Lewe in ooreenstemming met God se waarborg
AS ONS volle geloof in God se waarborg in verband met die komende oordeel het, moet daar werke wees om ons geloof te staaf. Die Bybel sê: “Soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”—Jak. 2:26.
Dit is duidelik dat as ons verwag dat Jesus Christus se oordeel volkome onpartydig moet wees, ons partydigheid moet vermy. Dit sal beteken dat ons alle persone met die waardigheid bejeën wat hulle toekom en nie op ander neersien weens hulle nederige posisie of hulle beperkings, of individue voortrek net omdat hulle ryk of vernaam is nie. Ons sal ook nie onsself onnodig wil voortrek nie. Hoe inkonsekwent sal dit tog wees om ontsteld te raak oor die etiese oortredings waaraan ander hulle skuldig maak terwyl ons om elke hoek selfsugtig ons eie voordeel soek!
Ons kan gerus in gedagte hou dat goddelike oordeel deur Jesus Christus nie net vir ons medemens is nie. Dit is ook vir ons persoonlik. Die Skrif sê: “As julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap” (1 Pet. 1:17). As ons ’n heilsame vrees of agting vir ons Skepper en sy aangestelde Regter het, sal ons nie so geneig wees om te kyk wat ander doen of nie doen nie. Ons sal eerder versigtig wees oor hoe ons ons eie lewe lei. As ons besef dat net Jehovah God deur Jesus Christus alle sake kan regstel, sal dit ons daarvan weerhou om onnodig ontsteld te raak oor onreg en so toornig te word dat ons sake self probeer regstel. Die Bybel sê vir ons: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”—Rom. 12:19.
As ons terselfdertyd ander kan help om te sien hoe belangrik dit is om in ooreenstemming met God se waarborg van ’n komende oordeel te lewe, behoort ons dit beslis te wil doen. Ons kan dit doen deur vriendelik te reageer teenoor diegene wat ons onbillik behandel. Die Bybel beveel aan: “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Rom. 12:20, 21). ’n Vriendelike antwoord kan die onregverdige persoon laat skaam kry en hom spyt laat voel oor sy handelwyse. Die vriendelike behandeling kan hom dus louter en sy goeie eienskappe na vore laat kom.
Ons voorbeeldige gedrag sal natuurlik nie genoeg wees om ander te laat besef dat hulle hulle lewens na God se waarborg moet skik nie. Ons moet vir hulle van die goddelike wil en voorneme vertel. Vir die mense van Athene het die apostel Paulus gesê: “God . . . verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). Aangesien die dag vir die voltrekking van goddelike oordeel nog nie aangebreek het nie, is dit steeds die boodskap wat wyd en syd verkondig moet word. Die verkondigers moet tereg persone wees wat Jesus Christus as Jehovah se aangestelde Regter aanvaar het. Diegene wat waarlik aan God se waarborg glo, kan nie anders as om te spreek nie, want ‘uit die oorvloed van die hart praat die mond’.—Matt. 12:34.
Individue het min tyd oor om te reageer op die uitnodiging om berou te toon. Geen mens weet wat die volgende dag vir hom kan inhou nie. More kan te laat wees (Spr. 27:1; Jak. 4:13, 14). Dit is waarom persone wat God se uitnodiging om berou te toon sonder versuim aanvaar, en wat ’n lewe begin lei wat getuig van geloof in die voltrekking van goddelike oordeel, waarlik verstandig is.
So ’n lewenswyse is selfs nou voordelig. Dit dra by tot ’n skoon gewete voor God en ons medemens, en dit verskaf gemoedsrus en tevredenheid. Deur ander onselfsugtig te behandel, geniet ons die groter geluk wat mededeelsaamheid verskaf (Hand. 20:35). Daar wag ’n rooskleurige toekoms op ons. Ons sal nie alleen sien hoedat geregtigheid onpartydig toegepas word nie, maar al die lyding wat die mensdom duisende jare lank verduur het, sal tot die verlede behoort. Die Skrif bevat hierdie hartverblydende belofte: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openb. 21:4.
Ons het inderdaad goeie rede om in ooreenstemming met God se waarborg te lewe. As jy graag meer omtrent die Skepper se wonderlike voorneme en sy wil vir jou te wete wil kom, sal Jehovah se Getuies in jou omgewing met graagte die kennis wat hulle uit die Skrif verkry het met jou deel. Ons nooi jou om hulle aanbod van ’n gratis tuis-Bybelstudie te aanvaar.
[Prent op bladsy 7]
Dit is noodsaaklik dat ons Bybelkennis verkry en toepas