Wees soos manne wat Armageddon onbevrees tegemoetgaan
1. Hoe was Theodore Roosevelt se tydsberekening verkeerd wat Armageddon betref?
DAAR word berig dat Theodore Roosevelt, gedurende sy veldtog om die presidentskap van die Verenigde State van Amerika, uitgeroep het: “Armageddon is hier en ons stry vir die Here!” Na aanleiding van wat die Bybel sê, het Roosevelt geweet dat daar ’n beslissende stryd sou wees by “die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Openbaring 16:16). Hy het dit gans te vroeg verwag, want hy is op 6 Januarie 1919 oorlede, minder as twee maande nadat die Eerste Wêreldoorlog geëindig het. Daardie botsing het nie uitgeloop op die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon nie.
2. Wat sal dan bepaal of ons daardie oorlog van alle oorloë gaan oorlewe?
2 Maar in hierdie onstuimige jaar 1982 dui alles daarop dat daardie oorlog van alle oorloë voor die deur is. Ons verhouding met die almagtige God op daardie tydstip sal grootliks bepaal of ons daardie oorlog, daardie geveg, gaan oorlewe of nie.
3, 4. Wat sal hierdie Christene, in die lig van hulle posisie gedurende daardie oorlog, aan die dag moet lê om ‘manlik te wees’?
3 Dit is in werklikheid die onsigbare “geeste van duiwels” wat wêreldheersers beweeg om teen Jehovah God die Almagtige saam te trek vir die oorlog te Armageddon.—Openbaring 16:14-16.
4 Die Hebreeuse naam Armageddon beteken “berg van troepemagte”. Dit beteken oorlog! Die “troepe” is dié van “die konings van die aarde en die hele wêreld” die politieke heersers van die valse Christendom inkluis. Jehovah se toegewyde, gedoopte getuies is nie onder hierdie troepe nie. Hulle sal nie met vleeslike wapens hoef te veg nie, maar sal slegs toeskouers van die stryd wees. Aangesien Jehovah se lojale getuies die vernaamste sigbare aanvalsteiken sal wees omdat hulle Jehovah se koninkryk in die hande van Christus onversetlik verdedig, sal dit moed soos dié van Christus van hulle verg om ‘manlik te wees’.—1 Korinthiërs 16:13; vergelyk 2 Kronieke 20:17.
5, 6. Soos watter profeet wat die vernietiging van Jerusalem in sy lewe tegemoetgegaan het, het die oorblyfsel van Jehovah se volk aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog gevoel vanweë die naoorlogse werk wat op hulle gewag het?
5 Nadat die Eerste Wêreldoorlog in 1918 geëindig het, het die omstandighede van die oorblyfsel geestelike Israeliete en die werk wat op hulle gewag het ooreengekom met dié van ’n jong man wat in die onstuimige Midde-Ooste gelewe het. Hy was ’n Joodse priester genaamd Jeremia, die seun van Hilkia. Die stad Jerusalem, waar die tempel geleë was waar hy as priester gedien het, was gedoem tot ondergang in sy lewe. Daar wag eweneens vroeë vernietiging op die valse Christendom wat beweer dat dit die geestelike eweknie en die verdringer van eertydse Israel in God se guns is—onmiddellik voor die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon. Omdat Jeremia die vernieting van die Jerusalem van die sewende eeu voor ons Gewone Jaartelling oorlewe het, kon hy die boek Klaagliedere oor die puinhope daarvan onder inspirasie skryf.
6 Toe die profetiese werk aan die jong Jeremia opgedra is, het hy gesê: “Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.” Maar Jeremia is meegedeel: “Moenie sê; Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die HERE.”—Jeremia 1:4-8.
7. (a) Ten behoewe van wie moes Jeremia as ’n profeet dien, en ten behoewe van wie moet daar vandag ’n “profeet” wees? (b) Beteken die omvang van sy taak dat hy welslae met die nasies sal behaal, of ten behoewe van wie word die werk steeds gedoen?
7 Jeremia moes die werk van ’n volwasse man doen, want die dinge wat sy God hom geïnspireer het om neer te skryf, was en is selfs vandag nog vir die hele mensdom van belang. Jehovah het hom “’n profeet vir die nasies” gemaak (Jeremia 1:5). Daar is vandag ’n groter behoefte as ooit aan ’n “profeet vir die nasies” terwyl patriotiese, eiesinnige nasies meedoënloos versamel word vir ’n beslissende konfrontasie te Armageddon. Nie dat die Godgegewe boodskap van die hedendaagse “profeet vir die nasies” daarin sal slaag om hulle te laat afwyk van ’n weg wat na hulle gewisse vernietiging lei nie, maar individue se lewens is op die spel. Wanneer sulke individue sonder tal gewaarsku word, wil hulle nie saam met die nasies waarvan hulle burgers is, vergaan nie. Indien hulle dit kan verhelp, wil hulle nie teen die almagtige God veg net ter wille van menslike selfregering nie. Dit is ten behoewe van sulke regskape individue dat Jehovah bedagsaam sy “profeet vir die nasies” verwek het. Jehovah het dit in hierdie “tyd van die einde” gedoen sedert die Eerste Wêreldoorlog op 11 November 1918 geëindig het.—Daniël 12:4.
8. Wie of wat is die “profeet” wat Jehovah verwek het en wie se werk voor Armageddon gedaan moet wees?
8 Die “profeet” wat Jehovah verwek het ten behoewe van sulke individue wat in hulle hart God se heerskappy bo die mens se heerskappy verkies, is nie ’n individuele man soos in die geval van Jeremia nie, maar ’n klas. Net soos die profeet-priester Jeremia is die lede van hierdie klas ten volle deur Christus aan Jehovah God toegewy en is hulle, nadat hulle met Jehovah se heilige gees verwek is, opgeneem as deel van “’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry” (1 Petrus 2:9). Op hierdie gevorderde stadium is daar nog net ’n blote oorblyfsel van hierdie “profeet”-klas op aarde. Die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon kan eers begin nadat hierdie samegestelde “profeet” sy werk voltooi het.
9. (a) Watter wêreldmoondheid se oorwinning oor die hoofstad van Jehovah se eertydse volk het Jeremia aanskou? (b) Deur watter eertydse stad word die valse Christendom afgebeeld? (c) Waarvan het die valse Christendom deel geword? (d) Wat sal met die valse Christendom gebeur wanneer Babilon die Grote vernietig word, en waarom?
9 Een ding is nou seker: as die “profeet”-klas, die Jeremia-klas, Armageddon tegemoetgaan, gaan dit ook die val van Babilon die Grote tegemoet. Jeremia van die ou tyd het weliswaar nie die val van eertydse Babilon gesien nie, maar hy het op groot skaal oor die omverwerping van daardie derde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis geprofeteer. Met sy wortels in die oorspronklike Babel of Babilon wat gebou is deur Nimrod, “’n magtige jagter gekant teen Jehovah” het daardie wêreldryk die antieke wêreld met sy valse godsdiens besoedel (Genesis 10:8-12, NW). Jeremia het wel antieke Babilon se oorwinning oor Jerusalem in 607 v.G.J. gesien. Hy het dus die antieke hoofstad van valse godsdiens se oorwinning aanskou oor die hoofstad met Jehovah se tempel daarin, maar wat die reine godsdiens wat Hy daaraan toevertrou het, verderf het. Daarom beeld eertydse Jerusalem die hedendaagse valse Christendom af. Ontrou aan sy bewering dat dit die ryk van die ware Christelike geloof is, het die valse Christendom Babiloniese godsdiens ten prooi geval en inderdaad ’n vername deel van die hedendaagse Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, geword. Wanneer Babilon die Grote vernietig word deur die misnoegde politieke elemente van hierdie wêreld, soos voorspel in Openbaring, hoofstukke 17 en 18, sal die valse Christendom daarmee saam vernietig word.
10. Wat word afgebeeld deur die feit dat Jeremia Jerusalem se val oorlewe het, en watter poging van die nasies sal kort daarna misluk?
10 Jeremia het die val van Jerusalem en sy ryk in 607 v.G.J. oorlewe, en dit het bevestig dat hy Jehovah se ware woordvoerder was; en getrou aan daardie profetiese beeld sal die hedendaagse Jeremia-klas die naderende gewelddadige val van die valse Christendom oorleef. Kort daarna sal die nie-godsdienstige elemente van hierdie stelsel boosaardig probeer om die Jeremia-klas uit te wis, maar hulle pogings om dit te doen sal verpletter word—te Armageddon.—Openbaring 16:16; 19:19-21.
11. Wie is afgebeeld deur die nie-Jood wat Jeremia in sy haglike situasie in Jerusalem bygestaan het, en met wie in Jesus se gelykenis in Mattheüs 25:31-46 kom hierdie persone ooreen?
11 Een nie-Jood wat die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. oorlewe het, was Ebed-Meleg, die Kusiet. Die verslag oor hom word in Jeremia hoofstukke 38 en 39 gevind. Hy het Jeremia te hulp gekom toe dié in groot nood verkeer het, en daarom het hy rede gehad om die invloedryke Jode te vrees wat Jeremia wou doodmaak om hom die swye op te lê. Maar deur ’n spesiale profesie deur die profeet wie se lewe hy deur sy onverskrokke optrede gered het, het Jehovah Ebed-Meleg verseker dat hy sy siel as buit sou hê en gevolglik die komende vernietiging van die land Juda en sy hoofstad Jerusalem sou oorleef. In hierdie opsigte het Ebed-Meleg, die Kusiet, die simboliese skape van Jesus se gelykenis van die skape en die bokke in Mattheüs 25:31-46 afgebeeld. Omdat hierdie simboliese skape in hierdie “tyd van die einde” die oorblyfsel geestelike “broeders” van Jesus Christus bystaan en regstreeks weldade aan hulle bewys, sal hulle nie by Armageddon saam met die “bokke”-klas vernietig word nie. Onder Jehovah se beskerming deur die heersende Koning, Jesus Christus, sal hulle die nuwe stelsel binnegaan sonder om ooit te sterf, met die geleentheid om vir ewig in die aardse paradys te lewe in die vooruitsig.
Wat die mense wat aan God behoort nou nodig het
12. Met watter profesie van Jesus Christus aangaande “die tyd van die einde” kom die vreeswekkendheid van ons tye ooreen?
12 Die tye waarin ons nou lewe, word al hoe vreeswekkender. Dit is die presiese vervulling van wat Jesus self voorspel het die getuienis sou wees dat ons in “die tyd van die einde” lewe, die tyd wanneer die hedendaagse teenbeeld van die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. sal plaasvind (Lukas 21:5-7). Nie soseer ter wille van die apostels en dissipels van die eerste eeu nie, maar meer ter wille van ons wat vandag lewe, het Jesus voorts gesê: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense [Grieks, an’thro·poi] se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid.”—Lukas 21:25-27.
13. Hoe het Jesus getoon dat daar ’n verskil sou bestaan tussen die hart- en gemoedstoestand van mense van die wêreld en sy verligte dissipels?
13 Hier het Jesus ’n onderskeid getref tussen die “mense” (an’thro·poi) van hierdie wêreld, of stelsel, en sy verligte dissipels, vir wie se voordeel hierdie uiters beskrywende profesie eintlik gegee is. Sy ingeligte, begrypende volgelinge sou nie aangegryp word deur die “benoudheid van nasies” nie, en hulle harte sou ook nie “beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” nie. Hulle moes nie hulle hoofde moedeloos en wanhopig laat hang nie. Wat moes dan hulle gesindheid, hulle gemoeds- en harttoestand wees? Die volgende, volgens wat Jesus voorts gesê het: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Lukas 21:28.
14. Verwys die “verlossing” wat naby is na die verheerliking van die oorblyfsel in die hemel, en wie op aarde sal die wonderlike toekoms geniet wat na die “verlossing” wag?
14 Vir die mense van hierdie wêreld is die toenemende probleme wat op die oorlog te Armageddon gaan uitloop ’n bewys van naderende vernietiging (Filippense 1:28). Dit vereis van ’n ware Christen om vandag ’n persoon te wees met sterk geloof in die almagtige God en sy beloftes aan getroue persone. Die “verlossing” wat nou voor die deur is vir persone met sulke geloof, is nie aanvanklik die hemelse verheerliking van die oorblyfsel geesverwekte dissipels van Christus en hulle wegvoering van die aardse toneel van verdrukking af nie, hoewel dit eindelik op hulle wag. Die “verlossing” is eerder die wegdoen van die oorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en die wrede vervolging van die ware volgelinge van die heersende Koning, Jesus Christus. Dit sal teweeggebring word deur die vernietiging van al die vyande van Jehovah se koninkryk in die hande van Christus in die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon. Watter wonderlike toekoms sal dan wag op die oorblyfsel erfgename van die hemelse koninkryk en hulle lojale metgeselle, wat deur Ebed-Meleg, die moedige helper van die profeet Jeremia, afgebeeld is!
15. Wat moet hulle volgens die Skrif doen ten einde vir werk toegerus te wees as hulle ‘manlik wil wees’?
15 As hulle nou ‘manlik wil wees’ of hulle soos manne wil gedra, moet hulle Christelike rypheid verkry en hulle toerus vir die werk om die finale wêreldwye getuienis vir die Messiaanse koninkryk te gee (1 Korinthiërs 16:13, AB; NW; AV; RSV; Mattheüs 24:14). Daarom is die Bybel met die heilige Skrifte aan ons gegee. Dit is soos die apostel Paulus aan die jong man Timotheüs geskryf het: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:16, 17). Volgens Die Lewende Nuwe Testament lui vers 17: “Op dié manier kan ’n mens wat aan God behoort bekwaam en voorbereid wees om vir die Here te werk.” Die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms sê: “Sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” Dit toon dat “die mens van God” die geïnspireerde Skrifte gereeld moet bestudeer en dienooreenkomstig moet lewe deur die werk te doen wat sulke studie hom toerus om effektief te doen.
16. Waarom is dit nou, nog meer as in Noag se dae voor die vloed, raadsaam om te vlug vir die begeertes van jongelinge?
16 Ons lewe in die ernstigste tye in die hele mensegeskiedenis! ’n Wêreld wat baie groter is as dié van Noag se dag, staan op die punt om verby te gaan. Gevolglik is ons besig met die mees verhewe werk in die geskiedenis, ’n werk van die allergrootste belang vir die mensdom. Dit is beslis nie nou die tyd vir enige toegewyde, gedoopte getuie van Jehovah God om sinlike, afleidende begeertes van die jeug te bevredig nie. Paulus het aan die jong Timotheüs geskryf: “Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid.” “Maar jy, man [Grieks, an’thro·pos] van God, vlug van hierdie dinge weg” (2 Timotheüs 2:22; 1 Timotheüs 6:11). Die geïnspireerde apostel Johannes se woorde: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” is vandag baie nader aan vervulling as toe hy dit geskryf het.—1 Johannes 2:17.
17. Watter vroeëre manne van God moet ons nie gering ag nie, maar na wie moet ons as die volmaakte voorbeeld van ’n man van God kyk?
17 In hierdie dae wanneer Christelike manlikheid aan die dag gelê moet word, moet ons kyk na die volmaakte voorbeeld van die Een na wie goewerneur Pontius Pilatus voor die oproerige Joodse skare verwys het toe hy gesê het: “[Kyk!] Dáár is die mens!” “[Kyk!] Dáár is julle Koning!” (Johannes 19:5, 14, vgl. NW). Lank voor Christus was daar manne van God, soos “Moses, die man van God” Elia en sy metgesel Elisa, en ander (Deuteronomium 33:1; 1 Konings 17:18, 24; 20:28; 2 Konings 1:9-12; 4:7, 9, 16). Maar hoewel ons nie daardie voorchristelike manne van God ignoreer of gering ag nie, moet ons kyk na die Een wat steeds die allerbelangrikste ‘man van God’ op aarde was—Jesus Christus, wat nou sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 as Koning in die hemele regeer (Hebreërs 11:1-12:3; Lukas 21:24). As ons ons soos manne gedra net soos hy hom gedra het, kan ons die vernietiging van hierdie gedoemde stelsel te Armageddon onbevrees tegemoetgaan.
18. Hoe kan ons ons geweldige verantwoordelikheid om die universele soewereiniteit van Jehovah God te regverdig, nakom?
18 In hierdie oordeelstyd terwyl die ou wêreld ondergaan, maak ons vir ons ’n onuitwisbare, onverganklike naam. Sal die naam tot ons eer en lof strek, of sal dit tot ons ewige veroordeling saam met die wêreld lei? Deur manlik te wees in navolging van ons onberispelike voorbeeld, Jesus Christus, sal ons bewys dat “die god van hierdie wêreld”. Satan die Duiwel, nie ons geestelike heerser is nie (2 Korinthiërs 4:4). Inteendeel, ons sal die universele soewereiniteit van Jehovah God verdedig en sal sodoende ’n aandeel hê in die regverdiging daarvan voor alle lewende skepsele. Ons het voorwaar ’n geweldige verantwoordelikheid in hierdie opsig, sowel as ’n heerlike geleentheid!
19. Waarvan, benewens wakkerheid en standvastigheid in die geloof, het ons as ‘manne’ meer nodig, en wie is die bron hiervan?
19 Ons moet sorg dat ons bewus bly van ons voorreg en geleentheid en ons moet “staan in die geloof”. Mag Jehovah dit verhoed dat ons swak word as mense wat aan God behoort en aan God toegewy is! Te dien einde moet ons ag slaan op die apostel Paulus se tydige vermaning: “Wees sterk” (1 Korinthiërs 16:13). As ons onwankelbaar op God vertrou en deur ons Koning, Jesus Christus, tot Hom bid, kan en sal ons dit doen. In Jesaja 40:29 word ons meegedeel: “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.” Mag dit, nadat ons die goddelike oorwinning by Armageddon aanskou het, ons voorreg wees om die woorde te uiter wat Moses gespreek het nadat Farao se leër in die Rooi See vernietig is: “[Jehovah] is ’n krygsman [Hebreeus, ish] . . . [Jehovah] is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.”—Exodus 15:3, 2, vgl. NW.
Kan jy hierdie vrae beantwoord?
◻ Wat sal bepaal of ons die oorlog te Armageddon gaan oorlewe?
◻ Watter omstandighede van Jehovah se hedendaagse gesalfde knegte kom ooreen met dié van sy eertydse kneg Jeremia?
◻ ln watter opsigte het die diens wat deur Ebed-Meleg gelewer is die bedrywigheid van die “skape” van Jesus se gelykenis in Mattheüs 25:31-46 afgebeeld?
◻ Hoe verskil die gesindheid van Christus se volgelinge van dié van mense van die nasies, volgens Christus se profesie in Lukas hoofstuk 21?
◻ Van watter “verlossing” word daar in Lukas 21:28 gepraat?
◻ Watter goeie gevolg sal dit hê as ons almal die voorbeeld volg van die Een wat beskryf is as “die mens”?
[Prent op bladsy 21]
Wie se bedrywigheid is afgeskadu deur die hulp wat Ebed-Meleg aan God se profeet Jeremia verleen het?