Dit is hoog tyd om te vlug!
1. (a) Wat het gedurende die Tweede Wêreldoorlog op aarde in die heiligdom van die “heilige plek” gebeur? (b) Watter vraag ontstaan gevolglik?
SOOS ons gesien het, is die ware “heilige plek” in die domein van die “hemelse Jerusalem” God se Messiaanse koninkryk. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die “heiliges” wat saam met hulle metgeselle, die “groot menigte” in die heiligdom van daardie “heilige plek” op aarde dien hoofsaaklik in lande van die Anglo-Amerikaanse tweeledige wêreldmoondheid vertrap (Daniël 7:27; 8:10-12; Openbaring 7:9, 15). Moet ons dan die gevolgtrekking maak dat Brittanje en Amerika “die gruwelike ding” is “wat verwoesting aanrig”? Nee, want die “oortreding” van die tweeledige wêreldmoondheid sluit nog iets in. Wat is dit?
2, 3. (a) Hoe is ’n valse koninkryk van God voortgebring? (b) Hoe word dit in Openbaring beskryf? (c) Wat is gevolglik die hedendaagse “gruwel” of “gruwelike ding” van Daniël 11:31 en Matttheüs 24:15?
2 Die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid het Satan se saak op ’n ander manier bevorder. Dit het ’n valse koninkryk van God voortgebring. Net soos in Daniël se profesie gebruik die Bybelboek Openbaring ook “diere” en hulle “horings” om wêreldlike politieke magte af te beeld. Openbaring hoofstuk 13 beskryf die sewende wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis, Brittanje en Amerika, as ’n dier met twee horings wat lewe gee aan ’n “beeld” van die dierlike menseheerskappye. Hierdie “beeld” van die dier is ’n samegestelde ‘skarlakenrooi dier met sewe koppe en tien horings’ (Openbaring 17:3). Dit het in 1920 as die Volkebond verskyn. En in 1945 het dit as die Verenigde Volke herleef, weer eens met Brittanje en Amerika, asook die Sowjet-Unie, as die vernaamste voorstanders daarvan (Openbaring 13:11, 15; 17:8). Dit was ook ’n vervulling van Daniël 11:31, wat lui: “En hulle sal . . . die ontsettende gruwel opstel.”a
3 Hier het ons dan die hedendaagse “gruwelike ding” waarvan Jesus in Mattheüs 24:15 (NTP) gepraat het. Maar wat het veroorsaak dat dit ‘in ’n heilige plek staan’? Wat toon die feite?
4. (a) Waarom kan die Volkebond as ‘gruwelik’ bestempel word? (b) Watter “gruwelike” bewerings het godsdiensieiers oor die V.V.O. gemaak?
4 Toe Brittanje en Amerika die Volkebond in 1918 voorgestel het, het die kerke van die Christendom hulle heelhartige steun daaraan toegesê. Die Federale Raad van Kerke van Christus in Amerika het dit begroet as “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde”. Hoe lasterlik tog! Om te sê dat ’n kombinasie van die politieke nasies van Satan se wêreld God se koninkryk op die aarde kon wees! Voorwaar ’n gruwelike ding, ’n verfoeisel, in die oë van Jehovah en diegene wat waarlik in die “heilige plek” staan as ambassadeurs op aarde van die tans heersende “hemelse Jerusalem”! En wat het die wêreld se geestelikes van die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke, gesê? Hulle het dit beskryf as die mensdom se ‘enigste hoop op oorlewing’, “die laaste hoop op harmonie en vrede” en die “vernaamste forum vir vrede en geregtigheid”. Net soos in die geval van die Volkebond stel hulle dit in ’n “heilige plek” deur te beweer dat dit dinge gaan doen waartoe slegs God se koninkryk in staat is.
5. Waarom kan ons sê dat die V.V.O. nie in die “heilige plek” hoort nie?
5 Die geestelikes van die Christendom het verkies om die V.V.O. in ’n “heilige plek” te stel wat tereg aan die “hemelse Jerusalem” God se koninkryk, en aan die “heiliges” wat dit op aarde verteenwoordig, behoort. Maar daar is niks ‘heiligs’ omtrent die V.V.O. nie. Dit het sy kapel en sy Boeddhistiese klok, en die woorde in Jesaja 2:4 verskyn op sy pleinmuur: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Maar hierdie dinge maak dit nie ‘heilig’ nie. Die ledenasies twis gedurig met mekaar, en ’n indrukwekkende getal van hulle is nou gekant teen godsdiens, gekant teen God. Maar ons vind dat “die gruwelike ding” ook in ’n ander sin in ’n “heilige plek . . . staan”.
’n Treffende parallel
6. (a) Watter twee groepe wat in teenstelling met mekaar was, het in eerste-eeuse Jerusalem gewoon? (b) In watter opsigte was die Joodse godsdiensbeoefenaars en hulle voorvaders eenders?
6 Reg tot die jaar dat eertydse Jerusalem vernietig is, het die Jode dit as ’n heilige stad, ’n heilige plek, beskou. Omstreeks 56 G.J. het selfs die apostel Paulus, vergesel van vier ander Christene wat ’n gelofte gedoen het, na die tempel in Jerusalem gegaan en hom daar seremonieel gereinig (Handelinge 21:23-26). Daar is hy aangeval deur Jode van die soort wat ware Christene vervolg het en die aantyging gemaak het dat hulle ‘Jerusalem met hulle leer vervul het’ (Handelinge 5:28). Hierdie Jode het hulle afvallige tradisies en aanbidding aangehang, en in hierdie opsig was hulle soos hulle voorvaders van Jeremia se dag, wat vertrou het “op bedrieglike woorde . . . wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!” (Jeremia 7:4). Maar daardie vertroue was misplaas.
7. (a) Watter parallel is daar tussen die valse Christendom en afvallige Jerusalem? (b) Wat is die valse Christendom se beweerde “heilige plek”?
7 Daar bestaan vandag ’n soortgelyke situasie, want die afvallige Jerusalem van lank gelede en sy tempel het ’n treffende parallel in die hedendaagse valse Christendom. Let op dat die Christendom se godsdiens ook daarop aanspraak maak dat sy ’n “heilige plek” het—haar beweerde godsdiensregte en terrein. Deur die eeue heen het sy ’n gekoesterde domein opgebou waar sy beheer oor die massas uitoefen. Sy maak daarop aanspraak as haar geestelike reg. Haar domein sluit ook duur katedrale, juweelversierde altare, kosbare kleurvensters, grondbesit en yslike bankrekeninge in. Dit is alles deel van haar beweerde “heilige plek”. Dit is vir haar heilig, en niemand durf daarop oortree nie! Ten minste, sy dink so.
8. (a) Wat is die verhouding van die valse Christendom se godsdiens tot “Babilon die Grote”? (b) Hoe kom die valse Christendom met afvallige Jerusalem ooreen?
8 Maar wat het ter vervulling van profesie in 607 v.G.J. en ook in 70 G.J. met eertydse Jerusalem en sy “heilige plek” gebeur? En wat toon die Here Jesus ons in die Openbaring wat hy aan die apostel Johannes oorgedra het? Ons lees daar in die sewentiende hoofstuk van God se oordeel wat voltrek gaan word aan “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:5. NW). Hierdie “Babilon die Grote” is niks anders nie as die wêreldryk van valse godsdiens, waarvan die Christendom se kerke die vernaamste deel is. Die valse Christendom, wat voorgee dat sy in ’n verbondsverhouding met God is, is die hedendaagse afvallige “Jerusalem”.
9. Hoe het die “moeder van die hoere” in die hedendaagse vervulling teenoor die “dier” opgetree?
9 Deur die eeue heen het die “moeder van die hoere” valse godsdiens, nogal goed daarin geslaag om die sake van dierlike nasies en ryke te beheer. Sy het op goewermentele berge gesit, soos Openbaring 17:9 toon, en vers 15 sê dat sy op “waters” sit, bedoelende “volke en menigtes en nasies en tale”. Toe die samegestelde “skarlakenrooi dier” in 1920 as die Volkebond verskyn het, en toe dit in 1945 weer as die Verenigde Volke verskyn het, het “Babilon die Grote” sake slim bewerkstellig sodat sy op hierdie internasionale liggaam kon kom, om voordeel te verkry en wins te maak. Sy neem nie die feit in ag dat hierdie “gruwelike ding” van ’n politieke aard staan waar dit nie behoort te staan nie en oortree op die “heilige plek” wat nou tereg die domein van die “hemelse Jerusalem” God se koninkryk in die hande van die Messias, is.
Die “horings” tree in die geveg
10. Watter voltrekking van oordeel wag op valse godsdiens?
10 Maar kyk! Wanneer daardie nasies sê: “Vrede en veiligheid” raak die “horings” van daardie skrikwekkende “dier” skielik gewelddadig! Die haat wat hulle al lank vir die “hoer” koester, sal nie langer onderdruk word nie! Hulle sal die hoer afgooi wat so houtgerus bo-op die “dier” gesit het. Daardie radikale, militaristiese “horings” en “die dier” sal “die hoer” “verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Openbaring 17:16). Valse godsdiens sal totaal verwoes word, en dit sluit die valse Christendom in wat beweer dat dit ’n “heilige plek” voor God op aarde het. Die valse Christendom se vernietiging sal dus so volkome wees soos dié van die tempel in aardse Jerusalem, waarvan Jesus gesê het: “Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!”—1 Thessalonicense 5:3; Markus 13:2.
11. (a) Wat het in 1914 ten opsigte van die ware “heilige plek” gebeur? (b) Hoe is daar toe begin om die valse Christendom se beweerde “heilige plek” binne te dring?
11 Is hoeragtige valse godsdiens, met inbegrip van die valse Christendom, bedug vir wat met haar gaan gebeur? Sy behoort te wees, as sy die patroon van hedendaagse wêreldgebeure kan vertolk. En sy sal doodbang wees as sy aandag skenk aan die profetiese waarhede in die Bybel. Dit was inderdaad kort nadat die “hemelse Jerusalem” as regmatige bekleër van die “heilige plek” in 1914 voortgebring is dat die valse Christendom druk op haar vermeende “heilige plek”—haar domein—begin ondervind het. In 1917 het die Marxistiese revolusie in Rusland plaasgevind. Sedertdien het ateïstiese, sosialistiese magte groot dele van die aarde verower. En sedert die Tweede Wêreldoorlog het hulle selfs aggressiewer gevorder. Hulle verkondig luid dat godsdiens “die opium van die mense” is. Die valse Christendom betreur op haar beurt die Kommunistiese indringing in haar beweerde “heilige plek” asook die verlies van soveel “volke”.
Die valse Christendom se “heilige plek” word bedreig!
12, 13. Hoe het koerantberigte die bedreiging vir die valse Christendom se “heilige plek” onderstreep?
12 Gebeure in Kommunistiese lande word toegelig deur die volgende berig in Hongkong se Star laat in 1981: “Volgens vlugtelinge, Westerse diplomate en buitelandse geestelikes het Viëtnam se Kommunistiese regering Boeddhistiese monnike opgeroep vir militêre diens, honderde Christelike geestelikes in die tronk gestop en kweekskole en kerke gesluit. Hulle sê die doel daarvan is om alle gelowe onder die uitsluitlike beheer van die regering te plaas. Vlugtelinge beweer dat die Rooms-Katolieke Kerk in suidelike Viëtnam veral groot druk ondervind en dat die owerheid opstande in Katolieke Pole aanhaal as bewys van die Kerk se ‘teenrevolusionêre neiging’.”
13 Atlanta se Journal and Constitution van 2 Januarie 1982 het ’n opskrif bevat: “Baie van [1981 se] groot nuuswaardighede het in verband gestaan met godsdiens.” Dit het toe die gepoogde sluipmoord op pous Johannes Paulus II, die sluipmoord op Egipte se president Sadat deur Moslemitiese vegters, sluipmoorde en grootskaalse teregstellings in Iran, noodlottige skermutselinge tussen Arabiese guerrillas en Israeli’s, en sterftes as gevolg van bomaanvalle, moorde en hongerstakings in Ierland gemeld. Ja, godsdiens is voorwaar betrokke in baie van die moeilikheid in die wêreld. Maar al hierdie nuusberigte sal onbeduidend lyk wanneer die ‘tien horings en die dier’ binnekort in die geveg tree om valse godsdiens, die valse Christendom en haar vermeende “heilige plek” inkluis, totaal te verwoes.
14. Hoe sal diegene in die ware “heilige plek” ook bedreig word?
14 Maar wat van diegene wat in die ware “heilige plek” aanbid—diegene wat hier op aarde “heilige diens” verrig ter ondersteuning van die “hemelse Jerusalem”? Hulle sal ook aangeval word deur militaristiese “horings” wat selfs nou lede van die V.V.O. is. Volgens Openbaring 17:14 sal daardie politieke liggaam toon dat dit geen reg het om in ’n “heilige plek” te staan nie, want dit “sal teen die Lam oorlog voer”.
15. (a) Wie sal ’n belangrike rol in die aanval op die “heiliges” speel? (b) Hoe sal ‘hy aan sy einde kom’?
15 Daniël 11:40-45 toon dat die Kommunistiese “koning van die Noorde” ’n belangrike rol in hierdie aanval op die “heiliges” sal speel, maar “hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie”.b Al die nasionalistiese “horings” en die “skarlakenrooi dier” self sal dus deur Christus Jesus en sy engeleleërs tereggestel word. “Die Lam sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings.” Daar, by Armageddon, sal die heersende koning van die “hemelse Jerusalem” die beslissende oorwinning behaal oor al die nasies wat ‘hulle krag en mag oorgegee het aan die dier’.—Openbaring 17:12-14; 16:16.
‘Vlug na die berge’
16. Hoe en waar kan God se volk beskerming vind?
16 Hoe vind God se volk dan beskerming? Deur ‘na die berge te vlug’ (Mattheüs 24:16). Hierdie “berge” is vandag die skuilplek wat deur God voorsien is, Jehovah se voorsiening vir die beskerming van die oorblywende “heiliges” op aarde en die “groot menigte” “ander skape” gedurende die “groot verdrukking”. Dit is in ooreenstemming met Jesus se profesie dat “vlees” gered sal word (Mattheus 24:22). Aangesien berge duursaam is en dikwels in die Skrif met goewermentele funksies geassosieer word, is die skuilplek wat God vandag voorsien by sy teokratiese organisasie te vinde. Dit word op aarde verteenwoordig deur “die gemeente . . . van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” wat nou as die globale gemeenskap van Jehovah se Getuies geidentifiseer word.—1 Timotheüs 3:15.
17. Wat moet diegene wat na veiligheid wil vlug, doen?
17 Almal wat na Jehovah se organisasie vlug, moet ophou om steun te verleen aan enige deel van Satan se stelsel op aarde. Hulle moet stappe doen om “nie van hierdie wêreld” te wees nie, en hulle moet daaruit bly. Hulle moet sy godsdiens, sy politiek, sy kampanjes van geweld, sy materialisme en sy onsedelikheid vermy (Johannes 18:36). Hulle moet hulle aan Jehovah God toewy, volgens sy regverdige beginsels lewe en sy glorieryke Koninkryksvoornemens aan ander bekendmaak. Hulle mag nooit lomerig word of terugkeer na die vleispotte van die wêreld nie. Hulle moet voortdurend ‘al hulle kragte inspan’ om God se goedkeuring weg te dra en tot sy nuwe orde toegelaat te word.—Lukas 13:24, NTP; 9:23; 2 Timotheüs 2:15.
18. Waarom is dit dringend dat regskape individue nou ‘begin vlug’?
18 Die bedreiging vir die valse Christendom se beweerde “heilige plek” het vanjaar, 1982, baie wesenlik geword. Wêreldgodsdiens se posisie op die rug van die V.V.O.-”dier” is inderdaad uiters gevaarvol. Omdat Jehovah se Getuies dit “begryp” doen hulle die volgende oproep met dringendheid: ‘Vlug uit valse godsdiens, ja, uit Satan se hele wêreldstelsel—vlug na God se organisasie vir beskerming!’ Net soos Jerusalem van die eerste eeu wag daar nou “verwoestings . . . ’n verdelging” op die Christendom. Dit wag insgelyks op die hele wêreldryk van valse godsdiens, Babilon die Grote!—Daniël 9:26b, 27b, NW; Openbaring 18:2, 4.
19. (a) Wat sê Psalm 72 oor die “berge”? (b) Hoe kan ons kwalifiseer om die “volheid van vrede” te geniet?
19 Gelukkig sal die “berge” wat skuilplek bied ook “berge” van seën word, want Psalm 72:1-8 deel ons mee: “Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid. . . . [In die dae van die Messias, die Koning,] sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.” Wil jy graag onder diegene wees wat daardie “volheid van vrede” gaan geniet? Wees dan “stand vastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here”. Dit is uiters dringend dat jy jou kragte bestee om regskape persone te help om ‘na die berge te vlug’ terwyl daar nog tyd is. “Volhard” dus in hierdie dinge, “want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”—1 Korinthiërs 15:58; 1 Timotheüs 4:16.
[Voetnote]
a Kyk bladsye 336-349 van die boek “Then Is Finished the Mystery of God” wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word, vir ’n breedvoeriger bespreking.
b Kyk bladsye 298-309 van die boek “Laat u wil geskied op aarde” wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word.
Kan jy hierdie vrae beantwoord:
◻ Wat is die ware “heilige plek”?
◻ Wat is “die gruwelike ding wat verwoesting aanrig”?
◻ Hoe staan “die gruwelike ding” in ’n “heilige plek”?
◻ Wat is die Christendom se vermeende “heilige plek”?
◻ Hoe word die valse Christendom se vermeende “heilige plek” nou bedreig?
◻ Hoe slaan Christene vandag ag op die bevel om ‘na die berge te vlug’?
[Venster op bladsy 22]
Oktober 1965: Toe pous Paulus Vl die Verenigde Volke as “die grootste van alle internasionale organisasies” beskryf het, het hy ook gesê: “Die volke van die aarde wend hulle tot die Verenigde Volke as die laaste hoop op harmonie en vrede.”
[Venster op bladsy 23]
Oktober 1979: Pous Johannes Paulus ll het die V.V.O se Algemene Vergadering toegespreek. Hoewel hy geen melding van Jesus Christus of die Koninkryk gemaak het nie, het die pous gesê: “Ek hoop dat die Verenigde Volke altyd die vernaamste forum vir vrede en geregtigheid sal bly, die betroubare setel van vryheid.”
[Prent op bladsy 25]
Militante “horings” bedreig die valse Christendom se beweerde “heilige plek”