Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 11/15 bl. 5-8
  • Geloofgenesing—Is dit enigsins skadelik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geloofgenesing—Is dit enigsins skadelik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE GODSDIENSVERBAND
  • DIE GENESINGS WAT JESUS VERRIG HET
  • WAAROM DIE VERSKIL?
  • WAAROM JESUS MENSE GENEES HET
  • ’N BETER OPLOSSING
  • Beoefen Jehovah se Getuies geloofsgenesing?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hoe geloof die siekes kan help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Keur God geloofsgenesing goed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • ‘Wonderdadige genesings’ vandag—Kom dit van God af?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 11/15 bl. 5-8

GELOOFSGENESING—Is dit enigsins skadelik?

GELOOFSGENESERS verduidelik dat hulle krag om te genees nie in elke geval sukses behaal nie. Soos jy jou kan voorstel, het dit tot probleme aanleiding gegee. Wanneer siek mense geheel en al op geloofsgenesers staatgemaak het en die verwagte wonderwerk nie plaasgevind het nie, was die gevolge soms ernstig. In party gevalle het mense gesterf aan kwale wat moontlik met welslae op ’n ander manier behandel kon word.

Dit is moontlik hiermee in gedagte dat baie geloofsgenesers nou hulle “pasiënte” aanraai om met hulle dokter in aanraking te bly terwyl hulle na hulle kom vir geloofsgenesing. Hulle sê dat hulle die dokter as ’n vennoot in die genesingswerk beskou, nie as ’n mededinger nie. Party dokters heg hul versigtige goedkeuring aan hierdie soort geloofsgenesing, met die oog op moontlike psigosomatiese voordele vir hulle pasiënte.

Na ’n lang ondersoek na geloofsgenesing het dr. William A. Nolan nog ’n probleem gemeld. Toe hy verskeie van die beweerde genesings opgevolg het, het hy baie bitterheid by mense aangetref. Daar is vir mense gesê, of die indruk is by hulle geskep, dat hulle genees is. Maar daarna was die kwaal nog daar. Party kwale was erger as tevore. Party mense het gemeen dat hulle bedrieg is.

Maar gestel ’n persoon het ag geslaan op die raad om in verbinding te bly met sy huisdokter; en gestel dat die indiwidu voorbereid was op die feit dat die verwagte genesing miskien nie sou plaasvind nie. Sou dit nie steeds die moeite werd wees om na ’n geloofsgeneser te gaan nie—net ingeval? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons na die godsdiensaspek kyk.

DIE GODSDIENSVERBAND

Geloofsgenesing het sterk bande met godsdiens. Evangeliste en ander geloofsgenesers meen dat hulle bedrywighede ‘mense weer na Christus keer’. Is dit die geval?

Dit is opmerklik dat mense gedurende hulle dienste soms “in tale spreek” of in ’n soort beswyming raak waarin hulle nie kan beweeg nie, maar oënskynlik bewus is van wat rondom hulle gebeur. Dit is interessant dat sulke dinge nie veel verskil van die aanvalle en beswymings waarby daardie ander godsdienstige genesers, die voedoepriesters en toordokters, betrokke is nie.

Party “psigiese genesers” meen weliswaar dat hulle genesing niks met godsdiens te doen het nie. Hulle prosedures en ondervindings kom egter dikwels baie ooreen met dié van godsdienstige genesers. En ten minste party van hulle het in die verlede kontak gehad met spiritisme of moontlik Oosterse godsdiensfilosofie.

Is hierdie besonderhede belangrik in hierdie liberale 20ste eeu? Ja, daardie besonderhede is baie belangrik, as ons die genesings wat deur Jesus Christus en sy apostels in die vroeë dae van die Christelike godsdiens verrig is as maatstaf gebruik. Wat sien ons wanneer ons na hierdie genesings kyk?

DIE GENESINGS WAT JESUS VERRIG HET

Wanneer Jesus persone genees het, was daar geen “psigiese operasies” of beswymings nie. Hy het ook nie emosionele preke voor sy genesings gehou nie. Hy het dikwels heel informeel opgetree. Hy het die sieke aangeraak, of die sieke het hom aangeraak, of hy het soms net met die sieke gepraat. En hulle is genees.—Matt. 8:14, 15; Luk. 8:43-48; 17:12-19.

Die genesings wat deur Jesus verrig is, was nie psigosomaties nie. ’n Verdorde hand kan nie so genees word nie, en tog het hy sulke gebreke genees. Hy kon “elke siekte en elke kwaal onder die volk genees”. Hy het selfs die dode opgewek (Matt. 4:23; Luk. 6:6-11; 8:49-56). Daar was nooit net geringe verbetering nie, daar was geen mislukkings nie. Woorde soos “teleurstelling” of “bedrog” is nooit in verband met Jesus se genesingswerke gehoor nie. Selfs sy vyande het erken dat dit plaasgevind het (Joh. 11:47, 48). Waarom die verskil tussen toe en nou?

WAAROM DIE VERSKIL?

Aangesien die meeste mense—ook die meeste geloofsgenesers—dit eens is dat Jesus se genesings van God gekom het, kan ’n mens vra: Is dit moontlik dat hedendaagse genesers met ’n ander bron van krag in aanraking is? Dit is baie moontlik, veral as ’n mens party geloofsgenesers se bande met spiritisme en okkultisme in ag neem. En dit is baie betekenisvol dat die Bybel ons aangaande hierdie gebruike waarsku: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.”—Deut. 18:10, 11.

Dit is nie godsdienstige verkramptheid nie. Dit beskerm ons eerder teen besoedeling deur boosaardige geesmagte—demone—wat nog altyd die mens leed probeer aandoen het. Hedendaagse geloofsgenesing, met sy okkulte bande, verskil onvermydelik van die genesings wat deur Jesus Christus verrig is, aangesien hy altyd sulke invloede vermy het. Enigiets wat onder die invloed van hierdie magte gedoen word, sal noodwendig tot talle gevalle van “teleurstelling” en “bedrog” aanleiding gee.

Hierdie gedagte van ’n ander bron van krag word duideliker wanneer ons besef dat daar geen rede bestaan om te verwag dat dieselfde soort genesingswerk wat Jesus verrig het vandag gedoen sou word nie. Die genesingswerk van Jesus en sy apostels het sy doel gedien.

WAAROM JESUS MENSE GENEES HET

Toe die apostel Paulus se vriend Timotheüs siek was, het Paulus nie aanbeveel dat hy die hande opgelê word nie, maar dat hy wyn daarvoor drink (1 Tim. 5:23). Waarom? Omdat die vroeë Christene nie die gawe van genesing as ’n soort terapie beskou het nie. Dit was ook nie hulle opdrag om destyds na die fisiese gesondheid van die mensdom om te sien nie. Hulle was predikers, net soos Jesus. Jesus het vir Pontius Pilatus verduidelik wat sy hoofdoel in die lewe was toe hy gesê het: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig.”—Joh. 18:37.

Waarom dan die genesingswerk? Saam met die ander wonderwerke het dit ’n teken uitgemaak. Dit het bewys dat die Christelike boodskap waarlik van God gekom het en “die waarheid” is. Die apostel Paulus het dit getoon toe hy geskryf het: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade . . .?” (Hebr. 2:3, 4). Die boodskap van redding was dus die belangrike saak, nie die wonderwerke nie. Die wonderwerke het bloot die waarheid van die boodskap gestaaf. Nadat dít sowel as die feit dat God die Christengemeente gebruik, bevestig is, was wonderdadige gawes van die gees, genesing inkluis, nie langer nodig nie.—1 Kor. 12:27-13:8.

Maar wat van die beweerde wonderwerke wat vandag in Jesus se naam gedoen word? Jesus self het gesê dat baie vir hom sou sê: “Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?” En Jesus se antwoord? “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” Jesus het nie ontken dat kragte gedoen sou word nie. Maar dit sou nie op sy gesag, ‘in sy naam’, gedoen word nie. Dit sou deur ’n ander mag gedoen word; dit was gevolglik werke van ongeregtigheid.—Matt. 7:21-23.

Jesus het andersyds die volgende oor die bedrywigheid van sy ware volgelinge gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies.” Hy het ook gesê: “Gaan . . . maak dissipels van al die nasies . . . leer hulle.” Ja, die hedendaagse getuieniswerk sou ’n predikings- en onderrigtingswerk wees, nie wonderwerke soos genesing nie.—Matt. 24:14; 28:19, 20.

’N BETER OPLOSSING

Hoewel die moontlike voordele van besoeke aan ’n geloofsgeneser onseker is, is die gevare wesenlik. Die gevaar bestaan dat ’n mens met die demone deurmekaar sal raak, en dat Jesus jou sal beskou as een wat “die ongeregtigheid werk”. Daarbenewens bestaan die gevaar dat ’n mens die geleentheid sal verbeur om baat te vind by ’n veel beter oplossing vir die probleem van menslike kwale as geloofsgenesing.

Daar is ’n beter oplossing—God se oplossing, wat vir ons in die Bybel uiteengesit word. Hierdie geïnspireerde boek belowe nie onmiddellike verligting van siekte nie. Maar dit verleen wel hulp op die gebied van gesondheid. As ons die Bybel se raad oor fisiese en morele reinheid gehoorsaam, sal dit ons help om talle kwale te vermy, onder meer hedendaagse plae soos veneriese siekte en kanker as gevolg van die rookgewoonte. As ons na die raad daarin luister, sal dit ons help om baie van die kwale vry te spring wat verband hou met spanning en veroorsaak kan word deur afguns, jaloesie en bittere toorn.—Spr. 14:29, 30, vgl. NW; 2 Kor. 7:1; Gal. 5:19-22.

Die apostel Paulus toon bowendien vir ons hoe ons in krisistye, soos siekte, ten volle op God kan staatmaak. Dit verlig baie van die angs en bring die “vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”. Sulke gemoedsrus hou besliste psigosomatiese voordele in tye van siekte in, sonder dat ’n persoon op geloofsgenesing hoef staat te maak.—Filip. 4:6, 7.

Daarbenewens vervul die Bybel ons met geesdrif deur toestande te beskryf wat aardwyd sal bestaan nadat die Koninkryk, die hemelse regering waaroor Jesus gepreek het, die huidige, selfsugtige en gewelddadige stelsel heeltemal verwyder het. Hierdie beskrywings is nog opwindender wanneer ons begryp dat die tyd vir hulle verwesenliking ophande is.

Die apostel Petrus het gesê dat Jesus se wonderwerke “tekens” en “wonders” was (Hand. 2:22). Hulle was “tekens” van die waarheid van Jesus se boodskap, en hulle was “wonders” wat afgeskadu het wat Jehovah God hom in staat sou stel om vir die mensdom te doen wanneer God se koninkryk Sy wil op die hele aarde laat geskied. Stel jou die genesings- en herstellingswerk voor wat dan sal plaasvind!

Waar die boek Openbaring die gevolg van hierdie toekomstige genesingswerk beskryf, sê dit: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” Dit is ’n betroubare belofte. Daar sal geen teleurgestelde verwagtings of bedrog wees nie, want God sê self: “Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”—Openb. 21:4, 5.

Is jy besorg oor die probleem van siekte en die dood? Die meeste van ons is. Stel dan gerus ondersoek in na hierdie beloftes van God. Jy sal vind dat hulle baie betroubaarder en bevredigender is as geloofsgenesing.

[Prent op bladsy 5]

Daar bestaan verskille tussen die genesing wat Jesus verrig het en hedendaagse geloofsgenesing

[Venster op bladsy 6]

Jesus se genesings—

• het duidelik van God gekom

• was in elke geval heeltemal geslaagd

• was dikwels baie informeel

• is selfs deur sy vyande erken

• is verrig om die waaragtigheid van die boodskap van redding te staaf.

[Venster op bladsy 7]

Jesus se genesings—

• het NIE met spiritisme of okkultisme verband gehou nie

• het NIE met emosionele preke gepaard gegaan nie

• was NIE psigosomaties of ’n vorm van terapie nie

• was NIE die belangrikste deel van sy bediening nie

• sou NIE in ons dag nagevolg word nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel