Vlug terwyl daar nog tyd is!
TOE Jesus die einde van daardie Joodse godsdiensstelsel in die eerste eeu voorspel het, het hy ook iets veel groters in gedagte gehad. Hy het geweet dat dit ’n patroon sou wees van wat mense op ’n veel groter skaal in die “laaste dae” van hierdie stelsel kon verwag.—2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 24:3.
Hoe kan ons seker wees dat dit hierdie verdere vervulling het? In sy profesie het Jesus byvoorbeeld gepraat van sy toekomstige koms “met groot krag en heerlikheid”. Een gevolg hiervan sou wees dat “al die stamme van die aarde rou bedryf” weens die onheil wat hulle tref (Mattheüs 24:30). Hierdie dinge het nie plaasgevind met die val van Jerusalem en Judea in die eerste eeu nie. Trouens, Lukas se weergawe van hierdie selfde profesie haal Jesus soos volg aan: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.”—Lukas 21:24.
Wat is die “Jerusalem” waarvan daar hier gepraat word? Wanneer verstryk hierdie “tye van die nasies”?
Die “heilige plek” en ’n “gruwelike ding”
’n Tipiese koninkryk van God het van 1070 tot 607 v.G.J. in Jerusalem geregeer. Dit het God se soewereiniteit op die aarde verteenwoordig. Maar toe is hierdie dinastie in die geslag van Dawid deur die Babiloniërs omvergewerp. Reg tot vandag toe het geen koninkryk weer in die aardse Jerusalem geregeer nie. Maar Jerusalem word nie meer in die volgende sin vertrap nie: God se soewereiniteit word nou uitgeoefen deur ’n “hemelse Jerusalem”—die beloofde koninkryk van die Messias, Christus Jesus. Die Bybelrooster, die vervulling van profesie en die getuienis van geskiedskrywers dui almal die jaar 1914 aan as die einde van die vasgestelde “tye van die nasies” en as die begin van ’n tydperk van “benoudheid van nasies”.—Hebreërs 12:22; Lukas 21:24-26; Openbaring 11:15.
Die “hemelse Jerusalem”, wat deur getroue gesalfde Christene op aarde verteenwoordig word, beklee nou ’n “heilige plek”. Maar erken die nasies van die aarde dit? Geensins! In 1919 het hulle die Volkebond voorgestel, wat deur vooraanstaande geestelikes as “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” bestempel is. Godsdiensleiers het die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke-organisasie, wat in 1945 gestig is, eweneens beskryf as ‘die enigste hoop op blywende vrede’. Die geestelikes plaas dus hierdie mensgemaakte hulpmiddel in die “heilige plek” waar slegs God se koninkryk in die hande van sy Christus nou met reg funksioneer. Voorwaar ’n “gruwelike ding” in die oë van God en alle liefhebbers van geregtigheid!
Maar namate ons nader kom aan God se tyd om die teenswoordige, goddelose wêreldstelsel te vernietig, word die “gruwelike ding”, die V.V.O.-kombinasie van nasies ’n bedreiging vir wêreldgodsdiens. Hoe so? Daarin dat sterk ledenasies van die V.V.O., veral dié van die Kommunistiese blok, inbreuk gemaak het op die gebied van godsdiens. Hierdie ateïstiese magte hou veral ’n bedreiging in vir die voortgesette funksionering van die Christendom se kerke, byvoorbeeld in China, in die Sowjet-Unie en in ander Oos-Europese lande. Magsugtige V.V.O.-lede hou dus nou ’n bedreiging in vir die Christendom se beweerde “heilige plek”. Dit stel alles voor wat haar gelowe heilig ag—haar terrein, haar organisasies, haar kerkgeboue en ander bates, en haar beweerde reg om die lewens van haar mense te beheer. Waarop sal hierdie konfrontasie uitloop?
Daar is voorspel dat die hedendaagse verwoester, die V.V.O.-‘dier met sewe koppe en tien horings’, valse godsdiens ‘verlate en naak sal maak’ en “haar met vuur [sal] verbrand” (Openbaring 17:3, 16). Wanneer hulle dit doen, sal dit nie uit liefde vir God wees nie, net so min as wat antieke Rome uit liefde vir God opgetree het. Die hedendaagse “gruwelike ding” sluit nou baie nasies in wat God, sy koninkryksheerskappy en die mense wat God se naam, Jehovah, dra, haat.En hierdie verwoester is onteenseglik deel van die teenswoordige stelsel wat deur Satan die Duiwel beheer word.—Lukas 4:5-8; 2 Korinthiërs 4:4; Mattheüs 6:9, 10.
‘Vlug na die berge’
Toe die V.V.O. in 1945 te voorskyn gekom het as opvolger van die Volkebond, het dit reeds nasies ingesluit wat teen God gekant was. Die teken is dus opnuut gegee, en hierdie keer was dit selfs kragtiger, vir regskape persone om ag te slaan op Jesus se waarskuwing om ‘na die berge te vlug’.—Mattheüs 24:16; Openbaring 7:9, 10; 18:4.
Wat is hierdie simboliese berge vandag? Dit is die skuilplek wat deur God voorsien is. Jehovah se voorsiening vir die beskerming van sy volk op aarde reg deur die “groot verdrukking” wat in Openbaring 7:1, 14 beskryf word. Dit word geïdentifiseer as Jehovah se teokratiese organisasie, wat vandag op aarde verteenwoordig word deur die ware Christengemeente (1 Timotheüs 3:15). Aan “die einde van die dae” gee hierdie gemeente die leiding in ware aanbidding by “die berg van die huis van die HERE” (Jesaja 2:2, 3). Spreuke 18:10 sê eweneens: “Die Naam van die HERE is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.”
As ’n mens na God se organisasie en die verhewe, reine aanbidding daarvan vlug, beteken dit ook dat jy van die valse godsdiensstelsel van hierdie wêreld af vlug en alle bande daarmee verbreek. Dit beteken dat ’n mens jouself identifiseer as ’n ware kneg van Jehovah en ’n dissipel van Jesus Christus.
Moenie uitstel nie
Niemand moet uitstel om te vlug en dink dat die verloop van sake presies sal ooreenkom met die Romeinse leërs se onttrekking in 66 G.J. sodat daar kans sal wees om te vlug nie. Ons moenie so ’n geskiedkundige verwikkeling verwag nie, aangesien dit nie nodig is vir ’n persoon om van een geografiese plek na ’n ander te vlug nie. Die verskyning van die Volkebond na die Eerste Wêreldoorlog en die herverskyning van die “dier” in 1945 in die vorm van die V.V.O. behoort genoeg waarskuwing te wees.
Dit is nou uiters dringend vir mense om te vlug. Waarom? Omdat die getuienis toon dat die “gruwelike ding” ook die “heilige plek”, die beweerde domein van die Christendom se kerke, gaan verwoes. Dit sal die begin van die “groot verdrukking” wees.
Aangesien diegene wat die “groot verdrukking” gaan oorlewe, versamel word voordat dit begin, hoef daar nie ’n lang, uitgerekte “beleëring” te wees nie. Dit sal weliswaar die tyd van grootste moeilikheid in die hele mensegeskiedenis wees, soos Jesus voorspel het. Maar dit sal betreklik kort wees omdat dit “verkort” sal word net soos die beleëring van Jerusalem verkort is, aangesien God se “uitverkorenes” dan reeds gevlug het.
“Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”, sê 1 Johannes 2:17. Diegene wat “die wil van God doen” deur hom reg te aanbid, is gevolglik die “vlees” wat hierdie komende “groot verdrukking” gaan oorlewe. Soos Openbaring 7:9-17 toon, sluit daardie persone ’n “groot menigte” uit alle nasies in.
Wat van diegene wat die waarskuwing in die wind slaan en nie die geleentheid aangryp om nou na Jehovah se “berge” te vlug nie? Die profesie in 2 Thessalonicense hoofstuk 1, verse 7 tot 9, verstrek ’n duidelike antwoord waar dit praat van “die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf.”
Ja, dit is baie dringend om ag te slaan op die werk wat God vandag op aarde laat doen ter vervulling van Jesus se woorde in Mattheüs 24:14: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Diegene, wat daarop ag slaan en vlug, sal vir ewig lewende bewys wees van die sekerheid van die Bybelse belofte wat lui; “Die HERE sal sy volk . . . nie verlaat nie” (Psalm 94:14). En Jesus het gesê: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mattheüs 24:13.
Die tyd vir God om oordeel aan die valse Christendom en haar “heilige plek” te voltrek, is ophande. Die verwoester gaan binnekort toeslaan en mense enige verdere geleentheid om na Jehovah se beskerming te vlug, ontneem. Het jy reeds na die simboliese “berge” gevlug? Indien nie, moet jy nie verder uitstel nie. Jou lewe hang daarvan af.—Sefanja 1:14-18; 2:3.
[Prent op bladsy 6]
Die Christendom se geestelikes het beweer dat die Volkebond en die V.V.O. dinge kon doen wat slegs God se bergagtige koninkryk kan doen en het aldus hierdie menslike hulpmiddele in ’n “heilige plek” geplaas
[Prent op bladsy 7]
Die gemilitariseerde “horings” van die V.V.O.-“dier” bedreig nou ’n ander “heilige plek”—alles wat vir die valse Christendom dierbaar is, naamlik haar beweerde invloedsfeer en terrein