“Wees manlik”
“Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.”—1 Korinthiërs 16:13.
1. Wat het Pilatus bedoel toe hy na Jesus verwys het met die woorde “Dáár is die mens!”?
“DÁÁR is die mens!” Met daardie geskiedkundige woorde het die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus die beroemdste man in die hele mensegeskiedenis uitgebring na die skare vyandige Jode wat voor sy paleis in Jerusalem vergader het. Dit was die Jood genaamd Jesus Christus, wat op daardie oomblik geklee was in ’n koninklike purper kleed met ’n doringkroon op sy hoof, alles om te spot met sy bewering dat hy die beloofde Messiaanse Koning is (Johannes 19:5-15). Maar met die woorde “Dáár is die mens!” het Pilatus na Jesus verwys as die voortreflikste figuur onder die hele mensdom, een wat nie verdien het om verwerp te word nie. Dit word getoon deur Pilatus se gebruik van die Griekse woord an’thro·pos (Hebreeus, ge’ber), wat ’n mens van die manlike geslag beteken.
2. Deur watter man sal die gestorwe mensdom ’n opstanding kry, en op grond van watter offer?
2 Die apostel Paulus het na hierdie man, die gelyke van die volmaakte man Adam op die dag toe hy geskape is, verwys toe hy in 1 Korinthiërs 15:21 geskryf het: “Aangesien die dood deur ’n mens [die an’thro·pos Adam] is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens [die an’thro·pos Jesus Christus].” Die apostel Paulus het dieselfde man in gedagte gehad toe hy die lede van die Atheense hof op die Areopagus of Mars-heuwel toegespreek en gesê het: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Handelinge 17:30, 31). Deur sy volmaakte menselewe ten behoewe van die hele mensdom op te offer, kon hierdie verrese Jesus ’n losprys aanbied vir die hele mensdom sodat selfs die mensedode ’n opstanding kon kry, asook ’n geleentheid om die ewige lewe op ’n paradysaarde onder sy duisendjarige koninkryk te beërf.
3. Oor wie se ooreenstemmende losprys moes daar op die regte tyd getuienis gelewer word, en waarom is dit nou die mees gepaste tyd vir hierdie getuienis?
3 In ooreenstemming met daardie verblydende feit het die apostel Paulus aan sy medewerker Timotheüs geskryf en gesê: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n [ooreenstemmende, NW] losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd” (1 Timotheüs 2:5, 6). En nou, vandag, gedurende sy teenwoordigheid as heersende Koning op sy hemelse troon aan God se regterhand, is dit ’n uiters gepaste tyd vir so ’n getuienis aan die hele mensdom.
4. Hoe het Jesus se voorkoms, toe Pilatus hom na die skare uitgebring het, verskil van sy voorkoms op die dag toe hy in Jerusalem ingery het, en waarom moes Pilatus beïndruk gewees het?
4 Maar kom ons keer nou terug na daardie onvergeetlike Pasgadag van die jaar 33 G.J., toe die Romeinse goewerneur van Judea, Pontius Pilatus, die gegeselde en vernederde Jesus na daardie booswillige skare voor sy paleis uitgebring en uitgeroep het: “Dáár is die mens!” Jesus het toe beslis bespotlik gelyk! Sy voorkoms het hemelsbreed verskil van wat dit vroeër daardie selfde week was. Dit was toe hy soos ’n aangewese koning op pad na sy kroningsplegtigheid in die hoofstad seëvierend in Jerusalem ingery het. Dit was ’n kleinskaalse vervulling van die profesie in Sagaria 9:9, waar ons lees: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel—op ’n jong esel, die vul van ’n eselin” (Mattheüs 21:1-9; Johannes 12:12-16). Op watter meesterlike wyse het Jesus tog later, op Pasgadag, manlike hoedanighede aan die dag gelê deur al die mishandeling en beledigings gelate te verduur, in volle onderdanigheid aan die wil van die allerhoogste God, sy hemelse Vader! Goewerneur Pilatus kon nie anders nie as om diep beïndruk te wees deur die stoere, onversetlike manlikheid van hierdie Jood op wie die oë van die ganse heelal toe gevestig was!
5, 6. (a) Waarom het liefhebbers van die lewe in die paradys ’n volmaakte voorbeeld in Jesus Christus wat hulle gedragslyn betref? (b) Hoe het Adam en Jesus Christus se gedragslyne, volgens Paulus se beskrywing, verskillende uitwerkings op die mensdom gehad?
5 Alle liefhebbers van die lewe in menslike volmaaktheid op ’n paradysaarde in die nabye toekoms het ’n navolgenswaardige voorbeeld in daardie manlike mens, een waarop hulle hulle oë gevestig moet hou. Net soos die eerste man, Adam, toe sy Skepper hom in die tuin van Eden gesit het, was die volwasse Jesus ’n volmaakte mens. Maar Jesus het nie die beeld van God waarin hy op die aarde geplaas is, bederf nie; hy het nooit die menslike gelykenis van God waarvolgens hy as ’n man grootgemaak is, geskend nie (Genesis 1:26, 27). Op watter uiteenlopende maniere het die ongehoorsame weg van Adam en die lojale, onderdanige weg van Jesus Christus die hele mensdom tog geraak!
6 Toe die apostel Paulus aan die Christengemeente in die hoogs intellektuele stad Korinthe, Griekeland, geskryf het, het hy die saak kortliks só gestel: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms” (1 Korinthiërs 15:22, 23). Daarom het God nie sy getroue seun dood gelaat nie. Volgens sy eie onverbreeklike belofte het God hom op die derde dag opgewek, die eerste een wat tot die ewige lewe opgewek is. Deur middel van die opstanding het God sy gehoorsame Seun herstel tot die plek wat hy voorheen in die onsigbare hemele by hom beklee het. Dit het dit moontlik gemaak om die mensedode op aarde op te wek, met die geleentheid om geleidelik gedurende die onsigbare, duisendjarige heerskappy van Jesus Christus oor sy aardse domein tot volmaakte menselewe op ’n paradysaarde verhef te word.
7. Waarom is Jesus Christus nie meer ’n volmaakte mens nie, maar wat sal hy nogtans aan die afstammelinge van Adam en Eva kan teruggee?
7 Sy onsigbare dog waarneembare “teenwoordigheid” as Koning oor die vrygekoopte mensdom sal ’n diepgaande uitwerking hê. Jesus Christus is weer eens ’n geesskepsel, maar nou is hy onsterflik. Die apostel Paulus vestig die aandag op hierdie feit wanneer hy voorts aan die gemeente in Korinthe sê: “Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees” (1 Korinthiërs 15:44, 45; Genesis 1:26, 27; 2:7). Omdat die verheerlikte Jesus Christus nie meer ’n menseskepsel van vlees en bloed is nie, maar nou ’n magtige gees in die hemel is, sal hy in staat wees om die lewe in menslike volmaaktheid aan die afstammelinge van Adam en Eva terug te gee, daar hy sy volmaakte menselewe as ’n man ter wille van die mensdom afgelê het.
Die man soos wie ons ons moet gedra
8. Vir soekers waarna is Jesus Christus ’n navolgenswaardige voorbeeld, en op grond waarvan kon Paulus vir lede van die gemeente in Korinthe sê om sy navolgers te wees?
8 As ’n volmaakte voorbeeld gedurende sy verblyf op aarde verdien Jesus Christus om nagevolg te word deur almal wat vandag die ewige lewe nastreef, hetsy as sy hemelse medeheersers in die koninkryk of as sy volmaakte mense-seuns en -dogters op die paradysaarde. Heel gepas kon die apostel Paulus dus aan die volgelinge van Christus in eertydse Korinthe skryf en sê: “Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie; net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word. Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.”—1 Korinthiërs 10:32-11:1.
9. Van watter selfstandige naamwoord kom die Griekse werkwoord wat in 1 Korinthiërs 16:13 met “wees manlik” vertaal word, en watter onderskeid tref hierdie selfstandige naamwoord?
9 Daardie woorde help ons om Paulus se verdere vermaning, wat deel uitmaak van sy slotwoorde aan die gemeente in Korinthe, Griekeland, uit die regte standpunt te beskou: “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk” (1 Korinthiërs 16:13). Die enkele Griekse woord wat hier vertaal word met “wees manlik” is ’n werkwoord wat kom van die selfstandige naamwoord an·er’ se genitiefvorm, naamlik an·dros’. Hierdie Griekse woord sien op ’n man, ’n manspersoon, in teenstelling met ’n vrou, ’n vrouspersoon. Mattheüs 14:21 lui byvoorbeeld: “En dit was omtrent vyfduisend manne wat geëet het, buiten die vroue en kinders.” (Kyk ook Mattheüs 15:38; Markus 6:44; Johannes 6:10.) In Jerusalem is die volgende klag teen die apostel Petrus ingebring: “By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet” (Handelinge 11:3). In 1 Korinthiërs 11:3 lees ons dat “Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus”.
10. Watter Griekse selfstandige naamwoord het Paulus in Handelinge 17:31 gebruik om die een aan te dui deur wie God hom voorgeneem het om die wêreld te oordeel?
10 Die apostel Paulus het die volgende woorde aangaande Jesus Christus tot die lede van die Areopagushof in antieke Athene, Griekeland, gerig: “Omdat [God] ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man [an·er’] wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal [Grieks, pa’sin] sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”—Handelinge 17:31.
11. Hoe toon die Griekse teks in Handelinge 14:15 die verskil tussen ’n persoon van die manlike geslag en ’n blote mens?
11 Ons lees in Handelinge 14:15 dat Paulus en Barnabas uitgeroep het: “Manne [Grieks, an’dres], waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense [Grieks, an’thro·poi] soos julle.” Ons kan dus sien hoedat die Griekse teks ’n onderskeid tref tussen ’n persoon van die manlike geslag en ’n blote mens.
12. (a) Hoe moes die susters in die gemeente in Korinthe ‘manlik wees’, en hoe lui ander vertalings hier? (b) Hoeveel keer verskyn die Griekse werkwoord an·dri’zo in die Christelike Griekse Skrifte, maar hoeveel keer in die Griekse Septuaginta?
12 Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 16:13, “wees manlik” (an·dri’zo), was tot alle lede van die gemeente gerig, tot die susters sowel as die broers. Selfs die susters moes dus manlik optree, dit wil sê, met Christelike moed, in navolging van Jesus Christus, die Hoof van die Christengemeente. In die oorspronklike teks van die Christelike Griekse Skrifte verskyn die werkwoord an·dri’zo slegs een keer, naamlik in 1 Korinthiërs 16:13, waar die Afrikaanse Bybel dit weergee met “wees manlik”. Die Lewende Nuwe Testament lui: “Gedra julle soos manne.” Phillips se New Testament in Modern English sê: “Lewe soos manne.” Maar in die Griekse teks van die Griekse Septuaginta kom die werkwoord an·dri’zo een-en-twintig keer voor.
13. Hoe word die Griekse werkwoord volgens Charles Thomson se vertaling van die Septuaginta in Deuteronomium 31:6, 7, 23 weergegee?
13 In Charles Thomson se vertaling lui Deuteronomium 31:6, 7, 23 byvoorbeeld: “Tree manmoedig op en wees sterk; . . . Toe het Moses Josua geroep en voor die hele Israel vir hom gesê: Wees moedig en sterk; . . . En die Here het Josua beveel en gesê: Wees moedig en sterk, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat die Here plegtig aan hulle beloof het, en hy sal met jou wees.” (Kyk soortgelyke lesings in die uitgawe wat gepubliseer is deur S. Bagster en Seuns van Londen, Engeland.)
14. Hoe gee Charles Thomson se vertaling die Griekse werkwoord in Nahum 2:1 weer?
14 In die laaste van die een-en-twintig plekke waar hierdie Griekse werkwoord in die Griekse Septuaginta voorkom, lees ons in Nahum 2:1: “Iemand wat van beproewing verlos is, het hygend in jou teenwoordigheid gekom. Hou die weg dop; versterk jou lendene; tree manmoedig op met al jou mag.” (Kyk ook Bagster se uitgawe van die Septuaginta.)a
15. Hoe gee ander hedendaagse vertalings, in die lig van die voorgaande, die Griekse werkwoord in 1 Korinthiërs 16:13 weer op ’n wyse wat duidelik op vroue sowel as manne van toepassing kan wees?
15 In die lig van die wyse waarop die Septuaginta die Griekse werkwoord an·dri’zo vertaal, kan ons verstaan waarom ander hedendaagse weergawes van die Heilige Bybel daardie Griekse werkwoord in 1 Korinthiërs 16:13 weergee soos vertalings van die Griekse Septuaginta (LXX) dit weergee. The Revised Standard Version sê byvoorbeeld: “Wees moedig.” Today’s English Version: “Wees dapper.” The New English Bible: “Wees onverskrokke.” The Jerusalem Bible: “Wees dapper.” Die 1979-uitgawe van Die Nuwe Testament en die Psalms: “Wees manmoedig.” In daardie sin sal die Griekse werkwoord van toepassing wees op toegewyde, gedoopte Christinne sowel as op toegewyde, gedoopte Christenmanne. Paulus se gebruik van daardie Griekse werkwoord in 1 Korinthiërs 16:13 is dus heeltemal gepas. Dit is waar al is “die vroulike geslag” ook fisies “die swakkere”.—1 Petrus 3:7.
16. Watter woorde voeg Paulus by nadat hy vir Christene gesê het om manlik te wees, en hoe kan ’n mens dit doen?
16 Nadat die apostel Paulus vir die toegewyde, gedoopte Christene gesê het: “Wees manlik” het hy die woorde bygevoeg: “Wees sterk.” In ooreenstemming hiermee het Paulus in Efesiërs 6:10 geskryf: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.” Jehovah God die Almagtige kan ons krag gee sodat ons “sterk” kan wees, ja, dat ons heldedade in sy heilige diens kan verrig (Daniël 11:32. Authorized Version; American Standard Version). Hy het sy toegewyde, gedoopte volk beklee met die waardigheid van die grootste diens wat ’n mens op aarde kan verrig. Dit behoort die geesgesalfde oorblyfsel en hulle sagmoedige metgeselle kragtig aan te spoor om te doen wat Paulus ons vermaan om te doen: “Wees manlik.”
17. In watter sin het die gesalfde oorblyfsel van vandag ’n eervoller voorreg as wat Johannes die Doper gehad het?
17 Ons het vandag ’n groter en eervoller voorreg as wat Johannes die Doper van die eerste eeu gehad het. Hy was vereer met die voorreg om die voorloper van Jesus Christus, die toekomstige Koning, te wees in ’n tipiese of kleinskaalse vervulling van die profesie in Maleagi 3:1 (Markus 1:1, 2). Toe Jesus gepraat het van hierdie “boodskapper” wat gestuur was om die weg voor Jehovah uit te baan, het hy gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy” (Mattheüs 11:7-11). Vandag, sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in die jaar 1918, tree die oorblyfsel van die gesalfde erfgename van die hemelse koninkryk op as ambassadeurs, nie van ’n toekomstige koninklike regering nie, maar van ’n hemelse koninkryk wat aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 opgerig is toe die verheerlikte Jesus Christus op die troon geplaas is. Die apostel Paulus se woorde is dus van toepassing op hulle, maar net op ’n heerliker wyse: “Daarom is ons ambassadeurs wat optree in die plek van Christus, asof God deur ons ’n dringende versoek rig. As plaasvervangers van Christus smeek ons: ‘Word met God versoen.’—2 Korinthiërs 5:20, NW.
18. (a) Wie het sedert 1935 gereageer op die versoek om versoen te raak met God, soos gerig deur die oorblyfsel “ambassadeurs . . . in die plek van Christus”? (b) Wie het die Koninkryksnuus saam met die manne verkondig, en hoe is dit aangetoon in Psalm 68:12?
18 Sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918, en veral sedert die onvergeetlike jaar 1935, het ’n groot menigte mense van alle nasionaliteite gereageer op die versoek wat deur middel van die gesalfde oorblyfsel Koninkrykserfgename gerig word. Hierdie persone wat gehoor gegee het, het die stappe gedoen wat in die Skrif uiteengesit word om met die God en Vader van onse Here Jesus Christus versoen te raak en geniet nou vrede met hom. Uit waardering tree hulle op as die metgeselle van die oorblyfsel “ambassadeurs . . . in die plek van Christus” en kan hulle beskou word as ‘gesante in die plek van Christus’ wat die versoek om met God versoen te raak tot nog ander sagmoediges rig. Op ’n manmoedige, onverskrokke wyse gaan hulle, vroue sowel as manne, ook uit om ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis te verkondig’ (Mattheüs 24:14; Openbaring 7:9-17). Dit is net soos Psalm 68:12 voorspel het: “Die Here het die woord laat hoor—die vroue wat die goeie tyding gebring het, was ’n groot skare.”
[Voetnoot]
a Kyk die volgende tekste vir nog plekke waar die Griekse werkwoord an·dri’zo in die Griekse LXX voorkom: Josua 1:6, 7, 9, 18; 10:25; 2 Samuel 10:12; 13:28; 1 Kronieke 19:13; 22:13; 28:20; 2 Kronieke 32:7; Psalm 26:1-4 [27:14, AB]: 30:25 [31:25, AB]: Jeremia 2:25; 18:12; Daniël 10:19; Miga 4:10. Vergelyk hierdie tekste met die lesings van die vertalings van die oorspronklike Hebreeuse teks vir al hierdie verse, byvoorbeeld in die moderne Engelse vertalings wat hierbo gemeld word. In Jeremia 2:25 lees ons: “Maar sy het gesê: Ek sal optree soos iemand wat volwasse [an·dri’zo] geword het. Omdat sy vreemdelinge liefgehad het, het sy agter hulle aan geloop.”—Charles Thomson.
Kan jy hierdie vrae beantwoord?
◻ Wat het dit omtrent Jesus te kenne gegee toe Pilatus hom vir die skare beskryf het as “die mens”?
◻ Hoe was Jesus se voorkoms by hierdie geleentheid heeltemal anders as vroeër daardie week?
◻ Watter voorbeeld het Jesus deur sy gedrag op daardie laaste dag van sy lewe op aarde vir al sy volgelinge gestel?
◻ Tot wie was die apostoliese bevel om ‘manlik te wees’ gerig?
◻ In watter sin moet Christinne manlik wees?
[Prent op bladsy 13]
“Dáár is die mens!”
Wat het Pilatus se woorde, toe hy Jesus uitgebring het, te kenne gegee?
[Prent op bladsy 16]
In watter sin moet vroue ‘manlik wees’?