Geregtigheid vir almal deur God se aangestelde regter
“Want die Vader het die Seun lief en . . . het die hele oordeel aan die Seun gegee.”—JOHANNES 5:20, 22.
1. Voor watter vrae kom jy vandag te staan, soortgelyk aan dié waarvoor sommige mense in die eerste eeu te staan gekom het?
HOE belangrik is geregtigheid vir jou? In watter mate sal jy jou inspan om te verseker dat jy ware geregtigheid ontvang en selfs lewe wanneer dit oor die hele aarde heers? Jy is dit aan jouself verskuldig om daardie vrae te oorweeg, soos sommige prominente manne en vroue in Athene, Griekeland, gedoen het.
2, 3. (a) Wat het aanleiding gegee tot Paulus se beroep op sy Atheense luisteraars om hulle te bekeer? (b) Waarom sou bekering vir daardie gehoor vreemd geklink het?
2 Hulle het ’n onvergeetlike toespraak van die Christenapostel Paulus aan die beroemde hof van die Areopagus gehoor. Hy het eers geredeneer oor die bestaan van een God, die Skepper, aan wie ons almal ons lewe verskuldig is. Dit het gelei tot die logiese gevolgtrekking dat ons teenoor hierdie God aanspreeklik is. Op hierdie tydstip het Paulus gesê: “God het dan die tye van onkunde [toe mense afgode aanbid het] oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.”—Handelinge 17:30.
3 Om die waarheid te sê, bekering sou vir daardie gehoor ’n verrassende idee wees. Waarom? Die ou Grieke het bekering geken in die sin van berou oor die een of ander daad of uitlating. Maar soos een ensiklopedie toon, het die woord vir hulle “nooit [ge]dui op ’n verandering in die hele morele gesindheid, ’n diepgaande verandering in lewenskoers, ’n ommekeer wat hul hele lewenswyse raak nie”.
4. Watter logika het Paulus se kommentaar oor bekering gestaaf?
4 Maar jy kan ongetwyfeld sien waarom so ’n opregte bekering gepas is. Volg Paulus se redenasie. Aangesien alle mense hulle lewe aan God verskuldig is, is almal teenoor hom aanspreeklik. Dit is dus bloot reg en regverdig dat God sou verwag dat hulle hom soek, dat hulle kennis van hom opdoen. As sy beginsels en wil vir daardie Atheners onbekend was, moes hulle hierdie dinge leer en hulle dan bekeer om hulle lewens dienooreenkomstig te verander. Dit sou nie net afhang van hoe gerieflik dit was om dit te doen nie. Ons kan die rede hiervoor in Paulus se kragtige klimaks sien: “Omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”—Handelinge 17:31.
5. Hoe het die gehoor op Paulus se toespraak gereageer, en waarom?
5 Daardie vers, so betekenisvol, so oortuigend, verdien om sorgvuldig deur ons ondersoek te word, want dit wek hoop op volmaakte geregtigheid in ons tyd. Let op die sinsnedes: “’n dag bepaal”; “die wêreld in geregtigheid sal oordeel”; ‘deur iemand wat Hy aangestel het’; “sekerheid gegee”; ‘hom uit die dode opgewek’. Daardie woorde “deur hom uit die dode op te wek”, het ’n hewige reaksie by Paulus se gehoor ontlok. Soos verse 32-34 toon, het sommige gespot. Ander het eenvoudig die bespreking verlaat. Tog was daar ’n paar wat berouvolle gelowiges geword het. Laat ons egter verstandiger wees as die meeste van die Atheense gehoor, want dit is van die allergrootste belang indien ons na ware geregtigheid hunker. Om die meeste betekenis uit vers 31 te kry, moet ons eers die gedeelte ondersoek wat sê dat “Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel”. Wie is daardie “Hy”, en wat is sy standaarde, veral ten opsigte van geregtigheid?
6. Hoe kan ons leer aangaande die Een wat ’n dag bepaal het om die wêreld te oordeel?
6 Wel, Handelinge 17:30 toon van wie Paulus praat—die einste God wat aan almal verkondig dat hulle hul moet bekeer, ons Lewegewer, die Skepper. Ons kan natuurlik baie van God te wete kom uit sy skeppingswerke. Maar sy standaard van geregtigheid word veral duidelik uit ’n ander bron, die Bybel, wat die verslag bevat van sy handelinge met manne soos Moses en van wette vir Israel.
Watter soort oordeel en geregtigheid?
7. Watter getuienis gee Moses aangaande Jehovah en geregtigheid?
7 Jy weet dalk dat Moses baie dekades lank noue omgang met Jehovah God gehad het, so nou dat God gesê het dat hy “mond tot mond” met Moses gepraat het (Numeri 12:8). Moses het geweet hoe Jehovah hom behandel het, asook hoe God met ander mense en met hele nasies gehandel het. Na aan die einde van sy lewe het Moses hierdie gerusstellende beskrywing gegee: “Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is [geregtigheid]; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.”—Deuteronomium 32:4, vgl. NW.
8. Waarom moet ons let op wat Elihu aangaande geregtigheid gesê het?
8 Beskou ook die getuienis van Elihu, ’n man wat hom onderskei het vanweë sy wysheid en insig. Jy kan seker wees dat hy nie iemand was wat haastige gevolgtrekkings gemaak het nie. Inteendeel, in een geval het hy langer as ’n week gesit en na lang argumente van albei partye in ’n geskil geluister. Tot watter gevolgtrekking aangaande God het Elihu toe gekom, na aanleiding van sy eie ondervinding en sy studie van God se weë? Hy het gesê: “Manne van verstand, luister na my: Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg! Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk, en volgens ’n man se wandel laat Hy hom ondervind. Ja, waarlik, God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.”—Job 34:10-12.
9, 10. Waarom behoort God se standaarde vir menslike regters ons te bemoedig? (Levitikus 19:15).
9 Vra jou af: Is dit nie ’n volmaakte beskrywing van wat ons van ’n regter verlang nie, dat hy elkeen volgens sy handelinge of dade behandel, sonder partydigheid of ’n verdraaiing van die reg? Sou jy nie, as jy voor ’n menslike regter gestaan het, verlig gevoel het as hy so was nie?
10 Die Bybel praat van Jehovah as “die Regter van die ganse aarde” (Genesis 18:25). Soms het hy egter menslike regters gebruik. Wat het hy van Israelitiese regters verwag wat hom verteenwoordig het? In Deuteronomium 16:19, 20 lees ons God se aanwysings wat neerkom op ’n taakbeskrywing vir regters: “Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van wyse en verdraai die sake van die wat reg het. Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe.” Hedendaagse standbeelde wat Geregtigheid uitbeeld, kan haar verlangend as geblinddoek uitbeeld om onpartydigheid aan te dui, maar jy kan sien dat God baie meer gedoen het. Hy het in werklikheid sulke onpartydigheid vereis van menslike regters wat hom moes verteenwoordig en sy wette moes toepas.
11. Wat kan ons aflei uit ’n hersiening van hierdie Bybelse inligting aangaande geregtigheid?
11 Hierdie besonderhede aangaande God se beskouing van geregtigheid hou regstreeks verband met die klimaks van Paulus se toespraak. In Handelinge 17:31 het Paulus verklaar dat God “’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel”. Dit is presies wat ons van God kan verwag—reg, geregtigheid en onpartydigheid. Maar miskien is sommige mense nogtans bekommerd omdat God, volgens vers 31, “’n Man” gaan gebruik om alle mense te oordeel. Wie is daardie “Man”, en watter versekering het ons dat hy by God se verhewe standaard van geregtigheid sal bly?
12, 13. Hoe weet ons watter “Man” deur God gebruik sal word om te oordeel?
12 Handelinge 17:18 deel ons mee dat Paulus “die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het”. Aan die einde van Paulus se toespraak het die gehoor dus geweet dat hy Jesus Christus bedoel het toe hy gesê het dat God ‘die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n man wat hy aangestel het en wat hy uit die dode opgewek het’.
13 Jesus het erken dat God hom aangestel het as ’n regter wat aan die goddelike standaard voldoen. In Johannes 5:22 het hy gesê: “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee.” Nadat hy melding gemaak het van ’n komende opstanding van diegene wat in die gedenkgrafte is, het Jesus bygevoeg: “Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.”—Johannes 5:30; Psalm 72:2-7.
14. Watter soort behandeling kan ons van Jesus verwag?
14 Hoe goed kom hierdie versekering tog ooreen met wat ons in Handelinge 17:31 lees! Daar het Paulus ook die versekering gegee dat die Seun “die wêreld in geregtigheid sal oordeel”. Dit dui beslis nie op onversetlike, onbuigsame en ongevoelige geregtigheid nie, nie waar nie? Regverdige oordeel beteken eerder dat geregtigheid met genade en begrip versag word. Laat ons nie hierdie feit oor die hoof sien nie: Hoewel Jesus nou in die hemel is, was hy ’n mens. Hy kan dus empatie betoon. In Hebreërs 4:15, 16 maak Paulus hiervan melding waar hy Jesus as ’n hoëpriester beskryf.
15. Hoe verskil Jesus van menslike regters?
15 Dink net hoe verlig ons sal wees om Jesus as Regter te hê terwyl ons Hebreërs 4:15, 16 lees: “Want ons het nie ’n hoëpriester [en regter] wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” In hedendaagse howe is dit dikwels angswekkend om voor die regbank te moet verskyn. Maar met Christus as Regter kan ons ‘met vrymoedigheid nader sodat ons barmhartigheid, genade en hulp op die regte tyd kan ontvang’. Maar van tyd gepraat, jy het goeie rede om te vra: ‘Wanneer sal Jesus die mensdom in geregtigheid oordeel?’
“’n Dag” vir oordeel—Wanneer?
16, 17. Hoe weet ons dat ’n oordeelswerk nou vanuit die hemel gedoen word?
16 Onthou dat Paulus gesê het dat God “’n dag bepaal het” om die wêreld deur Sy aangestelde Regter te oordeel. In afwagting van daardie “dag” van oordeel doen Jesus vandag, ja, op hierdie oomblik, ’n lewensbelangrike oordeelswerk. Waarom kan ons so sê? Nie lank voor hy in hegtenis geneem en onregverdig ter dood veroordeel is nie, het Jesus ’n historiese profesie aangaande ons dag uitgespreek. Ons vind dit in Mattheüs hoofstuk 24. Jesus het die wêreldgebeure beskryf wat die tydperk genaamd “die voleinding van die wêreld” sou kenmerk. Die oorloë, voedseltekorte, aardbewings en ander benoudhede wat sedert die Eerste Wêreldoorlog aardwyd voorkom, bewys dat Jesus se profesie tans vervul word en dat “die einde” binnekort sal kom (Mattheüs 24:3-14). Jehovah se Getuies verduidelik dit al dekades lank uit die Bybel. As jy meer bewyse verlang oor hoe ons weet dat ons in die laaste dae van hierdie onregverdige stelsel lewe, kan Jehovah se Getuies dit verskaf.
17 Maar kyk nou asseblief na die laaste helfte van Mattheüs hoofstuk 25, wat ’n deel uitmaak van Jesus se profesie oor die laaste dae. Mattheüs 25:31, 32 is op ons tyd van toepassing: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dat sal Hy op sy heilige troon [in die hemel] sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei.” Kyk nou verder na waar Jesus die uiteinde van sy skeidings- of oordeelswerk beskryf. Vers 46: “En hulle [mense wat hy as bokke oordeel] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges [“die skape”] in die ewige lewe.”
18. Waartoe sal die oordeel in ons tyd lei?
18 Ons lewe dus in ’n kritieke oordeelstyd. Diegene wat vandag ‘God soek en hom werklik vind’, sal geoordeel word as “skape” wat in aanmerking kom om die einde van die huidige stelsel te oorlewe en die nuwe wêreld wat daarop sal volg binne te gaan. Dan sal 2 Petrus 3:13 vervul word: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” Dit sal die “dag” wees waarop Paulus se woorde in Handelinge 17:31 ten volle vervul word, die tyd dat die aarde in geregtigheid geoordeel sal word.
19, 20. Wie sal deur die komende Oordeelsdag geraak word?
19 Daardie Oordeelsdag sal baie meer mense raak as net die oorlewende “skape”, wat alreeds geoordeel sal wees as waardig om die nuwe wêreld binne te gaan. Onthou dat Jesus van ’n komende opstanding gepraat nadat hy gesê het dat sy Vader die oordeel aan hom gegee het. En in Handelinge 10:42 het die apostel Petrus gesê dat Jesus Christus “deur God bestem is as Regter van lewende en dode”.
20 Daardie ‘bepaalde dag’ wat in Handelinge 17:31 gemeld word waarop God deur Jesus Christus “die wêreld in geregtigheid sal oordeel”, sal derhalwe ’n tyd wees wanneer dooies opgewek sal word. Watter vreugde sal dit tog nie wees om te sien hoe goddelike krag uitgeoefen word om die dood, wat dikwels die grootste onreg is, te oorwin nie. Sommige mense, soos Jesus self, is ten onregte deur regerings of invallende leërs tereggestel. Ander het hulle lewens weens onvoorsiene omstandighede soos orkane, aardbewings, brande en soortgelyke rampe verloor.—Prediker 9:11, NW.
Vorige onregte uitgewis
21. Hoe sal vorige onregte in die nuwe wêreld reggestel word?
21 Stel jou voor dat ons ons dierbares kan sien herleef! Baie sal dan hulle eerste geleentheid kry ‘om God te soek en hom werklik te vind’ en sal die vooruitsig hê op die “ewige lewe” wat die beloning van “die skape” kan wees. Sommige verresenes, sowel as oorlewendes van hierdie onregverdige stelsel, was die slagoffers van oënskynlike onregte soos aangebore misvormdheid, blindheid, doofheid of spraakgebreke. Sal sulke gebreke inpas by “’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon”? Jehovah het Jesaja gebruik om verskeie profesieë op te teken wat gedurende die komende Oordeelsdag ’n wonderlike, letterlike vervulling sal hê. Let op wat ons kan verwag: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok en die tong van die stomme sal jubel.”—Jesaja 35:5, 6.
22. Waarom is Jesaja hoofstuk 65 so bemoedigend wat geregtigheid betref?
22 Wat van ander onregte wat nou soveel ellende veroorsaak? Jesaja hoofstuk 65 bevat uiters bemoedigende antwoorde. ’n Vergelyking van Jesaja 65:17 met 2 Petrus 3:13 toon dat hierdie hoofstuk ook vertel van die tyd wanneer daar “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”, ’n regverdige nuwe stelsel, sal wees. Maar wat sal verhoed dat ’n paar goddelose mense die vrede en geregtigheid bederf? ’n Entjie verder stel Jesaja 65 ons gerus wat daardie moontlike probleem betref.
23. Wat sal die moontlike resultaat van die Oordeelsdag vir sommige individue wees?
23 Gedurende hierdie voortgesette Oordeelsdag sal Jesus voortgaan met sy werk om te oordeel of mense vir die ewige lewe kwalifiseer. Sommige sal nie. Nadat hulle genoeg tyd, moontlik selfs “honderd jaar”, gegun is om God te soek, sal sommige toon dat hulle weier om regverdig te lewe. In harmonie met geregtigheid sal hulle die lewe in daardie nuwe wêreld verbeur, soos ons uit Jesaja 65:20 kan sien: “Wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.” Sulke persone wat geoordeel word as diegene wat nie die lewe waardig is nie, sal in die minderheid wees. Ons het alle rede om te verwag dat ons—en die meeste ander—maar te bly sal wees om regverdigheid te leer en daarvolgens te lewe.—Jesaja 26:9.
24. Wat sal die situasie met betrekking tot ekonomiese onreg wees?
24 Beteken dit dat daar geen voortgesette onregte, nie eens ekonomiese onregte, sal wees nie? Presies! Jesaja 65:21-23 dui op daardie feit: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet; hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.” Hoe anders as vandag! Wat ’n seën!
25. Wat is jou hoop en voorneme met betrekking tot geregtigheid deur God se aangestelde Regter?
25 Almal wat na blywende geregtigheid hunker, kan dus moed skep. Dit sal gewis kom—binnekort. Dit is nou, gedurende die kort rukkie wat nog in hierdie oordeelstyd oor is, die tyd om saam met Jehovah se Getuies God te soek en hom werklik te vind, tot ons ewige voordeel.
Vrae ter hersiening
◻ Watter bewyse het ons aangaande God se standaard van geregtigheid?
◻ Hoe sal Jesus by die komende Oordeelsdag betrokke wees?
◻ Waarom is ons tyd ’n kritieke tyd wat goddelike oordeel betref?
◻ Hoe sal vorige onreg in die nuwe wêreld reggestel word?
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)