Gelukkig ondanks vervolging!
“Gelukkig is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”—MATTHEÜS 5:10, “Die Blye Boodskap”.
1. Met watter vervolging het Romeinse keiser Nero begin?
GEKLEE in dierevelle is hulle deur honde verskeur en het hulle gesterf, of hulle is aan pale genael, of gevonnis om verbrand te word en as ligte in die nag te dien nadat die son ondergegaan het.” Dit is wat die Romeinse geskiedskrywer Tacitus geskryf het (The Annals, Boek XV, paragraaf 44). En wie was die slagoffers? Christene—die dissipels van Jesus Christus. Volgens gerug was keiser Nero daarvoor verantwoordelik dat Rome (in 64 G.J.) afgebrand is, en hy het probeer om die skuld op Jesus se volgelinge te pak. Dit was die eerste van verskeie vervolgings van Christene gedurende die bloeityd van antieke Rome.
2. (a) Wat het Jesus Christus gesê oor diegene wat “vervolg word omdat hulle doen wat reg is”? (b) Wat moet Jehovah se Getuies weet om gelukkig te wees ondanks vervolging?
2 Hoe kon daardie vroeë Christene sulke wrede vervolging verduur? Trouens, hoe het getuies van Jehovah van die verlede en die hede dit moontlik gevind om blymoedig te wees terwyl hulle lastig geval of moedswillig beseer is met die doel om hulle godsdiensgeloof en -oortuiging uit te wis? (2 Thessalonicense 1:3-5). Ja, Jesus Christus het gesê: “Gelukkig is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mattheüs 5:10, Die Blye Boodskap). Maar om gelukkig te wees ondanks vervolging moet Jehovah se Getuies weet (1) wat die Duiwel se oogmerk met vervolging is; (2) waarom Jehovah hierdie verdrukking toelaat; (3) waarom God se knegte gelukkig kan wees ondanks vervolging; (4) hoe hulle hulle op vervolging kan voorberei; en (5) hoe dit met volharding verduur kan word.
Die Duiwel se oogmerk
3, 4. (a) Wie sit in werklikheid agter die vervolging van getuies van Jehovah? (b) Hoe het Jesus die hoofaanstigter van hierdie vervolging geïdentifiseer?
3 Die Romeinse heersers het geen rede gehad om ware, vredeliewende Christene te vrees nie. Daardie getuies van Jehovah het relatiewe onderdanigheid aan goewermentele “magte” getoon en ‘aan die keiser betaal wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom’ (Romeine 13:1-7; Mattheüs 22:21). Weinig het Rome se keisers geweet dat iemand agter die skerms voortdurend haat teen die getuies van Jehovah aangeblaas het en dit alreeds van die dae van “regverdige Abel” af doen (Mattheüs 23:33-36; Hebreërs 11:4, 32-40; 12:1). Daardie bose aanstigter van sulke vervolging tot vandag toe is niemand anders as Satan die Duiwel nie. As ’n teenstander van God, en van Jehovah se volk, “loop (hy) rond soos ’n brullende leeu en soek [hy] wie hy kan verslind”.—1 Petrus 5:8.
4 Jesus het herhaaldelik vir sy dissipels gesê dat hulle vervolg sou word. Hy het byvoorbeeld gesê: “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het [wat hulle beslis gedoen het], sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20; 16:2; Mattheüs 10:22, 23). Christus het bowendien geen twyfel gelaat oor die hoofaanstigter van hierdie vervolging toe hy vir een van die “sewe gemeentes” gesê het nie: “Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word” (Openbaring 1:1, 4; 2:10). Maar wat is die Duiwel se oogmerk wanneer hy die getuies van Jehovah vervolg?
5. Wat is die Duiwel se oogmerk wanneer hy Jehovah se knegte vervolg?
5 Satan se oogmerk met druk op en die vervolging van knegte van Jehovah is om hulle te dwing om hulle geloofsoortuigings prys te gee. Hy wil die kosbare verhouding wat hulle met hulle hemelse Vader het, vernietig. Reg van die begin van sonde af het Jehovah God vyandskap tussen die “slang” en God se simboliese “vrou”, asook tussen hulle onderskeie ‘sade’, voorspel! (Genesis 3:14, 15). Jesus het die slang onteenseglik as Satan geïdentifiseer en vir Sy vervolgers gesê dat hulle ‘die Duiwel as vader het’ en gevolglik die Teenstander se “saad” is (Johannes 8:31-59). In hierdie “laaste dae” het die Duiwel min tyd en is sy toorn inderdaad groot (2 Timotheüs 3:1-5; Openbaring 12:7-17). Die vyandskap tussen die ‘sade’ duur dus voort, en elkeen op aarde moet hom uiteindelik aan die kant van die goddelike saad of aan die kant van die duiwelse saad skaar. (Vergelyk 1 Johannes 3:10.) As ’n Persoon Jehovah God getrou dien, word hy vervolg of sal hy vervolg word. Satan die Duiwel sal daarvoor sorg.—2 Timotheüs 3:12.
6. Watter groot geskil is deur Satan geopper, en wat omtrent mense het hy in twyfel getrek?
6 Satan het die geskil van universele soewereiniteit geopper, en hy het die onkreukbaarheid van mense wanneer hulle beproef word in twyfel getrek. Onkreukbaarheid aan God was byvoorbeeld die geskil toe Satan vervolging teen die man Job aangestig het, terwyl Job se vrou en drie “vertroosters” bewus of onbewus die Duiwel se saak bevorder het (Job 1:8-2:9; 16:2; 19:22, 28). Soos die geval van Job duidelik toon, het die Duiwel Jehovah uitgedaag en aangevoer dat geen mens aan God getrou sou bly indien Satan toegelaat sou word om hom te beproef nie. Satan vervolg gevolglik getuies van Jehovah om hulle van hulle onkreukbaarheid te laat afsien en te bewys dat sy aantyging waar is.
7. Deur net wat te doen gee ’n Christen sy geloofsoortuigings prys, maar hoe het Jesus gereageer toe hy op hierdie wyse versoek is?
7 Satan weet dat een “daad van aanbidding” teenoor hom al is wat nodig is vir ’n Christen om sy geloofsoortuigings prys te gee en die Duiwel se aantyging te staaf dat mense nie aan God getrou sal bly wanneer hulle beproef of vervolg word nie. Wat het daardie aartsvervolger, die Duiwel, gesê toe hy vir Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” gewys het? “Ek sal al hierdie dinge aan jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig.” Maar Jesus se standvastige weiering het ware aanbidding gesteun, Jehovah se kant van die geskil van universele soewereiniteit verdedig en die Duiwel ’n leuenaar bewys.—Mattheüs 4:8-11, NW.
8, 9. (a) Hoe het vroeë Christene getoon dat hulle nie een “daad van aanbidding” teenoor Satan sou verrig nie? (b) Hoe is sommige 20ste-eeuse Christene op soortgelyke wyse beproef, en watter standpunt het hulle ingeneem?
8 Hoe gepas was dit dan tog dat getroue, vroeë Christene geweier het om ’n enkele “daad van aanbidding” te verrig wat Satan se kant van die groot geskil sou steun! Lojale volgelinge van Christus het geweier om wierook ter ere van die Romeinse keiser te brand, al het dit hulle ook hulle lewens gekos. Daniel P. Mannix het hieromtrent geskryf: “Baie min Christene het van hulle geloof afstand gedoen, hoewel daar gewoonlik ’n altaar met vuur daarop vir hulle gerief in die arena gehou is. Al wat ’n gevangene moes doen, was om ’n knippie reukwerk op die vlam te strooi en dan is daar ’n Offersertifikaat aan hom gegee en is hy vrygelaat. Daar is noukeurig vir hom verduidelik dat hy nie die keiser aanbid nie; hy erken bloot die goddelike karakter van die keiser as hoof van die Romeinse staat. Nogtans het byna geen Christen gebruik gemaak van die geleentheid om aan die dood te ontkom nie” (Those About to Die, bladsy 137). Net een sodanige “daad van aanbidding” sou Satan tevrede stel.
9 Sommige 20ste-eeuse Christene is op soortgelyke wyse beproef. Van die tyd dat Jehovah se Getuies in hegtenis geneem is, en herhaaldelik gedurende hulle internering in Nazi-konsentrasiekampe, is pogings aangewend om hulle te dwing om Jehovah te verloën en alle verdere kontak met sy volk te beëindig. Te dien einde het die Nazi’s ’n verklaring voorberei wat aan die Getuies gegee is om te teken in ruil vir hulle vryheid. Al wat nodig was, was ’n mens se handtekening. Tog het min Getuies geteken.
10. Waarom sal dit onverstandig wees om ’n klein kompromis aan te gaan met die hoop om vryheid te verkry om te kan preek?
10 Laat ons, daar ons bewus is van Satan se doel met die vervolging van getuies van Jehovah, nooit swig voor enige duiwelse versoeking om ’n geskil te ontwyk ten einde moeilikheid te vermy nie. Ons moet nie eens ’n oomblik lank die dwaalbegrip koester dat ’n oënskynlik klein kompromis ons gou ons vryheid sal besorg sodat ons kan voortgaan met die predikingswerk nie. Enige kompromis op die gebied van ons onkreukbaarheid kan ons algehele ondergang beteken. (Vergelyk Mattheüs 13:21; Galasiërs 6:12.) Wanneer ’n kompromis “’n daad van aanbidding” behels, is ons nie meer geskik om Jehovah se Koninkryksbelange te verteenwoordig nie. Ons kan daarvan seker wees dat ’n enkele daad waardeur ons ons onkreukbaarheid prysgee, die Duiwel sal verbly, en ons wil hom beslis nie gelukkig maak nie. Ons wil eerder Jehovah se hart verbly deur onkreukbaarheid te handhaaf wat hom van ’n antwoord voorsien vir die Groot Smader.—Spreuke 27:11.
Waarom Jehovah vervolging toelaat
11. Wat is die hoofrede waarom Jehovah toelaat dat sy volk vervolg word?
11 Ons hemelse Vader kan verhoed dat sy volk vervolg word. Maar hy verkies om dit toe te laat, en as ons weet waarom, sal dit ons help om gelukkig te wees ondanks vervolging. Die vernaamste rede waarom vervolging toegelaat word, staan in verband met die geskil van universele soewereiniteit. Elke getuie van Jehovah wat sy onkreukbaarheid gedurende Duiwel-geïnspireerde beproewing handhaaf, toon dat Satan ’n leuenaar is en bewys dat selfs ’n onvolmaakte mens aan God getrou kan bly al word hy kwaai beproef of vervolg. Die lojale individu verdedig God se kant van die geskil en steun Jehovah se reg om as Universele Soewerein te heers. Watter vreugde verskaf dit tog om by te dra tot die getuienis dat hy “die hoogste Heerser” is!—Psalm 47:10, Die Lewende Bybel.
12, 13. Om watter bykomende rede laat Jehovah toe dat Christene vervolg word, en wie onder hulle sal ’n blywende plek in God se reëling hê?
12 Jehovah laat vervolging ook toe om die lojaliteit van diegene wat hulle aan hom toegewy het op die proef te stel. Hy het “’n volk as eiendom” byeengebring sodat hierdie geesgesalfdes ‘sy deugde kan verkondig’ (1 Petrus 2:9). God laat ook ‘al die nasies bewe’ sodat “die skatte van al die nasies”—mense wat God se goedkeuring wegdra—na sy “huis” van aanbidding gebring kan word en dit met heerlikheid vul. (Haggai 2:7; vergelyk Sagaria 8:23.) Persone met ’n hemelse hoop en ander wat uitsien na die ewige lewe op ’n paradysaarde het gevolglik toegewyde Christene en getuies van Jehovah geword.—Lukas 23:43, NW; Openbaring 7:1-17.
13 Maar wie onder al hierdie toegewyde Christene sal eindelik deel uitmaak van die beloofde “nuwe hemel” en “nuwe aarde”? (Openbaring 21:1). Nie almal nie (Psalm 15:1-5; Mattheüs 22:14). Daar sal geen blywende plek in God se reëling wees vir diegene wat ontrou is nie. Hoewel Jehovah dus nie vervolging veroorsaak nie, laat hy dit toe sodat ontroues onder sy volk uitgesif kan word, terwyl individue met onbetwiste lojaliteit en hartgrondige liefde vir God in hulle geledere bly (Mattheüs 22:37, 38; 25:31-33; 2 Korinthiërs 13:5). Mag ons onder diegene wees wat vervolging getrou verduur en dus voortdurend ‘die voorreg het om onbevrees heilige diens vir Jehovah God te verrig met lojaliteit en regverdigheid voor sy aangesig al ons dae’—selfs vir ewig.—Lukas 1:68, 69, 74, 75, NW.
Waarom gelukkig ondanks vervolging
14. Watter rede om gelukkig te wees ondanks vervolging is spesifiek deur Jesus gemeld?
14 Die Koninkrykshoop is spesifiek deur Jesus Christus gemeld toe hy gesê het: “Gelukkig is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mattheüs 5:10, Die Blye Boodskap). Ja, assosiasie met Christus in die hemelse Koninkryk is die wonderlike prys wat wag op Jesus se gesalfde volgelinge wat vervolging getrou verduur (Lukas 12:32; Openbaring 2:10; 14:1; 20:6). En vir getroue getuies van Jehovah met aardse verwagtinge is daar die wonderlike vooruitsig op die ewige lewe op ’n paradysaarde (Lukas 23:43. NW; Johannes 10:16; 17:3; Openbaring 7:9, 10, 14). Ons kan dus gewis gelukkig wees ondanks vervolging as ons die Koninkrykshoop in gedagte hou.—Romeine 12:12.
15. Watter verband bestaan tussen Jehovah se soewereiniteit en die Koninkryk, en hoe hou dit verband met ons geluk ondanks vervolging?
15 Jehovah se universele soewereiniteit is onskeibaar verbonde aan die Koninkryk, want dit is daardeur dat hy sy heilige naam regverdig. As Jehovah se getroue getuies en Koninkryksverkondigers verdedig ons sy soewereiniteit en het ons dus bykomende rede om gelukkig te wees selfs in verdrukking (Jesaja 43:10-12, NW; Mattheüs 6:9, 10). Mag ons dus, met God se hulp, ons onkreukbaarheid teenoor God handhaaf en aldus bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is wat nie sy bewering kan staaf dat geen mens tydens beproewing aan Jehovah getrou kan bly nie (Job 27:5, NW). Hoe gelukkig kan enige vervolgde Christen tog wees wanneer hy Jehovah se kant van die groot geskil verdedig!—Vergelyk Handelinge 4:24, NW.
16. Waarom kan daar gesê word dat ’n skoon gewete bydra tot ons geluk ondanks vervolging?
16 ’n Skoon gewete dra ook by tot die geluk van vervolgde, dog lojale Koninkryksverkondigers. Terwyl ’n erkende Christen waarskynlik skaam en beangs sal voel as hy ly weens oortreding, is ’n persoon tereg vreugdevol as hy as ’n getroue getuie van Jehovah en volgeling van Jesus Christus ly ter wille van geregtigheid. Selfs nadat Jesus se apostels geslaan is, het hulle dus “van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir [Christus se] Naam oneer te ly” (Handelinge 5:40, 41). Nadat Paulus en Silas in Filippi geslaan en in die tronk opgesluit is, was hulle nie stug of het hulle gewetens hulle nie gekwel asof hulle iets verkeerds gedoen het nie. Omtrent middernag het hulle eerder “gebid en lofliedere tot eer van God gesing” (Handelinge 16:22-25). Hoewel ’n getuie van Jehovah hom nooit so moet gedra dat hy gestraf moet word as ’n skuldige en moontlik gekwelde moordenaar, dief, kwaaddoener of bemoeial nie, kan hy gelukkig wees as hy ly ter wille van die geregtigheid—1 Petrus 2:11, 12; 3:13, 14; 4:15, 16.
17. Veral wat sal tot ons geluk bydra wanneer ons as Koninkryksondersteuners vervolg word?
17 As ons Jehovah behaag en verheerlik, sal dit veral tot ons geluk bydra wanneer ons as Koninkryksondersteuners vervolg word. Selfs in groot nood is dit noodsaaklik om so ‘te wandel dat ons God behaag’ as ons ons vreugde as Jehovah se knegte wil behou (1 Thessalonicense 4:1). Wanneer ons as ’n Christen ly, moet ons bowendien “daardie naam tot eer van God bely”. Dink net daaraan! Wanneer ons vervolging getrou verduur, behaag ons Jehovah nie net nie, maar ‘verheerlik ons God’ (1 Petrus 4:16. The New English Bible; AB). Watter vreugdevolle aansporing om vervolging moedig te verduur!
Beur voort as handhawers van onkreukbaarheid
18. Hoe moet Jehovah se Getuies voel oor die handhawing van onkreukbaarheid teenoor God?
18 Dit is dus duidelik dat Jehovah se Getuies goeie redes het om gelukkig te wees ondanks vervolging. Laat ons dus, met God se hulp, net so vasberade wees soos die psalmis Dawid, wat gesê het: “Wat my betref, ek sal in my kreukbaarheid wandel.”—Psalm 26:11, NW.
19. Watter vrae word nou geopper vir bespreking?
19 As getroue Christene kan ons gelukkig wees ondanks vervolging, want ons weet wat die Duiwel se oogmerk met sulke verdrukking is. Ons besef ook waarom Jehovah God toelaat dat sy volk vervolg word. Maar wat kan ons, al het ons sulke redes om gelukkig te wees ondanks vervolging, doen om ons daarop voor te berei? En hoe kan ons hewige en selfs wrede vervolging met volharding verduur?
Hersieningsvrae
◻ Wat is die Duiwel se oogmerk wanneer hy die getuies van Jehovah vervolg?
◻ Watter groot geskil het Satan geopper, en wat omtrent mense het hy in twyfel getrek?
◻ Waarom laat Jehovah toe dat sy volk vervolg word?
◻ Watter rede tot geluk wanneer ’n mens “vervolg word ter wille van die geregtigheid” het Jesus Christus spesifiek gemeld?
◻ Wat dra tot ons geluk by wanneer ons as Jehovah se knegte vervolg word?
[Prent op bladsy 15]
Toe Jesus versoek is, het hy geweier om ’n daad van aanbidding teenoor Satan te verrig
[Prent op bladsy 16]
Die Koninkrykshoop bied goeie rede om gelukkig te wees ondanks vervolging