Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 10/1 bl. 3-4
  • Die aanslag op die huwelik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die aanslag op die huwelik
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Niemand is volmaak nie
  • Kan die huwelik die storm deurstaan?
    Ontwaak!—2006
  • Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkel
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Egskeiding—Wat sê die Bybel werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 10/1 bl. 3-4

Die aanslag op die huwelik

DAAR is goeie nuus en slegte nuus omtrent die huwelik in vandag se wêreld. Die goeie nuus kom van dr. Alan Lyall, ’n psigiater in Toronto. Hy het vir ’n verslaggewer van Toronto se Star gesê dat die huwelik, ondanks baie aanslae in die laaste jare, besig is om te herrys. Waarom? Hy antwoord: “Dit kan inderdaad een van die bevredigendste lewenswyses wees.”

Die slegte nuus is egter dat talle huwelike baie ongelukkig is. ’n Jong rubriekskryfster wat gekant was teen die blote gedagte van die huwelik, het gesê: “Wanneer ek na huwelike kyk, sien ek hoofsaaklik pyn. En een feit omtrent pyn is dat jy so lekker voel wanneer dit ophou.” Beskou jy die huwelik as ’n bevredigende lewenswyse of bloot as ’n bron van pyn?

Party huwelike veroorsaak onteenseglik pyn en lyding. Dit blyk uit die hoë egskeidingsyfer in lande waar egskeiding toegelaat word. In die Verenigde State het die egskeidingsyfer gedurende die afgelope 20 jaar verdriedubbel. In die Sowjet-Unie eindig een huwelike uit drie volgens berig met ’n egskeiding. In Australië het die egskeidingsyfer in net een jaar vervierdubbel toe ’n nuwe egskeidingswet van krag geword het. Volgens Londen se Financial Times bring die stygende egskeidingsyfer in Engeland mee dat nagenoeg tweemiljard rand per jaar uit die welsynsfonds aan geskeide voue en kinders betaal word.

Waarom is daar soveel beroering in die huwelik?

Niemand is volmaak nie

Een probleem is dat niemand volmaak is nie. Ons het almal eienaardighede wat ander kan irriteer. Wanneer ons mense net nou en dan sien, is daardie eienaardighede nie belangrik nie. Maar wanneer ons met iemand getroud is, kan daardie eienaardighede inderdaad sterk op die voorgrond tree. Dit kan lei tot afbrekende twis. Of die verhouding kan tot geweld lei. In Kanada, byvoorbeeld, word een vrou uit tien volgens berig deur haar man geslaan.

Persoonlikheidsverskille of verskillende doelwitte kan groot probleme skep. Wat gebeur wanneer ’n spraaksame persoon met ’n swygsame persoon trou? Of wanneer een huweliksmaat meer waarde aan materiële besittings heg as die ander? Die vrou meen dalk dat sy aansien verloor het as haar man haar nie dieselfde luukse kan gee as wat sy in haar vader se huis geniet het nie. Of die man bring baie tyd by die werk deur terwyl sy vrou alleen is, met die gevolg dat sy eensaam voel.

Dronkenskap is nog ’n belangrike oorsaak van gebroke huwelike. En so ook onsedelikheid. In hierdie permissiewe geslag meen party dat dit nuttig kan wees as mense nou en dan ontrou is. Maar navorsers sê: “Ontrouheid werk nie. Baie mense dink dat ’n owerspelige verhouding ’n huwelik interessanter kan maak, maar ’n verhouding was nog altyd ’n teken van ernstige probleme. Dit was nooit ’n pynlose ondervinding nie.” Dit word gestaaf deur ’n verslag uit Engeland wat toon dat owerspel een van die algemeenste redes vir egskeiding aldaar is. Ja waarlik, ’n egbreker ‘verwoes sy eie lewe’.—Spreuke 6:32.

En het jy al ooit nagedink oor die wyse waarop die verslegtende ekonomie ’n huwelik kan ondermyn? Wanneer die man sowel as die vrou ’n sekulêre werk het—soos so dikwels vandag die geval is—is die gesin geneig om te verbrokkel. En as ’n egpaar diep in die skuld raak, is die gevolg dikwels spanning, bitterheid en wedersydse verwyte.

Die hedendaagse neiging van mense om ‘te maak soos hulle lus het’, ondermyn ook die stabiliteit van die huwelik. Egpare vind dit moeilik om hulle by mekaar se voorkeur en teësin aan te pas. Hulle verwag dikwels om dieselfde vryheid in die huwelik te geniet as wat hulle gehad het toe hulle ongetroud was. Getroudes wat nie leer om toegeeflik te wees nie, het ’n ernstige probleem.

Daarbenewens kan familielede ’n probleem wees, veral in die lande waar die huwelik as ’n verbintenis van twee gesinne beskou word, eerder as net van twee persone. In sulke plekke kan die druk wat deur familielede uitgeoefen word, groot wees. Die man se moeder kan so baasspelerig wees dat sy, en nie die vrou se man nie, haar hoof is. Of moontlik dring die vrou se eie ouers daarop aan om aan haar voor te skryf wat sy moet doen, in plaas daarvan om die jong egpaar hulle eie lewe te laat lei.

Dit is ’n paar van die probleme waarmee jong egpare te kampe kan hê. Ons kan gevolglik tereg sê dat daar steeds ’n aanslag op die huwelik is, dat daar steeds groot druk daarop uitgeoefen word. Sal dit die aanslag oorleef? Ja, as ’n instelling sal die huwelik dit oorleef, omdat dit waarlik “een van die bevredigendste lewenswyses” kan wees. Maar dit is duidelik dat individuele huwelike in die slag kan bly. Weet jy hoe om hierdie tragedie te voorkom?

[Prent op bladsy 3]

Dronkenskap

Ontrouheid

Materialisme

Druk deur Familielede

Skuld

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel