Die jeug se grootste geleentheid
“[Godsvrug] is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het. Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word.”—1 TIMOTHEÜS 4:8, 9.
1, 2. (a) Wat beskou talle jeugdiges as belangrike geleenthede, en watter vrae word geopper? (b) Waarom is daar besondere druk op vandag se jeug?
WAT is die grootste geleentheid wat die lewe vir jou inhou? Onlangse opnames onder die deursneejongmens toon dat die meerderheid meen dat hulle belangrikste doelwitte is “om ’n werk te kry wat ek geniet” en “om finansieel baie goed daaraan toe te wees”. Al hoe meer jongmense is ambisieus en in party plekke gaan rekordgetalle van hulle universiteit toe in die hoop dat hulle goed besoldigde betrekkings sal kry. Talle verwag dat sulke materiële geleenthede hulle veiligheid, krag en bevrediging in die lewe sal gee. Is dit hoe jy voel as jy ’n jeugdige is? En hoe beskou julle wat volwassenes is, veral ouers, werklik sulke geleenthede? Is dit die sleutel tot die “goeie lewe”?
2 As jongmense ooit krag en bevrediging nodig gehad het, is dit nou gedurende hierdie “laaste dae” met sy “swaar tye” (2 Timotheüs 3:1-5). Hedendaagse jongmense word groot onder druk wat vir die vorige geslag ondenkbaar sou gewees het. Die vinnige veranderinge in die samelewing, soos die verbrokkeling van gesinslewe en sedes, het groot emosionele steuring veroorsaak.
Die nodigheid vir krag en bevrediging
3, 4. Wat bewys dat talle jeugdiges innerlike krag kortkom, en waarom voorsien materiële voordele dit nie?
3 Al hoe meer jongmense vind dat hulle nie die innerlike krag het om die druk van die lewe die hoof te bied nie. (Vergelyk Efesiërs 3:16.) ’n Onlangse verslag deur die Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid sê dat een uit elke vyf jongmense aan ernstige depressie ly.a Van 1961 tot 1975 het die getal jeugselfmoorde in die Verenigde State meer as verdubbel! In daardie een land pleeg nagenoeg 8 000 jeugdiges elke jaar selfmoord, maar 50 keer soveel probeer selfmoord pleeg. Sommige gesaghebbendes noem die probleem ’n pandemie. Verslae toon ook dat ’n verbasende getal jeugdiges in sielsiekehospitale opgeneem word.b
4 Nie alle jongmense verkeer natuurlik in omstandighede wat materiële geleenthede bied nie. Maar as jy daaraan dink dat die voormelde verslae uit ’n vername land kom waar daar ’n oorvloed materiële geleenthede is, is dit duidelik dat dit op sigself jongmense nie help om ‘verdriet uit hulle hart te weer en kwale van hulle liggaam weg te hou nie’ (Prediker 11:9, 10). Materiële voordele verskaf min krag aan ’n persoon wat geteister word deur ’n ontmoedigende gebrek aan selfvertroue, onveiligheid of skuldgevoelens. Die Bybel sê: “Was jy ontmoedig op die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.”—Spreuke 24:10, NW.
5, 6. Sal die verkryging van materiële dinge die “goeie lewe” in die toekoms bring? Lig toe.
5 Maar sal die verkryging van materiële dinge uiteindelik bevrediging, die “goeie lewe”, bring? Ryk koning Salomo het erken: “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind” (Prediker 2:3-11). Hoewel sy prestasies hom ’n mate van genot verskaf het, het hy steeds ’n gevoel van ydelheid, van tevergeefsheid, ervaar.
6 Talle beskou geleerdheid vandag as een van die sleutels tot die toekomstige “goeie lewe”. ’n Voormalige Amerikaanse staatsgoewerneur het selfs gesê dat sulke opleiding “noodsaaklik is vir krag, bevrediging en oorlewing”. Is dit werklik? Wel, 846 studente van ’n vooraanstaande universiteit het ’n “klasrapport” opgestel oor hoe hulle gevaar het tien jaar na hulle gegradueer het. “Hoewel die trant van die rapport optimisties is”, het een klaslid gesê, “is daar ’n onderliggende toon van pessimisme, bitterheid en selfs wanhoop.” Na 25 jaar het een gegradueerde “sekere finansiële doelwitte” bereik, maar hy het erken: “Die mislukkings in my persoonlike lewe het die suksesse so ver oortref dat albei genadiglik onvermeld sal bly.” Is dit die beste wat die lewe aanbied?
Die grootste geleentheid
7. Vir watter loopbane kon Timotheüs hom bekwaam het, maar wat het Paulus aanbeveel?
7 In sy geïnspireerde briewe aan die Christendissipel Timotheüs het die apostel Paulus op iets baie beters gewys. Hierdie jong man is toegewys om te dien in Efese, een van die grootste handelsentrums in antieke tye. Watter loopbane moes hy tog gesien het! Hy kon daarna gestreef het om ’n welvarende handelaar te word of beroemdheid te verwerf in die skool van Tirannus of in die plaaslike skouburg (1 Timotheüs 1:3; Handelinge 19:1, 9, 29). Timotheüs kon hom ongetwyfeld bekwaam het vir ’n winsgewende, sekulêre loopbaan, maar Paulus het geskryf: “Oefen jou in die [godsvrug]. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die [godsvrug] is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.” Ja, godsvrug, godvrugtige toewyding, is “nuttig vir alles”. Dit was nie blote bespiegeling nie, want Paulus het bygevoeg: “Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word.” Paulus het uit persoonlike ondervinding geweet wat tot die beste lewenswyse sou lei.—1 Timotheüs 4:7-9, vgl. NW; 2 Korinthiërs 6:10.
8, 9. (a) Wat is godsvrug? (b) Wat is jou grootste geleentheid, en waarom is inspanning nodig om dit te benut?
8 Wat is hierdie godsvrug? Dit is ’n persoonlike gehegtheid aan God en spruit uit ’n hart wat beweeg word deur innige waardering vir sy innemende eienskappe. Terwyl “godvrugtige vrees” (Hebreërs 12: 28, NW) hoofsaaklik ’n eerbiedige vrees is om iets te doen wat God mishaag, is “godsvrug” ’n reaksie van die hart wat jou sal beweeg om te lewe op ’n wyse wat God behaag omdat jy hom liefhet.c So ’n hartstoestand lei tot “vertroulike omgang met God”, ’n persoonlike verhouding waarin jy bewus is van sy goedkeuring en bystand (Job 29:4, NW). Die geleentheid om hierdie persoonlike vriendskap met God te geniet, is waardevoller as enigiets anders wat jou aangebied kan word.—Vergelyk Jeremia 9:23, 24.
9 Bring dit outomaties hierdie verhouding met God mee as jy godvrugtige ouers het of as ’n Christen gedoop word? Nee, want opregtheid moet aangekweek word, tesame met ander Christelike deugde (2 Petrus 1:5-8). Jou ‘hart moet jou opwek’ om “godvrugtige dade” te verrig. (Vergelyk Exodus 36:2; 2 Petrus 3:11, NW; Kolossense 3:22.) Hoewel Timotheüs van kleins af in die weg van die waarheid grootgemaak is, moes hy godsvrug aankweek. Groot inspanning is vandag ook nodig, maar hierdie godsvrug sal “’n groot wins” wees (1 Timotheüs 6:6). Hoe so?
’n Verhewe lewenswyse
10, 11. Hoe het godsvrug Timotheüs se lewe verlief?
10 In Efese het Timotheüs godsvrug beoefen te midde van persone wat ‘in die verdwaasdheid van hulle gemoed gewandel het’ (Efesiërs 4:17). Wat hulle gedagtes gevul het, was van geen ware nut nie, maar was ydelheid. “Wat ’n beeld!” sê Bybelgeleerde R. C. H. Lenski oor Efesiërs 4:17. “Mense met denkende, gewillige verstande, rasionele wesens, wat deur die lewe gaan en die voorskrifte van ’n verstand volg wat hulle elke tree en op die ou end na niks, na ’n groot, tragiese mislukking lei!”
11 Timotheüs kon sien dat die Efesiërs se lewenswyse sinloos en verlagend was. Talle het die godin Diana aanbid, maar hulle fanatiese aanbidding was tot ’n lewelose beeld gerig. Dit het losbandige drinkpartye en seremoniële prostitusie ingesluit (Handelinge 19:23-34). Timotheüs se lewenswyse was egter verhewe bo dié van die nasies, wat “vervreemd [is] van die lewe van God . . . [en] ongevoelig geword het.” (Efesiërs 2:6; 4:18, 19). Sy godvrugtige weg om “die lewe van God” te lei, het hom die grootste Vriend in die heelal gegee! Die geleentheid om hierdie verhouding met die lewende God deur godsvrug aan te kweek, is inderdaad uiters kosbaar! Kan jy dit aangryp?
12. Wat het een jong Christen oor die ‘groot wins’ van godsvrug gesê? Hoe voel jy daaroor?
12 Talle aanbid vandag seks, plesier, rykdom en geleerdheid met dieselfde intensiteit waarmee die eertydse Efesiërs Diana aanbid het (Mattheüs 6:24; Efésiërs 5:3-5; Filippense 3:19). Diegene wat godsvrug nastreef, geniet egter ’n lewe van hoër gehalte. “Ek kyk na die kinders met wie ek bevriend was voordat ek die Bybel begin bestudeer het”, sê ’n 24-jarige Christen. “Die helfte van hulle is in die tronk. Die meeste gebruik dwelms en baie van die meisies het buite-egtelike babas. Hulle lewens is in ’n chaos. ’n Paar is selfs dood. Ek is so dankbaar dat ek trots kan wees op die lewe wat ek lei.” Ander Christenjeugdiges stem heelhartig saam!
13. Waarom sal gehoorsaamheid aan die bevel in 2 Timotheüs 4:5 die lewe sinvoller maak?
13 Diegene wat godvrugtige lewens lei, het die skat van die bediening (2 Korinthiërs 4:1, 7; 2 Timotheüs 4:5). Dit bied ’n ware doel en ’n uitdaging. In plaas van die skynopwinding van ’n denkbeeldige TV- of rolprentdrama besoek Christene in die bediening die huise van werklike mense om hulle te help. Hulle het ook te doen met werklike probleme. Watter onbeskryflike vreugde verskaf dit tog wanneer hulle sien hoe mense wat onsedelike, gewelddadige of sinlose lewens gelei het op Bybelonderrig reageer en slegte gewoontes laat staan, selfrespek ontwikkel en Jehovah dien. Geen ander loopbaan is so sinvol of stig sulke blywende nut nie!
Vergenoegdheid en ’n skoon gewete
14, 15. Hoe lei godvrugtige vergenoegdheid ten opsigte van geld tot ’n beter lewe?
14 “Die [godsvrug] saam met vergenoegdheid is ’n groot wins. . . . As ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, . . . [deurboor] hulleself met baie smarte” (1 Timotheüs 6:6-10). In 1981 het ’n opname deur Psychology Today getoon dat jongmense “baie meer” aan geld dink as enige ander ouderdomsgroep. Die helfte van die groep respondente wat die besorgste was oor geld (rykes sowel as armes) het egter oor “voortdurende kommer en angs” gekla.
15 ’n Jong man in Japan het daarin geslaag om van ‘lompe tot luukse’ te gaan, maar het sodoende sy gesondheid ’n knou toegedien. Later het hy met behulp van ’n Bybelstudie godsvrug aangekweek. “Wanneer ek terugdink aan die tyd toe dit my hoofdoel in die lewe was om ryk te word, besef ek dat die geluk wat ek smaak sedert ek my doel verander het die vorige verreweg oortref”, sê hy. “Daar is waarlik niks wat die voldoening en bevrediging ewenaar wat ’n mens kry wanneer jy jou lewe aan die diens van die Groot Skepper wy nie.”d—Spreuke 10:22; Prediker 5:10-12.
16. Wat is die gevolg vir diegene wat nie aan ‘’n goeie gewete vashou’ nie?
16 Paulus het Timotheüs aangespoor om ‘aan ’n goeie gewete vas te hou’. Hoe? Een manier was dat hy alle vroue “in alle reinheid” moes behandel (1 Timotheüs 1:19; 5:2). Maar reinheid het onder talle jeugdiges feitlik heeltemal verdwyn namate hulle gewete gebrandmerk is (1 Timotheüs 4:2). Maar onsedelikheid verskaf nie gemoedsrus en bevrediging nie. Een studie het die seksuele gesindhede en gedrag van etlike honderde adolessente beskou. Die verslag het oor diegene wat die mees seksueel promisku was, gesê: “Hulle glo dat hulle met min doel en selfbevrediging funksioneer.” Feitlik die helfte van hulle het gevoel: “Die meeste van my vermoëns word verkwis soos ek nou lewe.”
17. Waarom help ‘liefde uit ’n goeie gewete’ ons om die lewe ten beste te benut?
17 As ’n paartjie mettertyd ’n eerbare huwelik nastreef, sal dit tot voordeel strek as hulle “liefde uit ’n rein hart en ’n goeie gewete” openbaar (1 Timotheüs 1:5). In 1984 het die Journal of Marriage and the Family berig dat ’n studie van 309 pasgetroude paartjies getoon het dat voorhuwelikse geslagsomgang geassosieer is met “baie minder huweliksbevrediging vir albei maats”. Maar wat ’n teenstelling tog met diegene wat rein is! “Dit is ’n heerlike gevoel om terug te kyk en te weet dat ek rein is”, sê een jong Christin wat nou al sewe jaar gelukkig getroud is. Ja, ’n skoon gewete is ’n ryk beloning vir jeugdiges wat “’n voorbeeld . . . in reinheid” is.—1 Timotheüs 4:12.
Innerlike krag
18, 19. (a) Met watter druk het Timotheüs te kampe gehad? (b) Hoe het God hom gehelp?
18 Timotheüs het ongetwyfeld met groot druk in Efese te kampe gehad. Die versoekinge van die welvarende en onsedelike stad met sy nadruk op ‘pret en jolyt’ kon druk van buite meebring. Timotheüs se oënskynlike gebrek aan selfvertroue sowel as sy “herhaalde ongesteldhede” het ongetwyfeld spanning in hom laat opbou (1 Timotheüs 5:23). Maar Paulus het hom daaraan herinner: “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”—2 Timotheüs 1:7.
19 Hoeveel van jou portuurs is daar nie wat inderdaad na sulke krag smag nie! Een jong vrou het ’n lewe van prostitusie en dwelmverslawing heeltemal te bowe gekom. “Dit was slegs met Jehovah se hulp”, het sy gesê. “Daar is tye dat ek daardie ou gevoelens weer ervaar, maar ek begin net bid—onmiddellik. Die vermoë om hierdie probleme te bowe te kom, is opwindender as enigiets wat ek ooit in my lewe bereik het!” Dit ly geen twyfel dat God jou kan versterk en die innerlike krag kan gee om enige druk die hoof te bied en verstandige besluite te neem nie.—2 Timotheüs 4:17.
20, 21. (a) Noem ’n paar voordele van godsvrug. (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
20 Godsvrug bring jou dus ’n magdom voordele. Jou “lewenswandel” kry ’n doel wat uittroon bo die doelwitte van diegene wat slegs materiële geleenthede nastreef (2 Timotheüs 3:10). Een jong Christen wat ’n studiebeurs van die hand gewys en ’n voltydse bedienaar geword het, het gesê: “Ek het die beste loopbaan, naamlik om ’n onderrigter van die goeie nuus te wees en ander te help om van ons liefdevolle Vader te leer! En die ‘byvoordeel’—my verbeterde persoonlikheid—is beter as wat enigiemand kan aanbied. Voeg daarby die beloning om vir ewig en sonder verdriet in ’n paradys te lewe. Vra nou: Watter beter lewe kan enigiemand verlang?”
21 Jy sê dalk: ‘Hoe kan ek godsvrug aankweek?’ Lees die volgende artikel vir ’n antwoord.
[Voetnote]
a “’n Aantal vakkundiges in adolessente-ontwikkeling en -gedrag beskou sulke depressie as ’n belangrike aanleidende faktor by ernstige tienerprobleme soos stokkiesdraaiery en probleme by die skool, dwelm- en alkoholmisbruik, geslagsomgang, swangerskap, weglopery van die huis en selfmoord”, berig skryfster Kathleen McCoy in Coping with Teenage Depression.
b “Hoewel die aantal toelatings vir alle ouderdomsgroepe gedurende ’n tydperk van 13 jaar in die Verenigde State gedaal het, het die vir die ouderdomsgroep van 15-24 jaar met 19 persent gestyg, en het die groep van onder 15 jaar met 158 persent gestyg!
c “Die spontane gevoel van die hart [teenoor God]”, is hoe die Lexicon deur Edward Robinson die oorspronklike Griekse woord eu·seʹbei·a definieer. J. A. H. Tittmann voeg in sy Remarks on the Synonyms of the New Testament by: “[Godsvrug] is daardie verering van die Godheid wat ditself in dade openbaar, . . . maar [godvrugtige vrees] dui op daardie gesindheid wat enige skending van wat reg is, vrees en vermy, . . . [godsvrug] is die krag agter vroomheid in die lewe.”
d Lees die lewensverhaal van Shozo Mima, “Ek het iets beters as rykdom gevind”, in Ontwaak! van 22 Junie 1978.
Onthou jy?
◻ Waarom het materiële geleenthede beperkte waarde?
◻ Wat is jou grootste geleentheid?
◻ Wat word deur godsvrug verskaf wat jou help om die lewe ten beste te benut?
[Prent op bladsy 12]
Wat sal jou waarlik gelukkig maak?
[Prent op bladsy 14]
Timotheüs het hom met godsvrug as sy doel geoefen. Dit het sy lewe bo dié van die Efesiërs verhef.