GELOOFSGENESING—Hoe werk dit?
‘“DAARDIE meisie met die nekstut. Haal dit af. Jy is genees. Kom hier en loof Jesus.” Die meisie loop van haar stoel na die altaar. Sy sê dat sy twaalf operasies gehad het en dat sy sedert 1973 gebreklik is weens gewrigsrumatiek. Terwyl sy voor die priester staan, beweeg sy haar kop vorentoe en agtertoe. Die priester seën haar, die skare klap hande en die priester sê: “Sy is genees!”’
Stel jou die vreugde voor van iemand wat van gewrigsrumatiek genees is! Gebeur sulke dinge werklik?
Verslae soos hierdie een in Worcester se Sunday Telegram dui daarop dat dit moontlik is. Geen wonder dat hedendaagse geloofsgenesing baie aandag trek nie. Siek mense stroom na geloofsgenesers in die hoop dat hulle genees sal word. Word hulle verwagtinge vervul? Is geloofsgenesing werklik ’n geslaagde manier om kwale te behandel? Hoe werk dit?
WAT IS DIT?
Geloofsgenesing het in werklikheid verskillende vorme. In die Weste word dit dikwels verrig tydens dienste deur evangeliste of predikante van die vernaamste kerke—moontlik dié wat verbonde is aan die charismatiese beweging. Hierdie geloofsgenesers beweer dat hulle Jesus Christus en sy apostels navolg en is die mening toegedaan dat God self die bron van hulle krag is.
’n Ander groep is die “genesers” van nie-Christelike gelowe—die voedoepriesters, toordokters, ensovoorts. Hulle glo dat kwale veroorsaak word deur bose geeste, en hulle voer seremonies uit om die geeste uit te dryf.
Dan is daar die “psigiese chirurge” wat sogenaamde “psigiese operasies” uitvoer. In die Filippyne beweer hulle byvoorbeeld dat hulle hulle kaal hande in die liggaam van siek mense insteek en siek weefsels en bloedklonte uithaal. Hulle “pasiënte” is volgens berig by hulle volle bewussyn, en daar is agterna glo geen littekens nie.
Laastens is daar diegene wat sê dat hulle “genesing” niks met godsdiens of geloof te doen het nie. Hulle beskou dit as ’n natuurlike proses, ’n manier om ’n geheimsinnige genesingskrag wat rondom ons of in die liggaam self bestaan, te benut. Party van hulle verkies om “psigiese genesers” genoem te word eerder as “geloofsgenesers”.
IS DIT GESLAAGD?
Die antwoord op hierdie vraag sal afhang van wie jy vra. Mense wat daaraan glo, vertel van genesings wat hulle aanskou of self ondervind het. Persone wat daaraan twyfel, vertel van navorsers wat ingegaan het op gevalle van beweerde wonderdadige genesing en tot die gevolgtrekking gekom het dat dit nie plaasgevind het nie. Waarom die teenstrydigheid?
Soms kan dit bloot die gevolg van ’n fout wees. Een vrou het opreg geglo dat sy van servikale kanker genees is. Sy het ’n kliniese toets gehad wat op die teenwoordigheid van kanker gedui het; sy is dus na ’n geloofsgeneser. Toe die toets weer uitgevoer is, was dit negatief. Sy is daarvan oortuig dat die geloofsgeneser haar genees het. Maar haar dokter het gesê dat die uitslag van die eerste toets bloot ’n fout was, iets wat soms gebeur.
In ander gevalle maak mense wat desperaat op ’n wonderwerk hoop hulle aan wensdenkery skuldig. ’n Jong meisie wat aan gevorderde kanker gely het, is na ’n geloofsgeneser. Daarna is sy weer deur haar dokter ondersoek. “Toe die dokter my gesien het, kon hy dit nie glo nie”, het sy bly gesê. “Hy het voorspel dat ek oor twee maande sou sterf. Maar niks het gebeur nie . . . Ek is veronderstel om dood te wees, maar ek weet nie waarom God my gered het nie.” Ongelukkig het sy minder as ’n jaar later gesterf.
’n Dokter is eenkeer aangehaal as sou hy gesê het dat die herstel van sy pasiënt ’n wonderwerk was. Toe ’n koerantverslaggewer op die saak ingegaan het, het die dokter egter gesê dat die woord “wonderwerk” “beeldspraak” was. Hy was daarvan oortuig dat die genesing ’n “natuurlike gebeurtenis” was. “Ek meen nie dat ons kan bewys dat God persoonlik ingegryp het nie”, het hy gesê. “Ek het al dieselfde ding sien gebeur wanneer geloofsgenesing nie by die saak betrokke was nie.”
Daar is faktore wat dit moeilik maak om te bepaal wat nou eintlik sekere “genesings” meegebring het. Ons het steeds slegs ’n gebrekkige begrip van die uitwerking van die verstand op die liggaam se gesondheid. Die verloop van baie kwale is onvoorspelbaar. Party neem weens ’n onverklaarbare rede af. Baie kwale word deur die liggaam self genees, soms met behulp van geneesmiddels. Dr. William A. Nolan meen dat die intense emosie van sekere genesingsdienste sekere kwale gouer kan laat reageer as wat gewoonlik die geval is. Ons moet ook daarop let dat baie van die beweerde genesings slegs geringe verbeteringe in die siek persoon se toestand is.
Party geloofsgenesers erken dat dit moontlik is dat baie van die genesings nie wonderdadig is nie. ’n Priester wat aan die charismatiese beweging verbonde is, het gesê: “Party [genesings] is psigosomaties, party histeries en party kan met ’n natuurlike rede verklaar word.” Toe het hy bygevoeg: “Dit is nie vir my ’n probleem nie, want hulle is nogtans wesenlik.”
Nie almal aanvaar natuurlik die gedagte dat genesings ’n natuurlike verklaring het nie. Baie glo opreg dat wonderwerke plaasvind en dat siekes deur ’n bomenslike krag genees word. Iemand wat navraag oor die saak doen, kan dus redeneer: ‘Wel, geloofsgenesing sal moontlik slaag, moontlik nie. Maar watter skade sou dit aanrig om dit op die proef te stel?’ Dit is ’n belangrike vraag.