God se Woord is lewend
GAAN ALLE GOEIE MENSE HEMEL TOE?
. . . OF SAL DIE MEESTE OP ’N PARADYSAARDE LEWE?
DIE meeste mense glo moontlik dat dit die geval is. Maar is dit wat die Bybel leer?
Kort nadat Jesus Christus uit die dood opgewek is, het die apostel Petrus vir ’n skare Jode gesê dat “die aartsvader Dawid . . . gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie.”—Hand. 2:29, 34.
Het die goeie man Job hemel toe gegaan na sy dood? Terwyl hy gely het, het Job tot God gebid: “Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my ’n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink!”—Job 14:13.
Job het verwag om na sy dood onbewus in die graf te lê. Maar hy het ’n hoop gekoester, soos hy verduidelik het: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U sou roep, en ek sou U antwoord.”—Job 14:14,
Johannes die Doper was beslis ’n goeie man. Tog het Jesus gesê: “Die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy” (Matt. 11:11). Dit is die geval omdat Johannes die Doper nie hemel toe sal gaan nie. Hy sal op die aarde opgewek word. Dawid, Job, Johannes die Doper en alle ander getroue manne en vroue wat gesterf het voordat Christus gesterf het, sal ’n opstanding op aarde kry. Hulle sal aardse onderdane van God se koninkryk wees.
Jesus Christus sal as koning in die hemel regeer. Sy apostels en ander geesverwekte Christene sal hemel toe gaan om saam met hom te regeer, soos die Bybel sê: “Hulle sal die koningskap oor die aarde uitoefen” (Openb. 5:10, NAB). Die Bybel toon dat slegs ’n beperkte aantal persone, ’n “klein kuddetjie”, hemel toe sal gaan om daardie konings te wees. Die Bybel sê dat daar 144 000 van hulle sal wees. Die res van die getroue mensdom sal op aarde onder hierdie heersers lewe.—Luk. 12:32; Openb. 14:1, 3.
Hoe sal dit op aarde wees wanneer God se koninkryk heers? Die hele aarde sal ’n paradys word, net soos God hom oorspronklik voorgeneem het toe hy Adam en Eva in die paradys van Eden gesit het. Dan sal die Bybelbelofte vervul word: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Ps. 37:29.
[Prente op bladsy 12]
Koning Dawid—in die hemel of waar?
Het Job gehoop om hemel toe te gaan?
Het Johannes die Doper hemel toe gegaan?