ’n buite-egtelike swangerskap. Dit vernietig liefde, respek en gemoedsrus. Party jongmense wat byvoorbeeld “oor die tou getrap” en hulle aan hoerery skuldig gemaak het, het droewig erken:

“Dit was ’n groot teleurstelling. Ek het nie goed of bemind gevoel soos ek verwag het nie. Ek is eerder getref deur die besef van hoe sleg die daad was.”

“Ek het die hele nag gehuil.”

“Ek het so laag soos ’n luis gevoel. Dit was ’n leë, walglike gevoel. Ek het respek vir myself en die meisie verloor. Trouens, ek het my betrap dat ek die meisie vir alles blameer.”

8 Ons hemelse Vader sê vir ons om nie alleen hoerery nie, maar ook “onreinheid” te vermy (1 Thess. 4:7). Hoewel hierdie uitdrukking baie dek, verwys dit na gedrag wat sedelik weersinwekkend is. Masturbasie (seksuele selfbevlekking) is ’n ‘onrein’ gebruik wat baie jongmense het. Dit sweep beslis die “seksuele begeerte” op en kan ’n geweldige skuldgevoel veroorsaak. In party gevalle waar die persoon nie ernstig probeer het om dit te bowe te kom nie, het hierdie denkpatroon ná die huwelik probleme geskep. Een jong man was geskok om te vind dat sy lang patroon van seksuele selfbevrediging hom na sy huwelik verhoed het om sy “huweliksplig” na te kom. Maande van ellende het gevolg!—1 Kor. 7:3, NTP.

9 Party paartjies raak mekaar se intieme liggaamsdele op ’n hartstogtelike en seksueel stimulerende wyse aan. Dit is ook ’n vorm van “onreinheid” en kan maklik tot onsedelike geslagsomgang lei—en dit is wat dikwels gebeur. Hierdie gebruik kan ’n persoon se “seksuele begeerte” laat ontvlam tot die punt waar hy feitlik rasend is. Een jong man het erken: “Jy sien jouself as ’n dier met dierlike begeertes, en dit is emosioneel verwoestend.” Sulke gedrag het al gelei tot verbreekte verlowingsb en het dikwels probleme meegebring vir diegene wat later getrou het. “Ons het feitlik alles gedoen wat hoerery voorafgaan en ons amper ook daaraan skuldig gemaak voordat ons getroud is”, het een jong paartjie erken. “Alhoewel ons hulp van die ouere manne ontvang het, was dit nooit weer dieselfde nie. Dit is moeilik om die respek te herwin wat ons eens vir mekaar gehad het.”

10. Waarom is “onreinheid” skadelik vir ongetroude paartjies?

10 Wanneer ’n ongetroude persoon begin met party van die ‘bedwelmende’ seksuele gebruike wat vir die huweliksbed bedoel is, kan hy of sy mislei word om met iemand te trou wat nie die eienskappe het wat nodig is om ’n goeie huweliksmaat te wees nie. Seks is geneig om mense blind te maak vir ernstige verskille wat na die huwelik weer opduik en probleme skep. Dit is nie verbasend dat ’n studie getoon het dat uit ’n totaal van 265 huwelike waar die bruid swanger was, slegs 15 egpare na vyf jaar nog bymekaar was nie! Ander navorsingstudies toon dat as ’n persoon voorhuwelikse omgang het, die moontlikheid twee keer groter is dat hy of sy owerspel sal pleeg. Julle jong broers en susters moet julle dus nie laat verlei deur die “ydel woorde” van persone wat sê dat geslagsomgang voor die huwelik tot ’n gelukkiger huwelik lei nie (Ef. 5:6). Party sê selfs dat jy siek sal word as jy nie seks het nadat jy geslagsrypheid bereik het nie. Dit is onwaar. Dokters het nog nooit ’n verband tussen kuisheid en enige siekte gevind nie! Maar ongelukkig was daar persone wat wellus bo liefde verkies het, en dit het hulle die res van hulle lewe berou!

11, 12. (a) Hoe straf Jehovah geslagsonsedelikheid? (b) Wat sê Job oor diegene wat hardnekkig teen God is? (c) Watter vraag gaan ons nou bespreek?

11 Ons moet nooit vergeet nie: “Die Here straf al sulke dinge [hoerery en onreinheid]” (1 Thess. 4:6, NTP). Hierdie straf kan ’n kwellende gewete wees, tugtiging deur die gemeente se ouere manne, of die gevolge van wat jy gesaai het. As ons berouvol is, vergewe Jehovah ons natuurlik vryelik en bedek hy ons sondes heeltemal. Maar party is hardnekkig en weier om op God se wette ag te slaan. “Wie was hardnekkig teen [God] en het ongestraf gebly?” het Job gevra (Job 9:4). Niemand! Dit maak Jehovah seer om sulke ‘hardnekkigheid’ te sien. Dit maak besorgde ouere manne seer wat gesien het hoe baie van ons jongmense die gemelde traumas deurmaak. Hierdie opsieners besef dat niemand God se wette en beginsels kan skend en “ongestraf” daarvan kan afkom nie. Een jong Christin wat berouvol was oor onsedelikheid het vir haar gemeentelike ouere manne gesê: “Ek wens ek kon vir elke jong persoon in die Waarheid sê: ‘Moet dit nie doen nie!’ Jehovah sal dalk jou sondes vergewe, maar jy sal dalk nooit. Die slegte herinneringe sal jou verteer. Dit is nie die moeite werd nie.” Die ouere manne pleit saam met Jehovah: “Ag, as jy maar na my gebooie geluister het.”—Jes. 48:18.

12 Maar hoe kan ’n jong Christen Jehovah se gebooie hou en die baie lokvalle en subtiele valstrikke van geslagsonsedelikheid vermy?

GEE HART AAN OUERS

13. Hoe kan jong persone met godvresende ouers Spreuke 23:26 toepas, en met watter resultate?

13 “My seun, gee my jou hart, en laat jou oë ’n welgevalle hê in my weë” (Spr. 23:26). Daardie beroep vra om meer as net meganiese gehoorsaamheid. ’n Jong persoon moet openhartig praat en sy ouers in sy vertroue neem. Maar as ’n jong persoon meen jy moontlik dat jou Christenvader of -moeder eenvoudig nie begryp hoe jy voel nie. Een Christenmeisie wat ’n probleem met masturbasie gehad het en hulp nodig gehad het, het hierdie beskouing gehad. Sy het daarteen opgesien om met haar moeder te praat. Hoe sou sy reageer? Sou sy begryp? “Wel, toe ek met haar daaroor gepraat het, het sy geluister en my nie berispe nie”, het die tiener gesê. “Sy het haar arm om my geslaan, vir my gesê dat sy my liefhet en my sou help om die probleem te bowe te kom. Ons het openlik daaroor gesels en toe ons klaar was, het sy my in haar arms gehou en het ons saam gebid. Van toe af kon ek enigiets met haar bespreek.”

14. Hoe moet jong Christene die wette van hulle godvresende ouers beskou?

14 Ja, jongmense het geredelik hulp ontvang wanneer hulle hulle Christenouers in hulle vertroue geneem het. Hulle verkry ’n “welgevalle” in die weë van hulle godvresende ouers en beskou hulle reëls en dissipline as ’n kosbare “halssnoer” en nie as ’n harde ‘ketting’ wat hulle verhoed om ‘die lewe te geniet’ nie (Spr. 1:8, 9, NW). Is jy werklik eerlik met jou ouers? Of is jy soos een jong persoon wat erken het: “Wanneer ek by my ouers is, is ek wat hulle wil hê ek moet wees, maar wanneer ek van hulle af weg is, is ek wat ek wil wees”? Deur na aan jou godvresende ouers te kom, kan jy gehelp word om baie onnodige angs te vermy. Diegene wat nie Christenouers het nie, kan ryp Christene—manne sowel as vroue—asook die ouere manne in die gemeente nader. Vra hulle gewillige hulp.—Tit. 2:3, 4; Jak. 5:14, 15.

MAAK JOU LIGGAAM DIENSBAAR

15. Hoe beskryf die apostel Paulus sy handelwyse in 1 Korinthiërs 9:27, en hoe kan ’n jong persoon dienooreenkomstig optree?

15 Die apostel Paulus het gesê: “Ek kasty my liggaam [‘slaan my liggaam pimpel en pers’c] en maak dit diensbaar [nie ‘dit maak my diensbaar’ nie], dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Paulus het homself ‘vasgevat’. In plaas daarvan om toe te laat dat jou liggaamsbegeertes jou oorheers, moet jy ook situasies wat jou geslagsdrange sal opwek, voorsien en hulle doelbewus vermy. Jy weet byvoorbeeld wat met jou liggaamsbegeertes sal gebeur as jy boeke lees en na TV-programme en rolprente kyk wat seks verheerlik. Vermy dit dus soos die pes! Afsprake (waar dit sosiaal aanvaarbaar is) as jy nog nie gereed is vir die huwelik nie, sekere soorte danse en partytjies wat in ’n verkeerde rigting neig en waar mense kan afpaar, wek almal die “seksuele begeerte”. Vermy dit dus en “maak dood . . . julle lede . . . naamlik hoerery, onreinheid, hartstog [seksuele begeerte, NW]”.—Kol. 3:5.

16. Watter voorsorgmaatreëls moet ’n Christenpaartjie tref terwyl hulle saam uitgaan en vir die huwelik voorberei?

16 Veral wanneer ’n paartjie saam uitgaan en hulle vir die huwelik voorberei, moet hulle hulle omstandighede dophou. As hulle alleen in ’n motor, ’n woonstel (’n persoon het miskien die huis verlaat en woon nou op sy eie) of in ’n verlate plekkie buite is, kan dit die paartjie te intiem laat word. Een 17-jarige het eerlik gesê: “Enigiemand kan sê: ‘Ons weet wanneer om op te hou.’ ’n Mens weet miskien wanneer, maar hoeveel kan dit doen? Dit is beter om die situasie te vermy. Sorg dat daar ander is.” Ja, ’n chaperon kan julle die ekstra krag gee om volle beheer te hê oor die geslagsdrange in julle liggame wanneer julle bymekaar is. En “stel perke” aan julle minnekosery. Bly dan daarby.

17. Is dit belangrik dat ons ons omgang dophou? Waarom?

17 Wanneer die liggaam smag na die geselskap van persone met losse sedes, moet jy dit van sulke omgang af weglei. “Hou jou weg ver van haar [’n onsedelike vrou] af, en kom nie naby die deur van haar huis nie”, beveel die Bybel aan (Spr. 5:8). By die skool word jongmense natuurlik verplig om met talle onsedelike persone om te gaan. Maar verkeer jy sosiaal met hulle? Een 18-jarige meisie het baie se gevoelens in woorde uitgedruk toe sy gesê het: “Jou omgang het ’n groot invloed op jou sedes. As jy na hulle gesprekke oor seks luister, raak jy nuuskierig. Jy wonder hoe dit werklik voel om seks te hê. Is dit so aangenaam soos hulle sê? Ek weet dat dit die geval is, want ek maak weens hierdie einste redes op my eie ’n kind groot.”—Spr. 13:20.

18. Watter vrae moet ’n jong Christen homself afvra wanneer ander met hom spot omdat hy kuis is?

18 Die Skrif toon dat onsedelike persone in die Christengemeente sou insluip. Wees dus op jou hoede. As jy meen dat sekere persone in hierdie klas val, moet jy hulle na die ouere manne verwys vir geestelike bystand. So sal jy ware liefde aan hulle betoon en moontlik ander in die gemeente beskerm. Party wêreldlike, onsedelike individue sal weliswaar met jou spot oor jou kuis standpunt. Maar dink net daaraan! Moet jy toelaat dat “slawe van die verdorwenheid”—ja, slawe van hulle eie hartstogte—jou verleë laat voel? (2 Pet. 2:19). Wie is sterker—die losbandige, onsedelike vrou (of man) wat “haar minnaars agternaloop”, of die reine maagd wat van haar morele krag kan sê: “Ek is ’n muur”? (Hoogl. 8:10; vergelyk Hosea 2:6.) Watter een van julle loop die grootste gevaar om sy selfrespek te verloor en ‘sy waardigheid aan ander te skenk’?—Spr. 5:9, NW; Jud. 4, 8-13.

19. (a) Wie het ‘hulle liggame diensbaar gemaak’—die paartjie wat in die Hooglied van Salomo beskryf word, of Amnon? (b) Wat was die gevolge?

19 As jy jou liggaam beheers, dit oorheers, sal jy sonder enige berou kan terugkyk. Dink aan die vreugde van die Sulammitiese meisie en haar herderminnaar toe hulle uiteindelik getroud is. Met die hulp van ander, en deur hulle eie pogings, het hulle hulle liggaamsbegeerte oorwin en kuis gebly. Al het hulle troetel-woorde gebesig, was hulle nie onsedelik voordat hulle getrou het nie en het hulle dus nie die genot bederf wat hulle sou smaak nadat hulle in die huwelik by mekaar aangepas het nie. Hoe anders tog as hartstogtelike Amnon wat nie kon wag nie en wie se ‘liggaam hom diensbaar gemaak het’ sodat hy onsedelik was!—Hoogl. 2:16; 4:16; 5:1; 2 Sam. 13:1, 2, 10-16.

BOU JOU VERHOUDING MET GOD OP

20. (a) Wat kan gebeur wanneer ’n mens nie ’n persoonlike verhouding met God het nie? (b) Wat het die onsedelike persone wat Paulus in Romeine hoofstuk een beskryf het nie gehad nie?

20 “Ek het nooit ’n persoonlike verhouding met Jehovah opgebou nie”, het ’n 22-jarige vrou wat van kleins af in ’n Christelike huis grootgemaak is, erken. “God was nie vir my ’n werklike persoon nie. Ek veronderstel dat dit die rede is waarom dit my nie werklik gehinder het toe ek onsedelik was nie.” Haar situasie het ooreengekom met dié van die onsedelike persone wat deur Paulus beskryf is. Hulle het “God geken”; hulle ‘het sy regverdige verordening goed geken’, maar het nie “juiste kennis” gehad nied (Rom. 1:21, 28, 32, vgl. NW). Hierdie “dieper en intiemer kennis en bekendheid”,e ’n persoonlike kennis, wat hulle moes verkry het, het ontbreek. Het jy, as ’n jong persoon, hierdie persoonlike “juiste kennis”? Jy moet God se Woord persoonlik en gereeld bestudeer om die eienskappe van God te onderskei. Onthou hoe sulke “juiste kennis” die vroeë Christene versterk het. (Kyk bladsy 5.) Maar meer as boekekennis is nodig.

21, 22. Hoe kan ’n mens ’n sterk, persoonlike verhouding met God opbou?

21 Deur hartgrondige gebede bou ons ’n intiemheid met God op. Een jong Christin, wat deur onsedelikheid verstrik is maar later tot haar sinne gekom het, het gesê:

“Gebed is die enigste manier om daardie persoonlike verhouding te bewaar—nie roetine-gebede nie, maar die soort wat reg uit die hart kom. Wanneer ek sommer vir Jehovah vertel hoe ek diep hier binne voel en hierdie voortdurende kommunikasie het, besef ek dat hy ’n werklike Persoon is en in my lewe belangstel. My verhouding met hom is die belangrikste ding in die wêreld.”

22 Is jou gebede so intens? Tree jy in ooreenstemming met jou gebede op? En as jy ’n ‘medewerker van God’ word deur die predikingswerk te doen, sal jou belange en doelstellings dieselfde as God s’n word. Dit sal uiteraard ’n intiemheid met Jehovah opbou. Onthou, slegs jý kan hierdie persoonlike verhouding met God opbou.—1 Kor. 3:9.

23. (a) Sal die stryd teen onsedelikheid vir ewig voortduur? (b) Waarom behoort jy bereid te wees om enigiets te doen om Jehovah te behaag?

23 Daar word weliswaar vandag druk op jongmense uitgeoefen. Dit is ’n daaglikse stryd om getrou te wees. Maar wanneer die “bloei van die jeug” eers agter die rug is, kan die stryd makliker word. Die stryd sal nietemin nie vir ewig duur nie. Satan, die hoofaanstigter van hierdie vlaag onsedelikheid, sal binnekort vernietig word. In God se nuwe orde wat ophande is, sal daar ’n regverdige milieu wees wat dit vir ons soveel makliker sal maak. Dink na oor die seëninge van daardie nuwe orde. Jy stem beslis saam met die mening van een jong vrou wat gesê het: “Ek dink aan alles wat Jehovah vir my gedoen en aan my beloof het. Hy het nie moed verloor met my nie. Hy het my op so baie maniere geseën. Ek weet dat hy net die beste vir my begeer. En ek wil hom behaag. Die ewige lewe is enige inspanning ten behoewe van Jehovah werd.”—Rom. 16:20; 2 Pet. 3:13.

[Voetnote]

a Kyk die artikel op bladsy 3 vir die verstommende statistiek.

b Die gebruik om intieme liggaamsdele hartstogtelik aan te raak is deur party deskundiges aangegee as een van die hoofoorsake waarom verlowings verbreek word. Opnames toon dat ten minste een uit elke drie verlowings nie op ’n huwelik uitloop nie.

c The Expositor’s Greek Testament.

d In vers 21 gebruik Paulus die Griekse woord gno’sis, terwyl hy in vers 28 e·pi’gno·sis gebruik, wat ’n versterkte vorm van die woord is. Dit slaan op ’n dieper en ’n deegliker kennis.

e Grieksgeleerde dr. Richard C. Trench in Synonyms of the New Testament.

Kan jy hierdie vrae ter hersiening beantwoord?

▪ Wat is God se wil vir Christene wat geslagsedes betref?

▪ Waarom is seksuele “onreinheid” skadelik vir ongetroude paartjies?

▪ Hoe moet jong Christene die Bybelse hulp beskou wat deur hulle godvresende ouers aangebied word?

▪ Watter voorsorgmaatreëls moet ’n Christenpaartjie tref terwyl hulle hulle vir die huwelik voorberei?

▪ Hoe kan ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah God verkry word?

[Prent op bladsy 9]

Onsedelikheid benadeel, want dit pla die gewete en vernietig respek

ONSEDELIKHEID

GEEN RESPEK

[Prent op bladsy 12]

’n Persoonlike verhouding met God, wat deur gebed verkry word, dien as ’n beskerming

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel