Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 7/15 bl. 22-27
  • Die sigbare deel van God se organisasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die sigbare deel van God se organisasie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GOD SE GEORGANISEERDE TOEGEWYDE VOLK VANDAG OP AARDE
  • ’N “NUWE NAAM” VIR DIE AARDSE DEEL
  • Die onlangse kraal vir “ander skape”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die “goeie herder” en sy “ander skape”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • ’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Moenie die prooi word van hedendaagse Judaïseerders nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 7/15 bl. 22-27

DIE SIGBARE DEEL VAN GOD SE ORGANISASIE

1, 2. (a) Is dit iets nuuts dat Jehovah ’n Man of ’n Eggenoot genoem word? (b) Hoe staaf Jesaja 54:1-5, 13 die antwoord?

VIR persone wat die Bybel dikwels lees, is dit niks nuuts dat God ’n Man of Eggenoot genoem word nie. Toe Jesus Christus gesê het: “Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees” (Joh. 6:45), het hy aangehaal uit ’n profesie wat van God as ’n Man gepraat het. Hierdie profesie in Jesaja 54:1-5, 13 sê (ten dele):

2 “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! . . . Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. . . . En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.”

3. Het Paulus, toe hy daardie selfde profesie van Jesaja in Galasiërs 4:27 aangehaal het, enigsins na letterlike vroue op aarde verwys?

3 Die apostel Paulus het uit daardie selfde profesie van Jesaja, hoofstuk 54, aangehaal toe hy gesê het: “Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ’n man het” (Gal. 4:27). Die apostel Paulus praat beslis nie hier van letterlike vroue op die aarde nie, want Jehovah God was nie die Man van ’n enkele vrou in ’n tipiese of in ’n simboliese sin nie. God se “vrou” in ’n figuurlike sin was iets groters.

4. Wat was hierdie “iets groters” dan?

4 Wat? God se organisasie, wat hy vir homself geskep het en wat nooit oorreed kan word om te glo dat God ’n selfsugtige leuenaar is nie! Net soos ’n man sal hy dit vrugbaar maak sodat dit die lewe skenk aan ’n “saad” of nakomeling wat God sal gebruik om Satan en die organisasie wat hy met Adam en Eva begin het te vernietig

5. Wanneer is die vernaamste lid van die “saad” wat in Genesis 3:15 gemeld word, voorsien, en hoe?

5 Die “Saad” van God se “vrou” het in aansyn begin kom in die persoon van die eniggebore Seun van God in die hemel. Wanneer? Toe sy lewe, wat tot op daardie stadium in die geesteryk, in die hemel, was, in 2 v.G.J. oorgeplaas is na die baarmoeder van die Joodse maagd Maria sodat sy swanger geraak het. Maria was dus nie “die vrou” van Genesis 3:15 nie. Maria was ook nie die moeder van diegene wat Openbaring 12:17 (NW) “die oorblywendes van haar saad” noem nie.—Kyk Galasiërs 4:26-31.

6. (a) Van watter organisasie was Jesus ’n deel toe hy ’n volmaakte man op aarde was? (b) Wanneer het Jesus se dissipels begin om ’n deel te word van God se geestelike organisasie?

6 Net soos die eerste man op aarde, Adam, ’n “seun van God” en deel van God se universele organisasie was toe hy volmaak in die tuin van Eden was, was Jesus as ’n volmaakte man op aarde ’n sigbare deel van God se organisasie seuns (Luk. 3:21-38). In gebed tot God het Jesus van homself en sy dissipels gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Joh. 17:14, 16). Later het Jesus vir die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh. 18:36). Dit was omdat Jesus Christus deel was van God se geestelike organisasie, God se “vrou”, van wie se “saad” hy die vernaamste lid was. Vanaf Pinksterdag van 33 G.J., toe die verheerlikte Jesus in die hemel heilige gees op sy getroue dissipels op aarde uitgestort het, het hulle deel van die “saad” van God se “vrou” geword. Hulle het die sigbare deel van God se geestelike organisasie uitgemaak. Alhoewel hulle in die wêreld was, was hulle geen deel daarvan nie.—Hand. 2:1-47.

7. Watter soort “bruid” het die aanstaande eggenoot Jesus Christus, en wat sê sy volgens Openbaring 22:17?

7 In die lig van die voorafgaande word daar selfs van Jesus Christus gepraat as ’n Bruidegom met ’n aanstaande “bruid”. Sy is natuurlik nie ’n letterlike vrou nie. Wat is sy dan? Sy is ’n “bruid” wat uit baie dele bestaan, ’n samegestelde “bruid”, en dus ’n organisasie wat die aanstaande Bruidegom volg, navolg en sy wil doen. Noem dit ’n ecclésia, ’n vergadering, ’n gemeente, as jy dit verkies (Deut. 4:10; 9:10; 18:16, Griekse Septuaginta; Hand. 7:38). Die laaste boek van die Bybel verwys na hierdie aanstaande hemelse maat van die verheerlikte Christus wanneer dit in Openbaring 22:17 sê: “En die Gees en die bruid sê: Kom!”

8. (a) Waarmee vergelyk die apostel Paulus die Christengemeente van sy dag in 2 Korinthiërs 11:2? (b) Wie is die vrou wat na die Messiaanse koning as haar Heer gebring word, in die lig van die feit dat Paulus Psalm 45 aanhaal en dit met Jesus verbind?

8 Aan die ecclesia of gemeente in Korinthe, Griekeland, het die apostel Paulus geskryf: “Ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Kor. 11:2). En in Hebreërs 1:8, 9 pas die apostel Paulus Psalm 45 op Jesus Christus as die Seun van God toe. Hierdie profetiese psalm vergelyk die Seun van God met ’n Bruidegom, want Psalm 45:14-16 sê: “Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring. Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in.”

9. Waarmee het Johannes die Doper Jesus Christus en ook sy groep dissipels vergelyk?

9 Selfs Johannes die Doper het Jesus Christus met ’n Bruidegom en sy toekomstige dissipels met ’n aanstaande bruid vergelyk. Omdat Johannes die voorreg gehad het om die eerste dissipels aan die gedoopte, gesalfde Jesus voor te stel, het hy gesê: “Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is. Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome” (Joh. 3:28, 29). Johannes die Doper het nie verwag om deel van die geestelike “bruid” van Christus te word nie. Hy het bloot ’n “vriend van die bruidegom” gebly. Maar net soos daardie maagdelike bruidsmeisies van Psalm 45:14-16, het hy hom onselfsugtig verheug.

10. (a) Waarom is dit reg om te sê dat die ‘bruidsklas’ die sigbare deel van God se geestelike organisasie is? (b) Hoe word daardie situasie bevestig deur wat Paulus aangaande Christus die Hoof geskryf het in briewe aan die Romeine en die Korinthiërs?

10 Die punt hiervan is dat, net soos die hemelse Bruidegom deel van God se geestelike organisasie is, die aanstaande ‘bruidsklas’ wat deur God se gees verwek word terwyl hulle nog op aarde is, die sigbare deel van God se geestelike organisasie is. Die waarheid hiervan word gestaaf deur die feit dat hierdie “bruid”, wat ’n man as hoof het, terselfdertyd die geestelike liggaam van Christus is. Aan die ecclesia of gemeente in Rome het Paulus geskryf: “So is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar” (Rom. 12:5). Aan die gemeente in Korinthe het Paulus geskryf: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, . . . julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik” (1 Kor. 12:13, 27). Aangesien die Hoof van daardie geestelike liggaam, die verheerlikte Jesus Christus, deel van God se geestelike organisasie is, is die lede van sy “liggaam” deel van God se organisasie. Op die oomblik is hulle egter die sigbare deel daarvan. Dit is nie verkeerd om te sê dat hulle God se sigbare organisasie op aarde is nie. “God het die liggaam saamgestel” (1 Kor. 12:24). “God het die liggaam georganiseer.”—The Riverside New Testament deur William G. Ballantine.

GOD SE GEORGANISEERDE TOEGEWYDE VOLK VANDAG OP AARDE

11. Waarom moes die wêreldlike nasies en ook die “oorblywendes van [die vrou se] saad” hulle na die Eerste Wêreldoorlog reorganiseer?

11 Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 was dit vir die oorlogsmoeë nasies nodig om hulle in Satan se sigbare stelsel te reorganiseer. ’n Nuwe akteur het op die verhoog van internasionale aangeleenthede verskyn in die vorm van die Bolsjewiste of Kommuniste, wat ’n gewelddadige rewolusie in Rusland bewerkstellig het en die politieke beheer oor die uitgestrekte ryk daarvan in Europa en Asië oorgeneem het. In watter wêreld moes “die oorblywendes van [die vrou se] saad” tog lewe! Hulle moes hulself ook reorganiseer. Hulle moes die toekoms uit ’n nuwe en heeltemal rewolusionêre standpunt beskou, in die lig van Bybelprofesieë wat soos nog nooit tevore nie vir hulle begrip geopen is. Afdoende bewys was beskikbaar, uit Bybelchronologie en -profesie sowel as uit wêreldgebeure, dat die Heidense Tye, “die [vasgestelde] tye van die nasies” in Oktober 1914 geëindig het (Luk. 21:24). Sedertdien was die ou wêreld in sy “tyd van die einde” of in sy “laaste dae” (Dan. 12:4; 2 Tim. 3:1). Aangesien dit die geval was, het die tyd aangebreek dat ’n nuwe groep mense, nie die Kommuniste nie, maar Godvresende persone, hul verskyning op die wêreldtoneel maak. Hulle identiteit het mettertyd duidelik geword.

12. (a) Wanneer en waar is daar begin om die aardse hoop aan sulke Godvresende mense wat toe op die wêreldtoneel verskyn het voor die einde van die Eerste Wêreldoorlog te verkondig? (b) Met wie het die boek met die titel “Die harp van God”, wat in 1921 uitgegee is, Johannes 10:16 verbind?

12 Hulle sou die kans hê om die vernietiging van die ou stelsel te Armageddon te oorlewe en om die nuwe stelsel onder Christus se hemelse koninkryk binne te gaan. Dit sou hulle die geleentheid bied om nooit op die aarde, wat die Koninkryk in ’n paradys gaan omskep, uit te sterf nie. Hierdie hoop, waarvan die gelyke nog nooit verkondig is nie, is in Februarie 1918, agt maande voor die einde van die Eerste Wêreldoorlog, in die openbaar in Los Angeles, Kalifornië, V.S.A., bekendgemaak. Diegene wat so ’n hoop koester, sou nooit verwag om hemel toe te gaan om ’n deel van God se organisasie daarbo te word nie. Na die oorlog is Jesus se profetiese woorde wat in Johannes 10:16 opgeteken is, opnuut bestudeer. In 1921 het die Wagtoringgenootskap dus die boek met die titel “Die harp van God” gepubliseer. In paragrawe 577, 578 op bladsye 338, 339 het dit gesê:

“Dat nie net hulle wat hemel toe gaan sal geseën word nie word bewys as Jesus sê: ‘Ek het nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie; die moet Ek ook toebring, en hulle sal My stem hoor.’ (Johannes 10:16) ‘Hierdie kraal’ beteken die kerk; en nadat hierdie klas uitgekies is, moet almal ’n kans kry om in die kraal van Kristus te kom. En dit is die waarheid omdat Hy hulle almal met Sy kostelike bloed gekoop het.

“God het die profeet Dawid laat skryf: ‘Al die Heidene [nasies], Here! wat U gemaak het, sal kom, en sal hulle voor U aangesig neerbuig, en U Naam eer.’ (Psalm 86:9) Dit bevestig nog verder dat almal ’n kans moet kry.”

13. Hoe het die hooftoespraak by die byeenkoms in Los Angeles in 1923 Jesus se gelykenis van die skape en die bokke met Johannes 10:16 verbind?

13 In 1923 is ’n negedaagse byeenkoms in Los Angeles, Kalifornië, gehou, en dit het ’n hoogtepunt bereik met ’n openbare vergadering in die Coliseum op Sondag, 26 Augustus. Jesus se gelykenis van die skape en die bokke in Mattheüs 25:31-46 is bespreek, en daar is afgewyk van die valse Christendom se tradisionele verduideliking van die gelykenis. Daar is getoon dat die “skape” dieselfde is as die “ander skape” wat Jesus in Johannes 10:16 voorspel het. Die verklarende toespraak, wat gepubliseer is in The Watch Tower van 15 Oktober 1923, het (op bladsy 310, paragraaf 33) gesê:

“Ons meen dat daar miljoene in die nominale kerk is wat lidmate bly as gevolg van hulle respek vir die Here; en hulle beskou die nominale kerk as iets wat op die een of ander wyse deur die Here gebruik word. Baie van hulle maak nie daarop aanspraak dat hulle aan die Here toegewy is nie, en hulle het geen hemelse verwagtinge of begeertes nie. Ons meen dat hulle die klas is wat ons Here die skape noem (Joh. 10:16). Ons gevolgtrekking is dus dat die skape sowel as die bokke in die gelykenis bely dat hulle Christene is, die Christendom uitmaak, en dat albei daarop aanspraak maak dat hulle hulle werke in die naam van die Here doen.—Mattheüs 7:21-23.”

14. Wat het The Watch Tower van 15 Januarie 1924 gesê oor die tyd vir die insameling van die “ander skape”?

14 Die volgende jaar het The Watch Tower van 15 Januarie 1924 verder kommentaar gelewer (op bladsy 26, paragrawe 2 en 3):

“‘En na hom sal die mense vergader word’—Genesis 49:10.

“Dit is ’n profetiese verklaring in verband met die werk van die Christus. Die tyd vir die vervulling hiervan het aangebreek. Dit beteken dat die mense van elke nasie, volk en taal wat geregtigheid begeer en liefhet, na die Here versamel sal word. Jesus het gesê: ‘Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder’ (Joh. 10:16). ’n Skaap is ’n mak, vredeliewende en geseglike dier; dit word dus gebruik om mense af te beeld wat vrede liefhet en beter dinge begeer.”

15. Hoe het The Watchtower van 15 Augustus 1934 getoon dat God se goedheid meer behels as die redding van die “klein kuddetjie” wat hemel toe gaan?

15 ’n Dekade later het The Watchtower van 15 Augustus 1934 in sy openingsparagraaf (bladsy 243) gesê:

“Jehovah se goedertierenheid word voorgehou aan almal wat naarstig daarna strewe om sy wil te ken en te doen. Hy hou sy goedheid voor aan mense wat in die Here Jesus Christus glo (Joh. 3:16). Jesus Christus is die weg wat God tot die lewe voorsien het, maar nie alle mense wat die lewe kry, sal geesskepsele word nie. Daar is ander skape wat nie deel van die ‘klein kuddetjie’ is nie (Joh. 10:16). Dit is laasgenoemde, of die ‘ander skape’, wat Christus Jesus, ná sy koms na die tempel om te oordeel, met hierdie woorde aanspreek: ‘Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af (Matt. 25:34).”

(Kyk ook paragraaf 28 op bladsy 248.)

16. Aan watter klas “skape” is daar in 1935 by die byeenkoms in Washington, D.C., verduidelik dat die “groot menigte” behoort, en hoe het honderde van die persone wat spesiaal genooi is die volgende dag op die informasie gereageer?

16 Die volgende jaar, 1935, was epogmakend. ’n Betekenisvolle byeenkoms is in Washington, D.C., gehou en veral diegene wat graag “ander skape” van die Goeie Herder wou wees, is daarheen uitgenooi. Dit het getoon dat daar nou ’n besliste poging aangewend is om sulke “ander skape” te versamel. Op Vrydag, 31 Mei, is ’n toespraak gehou wat die “ander skape” (of, Jonadabs) geïdentifiseer het as diegene wat die “groot menigte” met ’n aardse vooruitsig, en wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is, uitmaak. Die begeerte van baie van die byeenkomsgangers om lede van daardie “groot menigte” te wees, is aangedui deur die feit dat 840 hulle die volgende dag aangebied het om in water gedoop te word as simbool van hulle onvoorwaardelike toewyding van hulself aan Jehovah God deur die Goeie Herder Jesus Christus.

’N “NUWE NAAM” VIR DIE AARDSE DEEL

17. Op watter besondere gebeurtenis het The Watch Tower van 1 Maart 1925 die geboorte van die manlike kind in Openbaring, hoofstuk 12, toegepas?

17 Maar kom ons gaan terug na die betekenisvolle jaar 1925. Die gesig in Openbaring 12:1-17 wat lank verkeerd verstaan is, is duidelik gemaak. The Watch Tower van 1 Maart 1925 het die verkeerde gedagte opgeklaar dat die geboorte van die manlike kind van die “vrou” in die hemel die geboorte van die pousdom uit ’n afvallige godsdiensstelsel tydens die vierde eeu afgebeeld het. Die geboorte van die manlike kind het eerder die geboorte van God se Messiaanse koninkryk uit sy “vrou”, sy gesellin- hemelse organisasie, afgebeeld. Dit het in die hemel plaasgevind aan die einde van die Heidense Tye, “die [vasgestelde] tye van die nasies”, in die noordelike herfs van 1914 G.J. Die aardse deel van Jehovah se geestelike organisasie was baie opgewonde oor hierdie openbaring!

18. (a) Vir watter optrede van God was die tyd in 1925 ryp? (b) Wat het die gemeentes van diegene in “hierdie stal” van die Goeie Herder dienooreenkomstig in 1931 gedoen?

18 En dit is nie al wat in 1925 gebeur het nie! Die opmerkenswaardige feit het aan die lig gekom dat die tyd vir God aangebreek het om vir homself ’n naam te maak. Hierdie feit is daardie noordelike somer by die streekbyeenkoms in Indianapolis, Indiana, V.S.A., bekend gemaak (2 Sam. 7:23; Jes. 64:1, 2). In ooreenstemming met God se voorneme om ‘’n volk vir sy naam’ uit die heidene aan te neem, is die naam “Jehovah se Getuies” plotseling in Julie 1931 onder die wêreld se aandag gebring toe duisende wat aan “hierdie stal” van die Goeie Herder behoort, hierdie Skriftuurlike naam formeel en deur resolusie vir God se toegewyde, gedoopte volk aan geneem het (Jes. 43:10, NW). Die voorbeeld wat by die byeenkoms in Columbus, Ohio, gestel is, is deur die gemeentes van die lede van “hierdie stal” rondom die aardbol gevolg.

19. Sluit diegene in “hierdie stal” volgens Johannes 10:16 al die hedendaagse “skape” van die Goeie Herder in?

19 Jesus Christus het ’n onderskeid getref tussen sy volgelinge wat aan “hierdie stal” behoort het en die “ander skape”. Hy het gesê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”

20. Watter “skape” het die Goeie Herder veral sedert 1935 op aarde tot ’n eenheid georganiseer?

20 Daardie lede van “hierdie stal” was deel van God se geestelike organisasie, daar hulle “die oorblywendes” van die geestelike “saad” van God se vrou was wat in Openbaring 12:17 gemeld word. Aangesien die “ander skape” nie aan “hierdie stal” behoort nie, is hulle nie deel van God se geestelike organisasie nie. Hulle is nie deel van die “klein kuddetjie” vir wie die hemelse Vader “die koninkryk” gee nie (Luk. 12:32). Maar in die noordelike lente van 1935 het die Goeie Herder Jesus Christus beslis begin om hierdie “ander skape” met ’n aardse bestemming as ’n erkende klas met die geesverwekte oorblyfsel van “hierdie stal” te verenig. Toe het hulle “die skape” geword wat in Jesus se gelykenis van die skape en die bokke in Mattheüs 25:31-46 voorspel is. Die Goeie Herder laat aldus die “skape” van “hierdie stal” saamsmelt met die “ander skape” om net “een kudde” onder hom as die “een herder” te vorm. Die “kudde” word dus een organisasie.

21. Tot wanneer sal die oorblyfsel van “hierdie stal” “skape” met die “ander skape” as een georganiseerde “kudde” saamwerk, en watter aanpassings sal dan gemaak moet word?

21 Dit vorm die grondslag vir al hierdie “skape”, ongeag hulle bestemming, om nou as een organisasie op aarde saam te werk. Wanneer die twee klasse mettertyd skei, sal dit wees omdat die “skape” van “hierdie stal” hulle aardse loopbaan getrou voltooi het en deel het aan “die eerste opstanding” om in die Onsigbare hemelse organisasie opgeneem te word (Openb. 20:4, 6). Daar die lede van die “klein kuddetjie” dan almal weg is, sal aanpassings gemaak moet word onder die oorblywende “ander skape”, sodat hulle almal eensgesind as onderdane van die Grotere Dawid, die Messiaanse Koning Jesus Christus, kan saamwerk.—Openb. 22:16.

[Prent op bladsy 25]

Die “klein kuddetjie” en die “ander skape” vorm vandag “een kudde”, een organisasie wat uit Jehovah se lojale getuies bestaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel