Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 7/1 bl. 8-9
  • Is die wêreld se einde naby?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die wêreld se einde naby?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Laaste dae
    Redenering uit die Skrif
  • Sal hierdie wêreld bly voortbestaan?
    Sal hierdie wêreld bly voortbestaan?
  • Herken jy die teken?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 7/1 bl. 8-9

God se Woord is lewend

Is die wêreld se einde naby?

KORT voor Jesus se dood het vier van sy apostels vir hom gevra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?” (Mattheüs 24:3, NTP). Sedertdien stel Christene in hierdie onderwerp belang. Die uitdrukking “die einde van hierdie wêreld” beteken natuurlik nie die einde van die aarde nie. Dit gaan eerder om “die voleinding van die stelsel” soos hedendaagse Bybelvertalings toon.

In antwoord op hulle versoek om ’n teken, het Jesus vir hulle een gegee. Hy het nie net een ding, soos oorloë, as “die teken” gegee nie. Hy het talle verskillende gebeure en situasies gemeld. Al hierdie dinge wat voorspel is, sou plaasvind gedurende die tyd wat Bybelskrywers die “laaste dae” genoem het (2 Timotheüs 3:1; 2 Petrus 3:3, 4). Wanneer jy hierdie dinge ondersoek wat Jesus voorspel het, kan jy gerus oplet hoe dit vervul is in die leeftyd van persone wat nou lewe.

“DIE EEN NASIE SAL TEEN DIE ANDER OPSTAAN EN DIE EEN KONINKRYK TEEN DIE ANDER.”—Mattheüs 24:7.

Die Eerste Wêreldoorlog, van 1914 tot 1918, was baie groter as al die groot oorloë gedurende die 2 400 jaar voor 1914 tesame. Maar net 21 jaar na die einde van daardie oorlog het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. En dit het vier keer meer verwoesting gesaai as die Eerste Wêreldoorlog. Sedert die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, is meer as 25 miljoen persone dood in nagenoeg 150 ander oorloë rondom die aardbol.

“DAAR SAL HONGERSNODE WEES . . . OP VERSKILLENDE PLEKKE.”—Mattheüs 24:7.

Na die Eerste Wêreldoorlog was daar die grootste hongersnood in mensegeskiedenis. Maar na die Tweede Wêreldoorlog was die tekort aan voedsel selfs groter. ’n Kwart van die wêreld het toe honger gely. Miljoene kom steeds van die honger om—sowat 50 miljoen elke jaar! Selfs in plekke waar daar volop kos is, is baie te arm om dit te koop.

“PESSIEKTES.”—Lukas 21:11.

Net na die Eerste Wêreldoorlog het meer mense aan die Spaanse griep gesterf as tydens enige ander epidemie in die geskiedenis van die mensdom. Die dodesyfer was nagenoeg 21 miljoen mense! Tog woed pessiektes en kwale voort. Miljoene sterf elke jaar aan hartkwale en kanker. Veneriese siekte versprei vinnig. Ander verskriklike kwale kom in land na land voor.

“AARDBEWINGS OP VERSKILLENDE PLEKKE.”—Mattheüs 24:7.

Sedert 1914 was daar baie meer groot aardbewings as in enige ooreenstemmende tydperk in die geboekstaafde geskiedenis. In meer as 1 000 jaar, van 856 G.J. tot 1914, was daar slegs 24 groot aardbewings, wat sowat 1 973 000 lewens geëis het. Maar in die 63 jaar van 1915 tot 1978 het sowat 1 600 000 mense in 43 groot aardbewings gesterf.

“DIE ONGEREGTIGHEID VERMEERDER.”—Mattheüs 24:12.

Uit alle dele van die wêreld kom verslae van toenemende wetteloosheid en misdadigheid. Gewelddadige misdade, soos moord, verkragting en aanranding, is nou buite beheer.

“MENSE SE HARTE BESWYK VAN VREES.”—Lukas 21:26.

Vrees is vandag waarskynlik die grootste enkele emosie in mense se lewens. Kort na die ontploffing van die eerste kernbomme het atoomwetenskaplike Harold C. Urey gesê: “Ons sal vrees eet, vrees slaap, in vrees lewe en in vrees sterf.” Mense vrees misdadigheid, besoedeling, siekte, inflasie en talle ander dinge wat hulle veiligheid en hulle lewens bedreig.

Alhoewel hierdie teken baie ander aspekte het, behoort dié wat hier aangegee word genoeg te wees om te bewys dat ons waarlik lewe in die tyd wat die Bybel as die “laaste dae” voorspel het. Dit beteken dat God binnekort hierdie goddelose stelsel ten einde gaan bring. Maar diegene wat God dien, sal behoue bly om die lewe op ’n gereinigde aarde te geniet.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel