Werp jou bekommernisse op Jehovah
SAL ’n man wat owerspel en moord gepleeg het, beangs wees? Beslis, as hy enigsins ’n gewete het. Koning Dawid het ’n gewete gehad. Maar oorweldig deur vurige hartstog het hierdie eertydse Hebreeuse koning owerspel gepleeg met ’n vrou genaamd Batseba. Die situasie is bemoeilik toe sy swanger geraak het, en eindelik het hy verplig gevoel om te reël dat haar man doodgemaak word en om self met haar te trou.
Kan jy jou voorstel watter angs en gewetenswroeging hy moes verduur het nadat hy tot besinning gekom het? Wel, ons hoef ons dit nie voor te stel nie, want Dawid beskryf dit self aan ons. Dit was hierdie tragiese reeks gebeure wat daartoe gelei het dat hy die een-en-vyftigste psalm geskryf het.
Hoe het Dawid verhoed dat al daardie angs hom onderkry? Die psalm sê vir ons dat hy sy dade openlik aan sy God, Jehovah, bely het en innige, hartgrondige berou getoon het. Toe het hy God om hulp gesmeek om ’n ander gees te ontwikkel. Hy het gesê: “Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees” (Psalm 51:12). So het hy ‘al sy bekommernis op Jehovah gewerp’.—1 Petrus 5:7.
Sou God iemand help wat hom aan sulke misdade skuldig gemaak het? Dawid was seker dat Hy sou help. Hy het gesê: “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:19). Die geskiedenis toon dat Dawid die res van sy lewe gely het weens die gevolge van sy dade. Maar as gevolg van sy hartgrondige berou het sy Skepper hom nie verlaat nie. Hy het hulp ontvang om sy bekommernisse te verduur.
Ons het moontlik nie moord gepleeg nie. Maar nie een van ons is heeltemal sorgloos nie. Ons sondig almal, en ’n slegte gewete is ’n swaar las. Daarbenewens bekommer feitlik almal hulle oor hulle gesondheid, die stygende lewensduurte, moontlik die grootmaak van kinders, werk, probleme met menseverhoudinge, misdadigheid, skuld, en dies meer. Probeer jy om al daardie bekommernisse self te dra? Dit is werklik nie nodig nie. Jy sal gelukkiger wees as jy ag slaan op hierdie Skriftuur like raad: “Werp jou sorg op die HERE en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:23.
Hoe om om Jehovah se hulp te vra
Hoe kan ons ons sorg op Jehovah werp? Ons moet natuurlik tot hom bid en ons bekommernisse met hom bespreek. Die boek Spreuke gee vir ons goeie raad in hierdie verband. Dit sê vir ons: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie” (Spreuke 3:5). As ons gevolglik Jehovah se hulp verlang, moet ons op sy wysheid staatmaak, nie ons eie nie. Ons moet soms hierdie les leer.
In een land is Christene byvoorbeeld kwaai vervolg. Volgens die verslag het hulle aanvanklik tot God gebid om hulp, maar sonder begrip. Hulle het nie begryp waarom hulle sulke ondervindinge moes verduur nie en het vir Jehovah probeer vertel wat hulle wou hê hy vir hulle moes doen.
Hulle het egter sterker geword en geleer om lyding ter wille van geregtigheid as ’n voorreg te beskou. Hulle het gevolglik meer ooreengekom met die apostels van die ou tyd. Nadat hulle op bevel van die Joodse leiers geslaan is, het hulle “van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly” (Handelinge 5:41). Met God se hulp onderwerp hierdie hedendaagse Christene hulle nou geduldig aan al die vervolging wat Satan hulle laat ondergaan. Hulle vertrou op Jehovah om sake op sy manier op te los en wag geduldig op sy bestemde tyd om hulle te verlos. Hulle het met vertroue almal hulle bekommernisse op hom gewerp.—Spreuke 14:26.
As ons ons bekommernisse op Jehovah wil werp, verg dit ook geloof dat Jehovah ons kan en wil help. Een vrou het hierdie les goed geleer. Sy het haar baie bekommer, want hoewel sy Jehovah wou dien, was sy verslaaf aan tabak. Sy het om hulp gebid, maar het aangehou rook. ’n Ruk later kon sy met blydskap aankondig: “Ek het eindelik opgehou rook!” Waarom kon sy nie vantevore ophou nie? Sy het erken: “Ek het tot God gebid om hulp, maar ek het nie werklik geglo dat hy my kon help nie.” Dit was slegs toe sy in geloof gevra het dat sy die nodige hulp ontvang het.—Hebreërs 11:6.
En as ons wil hê dat Jehovah ons met ons bekommernisse moet help, is daar dinge wat ons moet doen. Jesus het dit te kenne gegee toe hy gesê het: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.”—Mattheüs 11:28, 29.
Daar is ’n gesegde wat lui: ‘God help diegene wat hulself help.’ Die voormelde
woorde van Jesus toon in werklikheid: ‘God help diegene wat bereid is om ander te help.’ Jesus het rus—verligting van bekommernisse—gebied aan diegene wat bereid was om ‘sy juk op hulle te neem’, dit wil sê, hulle aan Christus se leiding te onderwerp en, net soos Jesus, God en hulle naaste te dien.—Mattheüs 9:35-38; Jakobus 1:27; 1 Johannes 3:17.
Hoe help Jehovah?
Gestel ons gaan gebuk onder ’n groot bekommernis en ons bid tot God in volle geloof en ons toon dat daardie geloof eg is deur sy wil te probeer doen, hom te dien en ons naaste te help. Watter soort hulp kan ons dan verwag?
God kan moontlik die probleem wat vir ons kommer veroorsaak heeltemal wegneem. Dit het van tyd tot tyd gebeur. Of hy kan ons die nodige wysheid gee om self die probleem op te los of te sien wat die regte manier is om dit te hanteer. Dan sal ons die waaragtigheid van die Bybelse spreuk ondervind: “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ’n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.”—Spreuke 28:26.
Hoe kan ons sulke goddelike wysheid verkry? Die bywoning van die vergaderinge van Jehovah se volk en die gewoonte om die Bybel en Bybelpublikasies te lees, is twee maniere. Een Christenmoeder wat baie bekommernisse gehad het omdat haar man ’n alkoholis was, het dit so gestel: “Die ding wat my die meeste gehelp het, was om Die Wagtoring te lees en te bestudeer en toe te pas.”—Hebreërs 10:24, 25; Psalm 119:97-104.
Of Jehovah kan ons deur middel van ons Christenbroers help. Een ouere man het ’n hartlike briefie van twee persone in sy gemeente ontvang. Dit het ten dele gelui: “Dankie vir die talle kere wat jy na ons geluister het en ons met ons persoonlike probleme gehelp het, ons bemoedig het toe ons terneergedruk was, ons besoek het toe ons siek was, gekom het wanneer ons jou ontbied het en die hele nag in hospitale gewaak het toe ons gesinne jou nodig gehad het. Ons is Jehovah dankbaar vir ’n broer wat soveel vir ons omgee soos wat jy vir ons omgee.”
As jy bekommernisse het, kan jy dit gerus met ryp persone in julle gemeente bespreek. Jehovah kan jou deur hulle help, en jy sal sien hoe waar die ou spreekwoord is: “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.”—Spreuke 17:17.
Jehovah sal natuurlik nie altyd die probleme wegneem wat vir ons kommer veroorsaak nie. Maar deur ons deur middel van die Bybel, die heilige gees of ons Christenbroers te versterk, help hy ons om die probleme reg te beskou en wyslik die hoof te bied. So kan ons ondervind wat die apostel Paulus gesê het: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Filippense 4:13, NTP). Al bestaan die probleme ook voort, sal Jehovah God sy belofte hou: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”—Hebreërs 13:5.
Alma het gevind dat dit die geval is. Sy is ’n Christin wie se onderlyf ’n paar jaar gelede deur ’n motorongeluk verlam is. Sy ervaar baie pyn, maar die wete dat God binnekort siekte en lyding gaan wegneem, vertroos en help haar. Sy sê van die hede: “Ek bid tot Jehovah om my te help om elke dag te volhard. Aan die einde van daardie dag is ek dan nog een dag nader!”
Alma mis nooit ’n vergadering van die Christengemeente nie, en sy benut elke geleentheid wat sy kry om haar vertroue in die toekoms met ander te deel. So ondervind sy Jehovah se steun terwyl sy haar sorge op hom werp.
Ongeag watter hulp Jehovah gee, ons kan daarvan seker wees dat dit is wat ons nodig het en dat dit genoeg is. Die apostel Paulus het met vertroue gesê: “Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk” (Romeine 8:28). Selfs wanneer ’n mens baie ly, kan jy nog Jehovah God se hulp ondervind. Paulus het ons meegedeel: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filippense 4:6, 7.
Laat ons derhalwe die raad van die apostel Petrus toepas, ongeag watter bekommernisse of sorge ons ook al het: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:6, 7.
[Venster op bladsy 28]
Jehovah het beloof om ons ons laste te help dra. Het jy van die volgende probleme:
◻ Siekte?
◻ Neerslagtigheid?
◻ ’n Skuldige gewete?
◻ ’n Gevoel van onwaardigheid?
◻ ’n Gebrek aan selfbeheersing?
◻ Vervolging of verdrukking?
◻ Vooroordeel weens ras, stand of geslag?
◻ Bedruktheid weens die daaglikse probleme?
◻ Bekommernis oor die toekoms?
◻ Moeilike persoonlikhede met wie jy oor die weg moet kom?
Waarom probeer jy hulle dan alleen die hoof bied? Dit is baie makliker om sulke bekommernisse te verduur as ons Jehovah se hulp aanvaar.