Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 6/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Soeke na geestelike verligting
  • Godsdiensvryheid in Europa geskend
  • “Teologie van welvaart”
  • Kontroleer videospeletjies
  • “Die helper wat oor die hoof gesien word”
  • Gevare van te veel oefening
  • ’n Gewigsprobleem
  • Geen verkouekuur nie?
  • Wat Mitch bereik het
  • Gered uit ’n verwoestende storm!
    Ontwaak!—1999
  • Hoeveel stel jongmense in godsdiens belang?
    Ontwaak!—1998
  • Moet ek rekenaar- of videospeletjies speel?
    Ontwaak!—1996
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 6/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Soeke na geestelike verligting

“Namate die einde van die eeu nader kom, soek die Britte na iets geesteliks in hulle lewe, te oordeel na hulle belangstelling in boeke oor geloof, die okkulte en die bonatuurlike”, sê die koerant The Times. Volgens ’n studie wat in Cultural Trends verskyn het, het die aantal boeke met godsdienstitels in die afgelope vyf jaar met 83 persent toegeneem en dié oor New Age en die okkulte met tot 75 persent. In teenstelling hiermee het die aantal wetenskapsboeke wat verskyn het, afgeneem—dié oor chemie en fisika met 27 persent. Sara Selwood, redaktrise van die verslag, het na aanleiding van hierdie statistiek aan die hand gedoen dat “mense teen die einde van ’n eeu meer tot hulleself inkeer en oor die sin van die lewe wonder”. Waarom het atlasse en boeke oor aardrykskunde dan met 185 persent toegeneem? Dit impliseer dalk “’n behoefte aan ontvlugting”, het sy gesê.

Godsdiensvryheid in Europa geskend

Die Internasionale Helsinki-federasie “het 19 Europese lande daarvan beskuldig dat hulle godsdiensvryheid skend”, berig die tydskrif Catholic International. Die federasie het gesê dat daar veral in Ortodokse lande groot druk op godsdiensminderhede is. Daarbenewens ontwerp etlike lidlande van die Europese Unie “wette om die status van tradisionele godsdienste te vergroot terwyl hulle kleiner groepe soos [Jehovah se Getuies] inperk”, het die tydskrif gesê. Die direkteur van die federasie, Aaron Rhodes, het bygevoeg: “Daar is tekens in Westerse gemeenskappe wat toon dat hulle godsdiensminderhede onderdruk omdat hulle vrees dat hulle deur ‘sektes binnegeval’ sal word. Die situasie sal agteruitgaan totdat mense besef dat godsdiensvryheid ’n deel van ’n stel waardes en reëls is wat in gelyke mate vir almal gehandhaaf moet word.”

“Teologie van welvaart”

Waar die ENI Bulletin die Lutherse teoloog Wanda Deifelt aanhaal, sê hulle dat “tradisionele Protestantse kerke in Latyns-Amerika ‘in die skadu gestel’ word deur nuwe, vinnig groeiende godsdiensbewegings wat ’n ‘teologie van welvaart’ verkondig”. Volgens Deifelt het Brasilië se Pinkster- en charismatiese kerke nou “twee of drie keer soveel lidmate as die tradisionele hoofstroomkerke”. Die “teologie van welvaart” beloof aan gelowiges “onmiddellike belonings vir finansiële bydraes aan die kerk”, het sy gesê. “’n Gebed tot God is byna soos ’n saketransaksie . . . As ek iets vir God gee, dan moet God iets vir my gee.” Die bewegings werf lidmate onder die armes in Brasilië. Waarom bly aanhangers by die kerk wanneer hulle nie ryk word soos beloof is nie en dit die kerkleiers is wat die meeste baat vind? Deifelt sê: “Die algemeenste neiging is om twee [godsdienste] te hê om seker te maak dat die een sal werk as die ander een misluk.” Buitendien, “hulle praat oor dinge wat die mense raak, en hulle sê wat die mense wil hoor”.

Kontroleer videospeletjies

“Ouers word vir idiote aangesien”, sê die Franse koerant Le Figaro. Waarom? Omdat die meeste van hulle blykbaar nie weet waaroor videospeletjies vir kinders gaan nie. Die doel van een speletjie is byvoorbeeld om die vyand te martel, die doel van ’n ander is om voetgangers om te ry. Een van die suksesvolste speletjies die afgelope ruk behels tien afskuwelike maniere om vroue te martel. Le Figaro moedig ouers aan om hulle kinders se speletjies “deeglik te ondersoek” om die “versteekte wreedheid” bloot te lê wat so dikwels voorkom. “Dit word al hoe gevaarliker om net te koop wat kinders wil hê sonder om dit te ondersoek”, sê die koerant. Dit het ook die volgende vraag laat ontstaan: “Is dit nie uiters vermetel om op menseregte aan te dring terwyl ons toelaat dat winkelrakke vol goed is wat daardie regte so openlik minag nie?”

“Die helper wat oor die hoof gesien word”

’n Belangrike faktor in die herstelproses van hospitaalpasiënte word al lank afgeskeep, sê die Duitse tydskrif Psychologie Heute. Dit is die pasiënt in die bed langsaan. ’n Studie het getoon dat dit terapeutiese waarde het as daar iemand naby jou is wat ook ly en dat net ’n minderheid van alle pasiënte, ongeveer 7 persent, in teenstelling met die algemene opvatting alleen wil wees. Die meeste mense verkies om hulle hospitaalkamer met een of twee pasiënte te deel. Maar die soort mense wat hulle is, maak ’n verskil. Die ideale kamermaat “moet allereers aangenaam en verdraagsaam wees”, het die artikel gesê. Die volgende gewenste eienskappe is in volgorde van belangrikheid genoem: “simpatiek, humoristies, skoon, onbevooroordeeld, hulpvaardig, bedagsaam, ordelik, vriendelik, eerlik, netjies, gebalanseerd, geduldig, taktvol, goedhartig, stil, intelligent, inskiklik en oplettend”.

Gevare van te veel oefening

Hoewel oefening goed vir die hart en longe is, kan te veel oefening die bene verswak, wat tot probleme kan lei wanneer ’n mens ouer word. Dit is wat volgens The Guardian van Londen op ’n konferensie gesê is wat oor die uitwerking van oefening op die menslike skelet gehandel het. Hardlopers en diegene “wat superfiksheid najaag”, het die grootste gevaar geloop. Jong vroue wat te dikwels aan aërobiese of dansklasse deelneem, ondervind meer stresfrakture en loop glo gevaar om osteoporose te kry wanneer hulle ouer is. “Atlete is gewaarsku dat hulle hulle bene net tot op die ouderdom van 18 of 19 kan versterk voordat hulle weer met verloop van tyd begin swakker word”, het die artikel gesê. “Muurbal en tennis is geïdentifiseer as die beste sportsoorte om beensterkte te verbeter.” Michael Horton, hoof van die Universiteitskollege van Londen se beensentrum, het ’n gesonde balans tussen oefening en gesondheid aanbeveel. Hy het gewaarsku: “Die Regering sê gedurig dat jongmense baie oefening behoort te doen. Dit is dalk ’n ruk lank goed, maar niemand het al gedink wat die eindresultaat sal wees wanneer hierdie jongmense 50 jaar oud word nie.”

’n Gewigsprobleem

Sedert die laat 1800’s al is Le Grand K, ’n platinum-iridiumsilinder wat ongeveer so groot soos ’n filmhouertjie is, die wêreld se standaard-massastuk van ’n kilogram. Selfs die Amerikaanse pond is daarop gebaseer. Maar wetenskaplikes is besorg oor die feit dat die massa van hierdie silinder blykbaar aan die verander is. Die silinder, wat onder drie klokvormige flesse gehou word en toegesluit is in ’n kluis in ’n voorstad van Parys, Frankryk, word net drie keer in ’n eeu uitgehaal. Die tydskrif Science berig dat wetenskaplikes, toe hulle die silinder die laaste keer uitgehaal het, “tot die gevolgtrekking gekom het dat sy massa elke jaar met minder as 5 miljoenstes van ’n gram verander”. Hierdie piepklein verskil—waarskynlik ’n toename—kan toegeskryf word aan vuiligheid wat op die silinder se oppervlak opbou ten spyte van maatreëls om dit skoon te hou. Hedendaagse tegnologie vereis metings wat al hoe presieser is. Tydens ruimtereise word daar byvoorbeeld staatgemaak op atoomhorlosies wat net een sekonde in 1,4 miljoen jaar verloor. Wetenskaplikes debatteer dus oor maniere om die kilogram op ’n selfs betroubaarder standaard te baseer. Maar Science sê dat dit “’n vlak van presisie [kan vereis] wat wetenskaplikes sal dwing om hulle oor invloede so klein soos ontbrekende atome te bekommer”.

Geen verkouekuur nie?

Ná tien jaar van navorsing wat £5 miljoen (R50 miljoen) gekos het, het Brittanje se Verkouesentrum uiteindelik die stryd gewonne gegee. Met meer as 200 verskillende virusse wat die gewone verkoue veroorsaak, is die poging om ’n kuur vir verkoue te vind “soos om masels, waterpokkies, pampoentjies en Duitse masels terselfdertyd te probeer genees”, sê professor Ronald Eccles, direkteur van die sentrum by die Universiteit van Wallis, Cardiff. “Ek verwag nie dat ons ’n kuur sal vind wat al die virusse sal vernietig nie. Ek dink die beste ding wat ons kan doen, is om vrede te maak daarmee.”

Wat Mitch bereik het

Hoewel Mitch, verlede jaar se vernietigende orkaan, duisende mense se dood veroorsaak het, en ongeveer eenmiljoen mense daardeur geraak is, het dit een positiewe gevolg gehad. Dit het argeoloë gehelp wat besig was om die ruïnes op te grawe van León Viejo, Nicaragua—sowat 90 kilometer noordoos van die hoofstad—deur “nuwe mure, beendere en argeologiese artikels bloot te lê”, berig die koerant Excelsior, van Mexikostad. Rigoberto Navarro, direkteur van die Historiese Terrein by die León Viejo-ruïnes, het verduidelik dat Mitch die grond weggespoel het en ’n terrein blootgelê het waarna die argeoloë al lank sonder enige welslae gesoek het. ’n Muur wat 2,5 meter hoog, 70 sentimeter wyd en 100 meter lank is, is oopgespoel. Volgens Navarro “het die orkaan in drie dae gedoen wat argeoloë jare sou geneem het om te doen”, het die koerant gesê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel