Grootouers—die vreugdes en uitdagings
“Ek geniet dit vreeslik om oupa te wees! ’n Mens geniet jou kleinkinders sonder om te voel dat jy vir hulle verantwoordelik is. Jy besef dat jy ’n invloed op hulle lewe het, maar dat jy op die ou end nie die hoogste gesag het nie. Hulle ouers het.”—Gene, ’n grootouer.
WAAROM is mense so opgewonde daaroor om ’n grootouer te wees? Navorsers wys daarop dat die normale eise wat ouers gewoonlik aan hulle kinders stel baie spanning kan veroorsaak. Omdat grootouers gewoonlik nie sulke eise hoef te stel nie, kan hulle ’n baie meer ontspanne verhouding met hulle kleinkinders geniet. Soos Arthur Kornhaber, M.D., dit stel, kan hulle hulle kleinkinders liefhê bloot “omdat hulle daar is”. ’n Ouma met die naam Esther sê: “Met my eie kinders was my daaglikse emosies so betrokke by alles wat hulle gedoen het. As ’n grootouer voel ek vry om my kleinkinders net te geniet en lief te hê.”
Dan is daar die groter wysheid en bekwaamheid wat met die ouderdom kom (Job 12:12). Grootouers is nie meer jonk en onervare nie, en hulle het jare van ondervinding as ouers. Hulle is moontlik bekwamer om met kinders te werk as toe hulle jonger was, aangesien hulle uit hulle foute geleer het.
Dr. Kornhaber kom dus tot die volgende gevolgtrekking: “’n Gesonde en liefdevolle band tussen grootouers en kleinkinders is noodsaaklik vir die emosionele gesondheid en geluk van al drie geslagte. Hierdie band is ’n natuurlike geboortereg van kinders, . . . ’n nalatenskap wat deur hulle ouers en grootouers aan hulle nagelaat word waaruit almal in die familie voordeel trek.” Die tydskrif Family Relations sê eweneens: “Grootouers wat hulle rol as grootouer vervul en hulle daarmee identifiseer, word al hoe gelukkiger en kry meer selfvertroue.”
’n Grootouer se rol
Daar is talle waardevolle rolle wat grootouers kan speel. “Hulle kan hulle getroude kinders ondersteun”, sê Gene. “Wanneer hulle dit doen, dink ek hulle kan jong ouers help met van die moeilike omstandighede waarin hulle hulle bevind.” Grootouers kan ook baie doen om die kleinkinders self te ondersteun. Dit is dikwels die grootouer wat vir ’n kind die verhale vertel wat hom sy familiegeskiedenis laat verstaan. Grootouers speel dikwels ook ’n sleutelrol daarin om ’n familie se godsdienserfenis aan kinders oor te dra.
In baie families is grootouers vertroude raadgewers. “Daar is moontlik dinge wat kinders vir jou sal vertel omdat hulle nie gemaklik voel om met hulle ouers daaroor te praat nie”, sê Jane, wat in die eerste artikel genoem is. Ouers verwelkom oor die algemeen sulke ekstra ondersteuning. Volgens een studie “het meer as 80 persent van die tieners hulle grootouers as vertrouelinge gesien. . . . Talle volwasse kleinkinders tree gereeld in verbinding met hulle grootouers wat die naaste aan hulle is.”
’n Liefdevolle grootouer kan veral belangrik wees vir ’n kind wat by sy huis nie behoorlik versorg word nie. “My ouma was die belangrikste persoon in my vroeë kinderjare”, skryf Selma Wassermann. “Dit was my ouma wat betrokke geraak het en my lewe met liefde gevul het. Haar skoot was groter as Miami Beach, en wanneer sy my op haar skoot getel het, het ek geweet ek is veilig. . . . Dit was by my ouma wat ek die belangrikste dinge omtrent myself geleer het—dat sy my liefgehad het en dat ander mense my dus ook kon liefhê.”—The Long Distance Grandmother.
Spanning in die familie
Maar om ’n grootouer te wees, is nie sonder potensiële probleme en spanning nie. Een ouer onthou byvoorbeeld ’n skerp woordewisseling met haar ma oor die regte manier om ’n baba se winde uit te vryf. “Dit het ’n breuk tussen ons veroorsaak op ’n tyd toe ek baie kwesbaar was.” Dit is te verstane dat jong ouers wil hê hulle ouers moet die manier goedkeur waarop hulle hulle kinders grootmaak. Wenke van hulle welmenende ouers kan dus soos vernietigende kritiek voel.
Dr. Kornhaber vertel in sy boek Between Parents and Grandparents van twee ouers wat ’n ander algemene probleem het. Een ouer sê: “My ouers kom elke dag tydig en ontydig na my huis toe, en hulle word kwaad as ek nie tuis is wanneer hulle kom nie. . . . Hulle neem my—my gevoelens en my privaatheid—nie in ag nie.” ’n Ander ouer kla: “My ouers wil my dogtertjie besit. Hulle eet, slaap en dink die hele liewe dag net Susie. . . . Ons dink daaraan om weg te trek.”
Grootouers word soms ook daarvan beskuldig dat hulle hulle kleinkinders bederf deur hulle met geskenke te oorlaai. Dit is vir ’n grootouer net so natuurlik om vrygewig te wees as wat dit is om asem te haal, maar dit lyk wel of party in hierdie opsig oorboord gaan. Maar soms is jaloesie dalk die oorsaak van ouers se klagtes (Spreuke 14:30, NW). “My ouers was streng en hard met my”, erken Mildred. “Teenoor my kinders is hulle vrygewig en [te toegeeflik]. Ek is jaloers omdat die manier waarop hulle teenoor my optree glad nie verander het nie.” Wat ook al daartoe aanleiding gee of die rede daarvoor is, dit kan probleme veroorsaak as ’n grootouer nie die ouers se wense respekteer wanneer dit by geskenke kom nie.
Dit sal dus wys wees as grootouers onderskeidingsvermoë aan die dag lê in hulle betoning van vrygewigheid. Die Bybel toon dat te veel van selfs ’n goeie ding sleg kan wees (Spreuke 25:27, NW). As jy nie seker is watter soort geskenke gepas is nie, kan jy gerus die ouers vra. Op hierdie manier sal jy “weet hoe om goeie gawes” te gee.—Lukas 11:13.
Liefde en respek—Die sleutels!
Party grootouers kla ongelukkig dat hulle werk as versorgers en baba-oppassers as vanselfsprekend aanvaar word. Ander voel dat hulle hulle kleinkinders nie genoeg mag sien nie. Ander weer sê dat hulle volwasse kinders hulle vermy sonder om eers ’n rede daarvoor te gee. Sulke pynlike probleme kan dikwels voorkom word as familielede liefde en respek vir mekaar aan die dag lê. Die Bybel sê: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, . . . soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. . . . Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.”—1 Korintiërs 13:4, 5, 7.
Jy is dalk ’n jong ouer en Ouma maak ’n voorstel of opmerking wat sy goed bedoel het, maar wat jou irriteer. Het jy werklik rede om “ergerlik” te raak? Die Bybel toon per slot van rekening dat dit die verantwoordelikheid van ouer Christenvroue is om “die jong vroue . . . [te leer] om hulle mans lief te hê, om hulle kinders lief te hê, om gesond van verstand te wees, kuis, werkers by die huis” (Titus 2:3-5). En wil jy en die grootouers nie dieselfde ding hê nie—die heel beste vir jou kinders? Aangesien die liefde ‘nie sy eie belang soek nie’, is dit miskien beter om op die behoeftes van die kind te konsentreer—nie op jou eie gevoelens nie. As jy dit doen, sal dit julle dalk help om mekaar nie oor elke kleinigheid “tot ’n kragmeting te dwing” nie.—Galasiërs 5:26, voetnoot in naslaanuitgawe.
’n Mens ís dalk bang dat te veel vrygewigheid jou kind sal bederf. Maar ’n grootouer het gewoonlik nie ’n slegte beweegrede wanneer hy of sy vrygewig is nie. Die meeste kenners op die gebied van kindersorg stem saam dat die manier waarop jy jou kind oplei en dissiplineer ’n baie groter impak sal hê as wanneer ’n grootouer nou en dan inmeng. ’n Dokter gee die volgende raad: “Dit sal help as jy ’n goeie humorsin behou.”
As jy ’n gegronde rede tot kommer het oor die een of ander kindersorgkwessie, moet jy nie jou ouer of skoonouer belet om kontak met jou kinders te hê nie. Die Bybel sê: “Planne misluk sonder beraadslaging” (Spreuke 15:22). Op die “regte tyd” kan julle die saak ernstig bespreek en kan jy sê wat jou bekommer (Spreuke 15:23, NW). Oplossings kan dikwels gevind word.
Is jy ’n grootouer? Dan is dit noodsaaklik dat jy respek toon vir jou kleinkind se ouers. Jy sal natuurlik verplig voel om te praat as jy meen dat jou kleinkind in gevaar is. Maar hoewel dit vir jou natuurlik is om jou kleinkinders lief te hê en te koester, het ouers—nie grootouers nie—die verantwoordelikheid om hulle kinders groot te maak (Efesiërs 6:4). Die Bybel beveel jou kleinkinders om hulle ouers te respekteer en te gehoorsaam (Efesiërs 6:1, 2; Hebreërs 12:9). Probeer dus om nie hulle ouers met ongevraagde raad te bombardeer of ouerlike gesag te ondermyn nie.—Vergelyk 1 Tessalonisense 4:11.
Dit is weliswaar nie altyd maklik om terug te staan, stil te bly en moontlik net te wag dat jou kinders hulle werk as ouers doen nie. Maar soos Gene dit stel: “Tensy hulle raad vra, moet jy inval by wat hulle dink die beste vir hulle kinders is.” Jane sê: “Ek is versigtig om nie te sê: ‘Jy moet dit só doen!’ nie. Daar is baie maniere om dinge te doen, en as jy eiewys is, kan dit probleme veroorsaak.”
Wat grootouers kan gee
Die Bybel beskryf kleinkinders as ’n seëning van God (Psalm 128:3-6). Deur belangstelling in jou kleinkinders te toon, kan jy ’n groot invloed op hulle lewe hê en hulle help om godvrugtige waardes te ontwikkel. (Vergelyk Deuteronomium 32:7.) In Bybeltye het ’n vrou met die naam Loïs ’n betekenisvolle rol daarin gespeel om haar kleinseun, Timoteus, te help om ’n voortreflike man van God te word (2 Timoteus 1:5). Jy kan eweneens daardie vreugde ervaar as jou kleinkinders op godvrugtige opleiding reageer.
Jy kan ook ’n bron van noodsaaklike liefde en toegeneentheid wees. Jy is dalk nie iemand wat maklik aan jou gevoelens uiting gee nie. Maar goddelike liefde kan ook betoon word deur opreg en onselfsugtig in jou kleinkinders belang te stel. Die skryfster Selma Wassermann sê: “As jy wys dat jy belangstel in wat die kind vir jou sê . . . , sal jy beslis toon dat jy omgee. Om ’n goeie luisteraar te wees, hom nie in die rede te val nie, nie krities te wees nie—dit alles toon respek, liefde, waardering.” Vir ’n kleinkind kan sulke liefdevolle aandag een van die beste geskenke wees wat ’n grootouer hom ooit kan gee.
Ons bespreking het tot dusver die aandag op die tradisionele rol van grootouers gevestig. Maar baie van vandag se grootouers dra ’n baie swaarder las.
[Lokteks op bladsy 6]
“Dit was by my ouma wat ek die belangrikste dinge omtrent myself geleer het—dat sy my liefgehad het en dat ander mense my dus ook kon liefhê”
[Venster op bladsy 6]
Wenke vir grootouers wat ver woon
• Vra die ouers om videobande of foto’s van die kleinkinders aan jou te stuur.
• Stuur “briewe” op kassette aan jou kleinkinders. Vir klein kindertjies kan jy opnames maak waarop jy Bybelverhale lees of wiegeliedjies sing.
• Stuur poskaarte en briewe aan die kleinkinders. Skryf indien moontlik gereeld vir hulle.
• As jy dit kan bekostig, kan jy per telefoon kontak met jou kleinkinders behou. Wanneer jy met klein kindertjies praat, kan jy die gesprek begin deur eenvoudige vrae te vra, soos: “Wat het jy vir ontbyt gehad?”
• Gaan kuier indien moontlik gereeld vir hulle, maar nie te lank nie.
• Reël met die ouers dat jou kleinkinders by jou kan kom kuier. Beplan prettige uitstappies, soos om dieretuine, museums en parke te besoek.
[Prent op bladsy 5]
Baie grootouers help om hulle kleinkinders te versorg
[Prent op bladsy 7]
Spanning kan ontstaan oor hoe om kinders groot te maak
[Prent op bladsy 7]
Grootouers help dikwels om die familiegeskiedenis oor te dra