Wie is God se dienaars?
ETLIKE jare gelede is ’n aantal besware geopper teen die gebruik van die Engelse uitdrukking “minister” (dienaar) vir alle toegewyde en gedoopte Christene. Hierdie besware is gebaseer op taalverskille, die wyse waarop ander godsdiensliggame en manne in amptelike posisies hulle aanspraak dat hulle dienaars (ministers, Engels) is, kan beskou, ensovoorts. Maar dit lyk nie of sulke besware sterk genoeg is om die standpunt wat Jehovah se volk vir die grootste deel van die afgelope honderd jaar gehuldig het, ongeldig te maak nie.
“DI·A’KO·NOS”—’N DIENAAR
In die Engelse vertaling van die Christelike Griekse Skrifte kom die werkwoord “minister” en die selfstandige naamwoord “minister” baie voor. Die Griekse selfstandige naamwoord wat so vertaal word, is di·a’ko·nos, wat letterlik beteken ‘deur die stof’, asof dit van toepassing is op iemand wat stowwerig word omdat hy boodskappe dra. Dit word skynbaar in drie verskillende sinne gebruik, waarna ons nou gaan ondersoek instel.
Die uitdrukking di·a’ko·nos word eerstens gebruik met verwysing na iemand wat in ’n materiele, sekulêre sin dien, en kan bloot verwys na diens in ’n huishouding. Ons lees dus in een van Jesus se gelykenisse: “Toe sê die koning vir sy dienaars [di·a’ko·noi]: Bind sy hande en voete” (Matt. 22:13). Dieselfde woord word in Romeine 13:4 as “dienaar” weergegee, en daar verwys dit na sekulêre regerings.
In sekere verbande word hierdie Griekse woord di·a’ko·nos in ’n spesiale, beperkte, amptelike sin gebruik, soos in Filippense 1:1, waar dit toegepas word op sekere persone in die Christengemeente wat in ’n amp aangestel is, want daar word dit verbind met ander wat die amp van opsiener of “biskop” beklee. Ons lees dus: “Paulus en Timotheüs, diensknegte van Jesus Christus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is, saam met die opsieners en diakens [di·a’ko·noi].” Die uitdrukking word ook in 1 Timotheüs 3:8, 12 in hierdie spesiale sin gebruik waar die apostel Paulus die kwalifikasies van sulke “diakens” of bedieningsknegte aangee.
Laastens is daar ander gevalle waar hierdie geïnspireerde skrywers van die Christelike Griekse Skrifte skynbaar hierdie uitdrukking in ’n breër sin gebruik het, maar een wat meer behels as bloot ’n verwysing na ’n kneg wat sekulêre pligte nakom. Dit is wanneer dit gebruik word met verwysing na enige toegewyde persoon wat God in heilige of geestelike sake dien, en in hierdie gevalle vertaal party tale dit met ’n gepaster woord, naamlik “minister”, wat die gedagte van ’n verhewe of goddelike diens oordra. Die apostel Paulus verwys dus in Kolossense 1:23 na homself as een wat “’n dienaar [di·a’ko·nos, Grieks; minister, Engels] geword het”. (Kyk Authorized Version; Revised Standard Version; Phillips se New Testament in Modern English; The New English Bible.) Paulus praat ook van ander, byvoorbeeld Timotheüs, as dienaars (ministers, Engels).—1 Tim. 4:6, AV; RSV; New International Version.
“DI·A·KO·NI’A”—BEDIENING
Nou verwant aan die Griekse woord di·a’ko·nos is die selfstandige naamwoord di·a·ko·ni’a, wat verwys na ’n “diens” of ’n “bediening”. Hierdie Griekse woord word ook in sekulêre sowel as in ’n godsdienstige of heilige sin gebruik. In Handelinge 6:1 word dit in ’n sekulêre sin gebruik. Daar lees ons: “En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar ’n murmurering ontstaan van die Grieks-sprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging [NW-voetnoot, “ministration”] oor die hoof gesien is.”
Wanneer di·a·ko·ni’a in ’n godsdienssin gebruik word, gebruik party vertalers in sekere tale ’n spesiale woord daarvoor en gee hulle dit nie as ’n “versorging” of ’n “diens” weer nie, maar as ’n “bediening” (ministry, Engels), bedoelende ’n meer verhewe, godvrugtige diens. In sulke tale laat hulle dus die apostel Paulus die volgende oor sy apostelskap ten behoewe van die nie-Jode sê: “Ek verheerlik my bediening [ministry, Engels]” (Rom. 11:13, RSV; NE; NIV).a Hy het verder geskryf dat hy dankbaar was dat God ‘hom getrou geag en in die bediening gestel het’, naamlik in ’n godvrugtige, verhewe “diens” (1 Tim. 1:12, Kingdom Interlinear Translation). Paulus het dus aan Timotheüs geskryf: “Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening [ministry, Engels].” Timotheüs se evangelisasiewerk of verkondiging van die “evangelie”, was nie ’n sekulêre diens nie. Dit was ’n godvrugtige, verhewe diens—’n bediening—en dit het van hom ’n dienaar of bedienaar gemaak. Om dieselfde rede is almal wat vandag aan hierdie evangeliebediening deelneem inderdaad bedienaars (ministers, Engels).—2 Tim. 4:5, AV; NIV; RSV.
Dit is die manier waarop skrywers van die Christelike Griekse Skrifte die Griekse woorde di·a’ko·nos, di·a·ko·ni’a en soortgelyke woorde onder inspirasie gebruik het wat die patroon vir Jehovah se Getuies vorm. Trouens, Jehovah se Getuies is nie net ’n godsdiensorganisasie in die algemeen aanvaarde sin van die woord “gemeente” of “kerk” nie, maar hulle is ook ’n vereniging wat manne, vroue en jongmense oplei en toerus om bedienaars, “knegte”, in ’n verhewe of godvrugtige sin te wees, naamlik predikers van die goeie nuus van God se koninkryk. Daarom het hulle ’n voortdurende reeks kursusse wat manne, vroue en jongmense in die lewensbelangrike kennis van die Bybel oplei sodat hulle al hoe produktiewer kan wees as God se dienaars. Hierdie studiekursusse word gedek tydens vyf weeklikse vergaderinge waartydens Bybelleerstellings uiteengesit word, Bybelprofesieë uitgelê word, onderrig in Christelike gedrag en opleiding in die prediking en onderrigting van Bybelwaarhede voorsien word.
ORDENING AS BEDIENAARS
Net soos alle ander godsdiensorganisasies het Jehovah se Getuies die voorreg en reg om te bepaal wanneer hulle studente die punt bereik het waar hulle kwalifiseer om bedienaars van die Woord van God, “knegte” in ’n verhewe, godvrugtige sin, te wees. Na ’n gepaste tydperk van persoonlike opleiding word hulle deur die behoorlik aangestelde ouere manne in hulle gemeente ondervra. As studente kan toon dat hulle ’n toereikende kennis van God se Woord en hartgrondige waardering vir die boodskap daarvan het en hulself onvoorwaardelik aan Jehovah toegewy het om sy wil te doen en om in die voetspore van Jesus Christus te volg, en as hulle hulle lewens in ooreenstemming met God se vereistes en beginsels gebring het, word hulle toegelaat om hulle te laat doop en word hulle aldus as bedienaars georden. Daar bestaan ’n gegronde, Skriftuurlike presedent vir hierdie prosedure, want dit was slegs nadat Jesus homself aangebied het om gedoop te word dat hy met sy loopbaan as God se gesalfde bedienaar begin het en die goeie nuus van God se koninkryk verkondig het.—Mark. 1:9-15.
Maar is daar gegronde redes om doop, algehele onderdompeling in water, te beskou as ’n voldoende dingsplegtigheid?b Moontlik nie volgens die heersende gebruike in die valse Christendom nie, maar daar bestaan beslis sulke redes uit ’n Skriftuurlike standpunt, soos blyk uit wat M’Clintock en Strong se Cyclopœdia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature (1877), Dl. VII, bladsy 411, oor die onderwerp te sê het. Daarvolgens is ’n ordening “die aanstelling of inseëning van ’n persoon in ’n bedieningsamp, hetsy met of sonder meegaande seremonies . . . ’n Skriftuurlike ondersoek na hierdie onderwerp kan nie anders as om enige onbevooroordeelde verstand te beïndruk met die groot betekenis van die feit dat nòg die Here Jesus Christus nòg enige van sy dissipels spesifieke bevele oor ordening gegee het of verklarings daaroor gemaak het nie.” Bedienaars het vandag net so min ’n diploma of ’n ordeningsertifikaat nodig as wat die apostel Paulus een nodig gehad het.—2 Kor. 3:1-3.
DIE BEDIENING VAN JEHOVAH SE GETUIES
Hoe voer Jehovah se Getuies hulle bediening uit? Party van hulle dien as aangestelde ouere manne, en in daardie hoedanigheid preek en leer hulle in hulle gemeentes van die verhoog af en ook tydens gemeentelike Bybelklasse wat in die huise van die Getuies gehou word. Maar die omvattendste en kenmerkendste metode wat die Getuies in hulle bediening gebruik, is dié wat die apostels en ander vroeë dissipels van Jesus gebruik het in gehoorsaamheid aan sy bevel: “In watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is . . . En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom.”—Matt. 10:11-13.
Die apostel Paulus het homself eweneens onderskei deur vir gemeentes sowel as indiwidue in hulle huise te preek. Vir die ouere manne van Efese het hy gesê: “Julle weet . . . hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise [van huis tot huis, NW], terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus” (Hand. 20:18-21). Dit is ’n goeie presedent vir God se hedendaagse bedienaars.
In verband met die hedendaagse huis-tot-huisbediening en die gebruik van godsdienstige traktate het die Appèlhof van die Verenigde State in die geval van Murdock v. Commonwealth of Pennsylvania (1943) die volgende uitspraak gelewer: “Die verspreiding van godsdienstige traktate met die hand is ’n eeue-oue manier waarop sendelinge evangelisasiewerk doen—so oud soos die geskiedenis van drukperse. . . . Hierdie vorm van godsdiensbedrywigheid beklee dieselfde hoë posisie onder die Eerste Wysiging as aanbidding in die kerke en die hou van preke van kansels af.”
Die Verenigde State se Appèlhof vir die Sewende Rondgang het ook in die saak van Ransom v. United States (1955) gesê dat dit “geen grond gehad het om ’n onderskeid te tref . . . tussen predikers van Jehovah se Getuies wat van deur tot deur en op straathoeke as hulle roeping preek en predikante van die meer konvensionele gelowe wat van kansels af preek, in kerkskole onderrig gee of verskeie ander godsdiensbedrywighede vir hulle kerke verrig nie”.
Sou die feit dat hierdie bedienaars nie al hulle tyd aan hulle bediening wy nie hulle aanspraak dat hulle bedienaars is in ’n slegte lig stel sodat hulle nie as bedienaars kwalifiseer nie? Glad nie, want selfs die apostel Paulus het sekulêre werk gedoen om homself en diegene saam met hom te onderhou (Hand. 18:3, 4; 20:33, 34). Hierdie standpunt is gesteun deur die uitspraak van die Verenigde State se Appèlhof vir die Vyfde Rondgang in die geval van Wiggins v. United States (1958): “Bedienaars van Jehovah se Getuies . . . het geen ander keuse as om sekulêre werk te doen om geld te kry om die bediening hulle loopbaan te maak nie. . . . Die maatstaf . . . is . . . of hy dit sy loopbaan maak deur gereeld, nie net nou en dan nie, die beginsels van sy geloof aan ander te leer en te verkondig.”
Wie is dus God se bedienaars? Dit is die toegewyde en gedoopte Christene wat diens aan God en naaste hulle hoofdoel in die lewe maak! (Mark. 12:28-31). Kyk asseblief ook die volgende drie artikels.
[Voetnote]
a Kyk artikel op bladsy 20.
b Kyk Die Wagtoring, 15 November 1957, ble. 339, 340, 352.
[Prent op bladsy 15]
Ordening as ’n bedienaar van God vind Skriftuurlik met ’n mens se doop plaas
[Prent op bladsy 16]
In navolging van die Bybel se voorbeeld volbring Jehovah se Getuies hulle bediening “in die openbaar en van huis tot huis”