Hoe die huwelik die aanslag oorleef
’N GETROUDE vrou het eenkeer gesê: “Daar is min dinge in die lewe wat soveel geluk verskaf soos ’n suksesvolle huwelik. En daar is min dinge wat erger is as ’n ongelukkige huwelik.” Dit laat die huwelik soos ’n groot waagstuk klink. ’n Egpaar kan òf ’n lewe van geluk kry òf baie smart ervaar.
Maar die huwelik hoef nie ’n waagstuk te wees nie. In sekere opsigte is dit soos ’n reis deur ’n gebied wat jy nog nooit tevore besoek het nie. As jy in die pad val met slegs ’n vae idee oor hoe om jou bestemming te bereik, loop jy beslis ’n risiko. Maar jy kan die risiko aansienlik verminder as jy iemand raadpleeg wat reeds die reis suksesvol voor jou afgelê het. En daar is vandag baie suksesvolle huwelike. Wat kan ons daaruit leer?
Ervare gidse
In Kanada is ’n studie gemaak van ’n aantal egpare wat vyftien jaar of langer getroud is. Professor Schlesinger van die Universiteit van Toronto het gevra wat party van die dinge was wat tot die welslae van hulle huwelike bygedra het. Sy navorsing het die belangrikheid van vier eienskappe beklemtoon: liefde, eerbied, vertroue en kommunikasie.
’n Koerantverslaggewer het ’n onderhoud gevoer met ’n egpaar wat 70 jaar lank gelukkig getroud was. Wat was die geheim van hulle welslae? Hulle het die volgende gemeld: vertroue, inspanning om nie te stry nie, die betoning van liefde aan mekaar en ’n gemeenskaplike doelwit, naamlik om ander mense te help.
Dit klink moontlik outyds, maar dit het gewerk. As jy mense ken wat aljare lank gelukkig getroud is, kan jy gerus vir hulle vra wat hulle geheim is. Hulle sal waarskynlik iets soortgelyks sê.
Maar jy meen miskien dat die dinge wat ’n ander persoon gehelp het jou nie sal help nie. Jou agtergrond, persoonlikheid of probleme is nie heeltemal dieselfde nie. Wanneer jy deur ’n onbekende gebied reis, sal dit ideaal wees om ’n reisgids te hê wat jou teen alle moontlike gevare waarsku sodat jy jou reis so kan beplan dat jy die probleme vermy wat vir jou besonder moeilik sal wees. Bestaan daar so ’n reisgids vir die huwelik? Ja. En niemand moet in die huweliksbootjie stap sonder om hierdie gids te raadpleeg nie.
Die nodige reisgids
Nie te lank gelede nie het ’n jongman genaamd Alex hierdie reisgids ontdek. Alex het hom skuldig gemaak aan jeugmisdadigheid, strawwe drinkery en dwelmmisbruik. Hy was boonop ’n ontnugterde Viëtnam-veteraan. Hy het ’n jong vrou en ’n jong baba gehad, maar sy huweliksbootjie was in ontstuimige water. Een oggend, nadat hy vir etlike van sy vriende wat saam met hom in die leër was by sy huis ’n drinkparty gegee het wat die hele nag geduur het, het sy vrou gesê: “Jy verwaarloos my. Jy vergeet selfs dat ek hier is!”
Gelukkig het Alex en sy vrou die reisgids geraadpleeg. Kort daarna het hy berig: “Ons het die meeste van ons voormalige vriende verloor, maar ons is gelukkig . . . veral as man en vrou. Dis so wonderlik—dis ’n onbeskryflike gevoel . . . Ons persoonlikhede het verander en ons het ons familielede se bewondering afgedwing.”
Wat was die reisgids wat vir Alex en sy vrou die weg van onenigheid na ’n gelukkige huwelik getoon het? Dit was die Bybel. Al is hierdie boek baie oud, gee dit verstandiger, praktieser raad oor gelukkige huwelike as enige ander bron wat vandag beskikbaar is. Kyk na ’n paar van die dinge wat dit sê.
Woorde van wysheid
Niemand is volmaak nie. ’n Egpaar moet leer om met mekaar se swakhede vir lief te neem. Die Bybel sê gevolglik: “Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”—Kolossense 3:12-14, NTP.
Watter huwelik sal nie slaag as die man en die vrou hierdie raad toepas nie? Hulle sal beslis baie van die probleme van die daaglikse lewe oplos. Selfs pasgetroudes wat vir mekaar vreemdelinge was, sal ’n gelukkige huwelik hê as hulle hierdie eienskappe ontwikkel het.
Berigte vertel van eggenote wat onbedagsaam, selfsugtig of selfs wreed is. Maar die Bybel vermaan: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad [het] . . . So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame” (Efesiërs 5:25, 28). ’n Man wat sy vrou se welsyn op die hart dra en opofferings om haar ontwil maak, sal waarskynlik ’n geslaagde huwelik hê.
Party mans kla dat hulle vrouens voortdurend twis en neul. Die Bybel sê egter: “Die vrou moet die man eerbiedig” (Efesiërs 5:33). ’n Vrou wat hierdie raad toepas, dra baie tot haar eie geluk by.
Die twee groot huweliksverbrekers, dronkenskap en onsedelikheid, word onomwonde in die Bybel veroordeel. “Geen hoereerders . . . of egbrekers . . . of dronkaards . . . sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9, 10). “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”—Hebreërs 13:4.
Hoe nou gemaak as familielede hulle in die huwelik inmeng? Die Bybel toon dat ’n jong egpaar hulle ouers moet eerbiedig. ’n Man se eerste verpligting is nietemin teenoor sy vrou. Jesus het gesê: “Die man [sal] sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees . . . Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Mattheüs 19:5, 6). ’n Jong egpaar moet met graagte raad van hulle ouers aanvaar. Maar hulle moet nie toelaat dat hulle ouers vir hulle voorskryf nie.
Praktiese leiding
Party beskou hierdie raad moontlik as outyds in vandag se wêreld. Maar hoe het die wêreld op die gebied van die huwelik gevaar? Baie sleg. Maar het jy ag geslaan op die woorde van diegene wat wel welslae met hulle huwelik behaal het? Hulle het hulle geluk toegeskryf aan eienskappe wat—of hulle dit nou besef het of nie—in die Skrif aanbeveel word. Kan jy teen sukses stry?
Sal ons aan die kortste ent trek as ons toegeeflik is soos die Bybel aanbeveel? Nee. Toegeeflikheid is in werklikheid ’n fundamentele deel van die huwelik. Almal wat trou, gee iets prys, maar wanneer hulle huwelik geslaagd is, kry hulle dit honderdvoudig in die vorm van geluk terug. Waarom? Want “dit is saliger om te gee as om te ontvang”.—Handelinge 20:35.
‘Dit is ’n mooi teorie’, sê jy dalk. ‘Maar in die werklike lewe is daar tog nie ’n huwelik waar sake so verloop nie.’ Die antwoord is dat daar vandag ’n mag der menigte huwelike is wat gelukkig is omdat die egpare hulle daarop toelê om hierdie Bybelraad toe te pas. Selfs waar daar ernstige probleme bestaan—soos in die geval van Alex en sy vrou—toon die Skrif waarna ’n mens moet streef. As ’n egpaar daardie doel saam nastreef, is daar gou verblydende resultate.
Maar gestel dat net een van die huweliksmaats probeer om hierdie beginsels toe te pas. Wat dan? Wel, die probleem word moeiliker, maar nie hopeloos nie. Dit is beter dat 50 persent van ’n vennootskap dinge reg doen as dat albei partye dinge verkeerd doen. En indien die persoon volhard, is goeie resultate steeds moontlik.
’n Man in Korea het gereeld sy vrou geslaan wanneer hy onder die invloed van sterk drank was. Sy vrou het nie probeer om ’n einde aan die huwelik te maak nie, selfs al was die lewe moeilik. Vir haar was die doel van ’n gelukkige huwelik iets wat die moeite werd was om na te streef. Sy het gevolglik die Bybel se raad, veral sy raad aan vroue om “’n sagmoedige en stille gees” te verkry “wat baie kosbaar is voor God” eensydig toegepas.—1 Petrus 3:4.
Sy het elf jaar lank volhard. Was dit die moeite werd? Ja, want eindelik is haar man beweeg om self die reisgids te ondersoek. Waarom? As jy hom sou vra, sou hy antwoord dat sy vrou se “sagmoedige en stille gees” hom beweeg het om uit te vind wat die geheim vir haar voorbeeldige gedrag is. Hy het die wysheid van die Bybel se raad herken en sy weë verander.
Die huwelik kan inderdaad “een van die bevredigendste lewenswyses” wees. Dit behoort ons eintlik nie te verbaas nie, want dit is die Een wat aan ons die lewe gegee het, Jehovah God, wat aan ons die huwelik gegee het (Psalm 36:10; Genesis 2:18-24). En dit is Hy wat ’n reisgids, die Bybel, voorsien het om ons te help om sukses te behaal met ons huwelik.
Daar is vandag ’n aanslag op die huwelik weens die druk van die wêreld waarin ons lewe. Maar omdat die huwelik van God af kom, oorleef dit die aanslag. En as jy God se raad in die Bybel toepas, sal jou huwelik dit oorleef en sal jy ook vind dat dit ’n uiters bevredigende lewenswyse is.