Die vernietiging van ’n “heilige plek”—Wat dit vandag beteken
“KERKE EN TEMPELS OOR DIE HELE LAND VERNIETIG IN ’N VLAAG VAN ANTIGODSDIENSTIGE GEWELD!”
HOE geskok sou die meeste mense tog nie wees as koerante eendag sulke opskrifte sou hê nie! Tog is dit nie net ’n moontlikheid nie; dit is onvermydelik!
Hoe so? Omdat Bybelprofesie duidelik toon dat dit binnekort in land na land gaan gebeur. Die profesie in Mattheüs hoofstuk 24 meld byvoorbeeld die verwoesting van die “heilige plek”. Hoewel dit in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling ’n vervulling gehad het, het dit ’n veel groter vervulling in ons dag.
Die profesie is aanvanklik geuiter in verband met Jerusalem en sy heerlike tempel wat deur die Jode in hulle aanbidding gebruik is. Toe Jesus Christus by een geleentheid met sy dissipels gepraat het, het hy aangaande die tempelgeboue gesê: “Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.”—Mattheüs 24:2.
Waarom het God so ’n oordeel aan daardie eerste-eeuse “heilige” tempel en die godsdiensstelsel wat dit verteenwoordig het, voltrek? Omdat die Jode afvallig geword het. Hulle het God se wette wat deur middel van Moses aan hulle gegee is, verlaat. Hulle het boonop God se verteenwoordigers wat gestuur is om hulle te waarsku, verwerp en selfs hulle bloed vergiet. Jesus het gevolglik gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is . . . Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!”—Mattheüs 23:37, 38.
‘Vlug na die berge’
Aan diegene wat God opreg aanbid het, het Jesus gesê: “Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die gruwelike ding wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan—wie dit lees, moet dit goed begryp—dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Die man wat op die stoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie, en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het.”—Mattheüs 24:15-19, NTP.
Waarom het Jesus sy volgelinge aangespoor om inderhaas ‘na die berge te vlug’? Hy het gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”—Mattheüs 24:21, 22.
Maar wat het Jesus nou eintlik bedoel toe hy gepraat het van “die gruwelike ding wat verwoesting aanrig, in die heilige plek”? Wat het hy bedoel met die “groot verdrukking”, en met die “vlees” wat gered sou word? Waarom sou die verdrukking “ter wille van die uitverkorenes” “verkort word”?
Die eerste-eeuse vervulling
Hoe is hierdie profesie in die eerste eeu vervul? Let eerstens op die dringende waarskuwing om na die berge te vlug “wanneer julle . . . die gruwelike ding wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan”.
Wat was hierdie gruwelike verwoester? Die geskiedenis deel ons mee wat vir die vernietiging van Jerusalem verantwoordelik was: Dit was die leërs van die Romeinse Ryk. Toe daardie leërs die eerste keer in groot getal om Jerusalem verskyn het, was dit die teken vir die persoon ‘met begrip’ om uit die gebied te kom. En dit het in die jaar 66 G.J. gebeur. Dit was toe dat Romeinse leërs onder aanvoering van generaal Cestius Gallus Jerusalem omsingel het en selfs die tempelmuur aangeval en ondergrawe het. Hulle kon die hele stad maklik ingeneem het.
Daar het die Romeinse leërs nou in “die heilige stad” gestaan. (Vergelyk Mattheüs 4:5; 27:53.) Selfs die afvallige Jode het Jerusalem en sy omgewing as “heilig” beskou. Die teenwoordigheid van daardie leërs in hierdie “heilige plek” was vir die Jode gruwelik.
Maar om die een of ander rede wat vir geskiedkundiges duister is, het generaal Gallus sy leërs aan die stad onttrek en teruggeval. Dit was die teken wat Jesus voorspel het. Die tyd het aangebreek vir sy volgelinge, die “uitverkorenes”, om te begin vlug. Omdat hulle die dringendheid van die tye besef het, het hulle Jerusalem en die hele Judea gou verlaat soos Jesus beveel het. Die geskiedskrywer Eusebius sê dat hulle oor die Jordaanrivier na die omgewing van Pella in die gebergte van Gilead gevlug het.
Jerusalem verwoes
’n Paar jaar later, in 70 G.J., het die Romeinse leërs onder aanvoering van generaal Titus na Judea teruggekeer en Jerusalem omsingel. Maar teen daardie tyd was al die “uitverkorenes”, die Christene, reeds uit “die heilige stad”. Toe die Romeine Jerusalem by daardie geleentheid omsingel het, het niemand gevolglik meer kans gehad om na veiligheid te vlug nie.—Lukas 19:43, 44.
Na ’n kort beleëring van vier maande en vyf-en-twintig dae het die leërs van Rome die stad en die tempel in puin gelê. Die geskiedskrywer Josefus, ’n ooggetuie, het gesê dat 1 100 000 gedood en 97 000 as gevangenes weggevoer is. Die getalle was groot omdat die ontroue Jode nie ag geslaan het op Jesus se waarskuwing om te vlug nie. Hulle het die teenoorgestelde gedoen. Ten tye van ’n godsdiensfees het hulle na Jerusalem gestroom en is almal vasgekeer toe die Romeine skielik die stad omsingel het.
Die feit dat die ‘uitverkore’ Christene nie meer in Jerusalem was nie, het beteken dat God hom nie oor hulle veiligheid sou hoef te bekommer nie. Hulle het reeds gevlug. God kon dus toelaat dat die Romeine in Jerusalem ingaan en gou Sy oordeel aan die stad voltrek. Omdat die uitverkore Christene Jerusalem reeds verlaat het, het daardie verdrukking gouer geëindig daar dit “verkort” is. Dit het dit vir “vlees”, die 97 000, moontlik gemaak om dit te oorleef.
Daardie “groot verdrukking” in 70 G.J. was die verskriklikste ramp wat Jerusalem ooit getref het. Dit het eens en vir altyd ’n einde gemaak aan die Joods geboude stad, sy tempel en die godsdiensstelsel wat daaraan verbonde was.
Maar wat het daardie antieke geskiedenis te doen met ons wat in die twintigste eeu lewe? Sommer baie.