God is ons helper
SOOS VERTEL DEUR FRANCISCO COANA
“As jy weier om die owerheid te gehoorsaam, sal jy tereggestel word!” het my broer my gewaarsku.
“Dit sal veel beter wees as om onder hierdie verskriklike toestande te lewe”, het ek geantwoord.
EK HET hierdie gesprek in September 1975 met my ouer broer gehad. Hy het vir my kos gebring gedurende my gevangenskap in Maputo (wat destyds Lourenço Marques genoem is), in suidelike Mosambiek. Meer as 180 van ons, waarvan die meeste Jehovah se Getuies was, is in een sel aangehou. My broer het hom so vir my vererg dat hy nie eers die kos wat hy gebring het vir my gegee het nie!
Laat ek verduidelik hoe ek in die tronk beland het sodat jy die rede vir hierdie emosionele ontmoeting kan verstaan.
Godsdienstig grootgemaak
Ek is in 1955 vir ’n Presbiteriaanse gesin in die dorpie Calanga in die distrik Manica gebore. Dit is nie ver van die groot stad Maputo nie. My pa was nie ’n kerkganger nie, maar my ma was wel, en sy het Sondae haar vyf kinders kerk toe geneem. Vroeg in ons lewe het sy ons die Onse Vader geleer, en ek het dit dikwels opgesê (Matteus 6:9-12). As ’n jong seun het ek my ma vrae gevra soos “Waarom sterf ons?” en “Sal mense altyd moet sterf?”
My ma het gesê dat die dood ’n deel van God se voorneme is—dat diegene wat slegte dinge doen hel toe sal gaan en diegene wat goed doen hemel toe sal gaan. Hoewel ek niks daarop gesê het nie, het haar antwoord my hartseer gemaak. Die wrede werklikheid van die dood het my gekwel, veral nadat my dierbare pa gesterf het toe ek maar tien jaar oud was. Daarna wou ek baie graag meer weet oor die toestand van die dooies en of daar enige hoop vir hulle is.
Ek leer die waarheid en pas dit toe
Kort ná my pa se dood het een van die onderwysers by die skool die boek Van die verlore paradys tot die herwonne paradys gebruik om ons klas te onderrig. Die boek, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is, was in Zulu. Die onderwyser het dit vir my geleen, en al kon ek nie Zulu goed verstaan nie, was ek bly oor wat ek kon leer uit die Bybeltekste wat aangegee is.
Toe ek 16 was, is my broer wat die broodwinner in die gesin was, vir militêre diens opgeroep. Op daardie stadium het ek by ’n parfuummaatskappy in Maputo begin werk en saans na ’n tegniese skool gegaan. Gedurende die etensuur by die werk het ek Teófilo Chiulele, een van Jehovah se Getuies, dopgehou—hy was altyd besig om die Bybel te lees. Toe Teófilo sien dat ek belangstelling toon, het hy met my begin praat.
Later het ’n ander Getuie, Luis Bila, ’n Bybelstudie met my begin hou. Ek was verlig om te leer dat die dooies glad niks weet nie en dat hulle die hoop het om weer tot lewe opgewek te word (Prediker 9:5, 10; Johannes 5:28, 29). Ek het onmiddellik aan my ma geskryf en vir haar die Bybel se antwoorde gegee op die vrae wat ek haar gevra het. Sy was bly om te hoor dat ek uiteindelik betroubare antwoorde gevind het.
My geesdrif oor wat ek geleer het, het my beweeg om met ander oor hierdie dinge te praat. Ek is toegelaat om Bybeltoesprake by die skool te hou, maar nie in die kerk nie. Kort voor lank was ek nie meer welkom in die kerk nie. Selfs lede van my eie gesin het my begin vervolg, al het my ma van my nuutgevonde opvattings gehou. My ouer broer het my erg geslaan. Toe hulle sien dat hierdie teenkanting geen uitwerking op my het nie, het my gesinslede my begin spot, veral wanneer hulle my etenstye sien bid het. Ek het dus in die badkamer gebid voordat ek na die tafel gekom het. Ek het gevoel dat ‘God my helper’ is.—Psalm 54:4, NW.
Daarna is Luis nie meer toegelaat om na ons huis te kom om die Bybel met my te studeer nie. Ons het van toe af by sy huis gestudeer. Toe ek begin het om gemeentelike vergaderinge by te woon en velddiens te doen, het ek soms, wanneer ek by die huis teruggekom het, gevind dat ek uitgesluit is. Gevolglik het ek by die huise van verskillende Getuies oornag.
Uiteindelik, op 13 Mei 1973, het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. Destyds was Mosambiek onder die Portugese koloniale bewind, wat die werk van Jehovah se Getuies in Portugal en in al sy kolonies verbied het. Op 1 Oktober 1974 het ek ’n pionier geword, soos Jehovah se Getuies voltydse evangeliedienaars noem. Aangesien dit my doelwit was om ’n sendeling te word, het ek Engels begin leer sodat ek vir sendingopleiding by die Wagtoring-Bybelskool Gilead, in die Verenigde State, kon kwalifiseer.
Ons doen die predikingswerk versigtig
Gedurende daardie jare dat die werk verbied was, het die Portugese koloniale polisie, die PIDE, baie Getuies opgesluit omdat hulle getuig het. Ons moes dus versigtig te werk gaan sodat ons nie gevang sou word nie. Ons het byvoorbeeld by een huis gepraat en dan na ’n ander huis in ’n ander gebied gegaan. Of twee van ons het gedurende ons etensuur of in die aand na ’n park in die stad gegaan. Een het dan langs iemand gaan sit en die koerant begin lees. Kort daarna het die ander een kom sit, na die koerant gekyk en iets gesê soos: “Genade, kyk net hoeveel mense is dood! Maar het jy geweet dat dit nie meer onder God se regering sal gebeur nie?”
’n Gesprek sou dan volg waartydens die een wat die koerant gelees het Bybelse bewyse sou vra vir wat die ander een gesê het. Dan sou ons reël om die volgende dag te ontmoet om die gesprek voort te sit. Op dié manier kon ons dikwels die persoon wat langs ons gesit het in die gesprekke oor Bybelprofesieë betrek, en baie Bybelstudies is begin. Ons het God gedank omdat hy ons gehelp het.
’n Tyd van swaar beproewinge
Op 25 April 1974 het die diktatorskap in Portugal tot ’n einde gekom, en baie politieke veranderinge het in die Portugese kolonies plaasgevind. In Mosambiek is amnestie verleen aan politieke gevangenes, asook Getuies wat weens hulle politieke neutraliteit gevange geneem is. Maar toe, op 25 Junie 1975, net 14 maande later, het Mosambiek hom onafhanklik van Portugal verklaar. ’n Paar dae later het ’n nuwe vlaag van vervolging teen die Getuies begin. Buurtgroepe is georganiseer om alle Getuies wat hulle kon vind in hegtenis te neem. Ons is beskryf as “agente wat deur Portugese Kolonialisme agtergelaat is”.
In September is ek gedwing om ’n vergadering van ’n buurtgroep by te woon. By my aankoms het ek gevind dat al die lede van my Bybelstudiegroep daar was. Ons is beveel om politieke slagspreuke ter ondersteuning van die heersende party uit te roep. Toe ons op respekvolle wyse geweier het, is ons tronk toe geneem en in die oorvol sel gesit waarna ek aan die begin verwys het.
Daar was soveel mense in die sel dat ons skaars kon beweeg. Party moes sit of staan sodat ander plek op die vloer kon hê om te slaap. Daar was net een toilet, en dit was dikwels verstop, met die gevolg dat dit oorgeloop en verskriklik gestink het. Ons kos was olierige spaghetti wat vol visgrate en groot brommers was, wat ons met ons vuil hande moes eet. Negentien dae lank moes die meer as 180 van ons hierdie haglike toestande verduur. Toe is ons na ’n plek verplaas waar net Getuies aangehou is, waaronder mans, vroue en kinders. Gedurende die volgende paar maande het baie kinders weens die haglike toestande in die tronk gesterf.
Uiteindelik het die regering besluit om die Getuies na Carico, ’n afgeleë gebied in die noorde, te verban. Die doel was om ons af te sonder. Daar was destyds ongeveer 7 000 Getuies in Mosambiek, waarvan ’n groot persentasie in 1974 en 1975 gedoop is. Omdat ek besef het dat ons gedurende ons afsondering Bybellektuur sou nodig hê, het ek toestemming gevra om huis toe te gaan om kos en van ons besittings vir die reis te kry. Sonder dat die beampte wat saam met my gegaan het dit gesien het, het ek party kartondose waarin koekies was, half leeg gemaak en Bybelpublikasies onder in die kartondose gepak. Gedurende sulke tye was ons nie bang nie. Ons het op God vertrou om ons te help.—Hebreërs 13:6.
Die lewe in die kampe
By ons aankoms in Carico in Januarie 1976 het ons baie Getuies van naburige Malawi daar gevind wat in kampe gewoon het wat hulle opgerig het. Van 1972 tot 1975 het meer as 30 000 mense, waaronder kinders, weens wrede godsdiensvervolging uit Malawi gevlug. Hulle is toestemming gegee om noordelike Mosambiek as vlugtelinge binne te kom, en toe ons daar aankom, het hulle hulle huise en skamele middele met ons gedeel.
Aangesien die meeste van ons geen bouondervinding gehad het nie, het ons Malawiese broers vir ons gewys hoe om bakstene te maak en dit tesame met plantmateriaal te gebruik om ons huise te bou. Hulle het ons ook geleer hoe om gewasse te kweek en ander dinge te doen om ons te onderhou. Ek het gevolglik geleer om timmerwerk te doen, te boer en klere te maak. Hierdie vaardighede wat ons aangeleer het, kon ons later goed gebruik toe ons na ons stede van herkoms teruggekeer het.
Ons vernaamste doel was om ons geestelikheid te handhaaf, en ek moet sê dat ons nooit ’n tekort aan geestelike voedsel gehad het nie. Hoe was dit moontlik? Wel, soos vroeër gesê is, het baie van ons toe ons verban is flink opgetree en Bybellektuur saam met ons besittings gebring. Klein eksemplare van Die Wagtoring is ook deur Jehovah se Getuies in Suid-Afrika gedruk. Dit kon derhalwe makliker in die kampe ingebring word.
Ná baie versoeke is die eerste huwelik, op 1 Desember 1978, in die kampe toegelaat. Op daardie dag is ek met Alita Chilaule getroud, wie se pa in 1958 een van die eerstes was wat in Maputo gedoop is. Nadat ons kinders Dorcas en Samuel gebore is, het ons hulle geleer om Jehovah lief te kry, en ons het hulle gereeld saam met ons na ons Christelike vergaderinge geneem. Later het ons nog ’n kind gehad wat ons Jaimito genoem het.
Hoe ons getuig het
Die Getuies het toestemming gekry om die kampe te verlaat om dinge te verkoop, onder andere produkte wat hulle gekweek het. Baie van ons het hierdie geleentheid gebruik om te getuig. Trouens, ek het opsetlik baie gevra vir my sout sodat niemand dit sou koop nie. Heelparty mense wat ek ontmoet het, het egter gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer, en ek het baie Bybelstudies begin.
Een van my Bybelstudente het met ’n direkteur van ’n sekere maatskappy in nabygeleë Milange gepraat wat belangstelling in die Bybel getoon het. Toe ek hiervan hoor, het ek met die direkteur gekorrespondeer. Hy het my toe genooi om hom te kom besoek. Ek het dus Bybellektuur in my klere versteek en vertrek, kwansuis om meubels wat ek gemaak het aan hom te gaan verkoop.
Toe ek daar aankom, was daar soldate wat die huis bewaak het; en ek het bang geword. Maar die man het uitgekom en vir die soldate gesê dat hy nie gesteur wil word nie. Ons het ons Bybelstudie vyfuur die aand begin, en hy het soveel belangstelling getoon dat ons eers vyfuur die volgende oggend klaar was! Later het hy aangebied om ons lektuur van Portugal te ontvang, aangesien daar geen beperkings op sy pos was nie. Dan sou hy dit vir my gee, en ek kon dit in die kamp inneem.
Party van ons is weliswaar ’n paar keer in hegtenis geneem weens ons predikingsbedrywigheid. Maar toe baie mense op die Koninkryksboodskap gereageer het, was ons seker dat God ons help, net soos hy eerste-eeuse Christene gehelp het.—Handelinge, hoofstukke 3-5.
Vrylating en terugkeer na Maputo
In September 1985 het ons die omstandighede biddend oorweeg en besluit om ’n massa-uittog uit die kampe te organiseer. Hoewel party in die kampe in Carico agtergebly het en vir die volgende sewe jaar afgesonder van die res van Jehovah se Getuies gebly het, het ander na Malawi en na Zambië gevlug. Ek en my vrou het besluit om saam met ons kinders na die nabygeleë dorp Milange te gaan. Daar het ek werk asook verblyfplek gekry, en ons het ons bediening voortgesit. Die volgende jaar het ons uiteindelik na Maputo teruggekeer.
Ons het eers by familie gebly. Werk was skaars, maar mettertyd het ek darem ’n werk gekry. Alita het geroosterde grondboontjies verkoop om ons klein inkomste aan te vul. Aangesien my Engels verbeter het, het ek aansoek gedoen vir werk by die Britse Ambassade. Ek het die toetse geslaag en het werk gekry met ’n salaris wat 20 keer hoër was as wat ek tevore gekry het! Ek het waarlik gevoel dat Jehovah my gehelp het, en ek het hom in gebed gedank.
Ek moet my verantwoordelikhede balanseer
Op 11 Februarie 1991 het die Mosambiekse regering uiteindelik wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies verleen. Wat ’n heuglike dag was dit tog vir ons! Die volgende jaar is ek genooi om as lid van die komitee te dien wat toesig hou oor die predikingswerk van Jehovah se Getuies in Mosambiek. Destyds was ons kinders net 12, 9 en 6 jaar oud. Ek het die nag in gebed deurgebring en Jehovah wysheid gevra om ’n besluit te maak wat behoorlike balans sou weerspieël in die hantering van gesins- en organisatoriese verantwoordelikhede.
Ons het ’n klein woonwa gekoop, wat ons vir ’n sakeonderneming gebruik het. Ons het ’n aantal pioniers in diens geneem om toebroodjies te maak en te verkoop, en die onderneming was voorspoedig. Gevolglik het ek die tyd gehad om na my nuwe organisatoriese verantwoordelikhede om te sien. Ons het ook ’n huis nodig gehad, aangesien ons nie meer die huis kon huur waarin ons gewoon het nie. Ek het dus ’n versoek aan die owerheid gerig, waarin ek my gesin se situasie beskryf het. Dit was nie lank nie of ons het toestemming ontvang om ’n huis te kry. Groot publisiteit is hieraan gegee, aangesien ek die eerste Mosambieker was wat ’n huis van die staat gekoop het.
Ek en Alita is geseën met kinders wat goed op ons geestelike onderrigprogram gereageer het (Deuteronomium 6:6-9). Dit is ons gewoonte om ’n Bybelteks vir die dag om 5:40 vm. te bespreek, waarna ons saam die Bybellees doen. Aangesien ons kinders vroeg by die skool moet wees, is hulle gewoond aan hierdie vroegoggendprogram. Ons het Vrydag om 6:00 nm. ons gesinstudie, waartydens die kinders Bybelonderwerpe waaroor hulle gedurende die week navorsing gedoen het met ons bespreek. Dit is ook die tyd wanneer ons velddiensaanbiedings oefen.
Al ons kinders is gedoop. Trouens, Dorcas en Samuel dien al sedert 1994 as pioniers, en vandat Jaimito gedoop is, is hy ’n hulppionier. Die kinders is nog op skool, en elkeen het die doelwit om hulle bediening ná skool uit te brei. Alita balanseer haar tyd tussen pionierdiens en die huishoudelike take. Ek dien al jare lank as ’n pionier, en dit sluit die jare in wat ons in die gevangekampe was. Maar sedert 1993 werk ek gedurende die dag by die takkantoor van Jehovah se Getuies.
Ons word steeds deur God geseën
In 1997 het ek die wonderlike voorreg gehad om ’n twee maande lange kursus vir Takkomiteelede by te woon. Die kursus is in die Verenigde State by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, gehou. My pogings om Engels te leer, is gevolglik weer eens beloon. Op pad terug, kon ek Jehovah se knegte in ander lande besoek, en hoe het dit tog my hart met waardering vir ons wêreldwye broederskap gevul!
Juis hierdie soort liefde onder ware Christene was ’n faktor wat daartoe bygedra het dat nog duisende opregtes in Mosambiek met Jehovah se Getuies begin omgaan het (Johannes 13:35). Van die sowat 7 000 wat die predikingswerk gedoen het toe ons na die gevangekampe verban is, het ons nou meer as 29 000 wat die goeie nuus van God se Koninkryk regoor Mosambiek verkondig. Hulle assosieer met meer as 665 gemeentes; in 1958 was daar net 4.
In 1993 is toestemming ontvang om ’n takkantoor vir ’n takkantoorpersoneel van meer as 75 in Maputo te bou om na hierdie wonderlike uitbreiding van ware aanbidding in Mosambiek om te sien. Ná ongeveer vier jaar se bouwerk is die projek voltooi. Toe, op 19 Desember 1998, het ons oorgeloop van vreugde toe 1 098 persone uit baie lande teenwoordig was vir die toewyding van hierdie pragtige fasiliteite. Ek het die voorreg gehad om tydens die program onderhoude te voer met mense wat jare lank in ballingskap in Carico was. Ek het gevra dat diegene wat daarheen verban is hulle hande opsteek, en die gehoor is diep ontroer toe honderde hande opgegaan het.
Die volgende dag was ’n skare van 8 525 by die Matola-Byeenkomssaal teenwoordig vir ’n hersiening van die toewydingsprogram, aanmoedigende verslae van ander lande en Bybeltoesprake deur besoekers van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, in Brooklyn, New York.
Sedert ek as ’n tiener Bybelwaarheid leer ken het, het ek weliswaar teenkanting van my gesin, teregstellingsdreigemente en verskriklike vervolging verduur wat my soms laat dink het dat dit beter sou wees om te sterf as om te bly lewe. Maar ek verheug my in hierdie ondervindinge, want my verhouding met Jehovah is daardeur versterk. Trouens, dit is soos die Bybelpsalmis gesê het: “Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun” (Psalm 54:6). Dit is vir my en my gesin ’n onvergelyklike voorreg om Jehovah saam met die wêreldwye gesin van sy aanbidders te dien.
[Prent op bladsy 23]
Getuies voor die Koninkryksaal wat hulle gebou het terwyl hulle in afsondering was
[Prent op bladsy 24]
Ons geniet ons gesinsbybelstudie
[Prent op bladsy 25]
Diegene wat in die kampe in Carico was, het hulle hande opgesteek