Die Koninkryk en ’n “heilige plek”
“Hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom. Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die gruwelike ding wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan—wie dit lees, moet dit goed begryp—dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug.”—Mattheüs 24:14-16, NTP.
1. Waarin stel ywerige verkondigers van God se opgerigte koninkryk vandag belang?
IS JY een van diegene wat “hierdie evangelie van die koninkryk” ywerig verkondig? Dan sien jy met afwagting uit na die ‘koms van die einde’. Jy sal ook in daardie verband baie belangstel om te weet wat vandag bedoel word met “die gruwelike ding wat verwoesting aanrig” en sy teenwoordigheid “in die heilige plek”. Jy sal graag wil weet wat die hedendaagse toepassing is van wat die profeet Daniël oor hierdie dinge gesê het en hoe jy vandag onder diegene kan wees wat redding vind deur ‘die berge in te vlug’.—Mattheüs 24:3-16. NTP.
2. (a) Meld enkele tekste wat ons help om dle “heiliges” van Daniël se profesie te identifiseer. (b) Watter ander groep het onlangs hul verskyning gemaak, en watter gemeenskaplike belangstelling het hierdie twee groepe?
2 Daniël se profesie deel ons heelwat mee oor die “heiliges” wat die koninkryk beërf (Daniël 7:27). Hulle bestaan uit die groepie ‘wedergebore’ Christene, geestelike Israeliete, wat hulle onkreukbaarheid behou het ondanks Satan se aanslae en aldus bewys het dat hulle ’n plek in die koninkryk van die hemele waardig is (Johannes 3:3; Lukas 12:32). In die laaste jare het “’n groot menigte . . . uit alle nasies” wat hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe, hulle by die oorblyfsel van hierdie gesalfde getuies van God aangesluit. Behoort jy aan een van hierdie twee groepe? Dan het jy nou die voorreg om vir God “heilige diens” te verrig in die aardse heiligdom van sy geestelike tempel. Dit is ’n heilige diens wat verrig word in ’n “heilige plek” wat ooreenkom met die heiligdom van Jehovah se tempel in eertydse Jerusalem.—Openbaring 7:4, 9, 15, NW; Romeine 12:1, 2, NW.
3, 4. (a) Op watter drie ‘Jerusalems’ word ons aandag nou gevestig? (b) Hoe beskryf God se Woord elk van hierdie ‘Jerusalems’?
3 Weens die afvalligheid van die Jode, wat selfs die Seun van God vermoor het, is die aardse Jerusalem deur God verwerp en verlaat (Mattheüs 23:37, 38). Maar ’n veel grootser Jerusalem het steeds Jehovah se guns geniet. Galasiërs 4:26 noem dit die “Jerusalem daarbo”. Dit is Jehovah se “vrou” sy hemelse gemalin-organisasie. Dit was hierdie Jerusalem wat God se geestelike Seun, Jesus Christus, voortgebring het wat sy mensesiel in die jaar 33 G.J. as ’n “losprys” vir die mensdom gegee het.—Mattheüs 20:28.
4 Na Jesus se opstanding in die gees is hy na die regterhand van sy hemelse Vader verhoog. Op die vasgestelde tyd, in 1914 G.J., het Jehovah hom bevestig in sy koninkryk, wat Hebreërs 12:22 ook met die naam Jerusalem verbind deur dit die “hemelse Jerusalem” te noem. Hierdie koninkryk sal mettertyd Satan se goddelose stelsel vernietig en ’n paradys op ons aarde herstel.—Mattheüs 6:9, 10.
Die verwoesting van ’n “heilige plek”
5. (a) Wat het Jesus oor die aardse Jerusalem gesê? (b) Tot watter vraag en profesie het dit aanleiding gegee?
5 Kom ons slaan nou ons Bybels oop by Mattheüs, hoofstuk 23 vs. 38. In vers 38 sal jy Jesus se verklaring vind dat Jerusalem se ‘huis woes gelaat’ is. Dan rig Jesus die woorde van Mattheüs 24, vers 2, aangaande daardie aardse Jerusalem se tempel tot sy verbaasde dissipels: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.” Dit lei daartoe dat vier van die dissipels die vraag van Mt 24 vers 3 aan Jesus stel: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Jesus gee vervolgens sy bekende profesie wat tot aan die einde van Mattheüs, hoofstuk 25, strek.
6, 7. (a) Wat is nou, ter vervulling van die profesie, bedreig? (b) Hoe is daar gevolglik gesien dat die “gruwelike ding” ‘in ’n heilige plek staan’?
6 Jesus se dissipels het destyds in 33 G.J. belang gestel in die einde van die Joodse stelsel met die aardse Jerusalem en sy tempel as middelpunt, ’n godsdiensstelsel wat afvallig geword het. Maar ondanks sy afvalligheid was Jerusalem steeds bekend as “die heilige stad” selfs na Jesus se dood (Mattheüs 27:53). Ter vervulling van Jesus se profesie het smarte toegeneem in Jerusalem en Judea en ander nasies daar naby. In 66 G.J. het die Romeinse legioene onder generaal Gallus Jerusalem aangeval. Jerusalem was “deur leërs omsingeld” net soos Jesus (in Lukas 21:20) voorspel het. Volgens die geskiedskrywer Josefus het hulle selfs die stad met hulle afgodiese vaandels binnegegaan en die muur van die tempel begin ondergrawe.
7 Daardie Romeinse leërs het beslis in ’n “heilige plek” gestaan. Hulle was gereed om daardie “stad van [Jehovah]” te verwoes, die stad wat eeue lank met Jehovah se aanbidding geassosieer is (Psalm 101:8). Uit die oogpunt van die Joodse afvalliges sowel as die Joodse Christene was dit inderdaad ‘gruwelik’! Maar slegs die Christene het besef dat dit die situasie was wat Jesus voorspel het. Nie alleen die “heilige stad” en sy tempel vir aanbidding was bedreig nie, maar ook die Christene in die stad wat aan Jehovah en sy Woord van waarheid lojaal was. Hoe kon hulle dit oorleef?
8. Hoe het Jehovah sake toe bestier, en met watter gevolg?
8 Jehovah het sake wonderdadig bestier. Die Romeinse leër het skielik teruggetrek en die Christene die geleentheid gebied om Jesus se profesie te gehoorsaam. Hulle was inderdaad gehoorsaam en het “die berge” van Gilead ‘in gevlug’! In 70 G.J. het die “gruwelike ding” teruggekeer. In net vier maande het die Romeinse leër onder generaal Titus Jerusalem verwoes en sy sogenaamde “heilige plek” in ’n puinhoop omgeskep. Meer as ’n miljoen Jode het gesterf in daardie groot slagting waarvan daar net ’n paar oorlewendes was (Daniël 9:26). Maar die gekerstende Jode was veilig! Waarom? Omdat hulle gehoorsaam was aan die profetiese woord van waarheid wat deur die Groot Onderrigter, Jesus Christus, gespreek is.—Markus 13:1, 2, 14.
Die hedendaagse parallel
9. Waarom behoort daardie gebeure in die eerste eeu vandag vir ons van belang te wees?
9 Daardie eerste-eeuse gebeure is vandag vir ons van kardinale belang. Waarom? Omdat dit ’n treffende parallel in hierdie twintigste eeu het. Dit is in ons dag dat Jesus se groot profesie sy finale, wêreldskuddende vervulling het! Maar hierdie keer is dit nie net die stad Jerusalem en die land Judea wat daarby betrokke is nie, maar die hele bewoonde aarde, met sy tienduisende stede, sy honderde volks- en stamgroepe en sy 4 400 miljoen mense—die hele wêreldstelsel.
10. (a) Watter tydperk het in 1914 geëindig, en hoe? (b) Waarom is daar nou ongeëwenaarde “wee” op die aarde?
10 Selfs wêreldlike geskiedkundiges het opgemerk dat die jaar 1914 G.J. ’n tydvakskeppende verandering meegebring het. Die vasgestelde “tye van die nasies” het inderdaad in daardie jaar geëindig (Lukas 21:24-28). Jehovah sou nie langer die Heidense magte toelaat om te regeer soos hulle wil nie. Die volgende profesie is dus vir die Here Jesus vervul: “U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion [die “hemelse Jerusalem” die Messiaanse koninkryk] en sê: Heers te midde van u vyande” (Psalm 110:2). Die gekroonde koning het Satan en sy demonhordes gehoorsaam uit die hemel na die omgewing van die aarde gewerp. Daar sou gevolglik ’n “kort rukkie” “wee vir die aarde” wees (Openbaring 12:7-12, NW). Nou, sedert 1914, het Jesus se groot profesie in Mattheüs hoofstuk 24 en 25 sy aardwye vervulling.
11. Wat het jy self ter vervulling van Jesus se groot profesie waargeneem?
11 Is ons nie almal ooggetuies van die “teken . . . van die voleinding van die wêreld” nie? Het ons nie self die groot oorloë, die hongersnode, die pessiektes, die aardbewings en ander “verskriklike dinge” gesien wat Jesus voorspel het nie? Het ons nie die vervolging van Christene ondervind en ’n aandeel gehad in die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” nie? Baie van ons het inderdaad! (Mattheüs 24:3-14; Lukas 21:10-12). Maar wat van Jesus se woorde in Mattheüs 24:15, 16 oor “die gruwelike ding wat verwoesting aanrig”?
’n Globale vervulling
12. Hoe sal die “groot verdrukking” verskil van Jerusalem se vernietiging?
12 Die eerste-eeuse vervulling van hierdie profesie bied ’n patroon van wat ons vandag kan verwag. Maar nie al die besonderhede van die twee vervullings stem presies ooreen nie. In verse 21 en 22 sê Jesus byvoorbeeld: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” Die kritieke “groot verdrukking” sal nie tot Jerusalem of enige ander stad beperk wees nie. Dit sal die grootste ramp wees wat ooit ons aarde sal tref, en dit sal globaal wees.—Jeremia 25:30-33; Mattheüs 24:30.
13. Watter “vlees” sal deur die “groot verdrukking” gered word, in teenstelling met die “vlees” wat Jerusalem se vernietiging oorleef het?
13 Daarbenewens sal die “vlees” wat dit oorleef nie dié van ’n paar afvallige Jode wees wat vir slawerny bestem is, soos met die vernietiging van die aardse Jerusalem nie. Dit sal eerder die “vlees” van die “uitverkorenes” diegene wat die “hemelse Jerusalem” op aarde verteenwoordig, wees tesame met die “vlees” van hulle metgeselle, die “groot menigte” uit alle nasies, van wie Openbaring 7:14 sê: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” Hoe moet ons dan die hedendaagse vervulling van Mattheüs 24:15, 16 verstaan?
“Laat hy wat lees, oplet”
14, 15. Wat is ’n paar dinge wat die ‘oplettende’ leser sal onderskei wanneer hy Daniël hoofstukke 7 en 8 ondersoek?
14 Jesus verwys hier na “die profeet Daniël” en voeg dan by: “Laat hy wat lees, oplet.” Dit was “in die eerste jaar van Belsasar, die koning van Babel” dat Daniël ’n gesig gehad het van hoe die Oue van dae, Jehovah God, die wêreldlike nasies deur die Messias se koninkryk oordeel. Dit sou plaasvind wanneer “die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit” neem.—Daniël 7:1, 9-14, 21, 22, 27.
15 Daniël het nog ’n gesig in die derde jaar van Belsasar se regering gehad. Hier, in Daniël 8:3-9, gebruik die profeet beeldspraak om ’n reeks “diere” te beskryf, asook sterk “horings” wat uit die koppe van daardie “diere” groei. Daniël 8:20-25 help ons om hulle te identifiseer as wêreldmoondhede van die afgelope 2 500 jaar—eers Medo-Persië, toe Griekeland, Rome en eindelik—as ‘’n horinkie wat groei totdat dit groot mag verkry’—die Britse Ryk, waaraan die republiek van Amerika later verbonde geraak het. So het ’n tweeledige wêreldmoondheid tot stand gekom.
16. (a) Watter ‘bepaalde tyd het gekom’, en wat was daarna die ondervinding van die “heiliges”? (b) Waarom was The Watchtower se nommers van Junie 1938 belangrik vlr God se volk?
16 In 1918 G.J. het “die bepaalde tyd gekom” vir die “heiliges” om die koninkryk te ontvang. Sedert 1919 is die “heiliges” wat op aarde oorgebly het, georganiseer om die Messias se opgerigte koninkryk op ’n wonderlike, globale skaal te verkondig (Mattheüs 24:14). Dit was nie lank voordat hulle wêreldwyd as “Jehovah se Getuies” bekend was en ’n “groot menigte” medewerkers by hulle begin aansluit het nie (Jesaja 43:10, 12, NW; Openbaring 7:9). Maar gedurende die dertigerjare het donker wolke van vervolging saamgepak. Jehovah het sy volk versterk om hierdie bedreiging die hoof te bied deur hulle teokraties te herorganiseer. The Watchtower se nommers van 1 en 15 Junie 1938 het studieartikels bevat oor “Organisasie” wat God se volk die teokratiese struktuur gegee het wat as grondslag sou dien vir hulle bedrywigheid gedurende die Tweede Wêreldoorlog.—Jesaja 60:17.
17. Op wie is Daniël 8:10, 11 nou vervul?
17 Dit was gedurende die Tweede Wêreldoorlog wat Daniël 8:10, 11 in vervulling begin gaan het. Die ‘horinkie’ het met miskenning van Jehovah God, “die Vors van die leër” opgetree. En watter “leër” is dit? Is dit die leër lidmate van die Christendom se mag der menigte godsdienssektes? Nee. Hulle word nie “gehaat” nie, want hulle maak hulself deel van Satan se wêreld (Mattheüs 24:9; Johannes 15:18-20). Daniël verwys hier na ’n veel kleiner leër, vergelykbaar met Gideon se strydmag wat baie klein was vergeleke met die hordes van Midian (Rigters 7:8, 12). Dit is die oorblyfsel op aarde van die “leër” van 144 000 “heiliges” wat saam met die Lam, Christus Jesus, op die berg Sion van die “hemelse Jerusalem” gaan heers.—Openbaring 14:1-5.
In ’n “heilige plek”
18. (a) Waar toon die Skrif is daar ’n “heilige plek” geleë? (b) Wat gebeur volgens Daniël 8:12 daar?
18 Hierdie oorblywendes is vandag in ’n “heilige plek” en hulle verteenwoordig die “hemelse Jerusalem” en sy tempelreëling op aarde. Daniël beskryf dit (in vers 11, NW) as “die vaste plek van [Jehovah se] heiligdom” hier op Sy “voetbank” die aarde (Jesaja 66:1). Hy sê dat “die voortdurende offer [Jehovah] ontneem en sy heilige woning [die vaste plek van sy heiligdom] neergewerp is. En ’n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid [weens oortreding] saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad” (Daniël 8:11, 12, vgl. NW). Hoe is dit vervul?
19. (a) Wat is die ‘horinkie se oortreding’? (b) Hoe het dit voortdurend “die waarheid op die grond neergewerp”?
19 Wel, wat was die ondervinding van die getroue Bybelstudente—Jehovah se Getuies—gedurende die Tweede Wêreldoorlog? Hewige vervolging! Dit het neergekom op “oortreding” ’n poging om God se “heiligdom”-klas te verwoes en Jehovah die “voortdurende offer” van daaglikse, openbare aanbidding te ontneem. Dit het in Nazi-Fascistiese lande begin. Maar eerlank is “die waarheid op die grond neergewerp” dwarsdeur die uitgestrekte gebied van die ‘horinkie wat groot mag verkry het’. Die “leër” Koninkryksverkondigers en hulle werk om Koninkrykswaarheid te verkondig, is in feitlik die hele Britse Statebond in die ban gedoen. Toe hierdie nasies hulle mannekrag opgekommandeer het, het hulle geweier om Jehovah se Getuies as bedienaars vry te stel; hulle het geen respek getoon vir hulle teokratiese aanstelling as bedienaars van God nie. In die Verenigde State moes Jehovah se getroue knegte gepeupelgeweld en ander vernederings verduur.
20. (a) Watter versekering bied Daniël 8:14 ons? (b) Hoe het die ‘heilige plek seëvierend verrys”? (c) Watter verwikkelinge was daar in Jehovah se organisasie terwyl die Tweede Wêreldoorlog ten einde geloop het?
20 Maar volgens Daniël 8:13, 14 sou die “heilige plek” na ’n tydperk van ‘tweeduisend-driehonderd dae’ (ses jaar, vier maande en twintig dae) weer “in sy regte staat herstel word” of “seëvierend verrys” (New English Bible). Jehovah se Getuies is inderdaad wreed vervolg omdat hulle daarop aangedring het om ‘aan God meer gehoorsaam te wees as aan die mense’ (Handelinge 5:29). Maar gedurende die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog het hulle hulle vasbeslotenheid om Jehovah se heerskappy te verheerlik en om in hulle organisasie daaraan getrou te bly, bevestig. Daarom is daar in 1944 begin met aanpassings aan die werk en bestuurstruktuur van Jehovah se Getuies. Die Wagtoring van 15 Maart 1945 se tema was “Georganiseer vir finale werk”. Hierdie en ander diensgeoriënteerde artikels in dieselfde tydperk het getoon dat die “heilige plek” weer uit Jehovah se oogpunt in sy “regte staat” was.a
21. Hoe het die Koninkryk tot nou toe getriomfeer?
21 Die vyand se bose poging om die “heilige plek” heeltemal te verwoes en te vernieting, het misluk. Die oorblywende “heiliges” op aarde, tesame met hulle metgeselle, die “groot menigte” het geseëvier. Die koninkryk van die Opperwese, Jehovah, en van sy Christus, het getriomfeer! Wat sou nou volgens Jehovah se profetiese woord volg? Kom ons kyk.
[Voetnoot]
a Kyk Die Wagtoring van 15 Februarie 1972, bladsye 75 tot 92, vir ’n breedvoerige bespreking van Daniel hoofstukke 7 en 8.
WAT VERSTAAN JY ONDER—
Daniël 7:22: ‘die bepaalde tyd het gekom’?
Daniël 7:27: “die heiliges” “die koningskap”?
Daniël 8:9: “’n [ander] horing, eers klein”?
Daniël 8:10: “die leër van die hemel”?
Daniël 8:11: “die Vors van die leër”?
Daniël 8:12: “die waarheid op die grond neergewerp”?
Daniël 8:14, NEB: “die Heilige Plek sal seëvierend verrys”?
[Venster op bladsy 18]
In 1965 het kanselier Konrad Adenauer van Duitsland gesê: “Gedagtes en beelde kom by my op, . . . gedagtes uit die tyd voor 1914 toe daar ware vrede, rus en veiligheid op hierdie aarde was—’n tyd toe ons nie vrees geken het nie. . . . Veiligheid en rus het sedert 1914 uit die lewens van mense verdwyn.
[Venster op bladsy 19]
In 1980 het voormalige Britse premier Harold Macmillan gesê: “Alles het voortdurend verbeter. Dit was die wêreld waarin ek gebore is. . . . Alles het skielik, onverwags, een oggend in 1914 geëindig.”