Die wonderdadige genesing van die mensdom is op hande
“SO IETS het ons nog nooit gesien nie.” Dít was wat ooggetuies gesê het toe Jesus ’n verlamde man wonderdadig en oombliklik genees het (Markus 2:12). Jesus het ook die blindes, die dowes en die kreupeles genees, en sy volgelinge het dieselfde gedoen. Deur watter krag het Jesus dit gedoen? Watter rol het geloof gespeel? Watter lig werp hierdie eerste-eeuse ondervindinge op wonderdadige genesings van vandag?—Matteus 15:30, 31.
“Jou geloof het jou gesond gemaak”
Hedendaagse geloofsgenesers hou daarvan om die woorde aan te haal wat Jesus gesê het vir ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het en na hom gekom het om genees te word: “Jou geloof het jou gesond gemaak” (Lukas 8:43-48). Het Jesus se woorde getoon dat haar genesing van haar geloof afgehang het? Was dit ’n voorbeeld van “geloofsgenesing” soos dit vandag beoefen word?
Wanneer ons die Bybelverslag noukeurig lees, sien ons dat Jesus en sy dissipels in die meeste gevalle nie vereis het dat die siekes hulle geloof moes verklaar voordat hulle genees is nie. Die vrou wat hierbo gemeld word, het gekom en, sonder dat sy enigiets vir Jesus gesê het, stilletjies sy kleed van agter af aangeraak en “haar bloedvloeiing het oombliklik opgehou”. By ’n ander geleentheid het Jesus ’n man genees wat saam met diegene was wat gekom het om hom gevange te neem. Hy het selfs ’n man genees wat glad nie geweet het wie Jesus was nie.—Lukas 22:50, 51; Johannes 5:5-9, 13; 9:24-34.
Watter rol het geloof dan gespeel? Toe Jesus en sy dissipels in die streek van Tirus en Sidon was, het ’n Fenisiese vrou gekom en uitgeroep: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid. My dogter is erg van ’n demoon besete.” Stel jou haar wanhoop voor toe sy gesmeek het: “Here, help my!” Jesus is met medelye vervul en het geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou volgens jou wens geskied.” En haar dogter was “van daardie uur af” gesond (Matteus 15:21-28). Geloof was ongetwyfeld hierby betrokke, maar wie se geloof? Let op dat Jesus die moeder se geloof geprys het, en nie die siek kind s’n nie. En geloof waarin? Deur Jesus as “Here, Seun van Dawid” aan te spreek, het die vrou in die openbaar erken dat Jesus die beloofde Messias was. Dit was nie bloot ’n uiting van geloof in God of geloof in die krag van die geneser nie. Toe Jesus gesê het: “Jou geloof het jou gesond gemaak”, het hy bedoel dat die geteisterdes nie na hom toe sou gekom het om genees te word as hulle nie geloof in hom as die Messias beoefen het nie.
Uit hierdie skriftuurlike voorbeelde kan ons sien dat die genesing wat Jesus gedoen het heel anders was as wat vandag oor die algemeen gesien of beweer word. Daar was nie ’n groot emosionele vertoon—geskreeu, eentonige gesing-praat, geweeklag, flouvallery, ensovoorts—deur die skare nie en geen dramatiese, waansinnige optrede deur Jesus nie. Daarbenewens het Jesus nooit in gebreke gebly om die siekes te genees onder die voorwendsel dat hulle nie geloof gehad het of dat hulle bydrae nie milddadig genoeg was nie.
Genesings deur die krag van God
Hoe het die genesings deur Jesus en sy dissipels plaasgevind? “Jehovah se krag was daar sodat hy gesond kon maak”, antwoord die Bybel (Lukas 5:17). Ná een genesing, sê Lukas 9:43, het “hulle almal . . . hulle oor die majestueuse krag van God begin verstom”. Jesus het gepas nie die aandag op homself as die geneser gevestig nie. By een geleentheid het hy vir ’n man wat hy van demoonteistering verlos het, gesê: “Gaan huis toe na jou familielede, en vertel vir hulle alles wat Jehovah vir jou gedoen het en dat hy jou barmhartig was.”—Markus 5:19.
Aangesien Jesus en die apostels deur die krag van God genees het, is dit maklik om te sien waarom genesing nie altyd afgehang het van die geloof van die persoon wat genees is nie. Maar die geneser moes wel sterk geloof gehad het. Toe Jesus se volgelinge nie ’n besonder kragtige demoon kon uitdryf nie, het Jesus derhalwe vir hulle die rede gegee: “Weens julle kleingelowigheid.”—Matteus 17:20.
Die doel van wonderdadige genesings
Hoewel Jesus baie genesings gedurende sy aardse bediening verrig het, het hy nie hoofsaaklik ’n ‘genesingsbediening’ uitgevoer nie. Sy wonderdadige genesings—waarvoor hy mense nooit geld of bydraes gevra het nie—was ondergeskik aan sy hooftaak, naamlik die verkondiging van “die goeie nuus van die koninkryk” (Matteus 9:35). Die verslag vertel van een geleentheid waar hy “hulle vriendelik ontvang en met hulle oor die koninkryk van God begin praat [het], en hy het dié wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak” (Lukas 9:11). In die Evangelieverslae is Jesus dikwels as “Leermeester” aangespreek, maar nooit as “Geneser” nie.
Waarom het Jesus dan wonderdadige genesings verrig? Hoofsaaklik om sy identiteit as die beloofde Messias te bevestig. Toe Johannes die Doper ten onregte in die tronk gesit is, wou hy versekering hê dat hy gedoen het wat God hom gestuur het om te doen. Hy het sy eie dissipels na Jesus gestuur en gevra: “Is u die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” Let op wat Jesus vir Johannes se dissipels gesê het: “Gaan heen en vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Die blindes sien weer, en die kreupeles loop rond, die melaatses word gereinig en die dowes hoor, en die dooies word opgewek, en aan die armes word die goeie nuus bekend gemaak.”—Matteus 11:2-5.
Ja, die feit dat Jesus nie net genesings nie maar ook die ander wonderwerke verrig het wat in die Evangelies opgeteken staan, het sy identiteit bevestig as “die Een wat sou kom”, die beloofde Messias. Dit was nie nodig vir enigiemand om “’n ander een [te] verwag” nie.
Wonderdadige genesings vandag?
Moet ons dan van God verwag om sy krag vandag deur genesings te bewys? Nee. Met die wonderwerke wat Jesus deur die krag van God verrig het, het hy bo alle twyfel bewys dat hy die Messias is wat God beloof het sou kom. Jesus se magtige dade is in die Bybel opgeteken vir almal om te lees. Dit is glad nie nodig vir God om die punt te bewys deur sulke dade vir elke mensegeslag te herhaal nie.
Dit is interessant dat genesings en ander wonderwerke slegs in sekere mate oortuigend was. Selfs party ooggetuies van Jesus se wonderwerke het nie geglo dat hy die ondersteuning van sy hemelse Vader gehad het nie. “Hoewel hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie geloof in hom gestel nie” (Johannes 12:37). Daarom is die apostel Paulus, ná sy bespreking van die verskillende wonderdadige gawes—die gawe om te profeteer, in tale te praat, te genees, ensovoorts—wat God aan verskillende lede van die eerste-eeuse Christengemeente gegee het, geïnspireer om te sê: “Of daar nou gawes van profesie is—hulle sal weggedoen word; of daar nou tale is—hulle sal ophou; of daar nou kennis is—dit sal weggedoen word. Want ons het gedeeltelike kennis en ons profeteer gedeeltelik; maar wanneer dit kom wat volkome is, sal wat gedeeltelik is, weggedoen word.”—1 Korintiërs 12:28-31; 13:8-10.
Geloof in God is natuurlik onontbeerlik vir ons welvaart. Maar om ’n mens se geloof op valse beloftes van genesing te grond, sal net tot teleurstelling lei. Jesus het boonop hierdie waarskuwing aangaande die tyd van die einde gegee: “Valse Christusse en valse profete sal opstaan en sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei” (Matteus 24:24). Benewens kwaksalwery en bedrog sou daar ook openbarings van demoniese krag wees. Gevolglik behoort bewerings van onverklaarbare gebeure ons nie te verbaas nie, en dit is beslis geen grondslag vir ware geloof in God nie.
Word ons benadeel, aangesien niemand vandag genesings verrig soos Jesus gedoen het nie? Beslis nie. Trouens, diegene wat deur Jesus genees is, kon uiteindelik weer siek word. Hulle het almal oud geword en gesterf. Die genesingsvoordele wat hulle ontvang het, was betreklik kortstondig. Maar Jesus se wonderdadige genesings het blywende betekenis, want dit het toekomstige seëninge voorafgeskadu.
Nadat Alexandre en Benedita, wat vroeër gemeld is, God se Woord, die Bybel, ondersoek het, het hulle dus nie meer geloof in hedendaagse geloofsgenesing en spiritistiese genesings gestel nie. Tog is hulle daarvan oortuig dat wonderdadige genesings nie iets van die verlede is nie. Waarom? Soos miljoene regoor die wêreld, sien hulle uit na die seëninge van genesing onder God se Koninkryk.—Matteus 6:10.
Nie meer siekte en dood nie
Soos ons vroeër gesien het, was die hoofdoel van Jesus se bediening nie om die siekes te genees en ander wonderwerke te verrig nie. Hy het eerder die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk sy hooftaak gemaak (Matteus 9:35; Lukas 4:43; 8:1). Daardie Koninkryk is die middel waardeur God die wonderdadige genesing van die mensdom gaan teweegbring en al die skade ongedaan gaan maak wat sonde en onvolmaaktheid die mensdom aangedoen het. Hoe en wanneer sal hy dit teweegbring?
Christus Jesus het eeue vooruitgesien toe hy vir sy apostel Johannes ’n profetiese visioen gegee het: “Nou het die redding en die krag en die koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus gekom!” (Openbaring 12:10). Al die bewyse toon dat God se groot teenstander, Satan, sedert 1914 na die omgewing van die aarde neergewerp is, en die Koninkryk funksioneer nou as ’n werklikheid! Jesus is as die Koning van die Messiaanse Koninkryk gekroon en is nou gereed om groot veranderinge op die aarde aan te bring.
In die nabye toekoms sal Jesus se hemelse regering oor ’n regverdige nuwe mensegemeenskap regeer, in werklikheid “’n nuwe aarde” (2 Petrus 3:13). Hoe sal toestande dan wees? Hier is ’n wonderlike voorskou: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die vorige hemel en die vorige aarde het verbygegaan . . . En [God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:1, 4.
Kan jy jou voorstel hoe die lewe sal wees wanneer die wonderdadige genesing van die mensdom ’n werklikheid word? “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.” Ja, God sal teweegbring wat geloofsgenesers nooit kan doen nie. “Hy sal die dood vir ewig vernietig.” Trouens, “die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee”.—Jesaja 25:8; 33:24.
[Prent op bladsy 7]
Onder God se Koninkryk sal die mensdom wonderdadig genees word