VERENIGDE OPTREDE VIR WÊRELDWYE BOUWERK
VAN Swede tot Korea en van Australië tot die Ivoorkus is Jehovah se Getuies aan die bou. Projekte in meer as ’n twintigtal lande wissel van opknapping tot groot nuwe fabrieke en kantoorgeboue. Waarom al hierdie bouery?
Jehovah se Getuies neem Jesus se bevel: “Maak dissipels van al die nasies” ernstig op (Matt. 28:19). Het jy al ooit nagedink oor al die werk wat daardie opdrag meebring? Gedurende net 1980 het ywerige Getuies dwarsoor die wêreld meer as 22 miljoen gebonde boeke en Bybels sowel as oor die 218 miljoen tydskrifte versprei—almal met die lewegewende boodskap van God se koninkryk daarin. Waar het daardie boeke, tydskrifte en Bybels vandaan gekom? Dit is gedruk in fabrieke wat deur Jehovah se Getuies gebou en beman word. Die werkers in daardie fabrieke word as ’n groot gesin gehuisves in komplekse genaamd Bethel, wat “huis van God” beteken.
Die Getuies wat hierdie lektuur versprei, vergader gereeld in 43 181 gemeentes, wat in feitlik elke land op aarde geleë is. Plaaslike takkantore sien na daardie gemeentes om. Namate gemeentes toeneem (verlede jaar is 581 nuwe gemeentes gestig), word takfasiliteite te klein en moet hulle vergroot of vervang word. Wie doen die bouwerk? Die plaaslike Getuies, waar moontlik. Die selfde ywer wat mense aanspoor om die Koninkryk te verkondig en lektuur te versprei, kom na die bouterrein.
EENHEID OP DIE BOUTERREIN
“Waarom is daar nooit enige rusies onder julle nie?” het ’n timmerman in Abidjan, Ivoorkus, wat nie ’n Getuie is nie, gevra. “Op ander boupersele is dit baie moeilik om te werk.” Sy kommentaar is al talle kere herhaal deur ander nie-Getuies wat help met die bou van ’n kleinerige nuwe Bethelhuis en takkantoor van die Wagtoringgenootskap in die Ivoorkus, waar die getal gemeentes in 10 jaar vervierdubbel het.
In die lig van Jesus se gebed dat sy volgelinge verenig moet wees, behoort sulke eenheid onder die Christengetuies van Jehovah ’n mens nie te verbaas nie. (Johannes 17:23; vergelyk Psalm 133.) Een Getuie in Abidjan het dit soos volg gestel: “Dit is Jehovah se bouterrein.”
Op ’n ander vasteland, Suid-Amerika, nader ’n groot Bethelhuis en fabriekkompleks voltooiing. Hierdie yslike nuwe projek in Brasilië bevat amper ses keer meer vloerruimte as die vorige gebou. Die aantal Getuies in daardie land is die tweede grootste in die wêreld en neem vinnig toe. Hulle het byvoorbeeld verlede jaar met 6 persent toegeneem. ’n Plaaslike koerant het die bouterrein in Cesario Lange “’n stad in ’n stad” genoem en bygevoeg: “Daar bestaan geen wanorde of gebrek aan samewerking soos gewoonlik tussen werkers by groot bouprojekte aangetref word nie. . . . Hierdie Christelike atmosfeer maak dit hier baie verskillend van wat gewoonlik in die Brasiliaanse burgerlike boubedryf gesien word.” En watter geweldige bouprojek was dit tog—10 000 vragte beton, klip en sand was nodig, sowel as genoeg betonheipale om twee keer Mount Everest se hoogte te bereik!
Australië is nog ’n plek waar die Getuies bou dat dit gons. Campbelltown Ingleburn se News aldaar het gesê: Party sal die werk by Jehovah se Getuies se Australiese kompleks by Ingleburn as ’n bouer se droom bestempel.” Waarom? “Daar is hoegenaamd geen nywerheidsgeskille nie.” Al 220 werkers wat op die terrein werk, is Jehovah se Getuies. Wanneer hierdie kompleks in 1982 voltooi word, sal dit die Koninkrykspredikingswerk van 31 686 Getuies dwarsoor die uitgestrekte Australië baie help.
DIE ROL VAN GOD SE GEES
Hierdie kommentare van koerantverslaggewers en ander waarnemers is maar net verteenwoordigend van wat dwarsoor die wêreld gesê word. As werkers het Jehovah se Getuies ’n opmerklike gees van eenheid en doelgerigtheid. Wat is die bron daarvan? God se heilige gees of werkende krag, wat eenheid en vrede in die hand werk.—Gal. 5:22; Ef. 4:3.
Die dryfkrag van God se gees blyk uit die kommentare van diegene wat aangebied het om met die verskeie konstruksieprojekte dwarsoor die wêreld te help. In Denemarke is die huidige takfasiliteite byvoorbeeld in 1957 gebou en het dit gans te klein geword. Die nuwe Bethelhuis met 50 slaapkamers wat op die oomblik gebou word, sal ’n groter personeel moontlik maak, en dit sal hulle in staat stel om Die Wagtoring en Ontwaak! met 32 bladsye in Deens te druk, in plaas van slegs 24 bladsye soos op die oomblik. Die nuwe fasiliteite sal ook ’n takkantoor en ’n groot fabriek insluit. “Met die nuwe takgeboue sal ons ons diens aan die broers en aan die gebied in ons sorg kan verbeter”, berig die tak. Hulle gebied sluit Groenland, Ysland en die Färöer-eilande in.
Om met hierdie projek te help, het ’n Deense Getuie wat ’n bedrewe loodgieter en ’n huisvader is, die volgende besluit geneem: “Op die vooraand van die bouwerk het ek my bedanking [by my sekulêre werk] ingedien en het ons ons meubels verkoop. Ons was seker dat ek na afloop van die bouwerk weer ’n werk en ’n huis sou kry. Ons sal daaraan dink wanneer die tyd daarvoor aanbreek. Ons het ondervind hoedat Jehovah voorsien wanneer ons hom op die proef stel en sy koninkryk eerste soek.” Dit is voorwaar ’n wonderlike blyk van geloof in Jesus se raad in Mattheüs 6:25-33!
’n Soortgelyke gees word in Kanada aan die dag gelê waar Getuies van dwarsoor daardie groot land aangebied het om te kom help met die bou van ’n nuwe takkantoor en fabriek naby Toronto. Die nuwe fabriek is anderhalf keer langer as ’n voetbalveld en 73 meter breed, en die nuwe woonkwartier sal 250 Bethelwerkers kan huisves. In Kanada was daar in 1980 ’n hoogtepunt van meer as 66 000 Koninkryksverkondigers.
Een Kanadese Getuie het sy onderneming gesluit en 3 540 kilometer gereis om toesig te hou oor die oprigting van die groot dakstelsel van die nuwe kompleks. Later het sy vrou en twee seuns by hom aangesluit. Die Getuie se: “Ons geestelikheid is baie versterk deur die ondervinding. Dit het ons gesin pioniergesind gemaak en ons is van voorneme om pionierdiens [voltydse predikingswerk] te doen wanneer ons die projek verlaat. Dit het ons ’n pioniergees gegee wat ons nooit tevore gehad het nie.”
’n Kommentaar van ’n Australiese Getuie is baie interessant. Al is hy ’n getroude man met twee kinders, het hy sy bouaannemersaak gesluit, sy huis verkoop en 1 500 kilometer saam met sy gesin na die bouterrein van die nuwe Australiese Bethel verhuis. “Voordat ons die besluit geneem het om te kom, het ons nie besef hoe diep ons by ons sekulêre sakebedrywighede betrokke was en hoe lank dit presies sou duur om hierdie wêreldse bande te verbreek nie”, het hy ruiterlik erken. “Ons is nou baie meer tevrede met ‘die dinge wat ons werklik nodig het’ en is vasbeslote om ons vryheid te behou sodat ons ’n groter aandeel in ‘heilige diens’ kan hê.—Rom. 12:1, NW; Hebr. 13:5.
AANGESPOOR OM TE LEER
Dit spreek vanself dat nie al die werkers wat help om nuwe Bethelhuise en fabrieke te bou, ervare bouers is nie. Net soos Jehovah se gees bedrewe vakmanne aangespoor het om aan te bied om met die Bethelbouwerk te help, het dit ook jong en onervare persone aangespoor om te kom en hulle gehelp om nuwe ambagte onder die knie te kry.
In Swede is daar nagenoeg 17 000 van Jehovah se Getuies. Vyfduisend van hulle het aangebied om die nuwe Sweedse Bethel te help bou! Dit is meer as een uit elke vier Koninkryksverkondigers in die land. Die nuwe fasiliteit het meer as 0,4 hektaar vloerruimte net vir drukwerk, en dit sal die tak in staat stel om sy diens aan die Sweedse veld grootliks te verbeter. Alhoewel 85 persent van die vrywilligers ongeskoold was, het hulle goeie werk verrig. Een suster wat ’n professionele haarkapster was, het so ’n goeie opmeter geword dat sy dadelik deur ’n boufirma in diens geneem is toe sy teruggekeer het huis toe nadat sy met die projek gehelp het.
Toe hulle in Brasilië sien dat dit onmoontlik sou wees om aluminiumvensters van goeie gehalte te koop, het 20 Getuies met geen vorige ondervinding nie meer as 700 vensterrame gemaak nadat hulle ’n bietjie opleiding ontvang het. En in Italië, waar ’n nuwe fabriek onlangs voltooi is, het jong Getuies geleer om hyskrane te bedien, ’n kruiptrekker te bestuur, beton te meng, ’n pleistermasjien te gebruik en te messel. Italië, waar die 90 191 Italiaanse Koninkryksverkondigers verheug was om vanjaar ’n Gedenkmaalopkoms van 187 165 te hê, het die nuwe fabriek broodnodig gehad!
’n Jong Getuie in Australië wat op die punt gestaan het om terug te gaan universiteit toe, het ’n paar ondervindinge gehoor wat die begeerte by hom gewek het om met die bouprojek in daardie land te help. “Na ’n jaar het ek besluit om ’n voltydse prediker te word in plaas daarvan om terug te gaan universiteit toe”, se hy. “Wanneer ek nou terugkyk, kan ek sien hoe die projek my geestelike ervaring gegee en my gehelp het om te breek met die universiteitslewe wat ek geniet het maar wat my in die verkeerde rigting gelei het.”
VERENIGDE STEUN IN DIE VELD
Nie al Jehovah se Getuies kan voltyds takkantore bou nie, maar almal kan daardie werk ondersteun—en dit is presies wat hulle doen! In Spanje, waar die aantal Getuies gedurende die afgelope dekade van 10 000 tot meer as 47 000 toegeneem het, bestaan daar byvoorbeeld ’n dringende behoefte aan nuwe takfasiliteite. ’n Ideale perseel is gevind met ’n gedeeltelik voltooide gebou van die regte grootte reeds daarop. Die probleem was dat die eienaar met kontant betaal wou word—en dit was ’n aansienlike bedrag!
Daar was nie baie tyd om die geld te kry nie. Kon die Spaanse Getuies help? Die antwoord was ’n onmiddellike en heelhartige Ja! Party “het hulle goue en silwer ringe, armbande en halssnoere aangebied”, berig die tak. “Klein kindertjies het hulle spaargeld ingestuur. Spesiale pioniers het versoek dat ’n deel van hulle jaarlikse kleretoelae vir die Bethelprojek aangewend moes word. Baie broers het hulle vakansie prysgegee. ’n Gemeente in Huelva gaan gereeld en masse na ’n broer se rommelwerf om rommel te sorteer, en ’n groep jongmense in Barcelona vul koeverte vir ’n jogurtmaatskappy. In albei gevalle beloop die opbrengs vir hierdie bedrywighede aansienlike bedrae wat maandeliks vir die Bethelprojek ingestuur word.”
Is dit nie God se gees in aksie nie? Hoe herinner dit ons tog aan die reaksie van die Israeliete toe hulle die geleentheid gebied is om bydraes tot die bou van die tabernakel te lewer!—Ex. 35:4-9, 21, 22; 36:7.
En so gaan dit rondom die wêreld. In die Nederlande, waar 845 nuwe Koninkryksverkondigers in 1980 gedoop is, word ’n nuwe Bethel en drukkery gebou. Benewens die 80 persone op ’n slag wat naweke help, het die plaaslike broers op ander maniere gehelp. Groot hoeveelhede gereedskap en werkklere is geskenk, soms op roerende maniere. Die tak berig: “Een suster wat baie siek is en weet dat sy nie meer lank gaan lewe nie, het haar voorgeneem om ’n paar wolsokkies vir elke werker vir die winter te brei.”
In Suid-Afrika, waar Die Wagtoring in 13 tale gedruk word, is meer ruimte nodig vir vertalers en druktoerusting. Die werk aan ’n nuwe kompleks het dus begin. “Die broers se ondersteuning is werklik hartverblydend”, deel die tak ons mee. “Een gemeente het gereël om lemoene te pluk vir ’n boer wat hulle twee derdes van die opbrengs vir die boufonds beloof het. Baie susters het tweedehandse klere verkoop . . . een bejaarde paar het ’n silwerteestel geskenk sodat dit verkoop kon word.”
Jongmense toon dieselfde gees. In die Bondsrepubliek van Duitsland, waar boeke vir die meeste lande in Europa gedruk word, is die oorspronklike tak in Wiesbaden al vyf keer vergroot en was verdere uitbreiding nie moontlik nie. ’n Splinternuwe kompleks word dus nou 40 kilometer daarvandaan in Selters gebou om in die behoeftes van die Europese veld te voorsien deur lektuur in 14 tale te druk. Die groot nuwe fabriek sal meer vloerruimte as vier sokkervelde hê. Dit is ’n treffende voorbeeld van “organiese” argitektuur, daar dit ontwerp is om harmonies te voorsien in die behoeftes van diegene wat die kompleks gebruik. Dit sal woon en werkplek vir 450 Getuie-vrywilligers bied. Klein Matthias, wat net ses jaar oud is, het sy spaarvarkie “geslag” om ’n bydrae tot die bouwerk te lewer en het ’n bedrag wat gelyk is aan meer as R24 gegee!
Toe die tak in die Britse Eilande in 1959 toegewy is, het dit meer as genoeg ruimte gehad, maar nou staan sake heeltemal anders. Die aantal Koninkryksverkondigers het sedertdien meer as verdubbel, met die gevolg dat die Bethelhuis vergroot word om meer personeel te huisves. En ’n fabriek ’n paar kilometer daarvandaan is gekoop sodat ’n nuwe vierkleur-rubberdrukpers daar geïnstalleer kan word. Wanneer daar behoeftes ontstaan, beweeg Jehovah se gees die broers om te reageer. ’n Broer is versoek om uit te vind wat helms vir die bouwerkers sal kos. Twee dae later het hy berig: “Ek het nie die prys gekry nie. Ek het sommer die helms gekry.”
GEWILLIGE “NAWEEKWERKERS”
In baie lande lewer “naweekwerkers” ’n groot bydrae tot die bouwerk aan takke. In die Ivoorkus word daar elke Sondag vier van die 16 gemeentes in Abidjan genooi om met die bouwerk aan die tak te kom help, en tot op hede het die broers meer as 10 000 uur aan hierdie werk gewy. In Italië help tussen 30 en 50 broers op ’n weeklikse grondslag om die permanente werkspan aan te vul. Hulle kom van oor die hele Italië asook die eilande Sicilië en Sardinië. “So”, sê die tak, “is al die Italiaanse broers by hierdie bouwerk betrokke.”
In 1971 was daar 10 711 Getuies in Japan. Maar in Junie 1981 was die getal 62 381—’n vermeerdering van 482 persent! Geen wonder dat die Bethelhuis en drukkery wat in die vroeë sewentigerjare gebou is, gou te klein was nie! Die nuwe kompleks wat in Ebina gebou word, is een van die grootste bouprojekte wat nog ooit deur Jehovah se Getuies op enige plek in die wêreld aangepak is. Die hoofgebou beslaan omtrent 3,6 hektaar en het plek vir twee groot kleurrubberdrukperse. Die werk aan die nuwe Bethelhuis en fabriek het in 1978 begin, en die reaksie van vrywilligers was oorweldigend. Die eerste en derde Saterdag van elke maand word vrywilligerdiensdae vir bouwerk aan die tak in Japan genoem, en Getuies kom per motor, trein of gehuurde bus van heinde en ver om aan die werk deel te neem. Een Saterdag het meer as 1 000 opgedaag. Hulle bring hulle eie middagete saam en bly sommer die hele dag. Met honderde gewillige hande word selfs spykeruittrekkery ’n aangename taak.
In Australië, waar die nuwe Bethelhuis 135 sal huisves, word tydelike werkers goed benut. In Augustus 1980 is ’n spesiale program van tweeweeklikse hulp ingestel vir werkers wat wou help maar nie kon reel om ’n lang ruk saam met hulle gesinne soontoe te kom nie. “In die eerste ses maande het nagenoeg 500 broers gekom en by ons gebly”, berig die opsiener van die program. “Baie het ten minste 2 000 kilometer tydens hulle heen-en-weerreis afgelê, terwyl party se heen-en-weerreis 8 500 kilometer lank was.”
Hierdie gewillige werkers, wat vol van God se gees is, dra met graagte die onkoste van die reis na die bouterrein, asook die verlies van inkomste vir twee weke (Rom. 12:11). “Een groep van nege broers vlieg op hulle eie onkoste van die Goudkus na Sydney, ’n afstand van sowat 1 000 kilometer, elke keer wanneer hulle hulp vir betongietwerk benodig word”, sê die tak, en voeg by: “En elke keer straal hulle van geluk omdat hulle ’n aandeel in die werk kan hê. Die enigste vergoeding wat hulle vra, is om weer genooi te word.”
Ander in Australië lewer ook ’n bydrae. Hulle doen dit met hulle Christelike gasvryheid. “Aangesien ons gewoonlik probeer om ’n bus te huur vir elke groep uit ander state, voorsien gemeentes langs die pad maaltye en omgang by elke rusplek”, verduidelik die programopsiener. “Dit was wonderlik om elke gemeente se gewilligheid te sien! Een groepie van 30 verkondigers was bereid om die koste van ’n restaurantontbyt vir die busgroep te dra omdat hulle ’n kringbyeenkoms in ’n ander gebied sou bywoon wanneer die bus deur hulle dorpie sou ry.” Hierdie Australiese Getuies handel voorwaar “getrou” daar hulle hulle broers “voorthelp op ’n voor God waardige wyse”.—3 Joh. 5, 6.
“’N LOFOFFER”
Ja, Jehovah se Getuies gee gewillig van hulle tyd, krag en geld vir bouprojekte dwarsoor die wêreld. Druktoerusting sal geïnstalleer word of is reeds geïnstalleer in nuwe geboue in Kanada, Australië, Denemarke, die Nederlande, Italië, Spanje, Swede, die Bondsrepubliek van Duitsland, Engeland, Ghana, Zambië, Suid-Afrika, Nigerië, Brasilië en Japan. En die lys word voortdurend langer.
Die ware opoffering wat in al hierdie lande gemaak word, is ‘’n lofoffer, dit is die vrug van die lippe wat Jehovah se naam bely’ (Hebr. 13:15). Dit is as gevolg van hulle ywerige openbare getuieniswerk oor Jehovah se naam dat sy getroue Getuies kantore en fabrieke moet bou om toesig te hou oor die predikingswerk en tydskrifte te druk en boeke te bind. Dit behoort ons dus nie te verbaas dat God se verenigende gees sy volk help om in liefde en eenheid aan hierdie bouprojekte te werk nie, want dit is in ooreenstemming met sy wil dat die “evangelie” gedurende hierdie “laaste dae” dwarsoor die wêreld verkondig moet word.—Matt. 24:14; Hand. 2:17-21.
[Prent op bladsy 15]
Daar is 46 gesinne onder die 175 vrywilligerwerkers wat die nuwe Deense tak help bou. Die Jensen-gesin het hulle huis en onderneming verkoop om te kom help.
[Prent op bladsy 16]
Die nuwe Bethelhuis in Kanada, wat toesig hou oor die bedrywigheid van meer as 66 000 Kanadese Getuies
[Prent op bladsy 17]
In Duitsland help honderde manlike en vroulike vrywilligers naweke om ’n Bethelhuis en drukkery in Selters te bou
[Prent op bladsy 18]
Baie Getuies, soos Peter en Raelynn Johnson, het duisende kilometer gereis om met die bouwerk aan die nuwe drukkery in Australië te kom help