God se Woord is lewend
God wil hê dat mense sy naam moet ken
HET jy besef dat God ’n naam het? Jesus, wat jy hier saam met sy dissipels sien bid, sê vir God: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak” (Johannes 17:26). Dit behoort ons nie te verbaas dat God ’n naam het nie. Almal het ’n naam, onder meer God se Seun, Jesus.—Lukas 1:30-32.
Mense hou daarvan dat ander hulle op die naam noem. En God wil ook hê dat mense sy naam moet ken. Dit is waarom hy die Bybelpsalmis geïnspireer het om te skryf: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is” (Psalm 83:18, NW). God het lank gelede die belangrikheid van sy naam aan die man Moses getoon. Terwyl Moses eendag as ’n herder in Midian skape opgepas het, het hy iets verbasends gesien. Dit was ’n brandende doringbos, maar die bos is nie verteer nie! Toe hy nader gegaan het om dit beter te bekyk, soos jy hier kan sien, het ’n stem uit die middel van die brandende bos geroep: “Moses, Moses!”
Dit was God wat gepraat het. Hy wou hê dat Moses na Farao, die koning van Egipte, moes gaan en Sy volk uit Egipte moes lei. Maar Moses het vir God gesê: “As ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam?—wat moet ek hulle antwoord?” God het Moses beveel om vir hulle te sê: “Jehovah, die God van julle vaders, . . . het my na julle gestuur.”—Exodus 3:1-15, vgl. NW.
Maar toe Moses na Egipte gegaan het om met Farao te spreek, het die Egiptenaars gedink dat Jehovah sommer net ’n onbelangrike god van die kinders van Israel is. Hulle het nie geglo dat hy die God van die hele aarde is nie (Exodus 5:2). Jehovah het Moses dus vir Farao laat vertel dat Hy sou toesien dat Sy ‘Naam oor die hele aarde verkondig word’ (Exodus 9:16). Weet jy hoe Jehovah dit destyds gedoen het?
Jehovah God het Moses die Israeliete uit Egipte laat lei, maar die Egiptenaars het hulle agternagesit. Toe hulle by die Rooi See kom, het dit gelyk of daar geen manier was om van die agtervolgende Egiptenaars weg te kom nie. Toe het Jehovah Moses sy staf oor die water laat uitsteek, en die waters het verdeel sodat die vlugtende Israeliete op droë grond kon deurtrek. Daarna het Jehovah Moses weer sy staf laat uitsteek, soos jy hier kan sien, en toe het die water op die Egiptenaars neergestort sodat almal verdrink het. Die nuus van hierdie groot gebeurtenis het wyd en syd versprei sodat mense oral God se naam leer ken het.—Exodus 14:21-31; Josua 2:9-11.
Wat van vandag? Wil God nog steeds hê dat sy naam wêreldwyd bekend gemaak moet word? Ja. En dit is noodsaaklik dat mense vandag van Jehovah leer en hom dien. So nie sal hulle net soos die hardkoppige Egiptenaars wat geweier het om Jehovah te ken, vernietig word “in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel . . . wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie”.—2 Thessalonicense 1:7-9.