Moenie die prooi word van hedendaagse Judaïseerders nie!
NEGENTIEN eeue gelede het ’n groep mense probeer om in die verlede te lewe. Deur dit te doen, het hulle groot seëninge verbeur. Wie was hulle?
Hulle was persone wat bely het dat hulle Christene is, maar wat in werklikheid probeer het om ’n afvallige smeltingsgodsdiens van die Christelike godsdiens en Judaïsme te maak. Hulle was Judaïseerders. Hulle het geleer dat nie-Jode wat Christene geword het “volgens die gebruik van Moses” besny moes word om gered te word. Trouens, party van hulle het gemeen dat dit nodig was om nuwe gelowiges te leer om die Mosaïese wet te onderhou.—Hand. 15:1-5.
Die Judaïseerders was oorbewus van die feit dat God meer as 1 500 jaar lank uitsluitlik met die Jode gehandel het. Gedurende daardie tyd moes enige lid van ’n ander nasie wat ’n aanbidder van Jehovah wou word, ’n proseliet of bekeerling tot Judaïsme word. So ’n persoon sou “besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou”, wat presies is wat die Judaïseerders met nuwe Christendissipels wou doen.
Maar met die totstandkoming van die Christengemeente was daar ’n verandering. Dit was nie meer nodig om ’n Jood of ’n Joodse proseliet te wees om God te dien nie. En hierdie verandering moes mense ook nie verbaas het nie. Soos die Christenapostel Paulus getoon het, het Jehovah dit deur sy profete van die ou tyd voorspel. “Soos Hy ook in Hosea sê:”, sê Paulus, “Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem.” Rom. 9:25; Hos. 2:22.
Dit het geloof van ’n eerste-eeuse Jood geverg om ’n Christen te word—geloof in wat Jehovah se profesieë gesê het oor sy insameling van mense van die nasies, asook van natuurlike Jode. Dit het nederigheid van Joodse Christene geverg om te erken dat geboorte as ’n Jood ’n mens nie meer outomaties ’n lid van God se volk gemaak het nie. Die Judaïseerders het nie sulke geloof of nederigheid gehad nie. Hulle het aan die verlede vasgeklou, en het gevolglik wonderlike seëninge verbeur. Hoe?
Deur die belangrikheid daarvan om ’n vleeslike Jood te wees te oorskat, het hulle nie besef wat dit beteken om ’n geestelike Jood te wees nie. Die weg is destyds vir persone geopen om lede van “die Israel van God”—geestelike Israel—te word (Gal. 6:15, 16). Die Israel van God bestaan uit 144 000 persone wat die Bybel se saam met Jesus Christus in die hemel gaan wees—’n heerlike vooruitsig!—Openb. 7:1-8; 14:1-5.
IS ALLE “CHRISTENE” GEESTELIKE ISRAELIETE?
Dit is vandag nie meer vir mense moeilik om te dink dat Christene hemel toe gaan om saam met Christus Jesus te wees nie. Honderde jare lank al leer die kerke van die Christendom dat alle goeie lidmate hemel toe gaan. Hulle leer dus vandag dat alle Christene geestelike Israeliete is.
Hierdie leer laat ’n aantal basiese Bybelvrae onbeantwoord. Paulus het byvoorbeeld vir lede van geestelike Israel gesê: “As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal. 3:29). Wat was daardie belofte? Dit was die belofte wat God lank gelede aan Abraham gegee het dat hy ’n “saad” of “nageslag” sou hê en dat “in jou nageslag . . . al die nasies van die aarde geseën [sal] word, omdat jy na my stem geluister het”.—Gen. 22:18.
Die vraag ontstaan dus: Wie is die “nasies” wat geseën word as die geestelike Israeliete Abraham se “nageslag” is? Daardie “nasies” sal ongetwyfeld verrese persone insluit wat voor Christus gelewe het. Maar is dit al? Toon die Skrif dat al die Christene wat lewe wanneer die beloftes vervul word geestelike Israeliete sal wees? Inteendeel!
Kyk wat voorspel is in die profetiese boek Openbaring, hoofstuk 7. Die eerste agt verse van hierdie hoofstuk beskryf die verseëling van 144 000 persone wat “al die stamme van die kinders van Israel” voorstel. Daar bestaan geen twyfel dat hulle almal geestelike Israeliete is nie. Wat nou?
“Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!”—Openb. 7:9, 10.
Is hierdie laasgenoemdes Christene? Klaarblyklik, aangesien hulle God se goedkeuring wegdra en hulle heil aan sy Lam, Jesus Christus, toeskryf.
Is hulle geestelike Israeliete? Klaarblyklik nie, aangesien daar gesê word dat hulle uit alle nasies, stamme, volke en tale kom nadat Johannes die verseëling van die 144 000 lede van geestelike Israel beskryf het. Dit is dus duidelik dat nie alle Christene vandag geestelike Israeliete is nie.
DEUR JESUS VOORSPEL
Dit behoort ons nie te verbaas dat baie Christene nie geestelike Israeliete is nie.
Jesus self het so ’n verwikkeling voorspel in sy bekende gelykenis van die goeie herder. In sy gelykenis het Jesus gepraat van ’n stal of kraal vir ’n kleiner kudde, en van ’n veel groter kudde wat uit hierdie groepie sowel as sy “ander skape” bestaan.
Nadat hy uitgewei het oor die skape wat in hierdie stal “ingaan en uitgaan”, het Jesus voorts gesê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh. 10:9, 16). Wat het Jesus bedoel met “ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie”?
Jesus het ’n groot kudde beskryf waarvan party in die “stal” gewoon het, en party nie. Al die skape het aan dieselfde groot kudde behoort, maar nie almal het in die stal gewoon nie. Die kudde kon taamlik groot wees—onbeperk—maar slegs ’n beperkte aantal skape kon in die stal ingaan, wat gewoonlik ’n klipkraal was met mure met ’n bepaalde lengte en hoogte.—Joh. 10:1-9.
HEDENDAAGSE “JUDAÏSEERDERS”
Baie mense glo vandag dat alle Christene geestelike Israeliete moet wees, net soos die eertydse Judaïseerders geglo het dat alle Christene letterlike Jode of proseliete moes wees. Die vernaamste kerkgenootskappe van die Christendom verkondig almal hierdie leer. Hulle verduidelik dus Jesus se gelykenis soos volg: Die eerste Christendissipels het van binne die “stal” van Judaïsme gekom, en die latere dissipels, die “ander skape”. is van buite daardie “stal” geneem, daar hulle nie-Jode was. Volgens die kerke van die Christendom het die “skape” binnekant die “stal” sowel as die “ander skape” geestelike Israeliete met ’n hemelse hoop geword.
Hoewel dit aanneemlik klink, sien dit ’n belangrike aspek van Jesus se gelykenis oor die hoof. Jesus het te kenne gegee dat daar voortdurend skape in die “stal” sowel as “skape” buitekant in sy vergrote kudde sou wees. Die gelykenis gee nêrens te kenne dat die “ander skape” in die klein “stal” of kraal ingedruk word nie. En die gelykenis gee ook nie te kenne dat die stal vernietig sou word sodat daar nie meer ’n verskil tussen die skape wat voorheen daarin was en die “ander skape” sou bestaan nie. Jesus se kommentaar dat die skape in die stal sou “ingaan en uitgaan en weiding vind”, toon dat die kraal ’n permanente reëling is. Dit stel die Abrahamitiese verbondsreëling voor wat voortbestaan, nie die van die Wetsverbond wat God “weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” nie (Kol. 2:14). Maar nie al die skape in die kudde sou in die kraal kon ingaan nie. Die Lewende Nuwe Testament stel dit soos volg: “Ek het nog ander skape ook wat nie in hierdie kraal is nie”, hoewel hulle hulself ook deur geloof en gehoorsaamheid ‘seën’.
As die stal of kraal ’n voortdurende onderskeid tussen twee klasse Christene afbeeld, kan dit nie die verskil tussen Jode en nie-Jode afbeeld nie, want daardie onderskeid is afgeskaf in die geesverwekte “klein kuddetjie” (Luk. 12:32). Soos Paulus dit stel: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; maar julle is almal een in Christus Jesus.”—Gal. 3:28; Ef. 2:15.
Die enigste voortdurende onderskeid tussen twee klasse Christene is die onderskeid tussen geestelike Jode en die wat nie geestelike Jode is nie. Dit is dieselfde onderskeid tussen Abraham se “saad” of “nageslag” en die “nasies” wat daardeur geseën sal word. Dit is dieselfde onderskeid tussen die 144 000 lede van geestelike Israel, wat in Openbaring hoofstuk 7 gemeld word, en die onbeperkte “groot menigte” mense uit al die nasies wat onmiddellik daarna gemeld word.
Net soos die vroeë Judaïseerders nie wou erken dat ’n persoon God kon dien as hy nie ’n Jood of ’n proseliet was nie, wil vandag se “Judaïseerders” nie erken dat ’n persoon God kan dien as hy nie ’n geestelike Jood is nie. Hulle sê dat alle Christene as Koninkrykserfgename gesalf moet wees. Maar sedert 1935 dien miljoene “ander skape” God getrou ondanks die spot en soms die vervolging deur hedendaagse “Judaïseerders”, onder meer die lidmate en geestelikes van die Christendom.
Hierdie “ander skape” is Christene. Hulle stel hulle volle geloof in Christus se losprysoffer en volg in sy voetstappe. Maar hulle het geen begeerte om hemel toe te gaan nie. Alhoewel die Bybel toon dat God se gees vir lede van geestelike Israel getuig dat hulle ’n hemelse hoop het, lewer dit geen sodanige getuienis aan die “ander skape” nie (Rom. 8:15-17). Die bestaan van sulke getroue Christene wat geen hemelse hoop koester nie, kan nie verklaar word indien alle Christene hemel toe gaan, soos die valse Christendom beweer nie. Maar hulle bestaan wel en daar is meer as 2 000 000 van hulle wat die vrug van God se heilige gees oorvloedig voortbring, alhoewel daardie einste gees nie vir hulle sê dat hulle hemel toe gaan nie.—Gal. 5:22.
In die eerste eeu het dit groot moed geverg om die leer van die apostel Paulus aan te neem en te erken dat iemand wat nie ’n Jood of ’n proseliet was nie ’n Christen kon word. Min mense het soos Paulus geglo. Die Jode kon tot 70 G.J. na hulle tempel in Jerusalem wys in ’n poging om te “bewys” dat hulle nog God se organisasie was. En as dit mense nie oortuig het nie, kon hulle van regstreekse vervolging gebruik maak, soos hulle dikwels gedoen het.—Hand. 9:23; 14:19; 20:3; 23:12-15.
Dit is vandag net Jehovah se Getuies wat uit die Skrif toon dat persone Christene kan wees sonder om geestelike Jode te wees. Net soos in die eerste eeu is daar betreklik min van hierdie Christene, en is hulle dikwels ongewild. Die Christendom, wat beweer dat al hulle lidmate geestelike Jode is, kan roem in hulle grootte, hulle rykdom en hulle baie tempels, en so probeer bewys dat hulle God se organisasie is. Wanneer dit nie slaag nie, kan hulle Jehovah se Getuies regstreeks vervolg, soos hulle ook dikwels doen.
As jy grootgemaak is om te glo dat jy hemel toe gaan omdat jy ’n lidmaat van ’n kerk van die Christendom is, verkeer jy in ’n posisie baie soos die van ’n Jood wat die prediking van die apostel Paulus gehoor het. Maar het jy die nodige nederigheid en geloof om noukeurig aandag te skenk aan wat Jehovah se Getuies vir mense uit die Bybel wys? Dit wil sê, is jy nederig genoeg om God te dien selfs al is jy nie ’n lid van die “klein kuddetjie” geestelike Israeliete nie? Dan kan jy in aanmerking kom vir die wonderlike seëninge wat “al die nasies van die aarde” binnekort deur Jesus Christus en die “klein kuddetjie” gaan ontvang!—Gen. 22:18.