God se Woord is lewend
Hoe om ’n gelukkige gesinslewe te geniet
HET jy besef dat God se Woord jou kan help om ’n gelukkige gesinslewe te geniet? Wanneer die raad wat dit aan gesinslede gee, toegepas word, bring dit baie voordele mee. Is jy ’n eggenoot? Kyk dan wat God se Woord aan jou sê.
WEES GETROU AAN JOU VROU
“Manne, julle moet jul eie vroue liefhê” sê die Bybel. “Verheug jou oor die vrou van jou jeug . . . waarom sou jy, my seun, by ’n vreemde bedwelmd raak en die boesem van ’n ontugtige omhels?”
—Efesiërs 5:25, 28; Spreuke 5:18-20.
As ’n man sulke Bybelraad toepas, sal dit tot gesinsgeluk bydra. Dit sal ook sy vrou aanspoor om Bybelraad toe te pas. Wat word vrouens aangespoor om te doen?
RESPEKTEER JOU MAN
“Die vrou moet die man eerbiedig” sê God se Woord (Efesiërs 5:33). ’n Hoofrede waarom party mans haatdraend teenoor hulle vrouens is, is omdat die vrouens nie hierdie raad toepas nie. ’n Vrou toon eerbied deur haar man se besluite te ondersteun en deur heelhartig met hom saam te werk. Deur haar Bybelse rol as ‘hulp en komplement’ vir haar man te vervul, maak sy dit vir haar man maklik om haar lief te hê.—Genesis 2:18.
Hoe moet kinders grootgemaak word? Watter raad gee God se Woord aan ouers?
BESTEE TYD AAN JULLE KINDERS EN TUGTIG HULLE
As ouers moet julle van julself aan julle kinders gee, tyd nuttig saam met hulle deurbring en heilsame onderrigting uit God se Woord voorsien (Deuteronomium 11:19). Teregwysing moet deel van die onderrig uitmaak. Die Bybel verduidelik dat “die sotheid vassit in die hart van die seun” maar “die tugroede sal dit daaruit verwyder”. Tugtiging, selfs al sluit dit ’n pak slae in, is ’n blyk van ouerlike liefde, soos die Bybel dan ook sê: “Hy wat [sy seun] liefhet, besoek hom met tugtiging.”—Spreuke 22:15; 13:24; 23:13, 14; Efesiërs 6:4.
Die kinders se gedrag het ook ’n groot invloed op gesinsgeluk. Wat spoor God se Woord hulle aan om te doen?
GEHOORSAAM JULLE OUERS
Die Bybel sê: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.” Hoe ernstig is dit? Die Bybelspreuk antwoord deur te sê: “’n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag—die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.” Soos julle kan sien, is gehoorsaamheid aan en respek vir julle ouers ’n baie ernstige saak vir God.—Efesiërs 6:1; Spreuke 30:17.
Wil julle waarlik ’n gelukkige gesinslewe geniet? Julle kan. Die weg tot sukses is geen geheim nie. Die Skepper van die gesin het ’n gids voorsien om sukses met die gesinslewe te behaal. As elke lid van die gesin God se raad leer ken en toepas, sal dit beslis tot gesinsgeluk bydra.