’n Nuwe lewe vir ons voorouers
LEER God se Woord, die Bybel, dat almal by die dood vanselfsprekend hulle lewe in die geesteryk voortsit? Nee, dit sê nie so nie. Die Bybel bied ’n wonderlike hoop op lewe ná die dood, maar nie op die manier wat baie dink nie.
Kyk wat die Bybel oor ons eerste voorouer, Adam, sê. Jehovah het hom “uit die stof van die aarde” geformeer (Genesis 2:7). Adam het die geleentheid gehad om vir ewig in geluk op aarde te lewe (Genesis 2:16, 17). Hy het egter teen sy liefdevolle Skepper gerebelleer, en die gevolg was die dood.
Waarheen het Adam ná sy dood gegaan? God het vir hom gesê: “Jy [sal] terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:19.
Waar was Adam voordat Jehovah hom uit die stof geskep het? Nêrens nie. Hy het nie bestaan nie. Toe Jehovah dus gesê het dat Adam ‘na die aarde sou terugkeer’, kon hy net bedoel het dat Adam weer leweloos sou word, net soos die stof. Adam het nie ‘oorgegaan’ om die eerste een in ’n wêreld van voorvadergeeste te wees nie. Hy het nie na ’n lewe van saligheid in die hemel en ook nie na ’n ewigheid van lyding in ’n plek van foltering gegaan nie. Die enigste verandering wat hy ondergaan het, was van lewe na leweloosheid, van ’n toestand waar hy bestaan het na een van niebestaan.
Wat van die res van die mensdom? Hou Adam se nakomelinge ook by die dood op om te bestaan? Die Bybel antwoord: “Alles [mense sowel as diere] gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.”—Prediker 3:19, 20.
Die toestand van die dooies
Ja, die dooies is leweloos en nie in staat om te hoor, te sien, te praat of te dink nie. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie . . . Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn.” Die Bybel sê ook: “Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 6, 10.
Volgens God se Woord is mense derhalwe bewus van die dood wanneer hulle lewend is. Wanneer die dood egter intree, is hulle van niks bewus nie. Hulle staan nie langs hulle eie dooie liggaam en kyk wat daarmee gedoen word nie. In ’n toestand van niebestaan is daar nie plesier of pyn nie, nie vreugde of smart nie. Diegene wat dood is, is nie bewus van tydsverloop nie. Hulle is in ’n onbewuste toestand wat dieper as enige slaap is.
Job, ’n kneg van God in die ou tyd, het geweet dat mense nie ná die dood voortleef nie. Hy het ook besef dat daar sonder God se ingryping geen hoop is om weer te lewe nie. Job het gesê: “’n Man sterwe en is magteloos; ja, ’n mens blaas die asem uit en—waar is hy? So lê [hy] daar sonder om weer op te staan” (Job 14:10, 12). Job het beslis nie verwag om, wanneer hy sterf, by sy voorouers in ’n geestewêreld aan te sluit nie.
Die opstandingshoop
Aangesien die lewendes by die dood ophou bestaan, is die deurslaggewende vraag die een wat Job geopper het toe hy gevra het: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?” Job self het hierdie antwoord verstrek: “Dan sou ek hoop al die dae van my stryd [tyd in die graf] totdat my aflossing kom; U [Jehovah] sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang.”—Job 14:14, 15.
Met ander woorde, hoewel Job nie meer sou bestaan nie, sou God hom nie vergeet nie. Job het geglo dat die tyd sou aanbreek wanneer Jehovah God hom deur middel van ’n opstanding na die lewe sou ‘terugroep’.
Jesus Christus, die Seun van God, het getoon dat Job se opstandingshoop realisties was. Jesus het bewys dat die dooies opgewek kan word. Hoe? Deur dit te doen! Hy was nie daar om Job op te wek nie, maar toe Jesus op aarde was, het hy die seun van ’n weduwee van die stad Nain opgewek. Jesus het ook die 12-jarige dogtertjie van ’n man met die naam Jaïrus lewend gemaak. En hy het sy vriend Lasarus opgewek wat al vier dae lank dood was.—Lukas 7:11-15; 8:41, 42, 49-56; Johannes 11:38-44.
Buiten hierdie wonderwerke wat Jesus verrig het, het hy van ’n groot toekomstige opstanding gepraat. Hy het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Later het die apostel Paulus, vir wie Jehovah gebruik het om ’n jong man op te wek, ook geloof in ’n toekomstige opstanding uitgespreek. Hy het gesê: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees.”—Handelinge 20:7-12; 24:15.
Hierdie skriftuurlike verwysings na ’n toekomstige opstanding het nie betrekking op voortgesette lewe in die geesteryk nie. Dit dui op die tyd wanneer miljoene dooies met fisiese liggame na die lewe hiér op aarde sal terugkeer. Hierdie verresenes sal nie mense sonder enige geheue van hulle vorige lewe op aarde wees nie. Hulle sal nie weer as babas gebore word nie. Hulle sal eerder dieselfde mense wees wat hulle was toe hulle gesterf het, met dieselfde herinnerings en persoonlikheid. Hulle sal vir hulleself en vir ander herkenbaar wees. Watter vreugdevolle geleentheid sal dit tog wees wanneer hierdie mense weer by hulle vriende en familie aansluit! En hoe opwindend sal dit tog wees om ons voorouers te ontmoet!
Opstanding tot lewe in die hemel
Het Jesus nie gesê dat sommige hemel toe sou gaan nie? Ja, hy het. Die aand voordat hy doodgemaak is, het hy gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. . . . ek gaan heen om vir julle ’n plek te berei. En as ek heengaan en vir julle ’n plek berei, kom ek weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is” (Johannes 14:2, 3). Jesus het met sy getroue apostels gepraat, maar sy woorde beteken nie dat alle goeie mense hemel toe gaan nie.
Jesus het getoon dat diegene wat tot die hemelse lewe opgewek word aan ander vereistes moet voldoen as om net ’n goeie lewe te lei. Een vereiste is om juiste kennis van Jehovah en sy voornemens te hê (Johannes 17:3). Ander vereistes is om geloof in Jesus Christus se losprysofferande te beoefen en God te gehoorsaam (Johannes 3:16; 1 Johannes 5:3). Nog ’n vereiste is om “weer gebore” te word as ’n gedoopte Christen wat deur God se heilige gees verwek is (Johannes 1:12, 13; 3:3-6). ’n Verdere vereiste vir hemelse lewe is om soos Jesus te volhard en selfs tot die dood toe aan God getrou te bly.—Lukas 22:29; Openbaring 2:10.
Daar is ’n rede vir sulke hoë vereistes. Diegene wat tot hemelse lewe opgewek word, het ’n belangrike werk om te doen. Jehovah het geweet dat menseregerings nooit dinge op aarde suksesvol sou kon beheer nie. Daarom het hy gereël dat ’n hemelse regering, of Koninkryk, oor die mensdom sou heers (Matteus 6:9, 10). Jesus sou Koning van daardie Koninkryk wees (Daniël 7:13, 14). Party wat van die aarde gekies is en tot hemelse lewe opgewek is, sou saam met hom regeer. Die Bybel het voorspel dat hierdie verresenes ‘’n koninkryk en priesters vir ons God sal word en as konings oor die aarde sal heers’.—Openbaring 5:10.
Sou groot getalle mense aan die vereistes vir ’n hemelse opstanding voldoen? Nee. Sonder hulle eie toedoen kwalifiseer die meeste mense wat in die dood slaap nie daarvoor nie. Baie het min of geen geleentheid gehad om die waarheid oor Jehovah en sy voornemens te leer. Hulle het geleef en gesterf sonder enige kennis van Jesus Christus of van God se Koninkryk.
Jesus het diegene wat hemel toe sou gaan ’n “klein kuddetjie” genoem (Lukas 12:32). Later is daar geopenbaar dat die getal wat “van die aarde gekoop is” om saam met Christus in die hemel te regeer 144 000 sou wees (Openbaring 14:1-3; 20:6). Hoewel die getal 144 000 groot genoeg is om die “baie wonings” waarvan Jesus gepraat het te vul, is dit klein wanneer dit met die miljarde mense vergelyk word wat van Adam afgestam het.—Johannes 14:2.
Gebeure voor die aardse opstanding
Kom ons hersien wat ons tot dusver bespreek het. Volgens die Bybel is diegene wat sterf leweloos in die dood totdat hulle deur Jehovah God opgewek word. Party word tot lewe in die hemel opgewek, waar hulle saam met Jesus Christus in die Koninkryksregering sal heers. Die meeste mense sal op die aarde opgewek word om onderdane van daardie Koninkryk te word.
Jehovah sal sy voorneme vir die aarde gedeeltelik deur die aardse opstanding volbring. Jehovah het dit geskep “om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Dit sou die mensdom se permanente tuiste wees. Die psalmis het gevolglik gesing: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”—Psalm 115:16.
Voordat die opstanding tot lewe op aarde begin, moet daar groot veranderinge plaasvind. Jy sal waarskynlik saamstem dat dit nie God se voorneme was dat die aarde met oorlog, besoedeling, misdaad en geweld gevul word nie. Hierdie probleme word deur mense veroorsaak wat geen respek vir God en sy regverdige wette het nie. God se Koninkryk sal dus—in ’n belangrike stap om sy wil op die aarde tot stand te bring—“die verderwers van die aarde . . . verderf” (Openbaring 11:18). Die Koninkryk sal alle goddelose mense vernietig, en die regverdiges agterlaat om vir ewig op die aarde te lewe.—Psalm 37:9, 29.
Paradys op aarde
Diegene wat op ’n gereinigde aarde opgewek word, sal saggeaarde, liefdevolle mense wees wat doen wat reg is. (Vergelyk Matteus 5:5.) Onder die liefdevolle toesig van God se Koninkryk sal hulle gelukkige lewens in veiligheid lei. Die Bybel gee hierdie wonderlike voorskou van toestande wat dan sal heers: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
Ja, die aarde sal in ’n paradys omskep word (Lukas 23:43). Dink net wat dit sal beteken! Hospitale en verpleeginrigtings sal uitgedien wees. In die Paradys sal diegene wat nou deur die gevolge van die ouderdom geteister word weer sterk en gesond wees (Job 33:25; Jesaja 35:5, 6). Daar sal nie meer roukamers, begraafplase en grafstene wees nie. Deur middel van sy Koninkryk sal Jehovah “die dood vir ewig vernietig” (Jesaja 25:8). Sulke seëninge kan sekerlik ’n nuwe lewe vir ons en ons voorouers beteken.
[Prent op bladsy 7]
Diegene wat op die aarde opgewek gaan word, sal onderdane van die Koninkryk wees