God se Woord is lewend
Wat beteken Jesus se dood vir ons?
NADAT Jesus Christus gesterf het, het die reisigers Kleopas en sy vriend “met somber gesigte” langs die pad gaan staan (Lukas 24:17, NTP). Die dood is ’n vyand, en daarom veroorsaak dit uiteraard droefheid. Maar hierdie manne kon in werklikheid bly gewees het dat Jesus gesterf het, en ons kan ook. Weet jy waarom?
Die Bybel verduidelik dat “Christus vir ons sondes gesterf het” en dat hy “vir ons gesterf het, sodat ons . . . saam met Hom kan lewe” (1 Korinthiërs 15:3; 1 Thessalonicense 5:10). Ja, Jesus is aarde toe gestuur om ons te red. Hy het self gesê dat “die Seun van die mens . . . gekom het om . . . sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mattheüs 20:28). Maar wat beteken dit dat Jesus sy lewe as “n losprys” gegee het? Wat is ’n losprys?
Die woord “losprys” word dikwels gebruik wanneer iemand ontvoer is. Nadat ’n ontvoerder ’n persoon gevang het, beloof hy dalk om die slagoffer terug te gee mits ’n sekere bedrag as losprys betaal word. ’n Losprys is dus iets wat ’n gevangene se verlossing bewerkstellig. Dit is iets wat betaal word sodat die persoon nie sy lewe verloor nie. Jesus se volmaakte menselewe is gegee om die mensdom te bevry van slawerny aan sonde en die dood (1 Petrus 1:18, 19; Efesiërs 1:7). Waarom was so ’n verlossing nodig?
Dit was nodig omdat Adam, ons voorvader, teen God in opstand gekom het (Genesis 2:17; 3:11, 12). Sy wettelose daad het hom ’n sondaar gemaak, aangesien die Bybel verduidelik: “Die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4; 5:17). Hy het gevolglik nie God se gawe, die ewige lewe, verdien nie (Romeine 6:23). Adam het dus volmaakte menselewe op ’n paradysaarde vir homself verbeur. Hy het ook hierdie wonderlike vooruitsig vir al sy toekomstige kinders verloor. Jy vra dalk: ‘Maar waarom moes al sy kinders sterf aangesien dit Adam was wat gesondig het?’
Dit is omdat Adam, toe hy ’n sondaar geword het, sonde en die dood oorgedra het aan sy kinders, onder meer alle mense wat nou lewe (Job 14:4; Romeine 5:12). Mense sterf dus weens die sonde wat hulle van Adam geërf het. Hoe was dit dan moontlik dat die dood van Jesus alle mense van slawerny aan sonde en die dood kon bevry?
’n Regsbeginsel in God se wet vir die nasie Israel is by die saak betrokke. Dit sê dat ‘lewe vir lewe gegee moet word’ (Exodus 21:23). Deur sy ongehoorsaamheid het die volmaakte man Adam volmaakte lewe op ’n paradysaarde vir homself en al sy kinders verloor. Jesus Christus het sy volmaakte lewe gegee om terug te koop wat Adam verloor het. Jesus het, soos die Bybel verduidelik, “homself gegee as ’n ooreenstemmende losprys vir almal”.—1 Timotheüs 2:5, 6, NW.
Dink net wat dit vir ons beteken! Dit beteken dat Jesus sy lewensbloed in die dood uitgestort het sodat ons die geleentheid kon kry om vir ewig onder die heerskappy van God se koninkryk te lewe. Gaan jy jou dankbaarheid toon deur jou lewe te gebruik om God en sy hemelse Seun, Jesus Christus, te dien?—2 Korinthiërs 5:14, 15.
[Prente op bladsy 8]
Hoe kan ‘losgeld’ ons help om Jesus se losprys te verstaan?
[Prente op bladsy 9]
Wat het Adam se ongehoorsaamheid vir hom en die hele mensdom meegebring?
Wat beteken die feit dat Jesus die volmaakte man Adam se eweknie was vir ons?