Die vroue het ’n groot aandeel gehad
DIE belangrike rol wat Christenvroue in die konstruksie van Jehovah se Getuies se takkantoor in Zimbabwe gespeel het, is beklemtoon tydens die toewydingsprogram wat op 12 Desember 1998 gehou is. Gedurende die vier jaar lange konstruksieprojek het vrywilligers van baie lande—waaronder honderde van Zimbabwe—van hulle tyd, energie, vaardighede en geld gegee om die pragtige gebouekompleks te bou wat jy in die bygaande foto sien.
Jy sal sien dat daar ses woongeboue van dieselfde grootte op die agtergrond is. Die groot gebou naaste aan hulle is waar die eetsaal, die kombuis en die wassery is. Die woongeboue het 61 kamers, en in die eetsaal is daar plek vir ongeveer 200 mense. Links voor is die kantoorgebou. In die middel is die ontvangsarea, en regs is die stoor, waar die toewydingsprogram gehou is.
Hierdie pragtige takkantoor in Zimbabwe is net een van die talle soortgelyke projekte wat voltooi is sedert Jehovah se Getuies in November 1985 met ’n internasionale konstruksieprogram begin het. Die Ontwaak! van 22 Augustus 1991 het hierdie program beskryf in ’n artikel met die titel “Iets nuuts in internasionale konstruksie”.
Oor die rol wat vroue in hierdie program speel, het die Ontwaak! gesê: “Baie [is] al opgelei om betonstaal met draad vas te bind, om teëls te lê en te voeg, asook om skuur- en verfwerk te doen. Ander sien om na noodsaaklike huishoudelike take. Op dié manier dra almal op ’n voortreflike wyse by tot die werksaamhede op konstruksieterreine wêreldwyd.”
Tydens die onlangse toewydingsprogram in Zimbabwe het George Evans en James Paulson, wat toesig gehou het oor die konstruksiewerk, ’n vergelyking getref tussen die rol wat vroue in die konstruksie van die takkantoor in Zimbabwe gespeel het en die rol wat vroue in die oprigting van Israel se eertydse tabernakel gespeel het. “Hulle [het] gekom, elkeen wie se hart hom gedring het,” sê die Bybel van die Israeliete, “en hulle het bly kom, die manne tesame met die vroue.”—Exodus 35:21, 22, NW.
Broers Evans en Paulson het hierdie Bybelverslag gebruik om die gehalte van die vroue se hulp te beklemtoon. Hulle het die Bybelverslag aangehaal: “Al die vroue wat wys van hart was, het met hulle hande gespin, . . . al die vroue wie se hart hulle met wysheid gedring het.” Die vroue was inderdaad onder dié wat gewillig aangebied het om daar te werk. “Elke man en vrou wie se hart hulle aangedryf het om iets te bring vir al die werk wat Jehovah deur middel van Moses beveel het om te doen, het dit gebring.”—Exodus 35:25, 26, 29, NW.
Die konstruksie-opsieners het oor die konstruksieprojek van die takkantoor in Zimbabwe gesê: ‘Die vroue het dieselfde werk as die mans gedoen.’ Dit het ingesluit dat hulle staal vasbind en met swaar voertuie werk. Broer Paulson het gesê dat die vroue hulle vragmotors met betonmengers en ander swaar voertuie silwerskoon gehou het, iets wat mans gewoonlik nie geneig is om te doen nie.
Ons is beslis dankbaar vir die derduisende vroue wat saam met die mans ’n aandeel aan die wêreldwye konstruksie van takkantore en Koninkryksale van Jehovah se Getuies het!
[Prent op bladsy 26]
Takkantoor in Zimbabwe