Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 12/15 bl. 24-26
  • ln Romeine val die klem op jou geloof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ln Romeine val die klem op jou geloof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Redding deur geloof vir almal
  • Lewe ooreenkomstig geloof
  • Die Romeine kry die allerbeste nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Bybelboek nommer 45—Romeine
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Daar is goeie nuus wat almal nodig het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 12/15 bl. 24-26

ln Romeine val die klem op jou geloof

WAT is nodig om God te behaag? Jy kan verskeie antwoorde gee: Lei ’n goeie lewe. Moenie ander leed aandoen nie. Bring sekere offers aan God. Gehoorsaam sy wette. Doen goeie werke. Neem Christus aan en wees opreg in jou aanbidding.

Hierdie antwoorde het verdienste, want dit meld dinge wat jy moet doen om God se goedkeuring te verkry. Maar daar is iets anders wat so belangrik is dat al die voormelde dinge daarsonder waardeloos sal wees. Dit is GELOOF.

Jy dink moontlik: ‘Ek het geloof en weet dat geloof belangrik is.’ Maar ons kan gerus nadink oor ’n gedagte wat herhaaldelik deur die boek Romeine onder ons aandag gebring word. Jy sal hierdie deurlopende tema in Romeine 1:16, 17 vind. Daar sê die apostel Paulus vir ons dat ‘die evangelie God se krag tot redding’ is en dat ‘die regverdige uit die geloof sal lewe’. Kan elkeen met geloof dus gered word? Maak geloof Christelike werke oorbodig? Paulus se brief aan die Romeine verstrek die antwoorde.

Het jý al Romeine gelees? Of, het jy dit al herhaaldelik gelees? Die laaste vraag is eintlik beter, want daar is al gesê dat ons Paulus se volledigste aanbieding van die evangelie in Romeine aantref. Romeine verdien dus om herhaaldelik gelees te word; hoe meer jy dit “herkou” des te “voedsamer” word dit.

Redding deur geloof vir almal

Daar was ’n geskil wat eerste-eeuse Christene bekommer het: Kon Jode sowel as nie-Jode God se goedkeuring wegdra en deur hom regverdig verklaar word? God het Paulus geïnspireer om in Romeine oor hierdie lewensbelangrike saak te skryf. Die dinge wat hy geskryf het, kan vir ons uiters belangrik wees terwyl ons geloof beoefen en redding nastreef. Dit bevat ook ’n waardevolle les vir ons as ons enigsins geneig is om te dink dat een volk of nasie beter as ’n ander is.

Om Paulus se argumente meer te waardeer, gaan ons ’n groot deel van die boek opsom. Wanneer jy Romeine lees met hierdie opsomming byderhand, sal jy ’n duidelike geheelbeeld hê wat jou in staat sal stel om die redenasies te volg. Jy sal nie die geheelbeeld mis nie, iets wat maklik kan gebeur as mens net een vers na die ander lees.

Na sy inleiding en hartlike verklaring van sy begeerte om die gemeente in Rome te besoek begin Paulus dadelik om hierdie sentrale tema te ontwikkel: God is onpartydig en hou die kans op redding uit aan “elkeen wat glo”—hetsy Jood of nie-Jood. Hoewel die geskil oor hoe God Jood of nie-Jood beskou, nie vandag so ’n brandende vraagstuk is soos dit destyds was nie, beklemtoon Paulus se kommentaar ons geloof. Waarom het almal dit nodig?—Romeine 1:1-17.

Alle mense is inderdaad sondaars wat God se toorn verdien. Dit is maklik om te sien in die geval van nie-Jode wat die bewyse dat die ware God bestaan sonder verskoning ignoreer. Hulle aanbid dikwels skepsele en maak hulle skuldig aan verdorwe gebruike (weens hulle verkeerde beskouings van God) (Romeine 1:18-32). Maar dit is ook waar selfs in die geval van persone soos die Jode wat die nie-Jode wat sondig, veroordeel of kritiseer. Albei verkeer in ’n posisie waar hulle veroordeel kan word. Waarom? Die Jode het die wet van God en gee te kenne dat hulle ander daarin onderrig. Die nie-Jode het ’n gewete wat hulle aanspoor om te doen wat reg is, en hulle gevolglik aanspreeklik maak. Nòg besnydenis nòg onbesnydenis van die vlees is gevolglik die belangrike saak.—Romeine 2:1-29.

As jy destyds ’n Joodse Christen was, sou jy waarskynlik Paulus se erkenning waardeer het dat God se Woord aan die Jode toevertrou was. Maar ’n mens moet eenvoudig die waarheid, wat deur die Skrif beaam word, naamlik dat almal sondig, onder die oë sien. Daar bestaan dus ’n dringende behoefte aan ’n manier waarop mense regverdig kan word. God het in daardie behoefte voorsien met ’n nuwe manier waarop mense regverdig kan word—geloof in Jesus. Wil jy graag bewyse hê dat geloof beter is as werke van die wet? Beskou die geval van Abraham, wat God as regverdig beskou het op grond van geloof selfs voordat daardie man besny is of voordat die wet aan Israel gegee is. En ons kan nie die feit ignoreer dat die gevolglike belofte aan Abraham ’n seën vir almal inhou nie, ongeag hulle ras.—Romeine 3:1-4:25.

Sien jy dus hoe belangrik geloof vir Christene is? Diegene wat bestem is vir lewe in die hemel moet eers geloof hê voordat hulle regverdig verklaar en met die heilige gees gesalf word. Maar hoe dankbaar kan ons almal tog wees vir die moontlikheid om God se goedkeuring deur ons geloof te verwerf! Mense wat gelewe het voordat die wet gegee is, was sondaars en het gevolglik gesterf. Nadat Moses die wet ontvang het, was sonde nog duideliker. Wat kon die uitwerking van Adam se sonde, wat onvolmaaktheid op ons oorgedra het, teëwerk? Jesus se getroue gedragslyn en die soenwaarde van sy offerdood. Met geloof daarin het ons die vooruitsig op “die ewige lewe”.—Romeine 5:1-21.

Lewe ooreenkomstig geloof

As jy verder in die boek Romeine lees, sal jy sien dat Paulus ’n verkeerde gevolgtrekking bespreek wat party uit sy woorde kan maak. Hoe so? Wel, iemand kan redeneer dat aangesien God op sonde kan reageer deur onverdiende goedheid aan die dag te lê, ’n persoon maar kan voortgaan en sondig. Maar dit sou ’n groot fout wees! Paulus verduidelik dat Christene wie se sondes vergewe is, voortaan nie moet toelaat dat die sonde oor hulle heers nie. Dit was asof die sonde vantevore ons slawe-eienaar was, die een waaraan ons gehoorsaam was; maar nou is dit asof daardie vorige heer gesterf het en ons sy bevele kan ignoreer. Ons het ’n nuwe heer—God. In geloof moet ons ‘diensbaar word aan die geregtigheid’ en het ons ons “vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe”.—Romeine 6:1-23.

Dit verg inspanning om as ’n Christen ooreenkomstig geloof te lewe. Daardie inspanning is nie net by wyse van pogings om ’n wetkode te onderhou nie, want diegene wat tevore onder die wet was, kon dit nie volmaak hou nie en is nou daarvan bevry net soos ’n vrou ontslae is van die wet van haar man wanneer hy sterf. Maar ons kan bemoedig word deur Paulus se eerlike erkenning: Hy het erken dat hy nie in staat was om sonde te vermy nie, iets wat hy so graag wou doen. Hy het egter gevoel dat Jesus hom verlos het. Ons kan ’n soortgelyke verlossing ondervind.—Romeine 7:1-26.

Diegene wat God as sy geestelike seuns aangeneem het, sal saam met Jesus Christus in die hemel regeer. Dit gee vir hulle hoop, en dit behoort alle getroue Christene te verseker dat God diegene wat op hom vertrou, sal help. Trouens, as ons aan hom getrou is, sal niks ons van sy liefde in Jesus kan skei nie (Romeine 8:1-39). Ons hoef nie daaraan te twyfel dat God sake ten goede sal laat verloop nie. Hy het die reg sowel as die vermoë om sake te bestier soos hy wil, soos hy getoon het met sy uitverkiesing van Jakob en sy handelinge met Farao. Aangesien die meeste van die Jode gestruikel het en nie die Messias aangeneem het nie, het God bepaal dat elkeen wat glo, gered kon word. Dit is beslis goeie nuus! Dit plaas nietemin die verantwoordelikheid op ons om geloof te beoefen deur die evangelie te verkondig sodat mense van alle nasies dit kan hoor en geloof kan verkry.—Romeine 9:1-10:15.

Ons behoort die les te leer wat hierdie verloop van gebeure vir ons bevat. Alhoewel die natuurlike Jode in ’n gunstige posisie by God verkeer het en eerste in aanmerking gekom het vir hemelse lewe as die “Israel van God” het hulle nie hulle posisie behou nie. Net soos die natuurlike takke van ’n mak olyfboom is hulle afgekap sodat daar plek was vir nie-Jode (wat vergelyk is met wilde olyftakke) wat Christus aangeneem het. Almal wat God se barmhartigheid op daardie manier of op enige ander manier ontvang het, behoort sonder twyfel met waardering voort te gaan om geloof te beoefen ten einde redding te verkry.—Galasiërs 6:16; Romeine 10:16-11:36.

Hoe kan jy jou geloof openbaar benewens deur openbare belydenis tot redding en deur ander aldus te help om die evangelie te leer ken? Jy sal ’n paar antwoorde in Romeine 12:1-13:14 kry. As ’n Christen kan jy sorg dat jy nie na hierdie goddelose stelsel gevorm word nie; jy kan beskeidenheid aankweek, gasvryheid betoon en die kwaad oorwin deur goed te doen. In daardie passasie sal jy natuurlik ook ander voortreflike aanbevelings vind, onder meer sekeres wat in verband staan met jou betreklike onderdanigheid aan die goewermentele “magte” wat oor jou gestel is.

Nog ’n Christelike plig is om persone met swak gewetens in ag te neem en bereid te wees om jou van geoorloofde dinge te onthou sodat ’n mens hierdie persone nie laat struikel nie. Wanneer ons aldus die swakhede dra van diegene wat nie sterk is nie in plaas daarvan om onsself te behaag, volg ons die voorbeeld wat Christus gestel het. Ons werk ook vrede en eenheid in die hand.—Romeine 14:1-15:16.

Wanneer jy die laaste twee hoofstukke van Romeine lees, sal jy sien dat Paulus beslis ooreenkomstig sy geloof gelewe het. Hy het ’n bediening gehad in die besonder onder persone van die nie-Joodse nasies, en hy het ywerig gearbei om daardie bediening te vervul. Benewens ’n besoek aan die gemeente in Rome het Paulus gehoop om selfs na Spanje te reis. Dit was ’n vername westelike buitepos van die Romeinse Ryk en was uit Paulus se standpunt onaangeraakte gebied. Paulus se persoonlike groete aan talle Christene in Rome is nog ’n blyk van sy lewende, werkende geloof.

Die boek Romeine help ons beslis om die voortreflikheid van geloof bo werke van die wet te besef. Dit toon sonder twyfel dat God onpartydig is en bereid is om almal aan te neem wat glo deur vir hulle die vooruitsig te gee om regverdig te word en eindelose lewe te verkry. Laat ons dan immer bewus wees van die nodigheid om sterk geloof te hê en om dienooreenkomstig te lewe.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel