Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 7/15 bl. 17-22
  • Waaruit bestaan God se organisasie dan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waaruit bestaan God se organisasie dan?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE ‘VROU’ IN DIE HEMEL
  • Die slang se saad—Hoe is dit aan die kaak gestel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Die deurlopende harmonie van die Bybel
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • God se Koninkryk word gebore!
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 7/15 bl. 17-22

WAARUIT BESTAAN GOD SE ORGANISASIE DAN?

1. Wat is vandag party se gesindheid teenoor die uitdrukking “God se organisasie”, en waarom?

DIT is eienaardig dat baie in hierdie verligte eeu begin twyfel het of God ’n organisasie het. Party aarsel, ja, vrees nou om die uitdrukking “God se organisasie” te gebruik, want hulle het gemerk dat hulle vertaling van die Bybel nie die woord “organisasie” in verband met God gebruik nie of dit glad nie gebruik nie.

2. (a) Kan daar in die lig van Romeine 13:1, 2, aangevoer word dat die regerings van die Christendom God se sigbare organisasie is? (b) Watter vrae ontstaan oor Jehovah se Getuies wat sedert 1922 georganiseer is om Mattheüs 24:14 te vervul?

2 Geen redelike persoon sal tog vandag aanvoer dat die hoogs georganiseerde regerings van vandag, selfs die van die Christendom, God se organisasie of eens ’n deel daarvan is nie. Niemand kan dit bewys nie, nie eens deur hom te beroep op die woorde van die apostel Paulus in Romeine 13:1, 2 nie: “Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God” (NAB). Terselfdertyd is Jehovah se Getuies, veral sedert die jaar 1922, doeltreffend georganiseer om die profesie van Jesus in Mattheüs 24:14 te vervul: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Waar plaas dit hulle dus ten opsigte van God, Jehovah van die leërskare? Is hulle bloot ’n mensgemaakte organisasie wat God kan gebruik, as hy wil, of is hulle die sigbare deel van God se organisasie? Laat die feite spreek!

3, 4. (a) Hoe vergelyk die boodskap wat die Christendom gedurende die afgelope eeue verkondig het met die “evangelie” wat Jehovah se Getuies sedert 1914 verkondig? (b) Slegs hoe kon dit ondanks vervolging en teëstand gedoen word, en wat toon Openbaring 14:6, 7?

3 Laat die regskape persoon die soort verkondiging van die evangelie van die Koninkryk wat deur die eeue heen deur die godsdiensstelsels van die Christendom gedoen is, vergelyk met die van Jehovah se Getuies sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918. Dit is nie dieselfde nie. Jehovah se Getuies se boodskap is waarlik “evangelie” of “goeie nuus”, daar dit handel oor God se hemelse koninkryk wat opgerig is toe hy sy Seun Jesus Christus aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 op die troon geplaas het (Luk. 21:24). Die wêreldwye getuienis wat hieroor gelewer is onder die vloedgolf internasionale vervolging en teëstand, kon slegs gelewer word met behulp van God se allesoorwinnende gees. Dit is nòg met die gees van die mens nòg met die van Satan die Duiwel vermag. Dit is gedoen met die hulp van God se heilige engele, soos aangetoon word in Openbaring 14:6, 7:

4 “En ek het ’n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ’n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met ’n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

5. (a) Watter organiseerder moet nou in hierdie tyd van beslissing gevrees word? (b) By watter hemelse vergadering het die vyandelike organiseerder volgens Job, hoofstuk 1 en 2, ongenooid opgedaag?

5 Die Een wat nou in hierdie tyd van persoonlike besluit gevrees moet word, is dus die Skepper, die Universele Organiseerder. In die boek Job kry ons ’n kykie in sy hemelse gesin engeleseuns. Die organiseerder van die wêreldstelsel sedert die vloed van Noag se dag, Satan die Duiwel, was eens ’n lid van daardie gesin. In Job 1:6, 7 word hy afgebeeld as iemand wat hom met ander se gesinsake bemoei, want ons lees daar: “En op ’n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ’n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.” In Job 2:1, 2 word ’n soortgelyke beeld gegee van ’n latere vergadering van die seuns van die ware God in die onsigbare hemele.

6. (a) Wat toon so ’n vergadering van die hemelse “seuns van God” waar Jehovah God die voorsitter was? (b) Hoe is daardie “seuns van God” bemoedig deur die voorbeeld wat Job vir hulle gestel het?

6 Wat toon daardie twee samekomste van die seuns van Jehovah God, en wat sou diegene wat daardie gesinsgroep uitmaak gepas genoem kon word? Watter gepaste woord of woorde kom by jou op? Ons laat dit aan die leser oor om te sê. Daardie vergaderinge was formeel, en die ware God was tereg die voorsitter. Die feit dat Satan by daardie vergaderinge toegelaat is, beteken nie dat hy nog steeds as een van “die seuns van God” beskou is en steeds deel van God se hemelse huisgesin was nie. Sy naam “Satan” toon op sigself dat dit nie die geval was nie, want die naam beteken “Teenstander”. Hy het dus geen goeie doel gehad toe hy die aarde as ’n gees wat vir mense onsigbaar is, deurkruis het nie. Hy was gekant teen enige man wat probeer het om sy onkreukbaarheid teenoor die ware God te handhaaf. Met goddelike toestemming het hy daardie regverdige, Godvresende man met die naam Job in die land Us die slagoffer van sy aanvalle gemaak. Maar hy het misluk in sy gemene plan om die universele soewereiniteit van Jehovah God by mense op aarde sowel as engele in die hemel in ’n swak lig te stel. Job se voorbeeld van getrouheid was ’n groot bemoediging vir Jehovah se hemelse gesin engeleseuns.

7. In watter gesin het Adam en Eva hulle plek weens ongehoorsaamheid verbeur, en hoeveel skepsele uit die geesteryk het begin wag staan?

7 Satan het moontlik gedink dat hy sou slaag net soos in die geval van die eerste man op aarde, Adam die seun van God. Teen die einde van die sesde skeppingsdag, toe daar nog geen man of mens op aarde was nie, het God gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” God het nie hier die redaksionele meervoud “ons” gebruik asof hy met homself gepraat het nie. Hy het ten minste nog ’n persoon aangespreek wat hy by die skeppingsdaad wou betrek (Gen. 1:26). Geen onbevooroordeelde persoon sal ontken dat dit samewerking in die hemel vereis het nie. Ongelukkig het die eerste mense, Adam en Eva, hulle geskaar aan die kant van die onsigbare geespersoon agter die sigbare slang wat dit God ’n leuenaar laat noem het. Weens hulle ongehoorsaamheid aan God het hulle hulle plek in God se universele gesin kinders verloor en is hulle uit die tuin van Eden verdryf. Toe het God “gerubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe [in die tuin] te bewaak” (Gen. 3:24). Daar was ten minste twee gerubs, en hulle was lede van God se hemelse huisgesin wat gemagtig is om te materialiseer en aan die mensdom te verskyn.

8. Het dit toe duidelik geword dat God se huisgesin ander lede bevat, en wat toon Job 38:6, 7 hieromtrent?

8 Dit blyk dus dat God se hemelse huisgesin reeds op daardie vroeë stadium van die mens se geskiedenis ander lede gehad het. Dit is waarom Jehovah God, toe hy vrae gestel het oor die fondament van die aarde, gesê het: “Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?”—Job 38:6, 7.

9. Watter ordes hemelse skepsele word in die Psalms, in Jesaja 6:2 en in Daniel se profesie gemeld?

9 Psalms 80:2 en 99:1 sê dat Jehovah “bo-oor die gerubs troon”. Hierdie beskrywing is waarskynlik ontleen aan die heilige verbondsark wat in die Allerheiligste van die tempel te Jerusalem geleë was. Bo-op daardie ark was daar twee goue gerubs met vlerke wat na mekaar toe uitgestrek was, en in die middel bo hulle het die sogenaamde Sjekina-lig verskyn wat die teenwoordigheid van Jehovah God in sy tempel voorgestel het. In ’n wonderdadige gesig van die binnekant van die tempel het die profeet Jesaja Jehovah op sy troon gesien, omring deur geesskepsele genaamd serafs (Jes. hfst. 6). Benewens serafs en gerubs is daar die engele oor die algemeen, soos die waarvan daar in die laaste boek van die Bybel, Openbaring, gepraat word. Ons moet ook nie van die hemelse skepsel genaamd Migael vergeet of hom oor die hoof sien nie. Hy word “een van die vernaamste vorste” en “julle vors”, dit wil sê, die vors van Daniël se volk, genoem (Dan. 10:13, 21; 12:1). Judas 9 noem hom gepas “Migael, die aartsengel”.

10. Waarom moes orde gehandhaaf word by die Hofsitting in die gesig wat in Daniël 7:1-10 beskryf word?

10 Van ’n gesig van besondere hemelse luister het die profeet Daniël gesê: “Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ’n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ’n brandende vuur; ’n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen” (Dan. 7:9, 10). In daardie goddelike Hof moes orde heers, veral aangesien 10 000 x 10 000 die Regter gedien het.

11. Wat sê Psalm 103:19-21 in ooreenstemming met die voorafgaande, en wat word Jehovah van 1 Samuel 1:3 af aan genoem?

11 In ooreenstemming hiermee sê Psalm 103:19-21: “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles. Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!” Dit is dus heel gepas dat die Universele Soewerein van 1 Samuel 1:3 af aan “die HERE [Jehovah] van die leërskare” genoem word.—Jak. 5:4, NW.

12. Wat bestaan in die hemel, soos blyk uit die feit dat daar skepsele met titels of name, ja, “leërskare” onder God se hemelse personeel is?

12 Wat word dus, in die lig van al die voorgaande skriftuurplase, vir ons uitgespel deur die feit dat God se hemelse personeel ’n aartsengel, vorste, gerubs, serafs, engele en leërskare insluit en dat al hierdie range en ordes of vlakke van bestaan en “leërskare” volkome harmonies optree en ten volle aan die Oue van Dae, Jehovah God, onderworpe is? Dit vertel vir ons van, ja, dit vereis ’n organisering van al die lede van God se hemelse personeel. Dit maak hierdie hemelse personeel God se organisasie. Dit beteken dat God ’n organisasie het. Die Hebreeuse woord vir organisasie is his·ta·druth’ en die Griekse woord is or·gan’o·sis.

DIE ‘VROU’ IN DIE HEMEL

13. (a) Hoe het dit God se organisasie geraak toe Adam en Eva gesondig het? (b) Wat het God toe oënskynlik vir die slang, wat hom nie kon verstaan nie, gesê?

13 Toe Adam en Eva teen God gesondig het, het dit Sy universele organisasie, waarvan hulle die aardse sigbare deel was, geraak. Hulle het opgehou om lede te wees van die gesin waarvan hy die hemelse Vader, die Skepper, is. Hulle het oorgeloop na die kant van die onsigbare geesskepsel wat agter die leuenagtige slang was. Die letterlike slang het beslis nie verstaan wat God bedoel het toe Hy oënskynlik vir hom gesê het nie: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”—Gen. 3:14, 15.

14. Waarom is ’n letterlike toepassing van God se woorde aan die slang nie moontlik nie, en watter soort slang en vrou moet bedoel word?

14 Wat sou daardie woorde beteken indien hulle letterlik opgeneem word? Dat daar ’n dodelike haat tussen die letterlike slang en die letterlike vrou sou bestaan. Ook dat die saad of nakomeling van Eva die meedoënlose vyand van die nakomelinge van daardie slang sou wees; en dat daardie slang sou voortlewe totdat die saad van die vrou Eva gekom het. Dan sou daardie “saad” se letterlike hakskeen deur die slang gebyt word, en sou die gewonde “saad” op sy beurt die slang se kop vermorsel, dit klaarblyklik doodmaak. Maar hoeveel troos sou dit die hele mensdom bied of hoeveel voordeel vir hulle inhou? So ’n letterlike verduideliking het in werklikheid nie sin nie. Dit lei tot soveel probleme dat enige verstandelik gebalanseerde Bybelstudent verplig is om te erken dat God se woorde in Genesis 3:14, 15 ’n simboliese betekenis moet hê. Die slang wat vir Eva die strikvraag gestel het, moet dus iets groters afbeeld, en die “vrou” wat in hierdie verband gemeld is, moet eweneens ’n simboliese “vrou” wees.

15. Waarom hoef ons nie te raai wie die simboliese slang is nie, en hoe oud is “die ou slang” nou al?

15 Wel, hoef ons te raai oor die identiteit van die simboliese slang? Nee! Die Bybel self sê vir ons. In Openbaring 12:9 praat dit van daardie geheimsinnige slang as “die groot draak”, “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan”. Hy was oorspronklik die simboliese slang, en teen 96 G.J., omstreeks die tyd toe die apostel Johannes die boek Openbaring geskryf het, was Satan die Duiwel as ’n simboliese slang meer as 4 100 jaar oud. Teen hierdie tyd, wanneer die vervulling van die Openbaring-gesig ophande is, is daardie “ou slang” omtrent 6 000 jaar oud, wat langer is as wat enige letterlike slang nog ooit gelewe het. Johannes 8:44 se dat “hy ’n leuenaar is en die vader [van die leuen]”.

16. (a) Openbaring, hoofstuk 12, beskryf ’n konfrontasie tussen watter twee partye, en wat word nogtans suksesvol gebore? (b) Waar en waarom moet die simboliese moeder onder bewaring geestelik gevoed word?

16 Wie is die “vrou” waarna Genesis 3:15 verwys, aangesien dit nie Eva, vir wie Satan die Duiwel deur middel van die slang gelieg het, is nie? Weer eens help die boek Openbaring ons om die regte begrip te verkry. Hoofstuk 12 beskryf ’n konfrontasie tussen Satan die Duiwel en ’n “vrou” wat deur die son, maan en sterre (altesaam 12 sterre) van kop tot tone in lig geklee is. Gesonde verstand sê vir ons dat dit ’n simboliese “vrou” in die hemel moet wees, want daar word nie van een van die hemelse engele as vroue gepraat nie. Sy is swanger, en soos ’n draak wat verslind, wag Satan die Duiwel om die kind waaraan sy die lewe gaan skenk in te sluk. Maar die hemelse Vader van daardie kind hou sake dop en keer Satan, sodat wanneer ’n manlike kind gebore word, hy ‘weggeruk word na God en sy troon’, om van daar af “al die nasies met ’n ystersepter [te] regeer” (Openb. 12:1-5). Daardie koninklike geboorte maak nie ’n einde aan Satan se vyandskap teenoor hierdie simboliese “vrou” nie, want sy moet onder goddelike beskerming teen Satan geestelik gevoed word. Dan volg daar oorlog in die hemel.

17. Is “die ou slang” se kop vermorsel deur die uitslag van die oorlog in die hemel, en hoe het daardie uitslag mense op aarde en see geraak?

17 Migael die aartsengel voer die magte van “Jehovah van die leërskare” aan. Met hierdie engeleleër veg Migael ter ondersteuning van die gekroonde pasgebore kind van die “vrou”. Satan, “die ou slang”, se kop gaan vermorsel word, en hy en sy demoniese engele verloor die stryd. Hulle word uit die hemel verdryf en na ons aarde neergewerp. Maar dit is nie hoe Satan se kop vermorsel word nie, want hy is nog vol lewe. Dit is dus geen wonder nie dat die uitroep uit die hemel weerklink: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openb. 12:7-12.

18. Wat het Migael en sy leërskare se oorwinning vir ‘die koningskap van onse God’ verseker, en wie kan hulle gevolglik verheug?

18 Aangesien Migael die aartsengel en sy engele die oorwinning behaal en die koninklike “kind” nie sy hemelse troon langs God ontneem word nie, is die hemelse aankondiging gepas: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. . . . Daarom, wees verheug, o hemele.”

19. Wat beeld die “vrou” wat die lewe aan die manlike “kind” skenk af, en waarom?

19 Die manlike “kind” wat in Openbaring 12:5 gemeld word, is klaarblyklik simbolies. Al die dinge wat daaromtrent gesê word, toon dat dit nie ’n enkele persoon afbeeld nie, maar God se koninkryk met sy Seun Jesus Christus as die een met die gesag om al die nasies met ’n ystersepter te regeer, om hulle te verbrysel tydens die toekomstige “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon (Openb. 16:14-16). Net soos die “kind” nie ’n enkele persoon is nie, is sy moeder, die “vrou” in die hemel, nie ’n enkele persoon nie. Aangesien hierdie simboliese “vrou” deur God as haar man swanger gemaak is, moet sy God se geestelike organisasie afbeeld. Hierdie organisasie voorsien die personeel van daardie hemelse koninkryk, nie alleen die verheerlikte Jesus Christus, wat klaarblyklik Migael die aartsengel genoem word nie, maar ook sy geestelike “broeders” wat ook die “broeders” van God se geestelike organisasie is.—Openb. 12:10, 11.

20. Hoe toon Openbaring 12:17 of daar nog enige van die “broeders” van God se geestelike organisasie op die aarde is?

20 Daar is nog ’n oorblyfsel van hierdie geestelike “broeders” op ons veelbewoë aarde. Want Openbaring 12:17 sê voorts: “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” As deel van die saad van God se “vrou”, het hulle die Koninkrykshoop.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel